Vissers van mense in die Egeïese See
DIE Egeïese See, met die Griekse vasteland aan die noorde- en westekant, die eiland Kreta in die suide en Turkye in die ooste, strek oor ’n groot gebied van die oostelike deel van die Middellandse See. Dit is besaai met groot en klein eilande en is die bakermat van party van die groot, vroeë beskawings. Die ruwe kuslyn van die eilande, waar ’n handjie vol klein, wit huisies in die sonlig glinster, is deur een digter vergelyk met “perde van klip met woeste maanhare”.
Dit is geen wonder nie dat hierdie eilande een van die gewildste toeriste-aantreklikhede in die wêreld geword het! Die prag daarvan word verhoog deur die mooi eienskappe van die mans en vroue wat daar woon en werk. Hierdie mense is ongekunsteld en gasvry, dog onafhanklik, en hulle dra iets spesiaals by tot die uniekheid van die gebied.
Baie van die eilandbewoners maak ’n bestaan deur vis te vang in die waters van die Egeïese See. Maar nog ’n belangrike soort “visserswerk” lewer goeie resultate in daardie gebied. “Vissers van mense”, verkondigers van die goeie nuus van God se Koninkryk, deurkruis die eilande van die Egeïese See en maak Christendissipels.—Matteus 4:18, 19; Lukas 5:10.
Ongeveer 19 eeue gelede het Christenevangeliedienaars eilande van die Egeïese See besoek. Omstreeks 56 G.J. het die apostel Paulus, toe hy van sy derde sendingreis af teruggekeer het, ’n rukkie by die eilande Lesvos, Chios, Samos, Kos en Rodos aangedoen. Paulus, wat altyd ’n ywerige verkondiger was, moes sekerlik vir party van die eilandbewoners getuig het (Handelinge 20:14, 15, 24; 21:1, 2). Ná sy twee jaar gevangenskap in Rome het hy heel waarskynlik Kreta besoek en daar aan Christelike bedrywighede deelgeneem. Na aan die einde van die eerste eeu is die apostel Johannes na die eiland Patmos verban “omdat [hy] oor God gepraat en van Jesus getuig het” (Openbaring 1:9). Hoe vaar hedendaagse verkondigers van die goeie nuus op hierdie eilande?
Lonende predikingskampanjes
Dit is moeilik en veeleisend om op hierdie eilandgroepe te getuig. Dit verg groot inspanning en selfopoffering. Party eilande lê ver van mekaar af. See- of lugvervoer na party van die eilande is wisselvallig, en daar is geen vervoer na van die ander nie, veral gedurende die winter. Die see kan onstuimig wees, veral wanneer die meltemia—die sterk noordelike seisoenwinde—waai. Daarbenewens is die dorpies op baie van die eilande afgeleë en moeilik bereikbaar omdat die stowwerige grondpaaie dikwels byna onbegaanbaar is. Party dorpies kan net met klein bootjies bereik word.
Neem as voorbeeld die eiland Ikaria. Die 11 verkondigers van die goeie nuus van die Koninkryk in die klein gemeente daar kan nie al die dorpies op hierdie eiland en die nabygeleë eilandjies dek nie. Christenbroers en -susters van Samos kom help dus om vir die mense van Ikaria, sowel as diegene op die eilande Fournoi, Patmos en Lipsos, te getuig. ’n Ruk gelede, gedurende een van hierdie tweedaagse kampanjes, het die Getuies 650 tydskrifte, 99 brosjures en 25 boeke wat Bybelonderwerpe bespreek, versprei! Hulle was verbaas om mense te ontmoet wat glad nie geweet het wie Jehovah is nie, mense wat hulle gesmeek het om te bly en hulle meer uit die Bybel te leer. ’n Vrou het vir een Getuie gesê: “Nou gaan julle al weer. Maar ek het nog baie vrae oor die Bybel. Wie gaan my help?” Die Christensuster het beloof om die belangstelling verder te kweek deur die telefoon te gebruik, en sy het wel op dié manier ’n Bybelstudie begin.
Toe ’n reisende opsiener Ikaria besoek het, het hy gereël om die hele eiland in een naweek te dek. Hy het die hulp van omtrent 30 Koninkryksverkondigers van Samos gekry. Die besoekende broers moes betaal om twee nagte by ’n hotel te bly en om motors en vierwielaangedrewe voertuie te huur. Dit het toe reeds twee dae swaar gereën, en die weervoorspelling vir die naweek het nie so positief geklink nie. Die broers het egter nie toegelaat dat dit hulle afskrik nie, maar hulle het aan die woorde van Prediker 11:4 gedink: “Wie op die wind ag gee, sal nie saai nie; en wie na die wolke kyk, sal nie oes nie.” Uiteindelik het die weer wel bietjie opgeklaar, en nadat die broers die hele eiland met hulle belangrike boodskap gedek het, het hulle gelukkig en tevrede teruggekeer huis toe.
