Lewensverhaal
Jehovah is my toevlug en sterkte
SOOS VERTEL DEUR MARCEL FILTEAU
“As jy met hom trou, gaan jy beslis in die tronk beland.” Dít is wat mense gesê het vir die vrou met wie ek van plan was om te trou. Laat ek verduidelik waarom hulle so iets gesê het.
TOE ek in 1927 gebore is, was die Kanadese provinsie Quebec ’n vesting van Katolisisme. Ongeveer vier jaar later het Cécile Dufour, ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies, ons huis in die stad Montreal begin besoek. Hieroor is sy dikwels deur ons bure gedreig. Trouens, sy is dikwels in hegtenis geneem en sleg behandel omdat sy die Bybel se boodskap verkondig het. Ons het dus gou die waarheid aangaande Jesus se woorde geleer: “Julle sal weens my naam vir al die nasies voorwerpe van haat wees.”—Matteus 24:9.
Op daardie tydstip het baie gemeen dat dit ondenkbaar is dat ’n Frans-Kanadese gesin hulle Katolieke godsdiens sou verlaat. Hoewel my ouers nooit gedoopte Getuies geword het nie, het hulle weldra tot die besef gekom dat die leerstellings van die Katolieke Kerk nie in ooreenstemming met die Bybel is nie. Hulle het dus hulle agt kinders aangespoor om lektuur te lees wat deur die Getuies uitgegee is, en hulle het dié van ons ondersteun wat ons standpunt vir Bybelwaarheid ingeneem het.
Ek neem in moeilike tye my standpunt in
In 1942, terwyl ek nog op skool was, het ek werklik daarin begin belangstel om die Bybel te bestudeer. Die werk van Jehovah se Getuies was op daardie stadium in Kanada verbied omdat hulle die voorbeeld van die vroeë Christene nagevolg het en nie by die oorloë van die nasies betrokke geraak het nie (Jesaja 2:4; Matteus 26:52). My oudste broer, Roland, is in ’n strafkamp gesit omdat hy geweier het om gedurende die wêreldoorlog wat toe gewoed het die wapens op te neem.
Om en by daardie tyd het my pa vir my ’n boek in Frans gegee wat die lyding van die Duitse Getuies beskryf het omdat hulle geweier het om die militêre veldtogte van Adolf Hitler te ondersteun.a Dit het my beweeg om my met sulke moedige voorbeelde van onkreukbaarheid te vereenselwig, en ek het die vergaderinge van Jehovah se Getuies wat in ’n huis gehou is begin bywoon. Ek is kort voor lank genooi om aan die predikingswerk deel te neem. Ek het die uitnodiging aanvaar al het ek goed geweet dat ek dalk in hegtenis geneem en in die tronk gesit sou word.
Nadat ek vir krag gebid het, het ek aan die eerste deur geklop. ’n Vriendelike vrou het die deur oopgemaak, en nadat ek my voorgestel het, het ek vir haar die woorde van 2 Timoteus 3:16 gelees: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig.”
“Sal u daarvan hou om meer aangaande die Bybel te leer?” het ek gevra.
“Ja”, het die vrou geantwoord.
Ek het toe vir haar gesê dat ek ’n vriend sou bring wat die Bybel beter ken as ek, wat ek toe ook die volgende week gedoen het. Ná daardie eerste ondervinding het ek meer vertroue gehad, en ek het geleer dat ons die bediening nie in ons eie krag uitvoer nie. Soos die apostel Paulus gesê het, doen ons dit met Jehovah se hulp. Trouens, dit is noodsaaklik dat ons erken dat “die krag wat bo die normale is God s’n [is] en nie dié uit onsself nie”.—2 Korintiërs 4:7.
Daarna het die predikingswerk ’n gereelde deel van my lewe geword, en so ook arrestasies en gevangenskap. Dit is geen wonder nie dat daar vir my toekomstige bruid gesê is: “As jy met hom trou, gaan jy beslis in die tronk beland”! En tog was sulke ondervindinge nie werklik so moeilik nie. Nadat ons ’n nag in die tronk deurgebring het, het ’n mede-Getuie gewoonlik vir ons borg gestaan.
Belangrike besluite
In April 1943 het ek my aan Jehovah toegewy en dit deur waterdoop gesimboliseer. Toe, in Augustus 1944, het ek my eerste groot streekbyeenkoms in Buffalo, New York, VSA, net anderkant die Kanadese grens, bygewoon. Daar was 25 000 mense wat dit bygewoon het, en die program het by my die begeerte opgewek om as ’n pionier te dien, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word. Die verbod op die werk van Jehovah se Getuies in Kanada is in Mei 1945 opgehef, en ek het die volgende maand aan die pionierdiens begin deelneem.
