Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 3/15 bl. 21-24
  • Beskeidenheid—’n Eienskap wat vrede bevorder

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Beskeidenheid—’n Eienskap wat vrede bevorder
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Twee beskeie konings
  • Die Messias en sy voorloper
  • Vrede met Jehovah God
  • Vrede met ons medemens
  • Innerlike vrede
  • Ontwikkel en handhaaf beskeidenheid
  • Die aankweek van Christelike beskeidenheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Christelike beskeidenheid—’n blyk van wysheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Waarom beskeidenheid nog steeds belangrik is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Jy kan beskeie bly​—⁠Selfs wanneer dit moeilik is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 3/15 bl. 21-24

Beskeidenheid—’n Eienskap wat vrede bevorder

Hoe aangenaam sou die wêreld tog gewees het as almal beskeie was. Mense sou minder veeleisend gewees het, gesinslede sou minder gestry het, maatskappye sou nie so mededingend gewees het nie en nasies sou minder strydlustig wees. Sal jy daarvan hou om in so ’n wêreld te lewe?

WARE knegte van Jehovah God berei hulle voor vir sy beloofde nuwe wêreld, waarin beskeidenheid oral as ’n sterk punt en ’n deug beskou sal word, nie as ’n swakheid nie (2 Petrus 3:13). Trouens, hulle kweek nou alreeds die eienskap van beskeidenheid aan. Waarom? Veral omdat Jehovah dit van hulle vereis. Sy profeet Miga het geskryf: “Hy het jou vertel, o mens, wat goed is. En wat anders vra Jehovah van jou terug as om geregtigheid te beoefen en goedhartigheid lief te hê en beskeie te wandel met jou God?”—Miga 6:8, NW.

Beskeidenheid kan ’n hele paar dinge beteken, soos om nie aanmatigend of ydel te wees nie en om nie te spog oor jou vermoëns, prestasies en besittings nie. Volgens een naslaanwerk beteken beskeidenheid ook “om binne perke te bly”. ’n Beskeie persoon bly binne die perke van goeie gedrag. Hy erken ook dat daar grense is aan wat hy moet doen en wat hy kan doen. Hy weet dat daar dinge is waarop hy nie geregtig is nie. Ons voel beslis aangetrokke tot beskeie mense. “Daar is geen aantrekliker eienskap as ware beskeidenheid nie”, het die Engelse digter Joseph Addison geskryf.

Beskeidenheid is nie ’n aangebore eienskap van onvolmaakte mense nie. Ons moet ons inspan om hierdie eienskap aan te kweek. Om ons hierin aan te moedig, noem God se Woord ’n aantal voorbeelde wat die verskillende fasette van beskeidenheid toon.

Twee beskeie konings

Een van Jehovah se lojaalste knegte was Dawid, wat ’n jong man was toe hy as die toekomstige koning van Israel gesalf is. Daarna het Saul, die heersende koning, Dawid onder groot druk geplaas deur hom te probeer doodmaak en hom te dwing om as ’n voortvlugtige te lewe.—1 Samuel 16:1, 11-13; 19:9, 10; 26:2, 3.

Selfs onder daardie omstandighede het Dawid besef dat sy pogings om sy lewe te beskerm binne sekere perke moes bly. By een geleentheid in die woestyn het Dawid Abisai nie toegelaat om koning Saul in sy slaap kwaad aan te doen nie, maar hy het gesê: “Dit is vir my ondenkbaar, vanuit Jehovah se standpunt, om my hand teen die gesalfde van Jehovah uit te steek!” (1 Samuel 26:8-11, NW). Dawid het geweet dat hy nie die reg gehad het om Saul uit sy posisie as koning te verwyder nie. Dawid het sodoende by hierdie geleentheid beskeidenheid aan die dag gelê deur binne die perke van behoorlike gedrag te bly. God se hedendaagse knegte weet eweneens dat daar “vanuit Jehovah se standpunt” dinge is wat hulle eenvoudig nie kan doen nie, al is iemand se lewe op die spel.—Handelinge 15:28, 29; 21:25.

Koning Dawid se seun Salomo het ook as ’n jong man beskeidenheid geopenbaar, maar op ’n effens ander manier. Toe Salomo as koning gekroon is, het hy onbevoeg gevoel vir die gewigtige verantwoordelikheid van ’n koning. Hy het gebid: “HERE my God, U het u kneg koning gemaak in my vader Dawid se plek; maar ek is ’n jong seun; ek weet nie om uit of in te gaan nie.” Salomo was ongetwyfeld bewus van sy eie gebrek aan bekwaamheid en ondervinding. Hy was toe beskeie, nie aanmatigend of ydel nie. Salomo het Jehovah om onderskeidingsvermoë gevra, en sy versoek is toegestaan.—1 Konings 3:4-12.

