Koninkryksverkondigers berig
Hy leer ken die liefdevolle God
ANTÔNIO, ’n Brasiliaan, was op 16 al teleurgesteld met die lewe. Die gevoel dat alles tevergeefs was, het hom tot dwelm- en alkoholmisbruik gedryf. Hy het dikwels daaraan gedink om selfmoord te pleeg. Op sulke tye het hy onthou wat sy moeder vir hom gesê het: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Maar waar was hierdie liefdevolle God dan?
In ’n poging om sy dwelm- en alkoholmisbruik te oorkom, het Antônio na die plaaslike priester gegaan vir hulp. Hoewel Antônio baie bedrywig in die Katolieke Kerk geword het, het hy nog steeds baie vrae gehad. Hy het byvoorbeeld gewonder oor Jesus se woorde: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Watter soort vryheid het Jesus belowe? Die kerk kon hom geen bevredigende antwoorde op sy vrae gee nie. Uiteindelik het Antônio van die kerk af weggedryf, en hy het weer in sy ou gewoontes verval. Trouens, sy verslawing het erger geword.
Om en by dié tyd het Antônio se vrou, Maria, die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Hoewel hy nie haar studie teëgestaan het nie, het Antônio nie belanggestel nie, want hy het gedink die Getuies is “’n Amerikaanse godsdiens wat die belange van Amerikaanse imperialisme bevorder”.
Maria het haar nie laat ontmoedig nie, maar sy het eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! in die huis laat lê met artikels waarin sy gedink het Antônio dalk sal belangstel. Aangesien Antônio daarvan hou om te lees, het hy soms die tydskrifte deurgeblaai wanneer sy vrou nie daar was nie. Vir die eerste keer in sy lewe het hy antwoorde op sy Bybelvrae gevind. “Ek het ook die liefde en vriendelikheid van my vrou en die Getuies teenoor my begin opmerk”, vertel hy.
Teen die middel van 1992 het Antônio besluit dat hy ook die Bybel saam met Jehovah se Getuies wou studeer. Maar hy het aangehou om dwelms en alkohol erg te misbruik. Laat een aand, toe hy en ’n vriend van ’n plakkersdorp af op pad huis toe was, het die polisie hulle voorgekeer. Toe die polisie kokaïen in Antônio se besit gevind het, het hulle hom begin slaan. Een van die polisiemanne het hom in die modder gegooi en die loop van ’n haelgeweer naby sy gesig gehou. “Skiet hom dood!” het die ander polisieman geskreeu.
Terwyl Antônio daar in die modder gelê het, het sy lewe voor hom verbygeflits. Die enigste goeie dinge waaraan hy kon dink, was sy gesin en Jehovah. Hy het ’n skietgebed gedoen en Jehovah om hulp gesmeek. Om geen verklaarbare rede nie het die polisieman hom met rus gelaat. Hy het huis toe gegaan, oortuig dat Jehovah hom beskerm het.
Antônio het die Bybel met nuwe ywer begin studeer. Hy het geleidelik veranderinge aangebring om Jehovah te behaag (Efesiërs 4:22-24). Deur selfbeheersing aan te kweek, het hy sy dwelmprobleem begin oorkom. Maar hy het nog steeds mediese hulp nodig gehad. Twee maande in ’n rehabilitasiekliniek het hom die geleentheid gegee om ’n hele paar Bybelpublikasies te lees, waaronder die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei. Antônio het toe vir ander pasiënte die dinge vertel wat hy uit hierdie boeke geleer het.
Nadat Antônio die kliniek verlaat het, het hy voortgegaan met sy studie van die Bybel saam met die Getuies. Vandag dien Antônio, Maria, hulle twee dogters, asook Antônio se moeder Jehovah saam as ’n gelukkige, verenigde gesin. Antônio sê: “Nou verstaan ek die ware betekenis van die woorde ‘God is liefde’.”
[Prent op bladsy 8]
Predikingswerk in Rio de Janeiro