Die 16 verkondigers wat op die eiland Andros woon, doen groot moeite om die hele eiland te dek. Toe twee broers by ’n afgeleë dorpie aankom, was hulle vasbeslote om vir al die inwoners te getuig. Hulle het met mense by hulle huise, op straat en op die landerye gepraat. Hulle het selfs die polisiestasie besoek en lektuur daar gelaat. Vol vertroue dat hulle met al die dorpenaars gesels het, het hulle gereed gemaak om te vertrek. Toe hulle die dorpsplein verlaat, het hulle die Grieks-Ortodokse priester sien aankom. Hulle het besef dat hy nog nie ’n getuienis ontvang het nie en het hom ’n klein publikasie aangebied wat hy met graagte geneem het. Nou was hulle heeltemal seker dat hulle almal tydens hulle predikingswerk bereik het!
Gavdos (of Kauda)—’n eilandjie aan die onderpunt van Kreta met net 38 inwoners—word as die suidelikste punt van Europa beskou (Handelinge 27:16). ’n Reisende opsiener en sy vrou, tesame met nog ’n egpaar, het drie dae daar die predikingswerk gedoen. Om geld te bespaar, het hulle in ’n tent geslaap. Al die inwoners is met die goeie nuus bereik, en die broers was verheug dat die mense daar nie bevooroordeeld was nie. Hulle het niks—goed of sleg—van Jehovah se Getuies gehoor nie. Die plaaslike inwoners, insluitende die priester, het 19 boeke en 13 brosjures geneem. Toe die Getuies in ’n klein bootjie na Kreta terugkeer, het die see onstuimig begin word, wat hulle lewe in gevaar gestel het. “Ons het Jehovah gedank dat ons veilig tuisgekom het, maar ons het hom ook verheerlik omdat hy ons toegelaat het om sy naam te vereer op hierdie suidelikste punt van Europa”, het hulle gesê.
Patmos is die eiland waar die apostel Johannes die laaste boek van die Bybel, Openbaring, geskryf het. Tot nog onlangs toe was daar geen Getuies van Jehovah op Patmos nie. Die broers van Samos het ’n goed georganiseerde predikingskampanje op daardie eiland gereël. Hulle het geweet dat hulle hewige teenstand kon verwag omdat die eiland ’n vesting van die Grieks-Ortodokse Kerk is. Twee susters het met ’n vrou oor die goeie nuus gesels en sy het hulle in haar huis ingenooi. Die vrou se man het bly vra wie die susters na sy huis toe gestuur het. Toe hulle verduidelik het dat hulle elke huis besoek, het hy weer gevra: “Is julle seker dat een van die bure julle nie hierheen gestuur het nie?” Sy vrou, wat Jehovah se Getuies in Zaïre leer ken het, het later vir die susters verduidelik wat daardie oggend gebeur het. Sy het gesê: “Ek het tot Jehovah gebid, soos ek al die ander dae gedoen het, dat hy Getuies na die eiland moet stuur. My man het vir my gelag. Toe ek julle by die deur sien, was ek verbaas, en my man ook. Dit is waarom hy aanhou vra het wie julle na ons huis toe gestuur het.” ’n Bybelstudie is onmiddellik met die vrou begin. Die studie is tien maande lank oor die telefoon gehou, hoewel dit die suster en die belangstellende vrou baie geld gekos het. Sy is gedoop en is nou die enigste Getuie op daardie eiland waar die apostel Johannes 1 900 jaar gelede afgesonder was.
“Visserswerk” in hawens
Plesierbote doen elke somer by die talle hawens van die Egeïese See aan en bring tallose besoekende vakansiegangers. Jehovah se Getuies het dus ’n unieke geleentheid om mense van baie nasies en tale te bereik. Die gemeentes hou Bybellektuur in baie verskillende tale in voorraad, en die verkondigers laat duisende tydskrifte by toeriste. Party plesierbote besoek dieselfde hawe elke week, wat die broers uitstekende geleenthede gee om herbesoeke te doen en selfs Bybelstudies met party van die skepe se bemanning te hou.
In die somer van 1996 het ’n suster wat ’n voltydse verkondiger op Rodos is vir ’n jong Jamaikaanse man getuig wat op ’n plesierboot gewerk het wat elke Vrydag by hierdie hawe aandoen. Die volgende Vrydag het sy die man genooi om ’n streekbyeenkoms by te woon wat op daardie eiland gehou sou word. Die pioniersuster het hom, met behulp van ’n Engelse Bybel, gehelp om van die Bybelwaarhede te verstaan wat tydens die program aangebied is. Die jong man was diep beïndruk deur die liefde en hartlikheid wat die Getuies by die byeenkoms getoon het. Die daaropvolgende Vrydag het hy twee pioniers aan boord laat kom. Die pioniers het lektuur in Engels en Spaans saamgeneem. Hulle velddienstasse was in minder as ’n uur leeg! Die jong Jamaikaan het die Bybel elke Vrydag tot aan die einde van die somer gestudeer. Die volgende somer was hy terug, gereed om sy studie te hervat. Maar dié keer het hy besluit om ander werk te kry sodat hy geestelik vooruitgang kon maak. Toe het hy weer vertrek. Hoe bly was die broers in Rodos tog om te hoor dat hierdie jong man vroeg in 1998 gedoop is!