Die Messias en sy voorloper

Meer as 1 000 jaar ná Salomo se tyd het Johannes die Doper die weg vir die Messias berei. As die voorloper van die Gesalfde het Johannes Bybelprofesieë vervul. Hy kon oor sy voorreg gespog het. Johannes kon ook sy eie eer probeer soek het omdat hy ’n bloedverwant van die Messias was. Maar Johannes het vir ander gesê dat hy selfs nie eers waardig was om Jesus se sandaal los te maak nie. En toe Jesus gekom het om in die Jordaanrivier gedoop te word, het Johannes gesê: “Dit is ek wat deur u gedoop moet word, en kom u na my toe?” Dit toon dat Johannes nie iemand was wat gespog het nie. Hy was beskeie.—Matteus 3:14; Maleagi 4:5, 6; Lukas 1:13-17; Johannes 1:26, 27.

Nadat Jesus gedoop is, het hy ’n voltydse bediening aangepak en die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig. Hoewel Jesus ’n volmaakte man was, het hy gesê: “Ek kan nie ’n enkele ding op eie inisiatief doen nie . . . Ek [soek] nie my eie wil . . . nie, maar die wil van hom wat my gestuur het.” Daarbenewens het Jesus nie die eer van mense gesoek nie, maar die heerlikheid aan Jehovah gegee vir alles wat hy gedoen het (Johannes 5:30, 41-44). Wat ’n goeie voorbeeld van beskeidenheid!

Dit is dus duidelik dat lojale knegte van Jehovah—soos Dawid, Salomo, Johannes die Doper en selfs die volmaakte man Jesus Christus—beskeie was. Hulle het nie gespog nie, was nie ydel of verwaand nie en het binne behoorlike perke gebly. Hulle voorbeelde is genoeg rede vir hedendaagse knegte van Jehovah om beskeidenheid aan te kweek en aan die dag te lê. Maar daar is nog ander redes waarom ons dit moet doen.

In hierdie veelbewoë tydperk van die mensdom se geskiedenis is beskeidenheid ’n eienskap wat vir ware Christene van baie groot waarde is. Dit stel ’n mens in staat om vrede met Jehovah God en met jou medemens sowel as innerlike vrede te geniet.

Vrede met Jehovah God

Vrede met Jehovah is slegs moontlik as ons binne die perke bly wat hy vir ware aanbidding stel. Ons eerste ouers, Adam en Eva, het die grense oorskry wat God gestel het, en hulle het die eerste mense geword wat onbeskeie opgetree het. Hulle het hulle goeie posisie voor Jehovah verloor, sowel as hulle tuiste, hulle toekoms en hulle lewe (Genesis 3:1-5, 16-19). Hoe swaar het hulle tog vir hulle onbeskeidenheid geboet!

Laat ons uit Adam en Eva se fout leer, want ware aanbidding stel perke aan ons gedrag. Die Bybel sê byvoorbeeld dat “geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of mans wat vir onnatuurlike doeleindes aangehou word of mans wat by mans lê of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of afpersers . . . God se koninkryk [sal] beërf nie” (1 Korintiërs 6:9, 10). Jehovah stel wyslik hierdie grense vir ons beswil, en ons toon dat ons wys is as ons binne hierdie perke bly (Jesaja 48:17, 18). Spreuke 11:2 sê vir ons: “By die beskeidenes is wysheid.”

Gestel ’n godsdiensorganisasie sê vir ons dat ons hierdie grense kan ignoreer en nog steeds vrede met God kan geniet. Daardie organisasie probeer ons mislei. Daarenteen help beskeidenheid ons om ’n hegte verhouding met Jehovah God op te bou.

Vrede met ons medemens

Beskeidenheid bevorder ook vreedsame verhoudings met ander. Wanneer ouers byvoorbeeld die voorbeeld stel deur vergenoeg te wees met hulle noodsaaklikhede en deur voorkeur te gee aan geestelike sake, sal hulle kinders heel waarskynlik dieselfde gesindheid aankweek. Die kinders sal dit dan makliker vind om vergenoeg te wees, al kry hulle dalk nie altyd wat hulle wil hê nie. Dit sal hulle help om met beskeidenheid te lewe, en die gesinslewe sal vreedsamer wees.