Maar namate my deelname aan die bediening toegeneem het, het my besoeke aan die tronk ook toegeneem. Eenkeer is ek in ’n sel saam met Mike Miller gesit, wat al lank ’n getroue kneg van Jehovah was. Ons het op die sementvloer gesit en gesels. Ons opbouende geestelike gesprek het my geweldig versterk. Maar ná die tyd het die vraag deur my gedagte gegaan: ‘Sê nou ons was kwaaivriende weens ’n misverstand?’ Die tyd wat ek in die tronk saam met hierdie liewe broer deurgebring het, het my een van die wonderlikste lesse in my lewe geleer—ons het ons broers nodig en moet derhalwe vergewensgesind en goedhartig teenoor mekaar wees. Anders sal dit wees soos die apostel Paulus geskryf het: “Pas op dat julle, as julle aanhou om mekaar te byt en te verslind, nie deur mekaar verdelg word nie.”—Galasiërs 5:15.
In September 1945 is ek genooi om te dien by die takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Toronto, Kanada, wat ons Bethel noem. Die geestelike program daar was inderdaad opbouend en geloofversterkend. Die volgende jaar is ek gestuur om op Bethel se plaas te werk, wat ongeveer 40 kilometer noord van die takkantoor is. Terwyl ek aarbeie saam met die jong Anne Wolynec gepluk het, het ek nie net haar fisiese skoonheid opgemerk nie, maar ook haar liefde en ywer vir Jehovah. ’n Verhouding het ontstaan, en ons is in Januarie 1947 getroud.
Ons het die daaropvolgende twee en ’n half jaar in London, Ontario, as pioniers gedien en daarna op Kaap Breton-eiland, waar ons gehelp het om ’n gemeente te vorm. Toe, in 1949, is ons na die 14de klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead genooi, waar ons as sendelinge opgelei is.
Sendingwerk in Quebec
Kanadese gegradueerdes van vorige klasse van Gilead is toegewys om die predikingswerk in Quebec te begin. In 1950 het ons saam met 25 ander van ons 14de klas by hulle aangesluit. Die uitgebreide sendingwerk het verskerpte vervolging en massageweld tot gevolg gehad, wat deur die leiers van die Rooms-Katolieke Kerk aangestig is.
Twee dae nadat ons in ons eerste sendingtoewysing in die stad Rouyn aangekom het, is Anne in hegtenis geneem en agter in ’n polisiemotor gesit. Dit was vir haar ’n nuwe ondervinding, aangesien sy van ’n klein dorpie in die provinsie Manitoba, Kanada, af gekom het, waar sy selde ’n polisieman gesien het. Sy was natuurlik bang en het die woorde onthou: “As jy met hom trou, gaan jy beslis in die tronk beland.” Maar voordat die polisiemanne weggery het, het hulle my ook gevind en saam met Anne in die motor gesit. “Ek is baie bly om jou te sien!” het sy uitgeroep. En tog was sy verbasend kalm en het sy gesê: “Wel, dieselfde het met die apostels gebeur omdat hulle van Jesus getuig het” (Handelinge 4:1-3; 5:17, 18). Later daardie dag is ons op borgtog vrygelaat.
Omtrent ’n jaar ná daardie voorval, terwyl ons in ons nuwe toewysing in Montreal aan die huis-tot-huis-bediening deelgeneem het, het ek ’n groot lawaai verder af in die straat gehoor en gesien hoe ’n woedende skare klippe gooi. Toe ek gaan om Anne en haar metgesel te help, het die polisie op die toneel verskyn. Pleks dat hulle lede van die skare in hegtenis geneem het, het die polisie Anne en haar metgesel in hegtenis geneem! Terwyl hulle in die tronk was, het Anne die nuwe Getuie daaraan herinner dat hulle die werklikheid van Jesus se woorde ondervind: “Julle sal weens my naam vir alle mense voorwerpe van haat wees.”—Matteus 10:22.
