Bemoedigende verslag uit die Sowjetunie
Vreugdevolle klimaks ná honderd jaar se getuieniswerk
“HIERMEE word die Handves van die Administratiewe Sentrum van die godsdiensorganisasies van ‘Jehovah se Getuies in die USSR’ geregistreer.”
Dit is die vertaling van die eerste woorde van die Russiese dokument wat op hierdie bladsy weergegee word. Hierdie woorde verteenwoordig waarlik die antwoord op baie gebede. Die dokument is in Moskou deur ’n hooggeplaaste amptenaar van die Departement van Justisie van die RSFSR (Russiese Sosialistiese Federale Sowjetrepubliek) onderteken en verseël. Dit beteken dat Jehovah se Getuies dwarsdeur die USSR ’n erkende godsdiensorganisasie is. Die honderdjarige geskiedenis van Jehovah se Getuies in daardie wyd uitgestrekte land het dus ’n keerpunt bereik.
’n Baie klein begin
Honderdjarige geskiedenis? Ja. Die eerste bekende verkondiger van die goeie nuus in hedendaagse tye in daardie land was Charles Taze Russell, wat in 1891 daar besoek afgelê het. In September 1891 se uitgawe van Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence sê hy dat hy na Kisjinef, Rusland, gegaan het terwyl hy in Europa op reis was. Daar het hy ’n sekere Joseph Rabinowitch aangetref wat in Christus geglo het en probeer het om vir Joodse gesinne in daardie gebied te preek. Russell gee ’n breedvoerige verslag oor sy besoek aan Rabinowitch en hulle diep, interessante gesprekke oor die Koninkryk.
Die goeie nuus word weer gehoor
Ná Russell se besoek is daar min gehoor oor getuieniswerk in wat nou die USSR is, maar dit beteken nie dat daar niks bereik is nie. In 1927 het drie gemeentes in die Sowjetunie verslae oor hulle Gedenkmaalvergaderinge aan die Genootskap gestuur. Maar dit lyk nie of daar vinnig vooruitgang gemaak is tot die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het nie. Daardie oorlog het die dramatiese hervestiging van baie mense in Europa tot gevolg gehad. Een onvoorsiene gevolg van hierdie bevolkingsverskuiwings was die feit dat groot getalle Koninkryksverkondigers hulle in die Sowjetunie gaan vestig het.
Die Wagtoring van 1 Junie 1946 sê byvoorbeeld dat “meer as ’n duisend aankondigers wat voorheen in [Oekraïens in die oostelike deel van Pole gepreek] het nou na die dieptes van Rusland oorgeplaas is. . . . Honderde broeders, inwoners van Bessarabië, wat voorheen deel van Roemenië uitgemaak het, woon nou ook in Rusland en hulle hou aan met hulle werk om dissipels van al die nasies te maak.”
Baie burgers van die Sowjetunie het boonop gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Nazi-konsentrasiekampe gely. Hierdie moeilike ondervinding het vir sommige onverwagte seëninge meegebring. Een verslag vertel van etlike jong Russiese vroue wat in Ravensbrück gevange gehou is. Daar het hulle Getuies van Jehovah ontmoet, die waarheid aangeneem en só gevorder dat hulle gedoop is. Soortgelyke dinge het in ander kampe gebeur. Toe hierdie pas gedoopte Getuies ná die oorlog vrygelaat is, het hulle die goeie nuus van die Koninkryk saam met hulle na die Sowjetunie teruggeneem. Sodoende het die Tweede Wêreldoorlog daartoe gelei dat die getal Koninkryksverkondigers in Russiese gebied vinnig toegeneem het. In 1946 was daar volgens skatting 1 600 verkondigers in daardie land bedrywig.
Predikingswerk in die gevangenis
Gevangenisse het ’n groot rol in die verspreiding van die goeie nuus in die Sowjetunie bly speel. Ná die oorlog het die owerheid die Getuies verkeerdelik as ’n bedreiging beskou, en baie is gevange geneem. Maar dit het hulle nie gekeer om die predikingswerk te doen nie. Hoe kon dit, aangesien hulle werklik geglo het dat die boodskap oor God se Koninkryk die beste nuus vir die mens is? Die gevangenis het dus vir baie van hulle hulle gebied geword, en talle gevangenes wat na hulle geluister het, het die waarheid aangeneem. ’n Verslag van 1957 sê: “Daar word aanvaar dat veertig persent van almal wat vandag in Rusland in die waarheid is die waarheid in die gevangenis en in kampe gehoor het.”
