Getrou en onverskrokke tydens Nazi-onderdrukking
Op 17 Junie 1946 het koningin Wilhelmina van Nederland ’n simpatiekaartjie aan ’n gesin van Jehovah se Getuies in Amsterdam gestuur. Die doel daarvan was om haar bewondering uit te spreek vir die gesin se seun, Jacob van Bennekom, wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog deur die Nazi’s tereggestel is. Jare tevore het die stadsraad van Doetinchem, ’n dorp in die oostelike deel van Nederland, besluit om ’n straat te vernoem na Bernard Polman, ook een van Jehovah se Getuies wat gedurende die oorlog tereggestel is.
WAAROM het die Nazi’s Jacob, Bernard en ander Getuies van Jehovah in Nederland tydens die Tweede Wêreldoorlog vervolg? En wat het hierdie Getuies in staat gestel om gedurende jare van wrede vervolging getrou te bly en uiteindelik die respek en bewondering van hulle landgenote en die koningin af te dwing? Om uit te vind, kan ons kyk na van die gebeure wat tot ’n Dawid-en-Goliat-konfrontasie tussen ’n klein groepie Getuies van Jehovah en die reusagtige Nazi-oorlogsmasjien gelei het.
Verbied—maar bedrywiger as ooit
Op 10 Mei 1940 het die Nazi-leër Nederland binnegeval. Aangesien die lektuur wat deur Jehovah se Getuies versprei is die bose dade van Nazisme aan die kaak gestel het en die Koninkryk van God voorgestaan het, het die Nazi’s onmiddellik die werk van die Getuies probeer stopsit. Minder as drie weke nadat die Nazi’s Nederland binnegeval het, het hulle ’n geheime verordening uitgevaardig wat die werk van Jehovah se Getuies verbied het. Op 10 Maart 1941 het ’n persberig die verbod openbaar gemaak waarin die Getuies daarvan beskuldig is dat hulle ’n veldtog “teen alle regerings- en kerkinstellings” voer. Gevolglik is die soektog na die Getuies verskerp.
Hoewel die berugte Gestapo, of geheime polisie, alle kerke fyn dopgehou het, is dit interessant dat hulle net een Christenorganisasie hewig vervolg het. “Vervolging tot die dood”, sê die Nederlandse geskiedkundige dr. Louis de Jong, “het net vir een godsdiensgroep gegeld—die Jehovah se Getuies.”—Het Koninkrijk der Nederlanden in de Tweede Wereldoorlog.
Die Gestapo het die samewerking van die Nederlandse polisie gehad om die Getuies op te spoor en in hegtenis te neem. Daarbenewens het ’n reisende opsiener wat vreesbevange geraak en afvallig geword het vir die Nazi’s inligting oor sy voormalige medegelowiges gegee. Teen die einde van April 1941 is 113 Getuies gevange geneem. Het hierdie aanval die predikingswerk stopgesit?
Die antwoord word gevind in Meldungen aus den Niederlanden (Verslae uit Nederland), ’n half-geheime dokument wat die Duitse Sicherheitspolizei (Veiligheidspolisie) in April 1941 saamgestel het. Die verslag sê van Jehovah se Getuies: “Hierdie verbode sekte gaan ywerig in die hele land voort met hulle werk, hulle hou onwettige vergaderinge en versprei biljette met slagspreuke soos ‘Vervolging van God se Getuies is ’n misdaad’ en ‘Jehovah sal vervolgers met ewige vernietiging straf’.” Twee weke later het dieselfde bron berig dat “die werk van die Bybelstudente aanhou uitbrei ten spyte van die Veiligheidspolisie se strenger maatreëls teen hulle werk”. Ja, ondanks die gevaar om in hegtenis geneem te word, het die Getuies voortgegaan met hulle werk, en in 1941 alleen het hulle meer as 350 000 stukke lektuur onder die publiek versprei!
Wat het hierdie klein maar immer toenemende groep van ’n paar honderd Getuies die moed gegee om teen hierdie gevreesde vyande weerstand te bied? Soos die getroue profeet Jesaja van die ou tyd het die Getuies God gevrees, nie mense nie. Waarom? Omdat hulle Jehovah se bemoedigende woorde aan Jesaja ter harte geneem het: “Ek is dit wat julle troos! Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens?”—Jesaja 51:12.
