“Dit is beslis ’n rede tot vreugde vir almal”
TUVALU, ’n pragtige land wat uit nege eilande in die Stille Suidsee bestaan, het ’n bevolking van sowat 10 500. Maar omdat plaaslike Getuies van Jehovah besef dat dit God se “wil . . . is dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom”, wou hulle baie graag Bybelpublikasies in hulle eie taal hê (1 Timoteus 2:4). Dit was moeilik omdat geen woordeboek in die taal beskikbaar was nie. In 1979 het ’n sendeling van Jehovah se Getuies wat in Tuvalu gedien het, die uitdaging aanvaar. Hy en sy vrou het by ’n plaaslike gesin gewoon, die taal aangeleer en geleidelik ’n woordelys van Tuvaluaanse woorde opgebou. Teen 1984 is die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe in Tuvaluaans deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee.
Dr. T. Puapua, die voormalige eerste minister van Tuvalu, het ’n brief geskryf waarin hy waardering uitspreek vir die Paradys op aarde-boek. Hy het geskryf: “Hierdie boek [is] nog ’n nuwe en belangrike toevoeging tot die noodsaaklike ‘rykdom’ van Tuvalu . . . Julle behoort baie bly te wees oor die bydrae wat julle gelewer het—’n uitsonderlike bydrae tot die opbouing van die geestelike lewe van die mense van hierdie nasie. Ek glo dat hierdie werk in die geskiedenis van Tuvalu opgeteken sal word wat die publisering van opvoedkundige boeke betref. . . . Dit is beslis ’n rede tot vreugde vir almal.”
Die vertaler se versamelde woordelys het daartoe gelei dat ’n Tuvaluaans-Engelse woordeboek in 1993 uitgegee is. Dit was die eerste woordeboek vir die algemene publiek in daardie taal. En die Nasionale Taalkommissie van Tuvalu het onlangs toestemming gevra om dit te gebruik om hulle eerste verklarende woordeboek saam te stel.
Sedert 1 Januarie 1989 word ’n maandelikse uitgawe van Die Wagtoring in Tuvaluaans uitgegee. As jy hierdie tydskrif in jou tweede taal lees, kan jy gerus op bladsy 2 kyk of Die Wagtoring dalk in jou moedertaal uitgegee word. Dit sal jou ongetwyfeld bykomende vreugde verskaf om die tydskrif in jou moedertaal te lees.