Op een stadium was daar sowat 1 700 sake teen Jehovah se Getuies in Quebec wat nog hangende was. Ons is oor die algemeen daarvan aangekla dat ons opruiende lektuur versprei het of dat ons lektuur sonder ’n lisensie versprei het. Gevolglik het die Wagtoringgenootskap se Regsafdeling ’n aksie teen die regering van Quebec ingestel. Ná ’n regstryd wat baie jare geduur het, het Jehovah ons twee groot oorwinnings in die Hooggeregshof van Kanada gegee. In Desember 1950 is ons vrygespreek op die aanklag dat ons lektuur opruiend is, en in Oktober 1953 is ons reg bevestig om Bybellektuur sonder ’n lisensie te versprei. Ons het dus op ’n baie tasbare manier gesien hoe Jehovah beslis ’n plek van “toevlug en sterkte [is], ’n hulp wat gedurende benoudhede maklik gevind kan word”.—Psalm 46:1, NW.
Dit is opmerkenswaardig dat die aantal Getuies in Quebec van 356 in 1945, toe ek as ’n pionier begin dien het, toegeneem het tot meer as 24 000 vandag! Dit het inderdaad gebeur net soos die Bybelprofesie voorspel het: “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê.”—Jesaja 54:17.
Ons werk in Frankryk
In September 1959 is ek en Anne genooi om by die Bethel in Parys, Frankryk, te dien, waar ek die toewysing gekry het om oor die drukwerk toesig te hou. Totdat ons in Januarie 1960 daar aangekom het, is die drukwerk deur ’n handelsmaatskappy gedoen. Aangesien Die Wagtoring destyds in Frankryk verbied was, het ons die tydskrif elke maand in die vorm van ’n boekie met 64 bladsye gedruk. Die boekie is The Interior Bulletin of Jehovah’s Witnesses genoem, en dit het die artikels bevat wat gedurende die maand in die gemeentes bestudeer sou word. Van 1960 tot 1967 het die aantal persone wat aan die predikingswerk in Frankryk deelgeneem het van 15 439 tot 26 250 vermeerder.
Uiteindelik is die meeste sendelinge na ander plekke gestuur, party na die Franssprekende lande in Afrika en ander terug na Quebec. Aangesien Anne nie gesond was nie en ’n operasie moes ondergaan, het ons na Quebec teruggekeer. Ná drie jaar se mediese behandeling was Anne weer gesond. Ek is toe gevra om kringwerk te doen, wat behels het dat ek elke week ’n ander gemeente besoek om hulle geestelik aan te moedig.
Sendingwerk in Afrika
’n Paar jaar later, in 1981, was ons verheug toe ons ’n nuwe toewysing as sendelinge in Zaïre ontvang het, wat nou die Demokratiese Republiek van die Kongo is. Die mense was arm en het baie swaar gekry. Toe ons daar aangekom het, was daar 25 753 Getuies, maar vandag het daardie getal tot meer as 113 000 toegeneem, en 446 362 het die herdenking van Christus se dood in 1999 bygewoon!
In 1984 het die regering ons omtrent 200 hektaar grond gegee om ’n nuwe takkantoor te bou. Toe, in Desember 1985, is ’n internasionale byeenkoms in die hoofstad, Kinshasa, gehou, wat deur 32 000 afgevaardigdes uit baie dele van die wêreld bygewoon is. Daarna het teenstand wat deur die geestelikes aangestig is ons werk in Zaïre ontwrig. Op 12 Maart 1986 is die verantwoordelike broers ’n brief gegee wat verklaar het dat die assosiasie van Jehovah se Getuies van Zaïre onwettig is. Hierdie verbod op al ons bedrywighede is geteken deur die destydse president van die land, wyle Mobutu Sese Seko.
As gevolg van hierdie skielike verwikkelinge moes ons die Bybelraad toepas: “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom” (Spreuke 22:3). Ons het maniere gevind om papier, ink, film, drukplate en chemikalieë van ander lande te kry om ons publikasies in Kinshasa te druk. Ons het ook ons eie verspreidingsnetwerk ontwikkel. Toe ons eers georganiseerd was, het ons stelsel beter gewerk as die regering se posdiens!
Duisende Getuies is in hegtenis geneem, en baie is wreed gemartel. Hulle het nietemin, met die uitsondering van ’n handjievol, sulke behandeling verduur en getrou gebly. Ek is ook in hegtenis geneem en het gesien watter verskriklike toestande die broers in die tronke moes verduur. Ons is dikwels in elke opsig deur die geheime polisie en die owerheid geknel, maar Jehovah het ons altyd ’n uitweg gegee.—2 Korintiërs 4:8.
Ons het ongeveer 3 000 bokse lektuur in die pakhuis van ’n sakeman weggesteek. Maar uiteindelik het een van sy werkers die geheime polisie in kennis gestel, en hulle het die sakeman in hegtenis geneem. Op pad tronk toe het hulle toevallig by my in my motor verbygery. Die sakeman het vir hulle gesê dat ek die een was wat die reëling met hom getref het om die lektuur te stoor. Die polisie het stilgehou en my daaroor uitgevra en my daarvan beskuldig dat ek onwettige lektuur in hierdie man se pakhuis gesit het.
“Het julle een van die boeke?” het ek gevra.
“Natuurlik, ja”, het hulle geantwoord.
“Mag ek dit sien?” het ek gevra.
Hulle het vir my ’n boek gebring, en ek het vir hulle die eerste bladsy gewys, wat sê: “Gedruk in die Verenigde State van Amerika deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap.”
“Wat julle in julle hande het, is Amerikaanse eiendom en behoort nie aan Zaïre nie”, het ek vir hulle gesê. “Julle regering het ’n verbod op die wetlike korporasie van die assosiasie van Jehovah se Getuies van Zaïre geplaas en nié op die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van die Verenigde State nie. Julle kan dus nie met hierdie publikasies doen wat julle wil nie.”
Hulle het my laat gaan omdat hulle nie ’n hofbevel gehad het om my in hegtenis te neem nie. Daardie nag het ons twee vragmotors na die pakhuis geneem en al die lektuur daaruit verwyder. Toe die owerheid die volgende dag daar aankom, was hulle baie ontsteld omdat die plek leeg was. Teen daardie tyd het hulle na my gesoek, aangesien hulle toe ’n hofbevel gehad het om my in hegtenis te neem. Hulle het my gevind, en omdat hulle nie ’n motor gehad het nie, het ek met my eie motor tronk toe gery! ’n Ander Getuie het saam met my gery sodat hy my motor kon wegneem voordat hulle daarop beslag kon lê.
Nadat hulle my agt uur lank ondervra het, het hulle besluit om my uit die land te sit. Maar ek het vir hulle ’n fotokopie gewys van ’n brief van die regering wat bevestig het dat ek aangestel is om die bates van die verbode assosiasie van Jehovah se Getuies van Zaïre te likwideer. Ek is dus toegelaat om my werk by Bethel voort te sit.
Nadat ek vier jaar lank onder die druk van die verbod op die werk in Zaïre gedien het, het ek ’n bloeiende maagseer gekry wat lewensgevaarlik was. Daar is besluit dat ek behandeling in Suid-Afrika moet kry, waar die tak baie goed na my omgesien het, en ek het heeltemal herstel. Nadat ons agt jaar lank in Zaïre gedien het, wat waarlik ’n onvergeetlike en gelukkige ondervinding was, het ons in 1989 na die Suid-Afrikaanse tak getrek. In 1998 het ons na ons vaderland teruggekeer, en ons dien sedertdien weer in die Bethel in Kanada.
Dankbaar dat ek kan dien
Wanneer ek terugkyk op my 54 jaar in die voltydse bediening, is ek so dankbaar dat ek my jeugdige krag in Jehovah se kosbare diens gebruik het. Hoewel Anne talle moeilike omstandighede moes verduur, het sy nie gekla nie, maar sy was eerder baie ondersteunend in al ons bedrywighede. Saam het ons die voorreg gehad om baie mense te help om Jehovah te leer ken, waarvan ’n hele paar nou in die voltydse bediening is. Dit is ’n groot vreugde om te sien hoe van hulle kinders en selfs hulle kleinkinders ons groot God, Jehovah, dien!
Ek is daarvan oortuig dat niks wat hierdie wêreld kan bied, vergelyk kan word met die voorregte en seëninge wat Jehovah ons gegee het nie. Ons het weliswaar baie beproewinge verduur, maar dit het ons geloof en vertroue in Jehovah opgebou. Hy is beslis ons sterkte, ons toevlug en ’n hulp wat gedurende benoudhede maklik gevind kan word.
[Voetnoot]
a Die boek is oorspronklik in Duits uitgegee as Kreuzzug gegen das Christentum (Kruistog teen die Christelike godsdiens). Dit is in Frans en Pools vertaal, maar nie in Engels nie.
[Prente op bladsy 26]
Toe ons in 1947 saam pionierdiens gedoen het; saam met Anne vandag
[Prent op bladsy 29]
Die mense wat ons in Zaïre ontmoet het, het ’n liefde vir Bybelwaarheid gehad