Onverskrokkenheid dwing respek af
Teen die einde van 1941 het die aantal Getuies wat in hegtenis geneem is tot 241 gestyg. Maar min van hulle het voor mensevrees geswig. Willy Lages, ’n berugte lid van die Duitse geheime polisie, het na bewering gesê dat “90 persent van Jehovah se Getuies geweier het om enige inligting te gee, terwyl net ’n klein persentasie van ander groepe die krag gehad het om stil te bly”. Die opmerking van ’n Nederlandse geestelike, Johannes J. Buskes, wat saam met van die Getuies in die tronk was, bevestig Lages se woorde. In 1951 het Buskes geskryf:
“Ek het destyds groot respek vir hulle opgebou weens hulle vertroue en die krag van hulle geloof. Ek sal nooit die jong man vergeet—hy was seker niks ouer as 19 nie—wat pamflette versprei het wat die val van Hitler en die Derde Ryk voorspel het. . . . Hy kon binne ses maande vrygelaat geword het as hy sou beloof om hierdie bedrywighede te staak. Dit het hy volstrek geweier om te doen, en sy vonnis was dwangarbeid vir ’n onbepaalde tyd in Duitsland. Ons het goed geweet wat dit beteken. Die volgende oggend toe hy weggeneem is en ons hom gegroet het, het ek vir hom gesê dat ons aan hom sou dink en vir hom sou bid. Hy het bloot geantwoord: ‘Moenie oor my bekommerd wees nie. God se Koninkryk gaan beslis kom.’ ’n Mens vergeet nie so iets nie, al het jy ook elke denkbare beswaar teen die leerstellings van hierdie Jehovah se Getuies.”
Ondanks wrede teenstand het die aantal Getuies bly toeneem. Kort voor die Tweede Wêreldoorlog was hulle ongeveer 300, maar in 1943 het die getal tot 1 379 gestyg. Ongelukkig het 54 van die meer as 350 Getuies wat gevange geneem is teen die einde van daardie selfde jaar in verskillende konsentrasiekampe gesterf. Van 1944 af was daar 141 Jehovah se Getuies van Nederland wat nog in verskillende konsentrasiekampe aangehou is.
Die laaste jaar van Nazi-vervolging
Ná D-dag, 6 Junie 1944, het die laaste jaar aangebreek waartydens die Getuies daar vervolg is. Die Nazi’s en hulle bondgenote het militêr gesproke met hulle rug teen die muur gestaan. ’n Mens sou dink dat die Nazi’s in hierdie situasie sou ophou om onskuldige Christene te vervolg. Maar gedurende daardie jaar is nog 48 Getuies in hegtenis geneem, en nog 68 van die gevange Getuies het omgekom. Een van hulle was Jacob van Bennekom, wat vroeër gemeld is.
Die 18-jarige Jacob was een van die 580 persone wat in 1941 as Getuies van Jehovah gedoop is. Kort daarna het hy ’n betalende werk opgegee omdat dit vereis het dat hy sy Christelike neutraliteit moes prysgee. Hy het as ’n boodskapper begin werk en as ’n voltydse bedienaar begin dien. Terwyl hy Bybellektuur vervoer het, is hy in hegtenis geneem. In Augustus 1944 het die 21-jarige Jacob die volgende aan sy gesin geskryf terwyl hy in ’n tronk in die stad Rotterdam was:
“Ek is nog fris en gesond en vol blydskap. . . . Ek is nou al vier keer ondervra. Die eerste twee kere was baie erg, en ek is vreeslik geslaan, maar deur die krag en die onverdiende goedhartigheid van die Here het ek tot nou toe niks verklap nie. . . . Ek het al toesprake hier gehou, altesaam ses, en altesaam 102 het daarna geluister. Party van hulle stel baie belang en het beloof dat hulle verder ondersoek sal instel wanneer hulle vrygelaat word.”
Op 14 September 1944 is Jacob na ’n konsentrasiekamp in die stad Amersfoort, Nederland, geneem. Selfs daar het hy aanhou getuig. Hoe? ’n Medegevangene het vertel: “Gevangenes het sigaretstompies opgetel wat die wagte weggegooi het, en bladsye uit ’n Bybel as sigaretpapier gebruik. Soms kon Jacob ’n paar woorde op ’n Bybelbladsy lees voordat dit as sigaretpapier gebruik is. En onmiddellik daarna het hy die woorde wat hy gelees het, gebruik om vir ons te getuig. Kort voor lank het ons Jacob die bynaam ‘die Bybelman’ gegee.”
In Oktober 1944 was Jacob deel van ’n groot groep gevangenes wat beveel is om diep slote te grawe waardeur tenks nie kon gaan nie. Jacob het geweier om die werk te doen, aangesien sy gewete hom nie toegelaat het om die oorlogspoging te ondersteun nie. Al het die wagte hom gedurig gedreig, het hy nie toegegee nie. Op 13 Oktober het ’n offisier hom uit alleenopsluiting gehaal en hom na die werkplek teruggeneem. Weer eens het Jacob voet by stuk gehou. Hy is uiteindelik beveel om sy eie graf te grawe en is doodgeskiet.
Die soektog na die Getuies duur voort
Die moedige standpunt van Jacob en ander het die Nazi’s woedend gemaak en tot nog ’n soektog na die Getuies aanleiding gegee. Een van hulle teikens was die 18-jarige Evert Kettelarij. Evert kon aanvanklik wegkom en wegkruip, maar hy is later gevange geneem en erg geslaan om hom te dwing om inligting oor ander Getuies te gee. Hy het geweier en is na Duitsland gestuur om dwangarbeid te verrig.
Daardie selfde maand, Oktober 1944, het die polisie Evert se swaer, Bernard Luimes, probeer opspoor. Toe hulle hom vind, was hy saam met twee ander Getuies—Antonie Rehmeijer en Albertus Bos. Albertus het alreeds 14 maande in ’n konsentrasiekamp deurgebring. Maar ná sy vrylating het hy ywerig met die predikingswerk voortgegaan. Die Nazi’s het die drie mans eers genadeloos geslaan en hulle daarna doodgeskiet. Eers ná die oorlog is hulle lyke gevind en weer begrawe. Kort ná die oorlog het etlike plaaslike koerante hierdie teregstelling gepubliseer. Een van die koerante het geskryf dat die drie Getuies beginselvas geweier het om enige diens vir die Nazi’s te verrig wat strydig met God se wet was en bygevoeg dat “hulle hiervoor met hulle lewe moes boet”.
Intussen is Bernard Polman, wat vroeër gemeld is, op 10 November 1944 in hegtenis geneem en na ’n militêre projek gestuur om daar te werk. Hy was die enigste Getuie onder die dwangarbeiders en die enigste wat geweier het om hierdie werk te doen. Die wagte het verskillende metodes gebruik om hom van plan te laat verander. Hy het geen kos gekry nie. Hy is ook wreed geslaan met knuppels, ’n graaf en ’n geweerkolf. Daarbenewens is hy gedwing om deur kniediep koue water te loop, en toe is hy in ’n klam kelder opgesluit waar hy die nag in sy nat klere moes deurbring. Maar Bernard het by sy standpunt gebly.
Gedurende daardie tyd is twee van Bernard se susters, wat nie Jehovah se Getuies was nie, toegelaat om hom te besoek. Hulle het hom aangespoor om van gedagte te verander, maar kon hom glad nie oorhaal nie. Toe hulle Bernard gevra het of daar iets is wat hulle vir hom kon doen, het hy voorgestel dat hulle huis toe gaan en die Bybel bestudeer. Sy vervolgers het toe sy swanger vrou toegelaat om hom te besoek en gehoop dat sy sy weerstand sou breek. Maar haar teenwoordigheid en bemoedigende woorde het Bernard net meer versterk in sy voorneme om getrou aan God te bly. Op 17 November 1944 is Bernard deur vyf van sy vervolgers doodgeskiet terwyl al die ander dwangarbeiders toegekyk het. Selfs nadat Bernard dood was, met sy liggaam vol koeëls geskiet, het die bevelvoerende offisier só woedend geraak dat hy sy rewolwer uitgepluk en Bernard deur albei oë geskiet het.
Hoewel die Getuies wat van die teregstelling te hore gekom het, geskok was oor hierdie wrede behandeling, het hulle getrou en onverskrokke gebly en met hulle Christelike bedrywighede voortgegaan. Een klein gemeente van Jehovah se Getuies, in ’n omgewing naby die gebied waar Bernard doodgemaak is, het kort na die teregstelling hierdie verslag gestuur: “Ons het hierdie maand, ten spyte van ongure weer en die struikelblokke wat Satan in ons weg gelê het, baie vermag. Die ure wat ons aan die veldbediening gewy het, het van 429 tot 765 gestyg. . . . Terwyl een broer aan die predikingswerk deelgeneem het, het hy ’n man ontmoet vir wie hy ’n goeie getuienis kon gee. Die man het gevra of hy aan dieselfde geloof behoort as die man wat doodgeskiet is. Toe die man hoor dat dit dieselfde geloof is, het hy uitgeroep: ‘Wat ’n man, en wat ’n geloof! So iemand noem ek ’n held van die geloof!’”
Jehovah onthou hulle
In Mei 1945 is die Nazi’s oorwin en uit Nederland verdryf. Ondanks die meedoënlose vervolging gedurende die oorlog het Jehovah se Getuies daar van ’n paar honderd tot meer as 2 000 vermeerder. Die geskiedkundige dr. De Jong het van hierdie Getuies in oorlogstyd gepraat en erken: “Die meeste van hulle het geweier om hulle geloof te verloën ten spyte van dreigemente en marteling.”
Party sekulêre owerhede onthou Jehovah se Getuies dus tereg vir die moedige standpunt wat hulle tydens die Nazi-heerskappy ingeneem het. Maar nog belangriker, Jehovah en Jesus sal hierdie Getuies wat in oorlogstyd geleef het, onthou vir hulle uitstekende voorbeeld (Hebreërs 6:10). Gedurende die komende Duisendjarige Heerskappy van Jesus Christus sal hierdie getroue en onverskrokke Getuies wat hulle lewe in God se diens opgeoffer het, opgewek word uit die gedenkgrafte, met die vooruitsig op ewige lewe in ’n paradysaarde!—Johannes 5:28, 29.
[Prent op bladsy 24]
Jacob van Bennekom
[Prent op bladsy 26]
Koerantuitknipsel van verordening waarin die verbod op Jehovah se Getuies uiteengesit is
[Prente op bladsy 27]
Regs: Bernard Luimes; onder: Albertus Bos (links) en Antonie Rehmeijer; heel onder: die Genootskap se kantoor in Heemstede