Is die Getuies afgeskrik deur hierdie gedurige bedreiging van gevangeneming? Glad nie! ’n Verslag van 1964 sê: “Daar is getuies van Jehovah in daardie kampe wat al vir die tweede of derde keer daar is omdat hulle nie opgehou het om die boodskap te verkondig nadat hulle vrygelaat is nie.” Ander was natuurlik misdadigers wat in die gevangenis of in kampe gevange gehou is en wat die Getuies ontmoet het terwyl hulle daar was. Hulle het die waarheid aangeneem en soveel gevorder dat hulle later gedoop is voordat hulle vrygelaat is.
Afname van druk
In die middel-sestigerjare het die owerheid minder streng teenoor die Getuies begin optree. Hulle het waarskynlik besef dat Jehovah se Getuies glad nie ’n bedreiging vir die openbare wet en orde is nie. Hoewel hierdie nederige Christene se bedrywighede dus nog nie wettig was nie, is hulle nie meer so baie gevange geneem nie en is hulle huise nie meer so baie deursoek nie, en hulle was dankbaar dat hierdie druk begin afneem het. Hulle grootste begeerte was om met hulle lewe as Christene voort te gaan en stil, rustig en vreedsaam te werk sover dit van hulle afgehang het.—Romeine 12:17-19; 1 Timotheüs 2:1, 2.
In 1966 is almal wat lank in Siberië in ballingskap was, vrygelaat en toegelaat om net waar hulle wou in die land te gaan. Talle het ná lang jare van afwesigheid teruggekeer huis toe, maar sommige het dit verkies om in daardie vrugbare veld te bly. En nie almal wat teruggegaan het huis toe het daar gebly nie. Een suster, wat as jong meisie saam met haar gesin na Siberië gedeporteer is, het saam met haar ouers na Wes-Rusland teruggekeer. Maar sy het net ’n rukkie daar gebly. Sy was so lief vir die nederige, gasvrye mense van Siberië dat sy haar gesin verlaat het en teruggegaan het na Oos-Rusland om vir daardie ontvanklike mense te preek.
’n Tipiese ondervinding gedurende hierdie tyd is dié van ’n broer wat van een stad na ’n ander getrek het. Ná ’n tyd het hy twee ander Getuies ontmoet. Die drie van hulle het om hulp gebid en spoedig in aanraking gekom met ’n vrou wat ’n Grieks-Ortodokse opvoeding gehad het. Sy het die waarheid gou aangeneem en die broers na twee ander belangstellendes geneem—haar ma en haar jonger suster. Die verslag sê ten slotte: “Vandag is daar veertig mense wat met hierdie broers omgaan, en dertig van hulle het die waarheid gedurende die afgelope ses maande leer ken.”
Die bedrywighede van Jehovah se Getuies is nietemin bemoeilik omdat hulle nie wetlik erken is nie. Vergaderinge is versigtig gehou. Hulle het sorg aan die dag gelê wanneer hulle gepreek het. Die moontlikheid van tronkstraf was nie uitgesluit nie, en dit was onmoontlik om openlik van huis tot huis te preek. Ten spyte hiervan het hierdie getroue Christene in die Sowjetunie egter aangehou om hulle God getrou te dien en om goeie burgers van hulle land te wees (Lukas 20:25). Hulle gesindheid blyk uit wat een van hulle geskryf het: “Dit is ’n groot voorreg om alle toetse te deurstaan en aan Jehovah God getrou te bly, om God jou lewe lank te loof sodat jy die ewige lewe van Jehovah deur Jesus Christus kan verkry.” Watter goeie voorbeelde van volharding en getrouheid is hierdie Getuies in die Sowjetunie tog!
Uiteindelik wetlike erkenning!
Dinge het in 1988 begin verander in lande wat met die Sowjetunie geassosieer word. ’n Klimaat van groter vryheid het begin heers, en lande wat die bedrywighede van Jehovah se Getuies beperk het, het begin om nuwe beleide daaroor aan te neem. Pole, Hongarye, Roemenië en ander lande het hierdie opregte Christene wetlike erkenning toegestaan en hulle toegelaat om openlik te werk te gaan sonder om bang te wees dat hulle daarvoor gestraf sal word. Hoe vreugdevol was hierdie afgelope drie jaar in Oos-Europa tog! Hoe het die broers aldaar tog hulle nuutgevonde vryheid benut om die vreedsame boodskap van die Koninkryk te verkondig! En hoe verheug was Jehovah se Getuies in die res van die wêreld tog saam met hulle!
