Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 2/15 bl. 30-31
  • Goeie nuus vir almal

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Goeie nuus vir almal
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Verspreiding van die goeie nuus
  • Die belangrikheid daarvan om die goeie nuus te verkondig
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 2/15 bl. 30-31

Goeie nuus vir almal

DIT is die enigste blywende goeie nuus wat vryelik vir almal beskikbaar is. Dit is die goeie nuus van die Koninkryk van God en van redding deur geloof in Jesus Christus. Dit sluit al die waarhede in waarvan Jesus gepraat het en die dissipels geskryf het.

Hoewel die manne van die ou tyd op God gehoop het en geloof gehad het weens hulle kennis van Hom, is God se voornemens en onverdiende goedhartigheid die eerste keer “duidelik sigbaar gemaak deur die openbaarwording van ons Redder, Christus Jesus, wat die dood tot niet gemaak het, maar lig op lewe en onverderflikheid gewerp het deur die goeie nuus”.—2 Timoteus 1:9, 10.

Eeue tevore het God die goeie nuus aan Abraham bekend gemaak en sodoende die middel aangedui waardeur hy van voorneme was om die goeie nuus te voorsien. Hy het gesê: “Deur middel van jou sal al die nasies geseën word” (Galasiërs 3:8). Later, deur middel van die profeet Jesaja, het Jehovah gepraat van die verkondiging van die goeie nuus. Jesus Christus het in die sinagoge in Nasaret uit hierdie profesie gelees en daarna gesê: “Vandag is hierdie Skrifgedeelte wat julle so pas gehoor het, vervul” (Lukas 4:16-21). Jesaja se profesie het die doel en die uitwerking beskryf van die goeie nuus wat verkondig sou word, veral van die tyd van die Messias se koms af.—Jesaja 61:1-3, NW.

Verspreiding van die goeie nuus

Met Jesus se geboorte het die engel vir die herders gesê: “Moenie vrees nie, want kyk! ek maak aan julle goeie nuus bekend van ’n groot vreugde wat die hele volk sal hê” (Lukas 2:10). Johannes die Doper het die weg berei vir Jesus se verkondiging van die goeie nuus deur vir die Jode te sê: “Toon berou, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.”—Matteus 3:1, 2.

Jesus het van Johannes se predikingswerk gesê: “Van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe is die koninkryk van die hemele die doel waarna die mense vooruitbeur, en dié wat vooruitbeur, gryp dit.”—Matteus 11:12.

Ná Jesus se dood en opstanding het hy sy dissipels die opdrag gegee: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Hy het ook vir hulle gesê dat hulle predikingswerk “die mees afgeleë deel van die aarde” sou bereik.—Handelinge 1:8.

Maar vir ongeveer drie en ’n half jaar daarna het die heilige gees die dissipels gerig om net vir die Jode en Samaritane te getuig. Toe is Petrus deur God gestuur om die goeie nuus aan die huisgesin van die Romeinse leëroffisier Kornelius mee te deel (Handelinge, hoofstukke 10, 11). Van daardie tyd af aan is die goeie nuus in die grootste mate moontlik in ’n uitgestrekte gebied verkondig.

Ondanks die vinnige verspreiding van die goeie nuus het die apostel Paulus gewaarsku dat party die ware geloof probeer omverwerp het deur ’n “ander goeie nuus” te verkondig (2 Korintiërs 11:4; Galasiërs 1:6, 7). Hy het verwys na ’n afval wat sou kom en gesê dat ‘die verborgenheid van wetteloosheid’ reeds aan die werk was. Hy het Christene vermaan om die doel van die goeie nuus te onthou en om standvastig te bly en vas te hou aan die geesgerigte oorleweringe wat hulle deur die apostels geleer het.—2 Tessalonisense 2:3, 7, 14, 15.

Vyande van die goeie nuus het veroorsaak dat die Christene baie ly, en dit het vereis dat die apostels hard moes stry voor heersers om die goeie nuus te verdedig en wetlik te bevestig sodat dit met die grootste vryheid moontlik versprei kon word.—Filippense 1:7, 16.

Die belangrikheid daarvan om die goeie nuus te verkondig

Getroue en voortgesette verkondiging van die goeie nuus was vir Jesus belangriker as ’n mens se huidige lewe (Markus 8:35). Die individu verloor dalk sy kosbaarste besittings en ondergaan selfs vervolging, maar in die plek daarvan kry hy nou honderdvoudig: “huise en broers en susters en moeders en kinders en landerye, . . . en in die komende stelsel van dinge, die ewige lewe”.—Markus 10:29, 30.

Die individu se beweegrede waarom hy die goeie nuus verkondig, moet suiwer wees en hy moet dit uit die hart verkondig, uit liefde vir diegene wat dit hoor. Die apostels het die lewegewende belangrikheid van die goeie nuus so waardeer en hulle is so aangevuur deur God se gees en deur liefde dat hulle nie net die goeie nuus oorgedra het aan diegene wat na hulle prediking geluister het nie, maar ook hulle “eie siele”.—1 Tessalonisense 2:8.

God het die voorsiening gemaak dat die verkondigers van die goeie nuus die reg gehad het om materiële hulp te aanvaar van diegene aan wie hulle die goeie nuus verkondig het (1 Korintiërs 9:11-14). Maar Paulus en sy intieme metgeselle het hulle voorreg as verkondigers van die goeie nuus so kosbaar geag dat hulle versigtig was om nie finansiële voordeel daaruit te trek, of om dit selfs te laat lyk asof hulle dit in verband met hulle predikingswerk doen nie. Die apostel Paulus beskryf wat hy in hierdie verband gedoen het in 1 Korintiërs 9:14-18 en 1 Tessalonisense 2:6, 9.

Een van die tekens wat Jesus voorspel het wat die voleinding van hierdie stelsel van dinge sou kenmerk, was: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matteus 24:3, 14.

In die Openbaring wat ongeveer 96 G.J. aan die apostel Johannes gegee is, het Johannes ’n “engel in die middel van die hemel sien vlieg” wat “ewige goeie nuus gehad [het] om as blye tyding bekend te maak aan dié wat op die aarde woon, en aan elke nasie en stam en taal en volk, en hy het met ’n harde stem gesê: ‘Vrees God en gee hom heerlikheid, want die uur van die oordeel deur hom het aangebreek’” (Openbaring 14:6, 7). Hierdie geïnspireerde woorde toon dat daar in die “laaste dae” ’n ongeëwenaarde verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk sou wees.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel