Na die Pasifiese eilande—Om te werk!
IN DIE vertreklokale van die internasionale lughawens in Brisbane en Sydney, Australië, het ’n buitengewone atmosfeer van opgewondenheid geheers. ’n Groep van 46 mense was op pad na die sonnige Samoa-eilande en sou 39 ander mense van Nieu-Seeland, Hawaii en die Verenigde State daar ontmoet. Hulle bagasie was baie ongewoon—dit het hoofsaaklik uit gereedskap bestaan, soos hamers, sae en bore—nie die soort items wat ’n mens gewoonlik saam met jou na ’n pragtige Pasifiese eiland toe neem nie. Maar aan die ander kant was dit alles behalwe ’n doodgewone besoek aan die eiland.
Hierdie groep het op hulle eie onkoste daarheen gereis om twee weke lank as vrywilligers met ’n bouprogram te help waaroor die Streekingenieurskantoor by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Australië toesig gehou het. Die program, wat deur vrywillige bydraes gefinansier word, behels die bou van Koninkryksale, Byeenkomssale, sendinghuise en tak- of vertaalkantore vir die snelgroeiende gemeentes van Jehovah se Getuies op die Pasifiese eilande. Kom ons ontmoet ’n paar van die werkers wat al in Koninkryksaalbouspanne in hulle eie lande was.
Max, wat dakke opsit, kom van Cowra in Nieu-Suid-Wallis, Australië. Hy is getroud en het vyf kinders. Arnold is van Hawaii. Hy en sy vrou het twee seuns, en hy is ook ’n pionier, of voltydse bedienaar. Soos Max dien Arnold ook as ’n ouer man in sy tuisgemeente. Hierdie mans—wat verteenwoordigend is van die meeste in die bouprogram—dien klaarblyklik nie as vrywilligers omdat hulle baie vrye tyd het nie. Hulle en hulle gesinne sien eerder dat daar ’n behoefte is, en hulle wil doen wat hulle kan om te help.
Multinasionale werkers voorsien in ’n noodsaaklike behoefte
Een plek waar hulle vaardighede en dienste nodig was, was Tuvalu, ’n afgeleë groep van nege koraaleilande naby die ewenaar en noordwes van Samoa, waarop omtrent 10 500 mense woon. Die eilandjies beslaan elkeen ’n gemiddelde oppervlakte van omtrent twee en ’n half vierkante kilometer. Teen 1994 het die 61 Getuies daar ’n nuwe Koninkryksaal en ’n groter vertaalkantoor dringend nodig gehad.
In hierdie deel van die tropiese Pasifiese streek moet die geboue so ontwerp en gebou word dat dit bestand kan wees teen die talle hewige storms en siklone. Maar min boumateriaal van ’n hoë gehalte is op die eilande beskikbaar. Die oplossing? Alles—van die dakplate en dakkappe tot die meubelstukke en gordyne, toiletbakke en spuitkoppe vir storte, selfs skroewe en spykers—is in houers van Australië af daarheen verskeep.
Voor die materiaal daar aangekom het, het ’n klein spannetjie die terrein vooraf gereed gekry en die fondament gelê. Daarna het die internasionale werkers gekom om die geboue op te rig, te verf en al die binneversiering te doen.
Terloops, al hierdie bedrywighede in Tuvalu het ’n plaaslike geestelike ontstem, en hy het oor die radio aangekondig dat die Getuies ’n “Toring van Babel” bou! Maar was dit die geval? “Toe die mense wat die Toring van Babel in Bybelse tye gebou het mekaar nie meer kon verstaan nie omdat God hulle taal verwar het, moes hulle die projek staak en die toring onvoltooid laat”, sê Graeme, ’n vrywillige werker (Genesis 11:1-9). “Dit is heeltemal die teenoorgestelde wanneer mense vir Jehovah God werk. Ten spyte van taal- en kultuurverskille word die projekte altyd voltooi.” En dit was ook die geval met dié projek—binne net twee weke. Trouens, 163 mense, waaronder die eerste minister se vrou, het die toewydingsplegtigheid bygewoon.
Doug, die opsiener by die projek, sê van die ondervinding: “Dit was ’n vreugde om saam met die vrywilligers van ander lande te werk. Ons het verskillende maniere waarop ons dinge doen, verskillende terminologie, selfs verskillende maatstelsels, maar nie een van hierdie dinge het enige probleme geskep nie.” Aangesien hy al by ’n hele paar van hierdie projekte betrokke was, sê hy verder: “Dit versterk my oortuiging dat Jehovah se volk met sy steun ’n gebou op enige plek op hierdie aarde kan oprig, ongeag hoe afgesonderd of hoe moeilik die terrein dalk is. Ons het wel talle begaafde manne, maar dit is Jehovah se gees wat dit moontlik maak.”
God se gees beweeg ook die Getuiegesinne op die eilande om voedsel en huisvesting te voorsien, wat vir sommige ’n groot opoffering is. En dié wat sulke gasvryheid ontvang, waardeer dit werklik. Ken, van Melbourne, Australië, het met ’n soortgelyke projek in Frans-Polinesië gehelp. Hy sê: “Ons het as slawe gekom, maar is soos konings behandel.” Waar moontlik help die plaaslike Getuies ook met die bouwerk. Op die Salomon-eilande het vroue beton met die hand gemeng. Sowat honderd mans en vroue het hoog opgeklim teen die berge, wat nat was ná die reën, en 40 ton hout afgedra. Selfs jongmense het gehelp. ’n Werker van Nieu-Seeland vertel: “Ek onthou hoe ’n jong broer van die eiland twee tot drie sakke sement op ’n slag gedra het. En hy het die hele dag lank, in son en reën, met ’n graaf gewerk.”