Die Getuies in die Sowjetunie het reeds baat gevind by hulle toenemende vryheid. Duisende—sommige so ver daarvandaan as die Pasifiese kus van Asië—het die epogmakende byeenkomste in Pole in 1989 en weer in 1990 bygewoon toe 17 454 Getuies uit die Sowjetunie in Warschau teenwoordig was. Watter herinneringe het hulle tog saam met hulle huis toe geneem! Die meeste het nog nooit saam met meer as ’n handjievol mede-Christene vergader nie. Nou het hulle deel uitgemaak van skares van tienduisende!
Hulle het teruggegaan na ’n Sowjetunie wat al hoe verdraagsamer geword het. Getuies dwarsdeur die wêreld het die situasie dopgehou en gewonder: Wanneer sal Jehovah se Getuies wetlike erkenning in die Sowjetunie toegestaan word? Wel, dit het in 1991 gebeur—presies honderd jaar ná Charles Taze Russell se besoek aan daardie land! Op 27 Maart 1991 is die “Administratiewe Sentrum van die Godsdiensorganisasies van Jehovah se Getuies in die USSR” geregistreer in ’n dokument wat in Moskou deur die Minister van Justisie van die RSFSR onderteken is. Watter soort vryheid het die Getuies gekry?
Die wetlike handves van die nuut geregistreerde liggaam sluit die volgende verklaring in: “Die doel van die Godsdiensorganisasie is om voort te gaan met die godsdienstige werk, naamlik die verkondiging van Jehovah God se naam en sy liefdevolle voorsienings vir die mensdom deur sy hemelse Koninkryk onder Jesus Christus.”
Hoe moet dit gedoen word? Die maniere wat genoem word, is onder andere dat die openbare predikingswerk gedoen word en dat mense by hulle huise besoek word; dat mense wat bereid is om te luister Bybelwaarhede geleer word; dat daar gratis Bybelstudies met hulle gehou word met behulp van Bybelstudiepublikasies en dat daar reëlings getref word vir die vertaling, invoer, publisering, druk en verspreiding van Bybels.
Die dokument gee ook ’n oorsig van die organisasie van die Getuies onder die Bestuursliggaam, onder andere die gemeentes met liggame van ouere manne, ’n Presiderende [Tak-]komitee met sewe lede en kring- en streekopsieners.
Dit is duidelik dat Jehovah se Getuies nou vryelik en openlik in die Sowjetunie kan werk, soos dit in baie ander lande die geval is. Stel jou die vreugde voor van vyf van die sewe lede van die Presiderende komitee en die vyf gemeentelike ouere manne wat al lank as sodanig dien, wat die voorreg gehad het om hierdie geskiedkundige dokument te onderteken en te sien hoe dit verseël word deur die hoof van die Departement van die Registrasie van Openbare en Godsdiensorganisasies! Dit is gepas dat Milton Henschel en Theodore Jaracz van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies ook teenwoordig was om hierdie betekenisvolle gebeurtenis te aanskou. Van die groepe wat deur die RSFSR goedgekeur is, het Jehovah se Getuies eerste hulle amptelike registrasiedokument ontvang. Wat ’n beloning was dit tog vir daardie getroue Russiese broers ná soveel jare van geduldige volharding!
Jehovah se Getuies oral is dankbaar teenoor die Sowjetowerheid wat hierdie wettiging toegestaan het. Hulle dank veral Jehovah met hulle hele hart vir die nuwe vryheid van hulle broers in die Sowjetunie. Hulle is verheug saam met mede-Getuies in die USSR en in die ander Oos-Europese lande wat Jehovah God nou soveel openliker kan dien. Mag Jehovah hulle ryklik seën terwyl hulle hierdie vryheid ten volle gebruik om sy heilige naam te loof.
[Prent op bladsy 9]
Die Kremlin in Moskou
[Prent op bladsy 10]
Russiese afgevaardigdes by ’n byeenkoms in 1990 buite die Sowjetunie