Die mens—Net ’n hoër diersoort?
“Maak dit enigsins ’n verskil wat ons beskouing oor die oorsprong van die lewe is?”
’n Sestienjarige meisie in Brasilië het hierdie vraag gevra in die inleiding van haar toespraak oor die onderwerp “Die mens—Net ’n hoër diersoort?” Haar onderwyseres het haar gevra om die klas hieroor toe te spreek nadat die onderwyseres die Ontwaak! van 22 Junie 1998 ontvang het wat oor hierdie onderwerp handel.
Die jong Getuie het gewys presies hoe rampspoedig die evolusieleer was wat op natuurlike teeltkeuse gebaseer is. Baie mense meen byvoorbeeld dat die evolusieteorie daartoe gelei het dat party oorlog beskou as net ’n natuurlike deel van die ewige stryd om oorlewing, en dit het dus gehelp om die weg te baan vir die ontwikkeling van Fascisme en Nazisme.
Die leerling het getoon dat daar ’n groot kloof tussen mense en diere is. Sy het gesê: “Net mense kan geestelikheid ontwikkel. Net mense probeer die betekenis en die doel van die lewe uitvind. Net mense is bekommerd oor die dood, is besorg oor hulle oorsprong en het die begeerte om vir ewig te lewe. Hoe belangrik is dit tog dat ons tyd daaraan bestee om ’n bietjie meer oor ons oorsprong uit te vind!”
Die onderwyseres het haar geprys vir die goeie aanbieding. Sy het die sukses daarvan toegeskryf aan die feit dat hierdie jong tienderjarige Getuie daarvan hou om te lees. By die skool ken hulle die meisie as iemand wat Bybelpublikasies soos die Ontwaak! en Die Wagtoring ywerig lees.
Jehovah se Getuies is opreg besorg oor die uitwerking wat die evolusieteorie op die harte en verstande van jongmense het. Daarom het die gemeente waarin hierdie meisie is jong Getuies aangemoedig om ’n eksemplaar van die Ontwaak! van 22 Junie 1998 vir hulle onderwysers en skoolmaats te gee. Sowat 230 tydskrifte is in verskeie skole in die stad versprei. Die hoof van die Wetenskapdepartement by een skool het op die Ontwaak! ingeteken.
Ja, dit maak wel ’n verskil wat ons beskouing oor die oorsprong van die lewe is! Hierdie meisie en haar vriende het getoon dat geloof in die Skepper werklik ’n verskil in hulle lewe gemaak het.