Diegene wat as opsieners dien, moet veral beskeie wees en nie hulle gesag misbruik nie. Christene word byvoorbeeld geleer: “Moenie verder gaan as die dinge wat geskrywe staan nie” (1 Korintiërs 4:6). Gemeentelike ouer manne besef dat hulle nie hulle eie persoonlike voorkeure op ander moet probeer afdwing nie. Hulle gebruik eerder God se Woord as grondslag om ander aan te spoor om die regte keuse te maak in hulle gedrag, kleredrag, persoonsversorging of ontspanning (2 Timoteus 3:14-17). Wanneer gemeentelede sien dat die ouer manne binne skriftuurlike perke bly, bevorder dit respek vir hierdie manne en dra dit by tot ’n hartlike, liefdevolle en vreedsame gees in die gemeente.

Innerlike vrede

Beskeie persone word met innerlike vrede beloon. Iemand wat beskeie is, word nie deur ambisie verteer nie. Dit beteken nie dat hy geen persoonlike doelwitte het nie. Hy strewe dalk byvoorbeeld na bykomende diensvoorregte, maar hy wag op God, en hy gee Jehovah die eer vir enige Christelike voorregte wat hy ontvang. Hy beskou dit nie as persoonlike prestasies nie. Dit laat die beskeie persoon nader aan Jehovah, “die God van vrede”, kom.—Filippense 4:9.

Sê nou ons voel soms dat ander mense ons nie raaksien nie. Is dit nie beter om oor die hoof gesien te word omdat ons beskeie is as om op onbeskeie wyse aandag op onsself te vestig nie? Beskeie mense word nie deur ambisie verteer nie. Daarom geniet hulle innerlike vrede, wat goed is vir hulle emosionele en fisiese welsyn.

Ontwikkel en handhaaf beskeidenheid

Adam en Eva het voor onbeskeidenheid geswig—’n eienskap wat hulle aan hulle afstammelinge oorgedra het. Wat kan ons help om nie dieselfde fout as ons eerste ouers te begaan nie? Hoe kan ons die voortreflike eienskap van beskeidenheid aankweek?

Eerstens sal ’n juiste begrip van ons posisie in verhouding tot Jehovah, die Skepper van die heelal, ons help. Wat het ons al bereik wat ooit met God se prestasies vergelyk kan word? Jehovah het sy getroue kneg Job gevra: “Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het” (Job 38:4). Job kon nie ’n antwoord gee nie. Is ons kennis, vermoëns en ondervinding nie net so beperk nie? Sal dit nie goed wees as ons ons beperkings erken nie?

Daarbenewens sê die Bybel vir ons: “Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon.” Dit sluit “al die wilde diere van die bos” asook “die vee op berge by duisende” in. Jehovah kan sê: “Aan My behoort die silwer en aan My die goud” (Psalm 24:1; 50:10; Haggai 2:8). Watter besittings kan ons vertoon wat met dié van Jehovah vergelyk kan word? Selfs die rykste mens het geen rede om te spog met wat hy besit nie! Dit is dus verstandig om die apostel Paulus se geïnspireerde raad aan Christene in Rome te volg: “Deur die onverdiende goedhartigheid wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen daar onder julle om nie meer van homself te dink as wat dit nodig is om te dink nie.”—Romeine 12:3.

As knegte van God wat graag beskeidenheid wil aankweek, moet ons bid vir die vrugte van die gees—liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing (Lukas 11:13; Galasiërs 5:22, 23). Waarom? Omdat elkeen van hierdie eienskappe dit vir ons makliker sal maak om beskeie te wees. Liefde vir ons medemens sal ons byvoorbeeld help om te stry teen die neiging om te spog of aanmatigend te wees. En selfbeheersing sal ons help om te besin voordat ons onbeskeie optree.

Laat ons versigtig wees! Ons moet voortdurend waak teen die strikke van onbeskeidenheid. Twee van die konings wat vroeër gemeld is, was nie altyd beskeie nie. Koning Dawid het roekeloos gehandel deur ’n sensus van Israel te hou, iets wat teen Jehovah se wil was. Koning Salomo het só onbeskeie geword dat hy by valse aanbidding betrokke geraak het.—2 Samuel 24:1-10; 1 Konings 11:1-13.

Solank hierdie goddelose stelsel van dinge nog bestaan, vereis beskeidenheid dat ons voortdurend waaksaam moet wees. Maar dit is die moeite werd. In God se nuwe wêreld sal die mensegemeenskap net bestaan uit mense wat beskeie is. Hulle sal beskeidenheid as ’n sterk punt beskou, nie as ’n swakheid nie. Hoe wonderlik sal dit tog wees wanneer alle individue en gesinne geseën word met die vrede wat die resultaat van beskeidenheid is!

[Prent op bladsy 23]

Jesus was beskeie en het Jehovah die eer gegee vir alles wat hy gedoen het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel