Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 2/15 bl. 20-25
  • Word jy soos Jesus tot optrede beweeg?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Word jy soos Jesus tot optrede beweeg?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Beweeg om in mense se geestelike behoeftes te voorsien
  • Hy het ander aangespoor om te getuig
  • Kweek vandag die denke van Christus aan
  • “Om die liefde van die Christus te ken”
    Kom nader aan Jehovah
  • Jehovah heers met medelye
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Wees medelydend soos Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Jehovah—ons Vader vol tere medelye
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 2/15 bl. 20-25

Word jy soos Jesus tot optrede beweeg?

“Hy [het] ’n groot skare gesien, maar hy is ontroer deur medelye met hulle, want hulle was soos skape sonder ’n herder. En hy het hulle baie dinge begin leer.”—MARKUS 6:34.

1. Waarom is dit te verstane dat mense bewonderenswaardige eienskappe openbaar?

DEUR die geskiedenis heen was daar baie mense wat bewonderenswaardige eienskappe aan die dag gelê het. ’n Mens kan verstaan waarom. Jehovah God besit en openbaar liefde, goedhartigheid, vrygewigheid en ander eienskappe wat ons waardeer. Mense is na God se beeld geskep. Ons kan dus sien waarom baie persone ’n mate van liefde, goedhartigheid, medelye en ander godvrugtige eienskappe openbaar, soos die meeste mense ook toon dat hulle ’n gewete het (Genesis 1:26; Romeine 2:14, 15). Maar jy besef dalk dat party hierdie eienskappe makliker openbaar as ander.

2. Wat is van die goeie werke wat mense doen en wat hulle dalk laat dink dat hulle Christus navolg?

2 Jy ken moontlik mans en vroue wat dikwels die siekes besoek of help, medelye aan die gestremdes betoon of milddadig aan die armes gee. Dink ook aan persone wat uit medelye vir hulle medemens hulle lewe daaraan wy om in melaatsekolonies of in weeshuise te werk, diegene wat vrywillige werk in hospitale of hospitiums doen of mense wat probeer om haweloses of vlugtelinge te help. Party van hulle dink heel moontlik dat hulle Jesus navolg, wat die voorbeeld vir Christene gestel het. Ons lees in die Evangelies dat Christus die siekes gesond gemaak het en honger mense gevoed het (Markus 1:34; 8:1-9; Lukas 4:40). Die liefde, teerheid en medelye wat Jesus geopenbaar het, was ’n weerspieëling van “die denke van Christus”, wat weer sy hemelse Vader nagevolg het.—1 Korintiërs 2:16.

3. Wat moet ons ondersoek as ons ’n gebalanseerde beskouing van Jesus se goeie werke wil hê?

3 Het jy egter opgemerk dat baie wat vandag deur Jesus se liefde en medelye beweeg word ’n vername kenmerk van die denke van Christus oor die hoof sien? Ons kan insig hierin kry deur Markus hoofstuk 6 noukeurig te ondersoek. Ons lees hier dat mense die siekes na Jesus gebring het sodat hy hulle gesond kon maak. In die verslag leer ons ook dat Jesus, toe hy besef het dat die duisende wat na hom gekom het honger geword het, hulle wonderdadig gevoed het (Markus 6:35-44, 54-56). Die feit dat Jesus die siekes gesond gemaak en dié wat honger was, gevoed het, was uitsonderlike betonings van liefdevolle medelye. Maar was dit die vernaamste maniere waarop Jesus ander gehelp het? En wat is die beste manier waarop ons sy volmaakte voorbeeld van liefde, goedhartigheid en medelye kan navolg, soos hy Jehovah nagevolg het?

Beweeg om in mense se geestelike behoeftes te voorsien

4. Wat is die agtergrond van die verslag in Markus 6:30-34?

4 Jesus het hoofsaaklik medelye vir diegene om hom gehad weens hulle geestelike behoeftes. Daardie behoeftes was van die allergrootste belang, belangriker as fisiese behoeftes. Kyk byvoorbeeld na die verslag in Markus 6:30-34. Die voorval wat hier opgeteken is, het by die See van Galilea plaasgevind, kort voor die Pasga van 32 G.J. Die apostels was opgewonde, en heel tereg ook. Hulle het by Jesus aangekom pas ná ’n uitgebreide predikingsreis en was ongetwyfeld gretig om hom hulle ondervindinge te vertel. Maar ’n skare het daar versamel. Daar was so baie mense dat Jesus en sy apostels nie kon eet of rus nie. Jesus het vir die apostels gesê: “Kom julle alleen na ’n eensame plek en rus ’n bietjie” (Markus 6:31). Hulle het in ’n boot geklim, waarskynlik naby Kapernaum, en na ’n stil plek oorkant die See van Galilea gevaar. Maar die skare het langs die strand gehardloop en voor die boot daar aangekom. Hoe sou Jesus reageer? Was hy kwaad dat hulle inbreuk op sy privaatheid gemaak het? Glad nie!

5. Hoe het Jesus oor die skare gevoel wat na hom gekom het, en wat het hy gevolglik gedoen?

5 Jesus is ontroer toe hy hierdie skare van duisende mense, met siekes en al, sien wat gretig vir hom gewag het (Matteus 14:14; Markus 6:44). Markus, wat die aandag gevestig het op die rede vir Jesus se medelye en hoe Hy gereageer het, skryf: “Hy [het] ’n groot skare gesien, maar hy is ontroer deur medelye met hulle, want hulle was soos skape sonder ’n herder. En hy het hulle baie dinge begin leer” (Markus 6:34). Jesus het meer as net ’n see van gesigte gesien. Hy het individue met geestelike behoeftes gesien. Hulle was soos skape wat hulpeloos rondgedwaal het, sonder enige herder wat hulle na groen weivelde kon lei of hulle kon beskerm. Jesus het geweet dat die gevoellose godsdiensleiers, wat veronderstel was om liefdevolle herders te wees, in werklikheid die gewone mense verag en hulle geestelike behoeftes geïgnoreer het (Esegiël 34:2-4; Johannes 7:47-49). Jesus het hulle anders behandel en gedoen wat vir hulle tot die grootste nut sou wees. Hy het hulle omtrent God se Koninkryk begin leer.

6, 7. (a) Waaraan het Jesus volgens die Evangelies voorkeur gegee toe hy in die mense se behoeftes voorsien het? (b) Met watter beweegrede het Jesus vir mense getuig en hulle geleer?

6 Kyk byvoorbeeld na ’n parallelle verslag en let op die volgorde van gebeure en wat blykbaar die voorkeur gekry het. Dit is deur Lukas geskryf wat ’n geneesheer was en opreg belanggestel het in die fisiese welsyn van ander. “Die skare het . . . [Jesus] gevolg. En hy het hulle vriendelik ontvang en met hulle oor die koninkryk van God begin praat, en hy het dié wat genesing nodig gehad het, gesond gemaak” (Lukas 9:11; Kolossense 4:14). Hoewel dit nie die geval met elke verslag van ’n wonderwerk is nie, wat het hierdie geïnspireerde verslag van Lukas eerste gemeld? Dit was die feit dat Jesus die mense geleer het.

7 Dit stem in werklikheid ooreen met dit waarop Markus 6:34 die klem plaas. Daardie vers toon duidelik hoe Jesus hoofsaaklik sy medelye betoon het. Hy het die mense geleer en in hulle geestelike behoeftes voorsien. Vroeër in sy bediening het Jesus gesê: “Ook aan ander stede moet ek die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak, want hiervoor is ek uitgestuur” (Lukas 4:43). Ons sou dit egter heeltemal mis hê as ons dink dat Jesus die Koninkryksboodskap bloot uit pligsbesef verkondig het, asof hy die predikingswerk maar werktuiglik gedoen het omdat hy dit moes doen. Nee, sy liefdevolle medelye vir die mense was ’n vername beweegrede waarom hy die goeie nuus aan hulle verkondig het. Die beste wat Jesus vir mense kon doen—selfs vir die siekes, dié wat deur demone geteister is, die armes of dié wat honger was—was om hulle te help om die waarheid omtrent God se Koninkryk te leer ken, te aanvaar en lief te kry. Daardie waarheid was van die grootste belang weens die rol wat die Koninkryk daarin speel om Jehovah se soewereiniteit te regverdig en permanente seëninge vir mense moontlik te maak.

8. Hoe het Jesus oor sy predikings- en onderrigtingswerk gevoel?

8 Jesus se ywerige verkondiging van die Koninkryk was een van die hoofredes waarom hy na die aarde toe gekom het. Na aan die einde van sy aardse bediening het Jesus vir Pilatus gesê: “Hiervoor is ek gebore, en hiervoor het ek in die wêreld ingekom, om van die waarheid te getuig. Elkeen wat aan die kant van die waarheid is, luister na my stem” (Johannes 18:37). Ons het in die vorige twee artikels gesien dat Jesus iemand met tere gevoelens was—besorgd, genaakbaar, bedagsaam, vol vertroue in ander, en bowenal liefdevol. Ons moet hierdie aspekte van sy persoonlikheid begryp as ons werklik die denke van Christus wil verstaan. Dit is net so belangrik om te besef dat die denke van Christus ook die voorkeur insluit wat hy aan die predikings- en onderrigtingswerk gegee het.

Hy het ander aangespoor om te getuig

9. Wie moes aan die predikings- en onderrigtingswerk voorkeur gee?

9 Jesus was nie die enigste een wat—as ’n blyk van liefde en medelye—aan die predikings- en onderrigtingswerk moes voorkeur gee nie. Hy het sy volgelinge aangespoor om sy beweegredes, prioriteite en optrede na te volg. Wat moes Jesus se 12 apostels byvoorbeeld doen nadat hy hulle gekies het? Markus 3:14, 15 sê vir ons: “Hy het ’n groep van twaalf gevorm, wat hy ook ‘apostels’ genoem het, sodat hulle by hom kon bly en sodat hy hulle kon uitstuur om te preek en om gesag te hê om die demone uit te dryf.” Sien jy waaraan die apostels voorkeur moes gee?

10, 11. (a) Wat het Jesus vir die apostels gesê om te doen toe hy hulle uitgestuur het? (b) Waarop het die klem geval toe die apostels uitgestuur is?

10 Mettertyd het Jesus die 12 mag gegee om mense gesond te maak en demone uit te dryf (Matteus 10:1; Lukas 9:1). Hy het hulle toe op ’n predikingsreis na “die verlore skape van die huis van Israel” gestuur. Om wat te doen? Jesus het vir hulle gesê: “Terwyl julle gaan, preek en sê: ‘Die koninkryk van die hemele het naby gekom.’ Genees siekes, wek dooies op, maak melaatses rein, dryf demone uit” (Matteus 10:5-8; Lukas 9:2). Wat het hulle toe gedoen? “Toe het hulle vertrek en [1] gepreek sodat mense berou kon hê; en [2] hulle het baie demone uitgedryf en baie sieklike mense met olie gesalf en hulle genees.”—Markus 6:12, 13.

11 Onderrigting word natuurlik nie in elke geval eerste genoem nie. Beteken dit dus dat ons, deur so op die volgorde van gebeure te let, te veel omtrent die kwessie van prioriteite of beweegredes uit die verslag aflei? (Lukas 10:1-9). Wel, ons moet nie die feit dat onderrigting herhaalde kere voor genesing gemeld word, ignoreer nie. Beskou byvoorbeeld die konteks in hierdie geval. Net voordat Jesus die 12 apostels uitgestuur het, was hy ontroer deur die toestand van die skare. Ons lees: “Jesus het op ’n reis deur al die stede en dorpies vertrek en in hulle sinagoges geleer en die goeie nuus van die koninkryk verkondig en elke soort kwaal en elke soort gebrek genees. Toe hy die skare sien, het hy medelye vir hulle gevoel, want hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder. Toe het hy vir sy dissipels gesê: ‘Ja, die oes is groot, maar die werkers is min. Smeek dus die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur.’”—Matteus 9:35-38.

12. Watter bykomstige doel het die wonderdadige werke van Jesus en die apostels bereik?

12 Die apostels kon die denke van Christus tot ’n sekere mate hulle eie maak deur saam met hom te wees. Hulle kon insien dat hulle ook vir ander moes getuig en leer omtrent die Koninkryk om ware liefde en medelye teenoor hulle te betoon—dít moes ’n vername aspek van hulle goeie werke wees. In ooreenstemming hiermee het die goeie dade van ’n fisiese aard, soos om die siekes gesond te maak, meer bereik as om net die behoeftiges te help. Soos jy jou kan indink, is daar mense wat aangetrek sou word deur genesings en voedsel wat wonderdadig voorsien is (Matteus 4:24, 25; 8:16; 9:32, 33; 14:35, 36; Johannes 6:26). Maar daardie werke het mense nie net fisies gehelp nie. Dit het dié wat dit aanskou het in werklikheid laat besef dat Jesus die Seun van God en “die profeet” was wat deur Moses voorspel is.—Johannes 6:14; Deuteronomium 18:15.

13. Watter rol van die toekomstige “profeet” het die profesie in Deuteronomium 18:18 beklemtoon?

13 Waarom was dit betekenisvol dat Jesus “die profeet” was? Wel, wat was die vernaamste rol wat hy volgens die profesie sou vervul? Sou “die profeet” beroemd wees omdat hy wonderdadige genesings gedoen het of omdat hy honger mense uit medelye van voedsel voorsien het? Deuteronomium 18:18 het voorspel: “’n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy [Moses] is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel.” Net soos die apostels dus geleer het om tere gevoelens te hê en te openbaar, kon hulle sien dat die denke van Christus ook in hulle predikings- en onderrigtingswerk duidelik moes wees. Dit sou die heel beste ding wees wat hulle vir mense kon doen. Die siekes en die armes kon permanente voordele daaruit trek, nie net voordele wat tot die mens se kort leeftyd of tot een of twee maaltye beperk was nie.—Johannes 6:26-30.

Kweek vandag die denke van Christus aan

14. Hoe hou die denke van Christus met ons predikingswerk verband?

14 Nie een van ons sal dink dat die denke van Christus net geopenbaar moes word deur Jesus en die vroeë dissipels van die eerste eeu nie, van wie die apostel Paulus geskryf het: “Ons het wel die denke van Christus” (1 Korintiërs 2:16). En ons sal geredelik erken dat ons onder verpligting is om die goeie nuus te verkondig en dissipels te maak (Matteus 24:14; 28:19, 20). Dit is nogtans goed om te ondersoek met watter beweegrede ons hierdie werk doen. Dit moet nie uit ’n blote pligsbesef wees nie. Liefde vir God is die hoofrede waarom ons aan die bediening deelneem, en om waarlik soos Jesus te wees, sluit in dat ons deur medelye beweeg moet word om vir ander te getuig en hulle te leer.—Matteus 22:37-39.

15. Waarom is medelye ’n gepaste deel van ons openbare bediening?

15 Dit is weliswaar nie altyd maklik om medelye te hê met diegene wat nie ons opvattings deel nie, veral wanneer ons met onverskilligheid, verwerping of teenstand te kampe het. Maar as ons ons liefde en medelye vir mense verloor, kan ons ’n noodsaaklike beweegrede vir deelname aan die Christelike bediening verloor. Hoe kan ons dan medelye aankweek? Ons kan mense probeer sien soos Jesus hulle gesien het, as “gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” (Matteus 9:36). Beskryf dit nie die toestand van baie mense van vandag nie? Hulle is verwaarloos en geestelik verblind deur valse godsdiensherders. Gevolglik weet hulle nie van die betroubare leiding wat in die Bybel gevind word of van die Paradystoestande wat God se Koninkryk binnekort op ons aarde tot stand sal bring nie. Hulle kom te staan voor die daaglikse lewensprobleme—onder meer armoede, gesinsverdeeldheid, siekte en die dood—sonder die Koninkrykshoop. Ons het wat hulle nodig het: die lewensreddende goeie nuus van God se Koninkryk wat in die hemel opgerig is!

16. Waarom wil ons graag die goeie nuus aan ander verkondig?

16 Wanneer jy só aan die geestelike behoeftes van diegene om jou nadink, beweeg jou hart jou nie om alles in jou vermoë te doen om hulle omtrent God se liefdevolle voornemens te vertel nie? Ja, ons werk verg medelye. Wanneer ons empatie met mense het soos Jesus gehad het, sal dit duidelik blyk uit ons stemtoon, ons gesigsuitdrukkings, die manier waarop ons onderrig. Dit alles sal ons boodskap aantrekliker maak vir diegene met “die regte gesindheid vir die ewige lewe”.—Handelinge 13:48.

17. (a) Wat is van die maniere waarop ons ons liefde en medelye vir ander kan openbaar? (b) Waarom kan ons nie net goeie werke doen of net aan die openbare bediening deelneem nie?

17 Ons liefde en medelye moet natuurlik in ons hele lewenswyse gesien kan word. Dit sluit in dat ons goedhartigheid sal betoon teenoor die minder bevoorregtes, die siekes en die armes—dat ons doen wat ons redelikerwys kan om hulle lyding te verlig. Dit behels die pogings wat ons in woord en in daad aanwend om die smart te verlig van diegene wat geliefdes aan die dood afgestaan het (Lukas 7:11-15; Johannes 11:33-35). Maar ons moet nie, soos in die geval van party weldoeners, toelaat dat ons aandag hoofsaaklik deur sulke bewyse van liefde, goedhartigheid en medelye in beslag geneem word nie. Die pogings wat deur dieselfde godvrugtige eienskappe gemotiveer is maar in die Christelike predikings- en onderrigtingswerk geopenbaar word, is van veel groter nut. Onthou wat Jesus oor die Joodse godsdiensleiers gesê het: “Julle gee die tiende van die kruisement en die dille en die komyn, maar julle het die gewigtiger sake van die Wet verontagsaam, naamlik geregtigheid en barmhartigheid en getrouheid. Dit was verpligtend om hierdie dinge te doen, maar sonder om die ander te verontagsaam” (Matteus 23:23). Vir Jesus was dit nie óf die een óf die ander nie—om in mense se fisiese behoeftes te voorsien of om hulle lewegewende geestelike sake te leer nie. Jesus het hulle in albei opsigte gehelp. Dit is egter duidelik dat sy onderrigtingswerk die belangrikste was omdat dit mense vir ewig tot voordeel kon strek.—Johannes 20:16.

18. Wat moet hierdie bespreking van die denke van Christus ons beweeg om te doen?

18 Hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jehovah die denke van Christus aan ons geopenbaar het! Deur middel van die Evangelies kan ons die denke, gevoelens, eienskappe, bedrywighede en prioriteite van die grootste mens wat nog geleef het beter leer ken. Dit hang van ons af of ons dit wat die Bybel omtrent Jesus openbaar, gaan lees, bepeins en toepas. Onthou, as ons waarlik soos Jesus wil optree, moet ons eers leer om na die beste van ons vermoë as onvolmaakte mense soos hy te dink, te voel en sake te beoordeel. Laat ons dan vasbeslote wees om die denke van Christus aan te kweek en te openbaar. Daar is geen beter manier om te lewe, geen beter manier om mense te behandel en geen beter manier vir ons en ander om nader te kom aan die een wat hy volmaak weerspieël het nie, ons liefdevolle God, Jehovah.—2 Korintiërs 1:3; Hebreërs 1:3.

Hoe sal jy antwoord?

• Watter insig gee die Bybel ons in die manier waarop Jesus dikwels behoeftige mense gehelp het?

• Waarop het Jesus die klem gelê wanneer hy instruksies aan sy volgelinge gegee het?

• Hoe kan ons “die denke van Christus” in ons lewe openbaar?

[Volbladillustrasie op bladsy 23]

[Prent op bladsy 24]

Wat kan Christene vir ander doen wat vir hulle tot die grootste voordeel sal strek?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel