Koninkryksverkondigers berig
Saadjies van waarheid word in Chili natgegooi
IN DIE woestyn in noordelike Chili kan baie jare verbygaan voordat dit reën. Maar wanneer dit wel reën, word die verdorde, rotsagtige grond as ’t ware in ’n tapyt van veelkleurige blomme verander. Hierdie skouspelagtige vertoning lok toeriste van regoor die land.
’n Baie interessanter verskynsel vind egter onder die mense van Chili plaas. Die water van Bybelwaarheid vloei na elke uithoek van die land en laat talle opregte mense “blom” as dissipels van Jesus Christus. Een manier waarop hierdie waters van waarheid versprei word, is per telefoon. Die volgende ondervindinge lig toe watter goeie resultate deur middel van hierdie soort getuieniswerk verkry word.
• ’n Voltydse evangeliedienaar met die naam Karina is gevra om by ’n kringbyeenkoms te demonstreer hoe ’n mens oor die telefoon getuig. Maar Karina het nog nooit voorheen aan hierdie aspek van die getuieniswerk deelgeneem nie. ’n Ouer man en sy vrou, wat Karina wou aanmoedig om aan die byeenkomsprogram deel te neem, het ’n paar punte oor telefoongetuieniswerk met haar bespreek. Hulle het haar ook aangespoor om tot Jehovah te bid vir leiding in die saak. Sy het dit gedoen en uiteindelik besluit om dit te probeer.
Karina het ’n telefoonnommer van ’n nabygeleë dorpie gekies. ’n Telefonis het geantwoord, en Karina het die doel van die oproep verduidelik. Die telefonis het gunstig gereageer, en hulle het reëlings getref om drie dae later weer te gesels. Die herbesoek oor die telefoon het tot ’n Bybelstudie in die brosjure Wat vereis God van ons? gelei. Sedertdien geniet hulle interessante en lewendige studies, en Karina het lektuur aan die vrou gestuur om haar vrae te beantwoord.
• Bernarda het die inisiatief geneem om vir ’n man te getuig wat per abuis haar telefoonnommer geskakel het. Pleks van ergerlik te klink, het Bernarda haarself as een van Jehovah se Getuies voorgestel en hulp aangebied. ’n Gesprek het gevolg, en die man het geluister terwyl sy verduidelik het hoe God se Koninkryk binnekort ’n einde gaan maak aan ongeregtigheid. Die man het Bernarda sy telefoonnommer gegee, en sy het herbesoeke oor die telefoon gedoen. Gedurende een van hulle gesprekke het sy vir hom ’n gedeelte uit die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei gelees. Hy het gevra hoe hy ’n eksemplaar kon kry, en Bernarda het vir hom ’n boek sowel as ’n Bybel gestuur. Reëlings is getref dat ’n plaaslike broer hom besoek, en hy gaan nou voort om hierdie ontluikende “plant” “nat te gooi”.
Ja, in die dorre geestelike grond van hierdie wêreld, wag versteekte saadjies om te ontkiem wanneer die lewegewende waters van waarheid hulle bereik. Duisende mense wat dors is, bly “uitspruit” en “blom” wanneer hulle getroue knegte van Jehovah God word.—Jesaja 44:3, 4.