Wanneer die plaaslike Getuies met die werk help, het dit nog ’n ander voordeel. Die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Samoa stuur hierdie verslag: “Die broers op die eiland het ambagsvaardighede aangeleer wat hulle kan gebruik om Koninkryksale te bou en om ná ’n sikloon herstelwerk en herbouing te doen. Dit kan hulle ook help om ’n bestaan te maak in ’n gemeenskap waar baie mense swaar kry.”
Die bouprogram dien as ’n goeie getuienis
Terwyl Colin in Honiara was, het hy gesien hoe die Byeenkomssaal op die Salomon-eilande gebou word. Hy was so beïndruk dat hy ’n briefie in Pidgin-Engels aan die Wagtoringgenootskap se plaaslike takkantoor geskryf het: “Almal werk in eenheid saam en niemand raak kwaad nie; hulle is ook soos een gesin.” Kort daarna het hy na sy dorpie in Aruligo, 40 kilometer daarvandaan, teruggekeer, en hy en sy gesin het hulle eie Koninkryksaal gebou. Toe het hulle nog ’n boodskap na die takkantoor gestuur: “Ons Koninkryksaal is gereed; dit het selfs ’n verhoog. Kan ons nou maar vergaderinge hier hou?” Dit is sonder versuim gereël, en meer as 60 mense woon dit gereeld by.
’n Raadgewer van die Europese Unie het die projek in Tuvalu gesien. “Almal sê dit seker vir julle”, het hy vir ’n werker gesê, “maar vir my is dit eenvoudig ’n wonderwerk!” ’n Vrou wat by die telefoonsentrale werk, het vir ’n ander besoekende vrywilliger gevra: “Hoe kry julle dit reg om almal so gelukkig te wees? Dis so warm hier!” Dit was die eerste keer dat hulle gesien het hoe die Christelike geloof op so ’n praktiese en selfopofferende manier uitgeleef word.
Opofferings sonder om spyt te wees
“Wie oorvloedig saai, sal ook oorvloedig maai”, sê die Bybel in 2 Korintiërs 9:6. Die werkers, hulle gesinne en hulle gemeentes hou aan om oorvloedig te saai deur mede-Getuies in die Pasifiese streek te help. “My tuisgemeente het meer as ’n derde van my vliegkaartjie betaal”, sê Ross, ’n ouer man van Kincumber, naby Sydney, “en my swaer, wat ook saamgekom het, het ook $500 [R1 900] daartoe bygedra.” ’n Ander werker het sy motor verkoop om vir sy reis te betaal. En nog een het ’n stuk grond verkoop. Kevin het nog R3 500 nodig gehad, en hy het dus besluit om sy 16 duiwe, wat elk twee jaar oud was, te verkoop. Deur ’n kennis het hy ’n koper gekry wat hom presies R3 500 aangebied het!
“Was dit die vliegkaartjies en verlies aan inkomste, wat altesaam $6 000 [R23 000] beloop het, werd?” is daar vir Danny en Cheryl gevra. “Ja! Selfs as dit dubbel soveel was, sou dit nog steeds beslis die moeite werd gewees het”, het hulle geantwoord. Alan, van Nelson, Nieu-Seeland, het bygevoeg: “Ek kon Europa toe gegaan het met wat dit my gekos het om Tuvalu toe te gaan, en ek sou nog geld oor gehad het. Maar sou ek die seëninge ontvang het of soveel vriende uit verskillende agtergronde gemaak het of iets vir iemand anders in plaas van myself gedoen het? Nee! Nietemin het ons broers op die eiland my baie meer gegee as wat ek hulle gegee het.”
Nog ’n sleutel tot die sukses van die bouprogram is die ondersteuning van gesinslede. Hoewel party vrouens saam met hulle mans kan gaan en selfs op die projek kan help, moet ander na skoolgaande kinders of die gesin se onderneming omsien. “My vrou se gewilligheid om na die kinders en die huishouding om te sien terwyl ek weg was”, het Clay gesê, “was ’n baie groter opoffering as myne.” Trouens, al die mans wat nie hulle vrouens kon saamneem nie, sal heelhartig met hom saamstem!
Sedert die projek in Tuvalu voltooi is, het vrywillige werkers Koninkryksale, Byeenkomssale, sendinghuise en vertaalkantore in Fidji, Tonga, Papoea-Nieu-Guinee, Nieu-Kaledonië en op ander plekke opgerig. Baie projekte, waarvan sommige vir plekke in Suidoos-Asië is, word nog beplan. Sal daar genoeg werkers wees?
Dit lyk nie of dit ’n probleem sal wees nie. “Almal wat al hier met internasionale bouprojekte gehelp het, het gevra dat ons hulle in gedagte moet hou wanneer nog ’n projek beplan word”, skryf die takkantoor in Hawaii. “Sodra hulle terug by die huis is, begin hulle daarvoor spaar.” Die bouprogram móét eenvoudig suksesvol wees wanneer Jehovah se ryk seën by sulke onselfsugtige toewyding gevoeg word!
[Prent op bladsy 9]
Boumateriaal vir die projek
[Prente op bladsy 9]
Span werkers by die bouterrein
[Prente op bladsy 10]
Namate die projekte voltooi is, het ons ons verheug oor wat God se gees tot stand gebring het