‘Trekvisse’ word gevang
Die Egeïese See is bekend vir sy oorvloed trekvisse, soos sardientjies en swaardvis, wat deur sy waters swem en in die nette van vaardige vissermanne beland. Net so ook vind Koninkryksverkondigers talle ontvanklike harte onder die immigrantewerkers wat van baie Oos-Europese lande na Griekeland getrek het.
Rezi was tien jaar oud toe sy die eerste keer van Jehovah en sy voornemens in Die Wagtoring en Ontwaak! gelees het. Dit was in Albanië. Drie jaar later het sy saam met haar familie na die eiland Rodos verhuis. Eendag het Rezi tot Jehovah gebid om haar te help om sy knegte in haar nuwe omgewing te vind. Die volgende dag het haar vader, tot Rezi se groot blydskap, huis toe gekom met daardie bekende tydskrifte, Die Wagtoring en Ontwaak! Rezi het toe in aanraking gekom met die suster wat die tydskrifte vir haar vader gegee het, en kort daarna het sy die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei begin studeer. Soms het sy gevra om ’n studie drie keer op dieselfde dag te hê! Ná twee maande het sy ’n ongedoopte verkondiger geword, en in Maart 1998 is sy op die ouderdom van 14 gedoop. Dieselfde dag nog het sy met hulppionierdiens begin, en ses maande later het sy as ’n gewone pionier, of voltydse bedienaar, begin dien.
’n Broer op die eiland Kos het met mense van Rusland gestudeer. Toe hy hulle gevra het of hulle enige vriende het wat daarvan sal hou om die Bybel te studeer, het hulle hom na ’n Armeense egpaar verwys—Leonidas en sy vrou Ophelia—in ’n dorpie ongeveer 30 kilometer daarvandaan. ’n Verrassing het vir die broers gewag. Die Armeense egpaar het ’n sak vol Armeense en Russiese Bybellektuur wat deur die Wagtoringgenootskap gedruk is, uitgehaal! Hulle het verduidelik dat hulle die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het en gevorder het tot die punt waar hulle ongedoopte verkondigers geword het. Weens politieke omwentelinge en ekonomiese probleme moes hulle hulle land verlaat. Onmiddellik nadat hulle in Kos aangekom het, het hulle met Leonidas se moeder en suster, wat alreeds hier gewoon het, begin studeer. Skielik het die Getuie drie nuwe Bybelstudies gehad om te hou—een met Ophelia, een met Leonidas en een met sy moeder en suster. Dit het beteken dat hy met ’n motorfiets drie keer per week 30 kilometer soontoe en terug moes ry. Leonidas en sy vrou is ’n paar maande later gedoop. Wat ’n beloning tog vir die selfopofferende gees van die plaaslike broers!
Jehovah laat dit groei
Jehovah se seën op die onvermoeide pogings van die meer as 2 000 bedrywige Koninkryksverkondigers op hierdie Egeïese eilande kan duidelik gesien word. Daar is tans 44 gemeentes en 25 groepe van Jehovah se Getuies hier. Dit sluit 17 anderstalige groepe in, want dit is Jehovah se wil dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:4). Ook is daar 13 spesiale pioniers wat alles in hulle vermoë doen om baie meer mense in hierdie afgeleë gebiede te bereik.
Die Egeïese See is al eeue lank ’n sentrum van kulturele ontwikkeling en handelsbedrywighede. In onlangse dekades het dit ’n gewilde vakansieplek vir honderdduisende toeriste geword. Maar nog belangriker, as “vissers van mense” het Koninkryksverkondigers talle opregtes van hart gevind wat gretig is om Jehovah te loof. Saam met hierdie opregtes reageer hulle op uitstekende wyse op die profetiese uitnodiging: “Laat hulle aan die HERE die eer gee en sy lof in die eilande verkondig!”—Jesaja 42:12.
[Kaart op bladsy 22]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Egeïese See
GRIEKELAND
Lesvos
Chios
Samos
Ikaria
Fournoi
Patmos
Kos
Rodos
Kreta
TURKYE
[Prent op bladsy 23]
Lesvos-eiland
[Prent op bladsy 24]
Die eiland Patmos
[Prent op bladsy 24]
Die eiland Kreta