Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w06 4/15 bl. 8-12
  • Probleme word oorbrug in Panama

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Probleme word oorbrug in Panama
  • ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Onderhofies
  • ’n Brug en ’n smeltkroes
  • Probleme word oorbrug in die comarca
  • Roei om harte te bereik
  • Die gaping van ongeletterdheid word oorbrug
  • Die struikelblok van doofheid word oorkom
ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
w06 4/15 bl. 8-12

Probleme word oorbrug in Panama

“PANAMA, brug van die wêreld.” Hierdie leuse is ’n halfeeu gelede gedurende ’n gewilde radioprogram in daardie Sentraal-Amerikaanse land gebruik. Vandag weerspieël dit hoe baie oor daardie land voel.

Panama dien as ’n soort brug tussen Noord- en Suid-Amerika. Maar die werklike Brug van die Amerikas oorspan die beroemde Panamakanaal. Die kanaal, wat ’n merkwaardige ingenieursprestasie is, sny dwarsdeur die land en verbind die Atlantiese en Stille Oseaan met mekaar. Dit stel seevaartuie van regoor die wêreld in staat om in ’n kwessie van ’n paar uur van die een oseaan by die ander uit te kom, wat andersins ’n seereis van etlike dae of weke sou beteken het. Ja, Panama dien beslis as ’n belangrike brug vir ’n groot deel van die wêreld.

’n Brug en ’n smeltkroes

Panama het ook ’n smeltkroes van mense uit verskillende nasionale en etniese agtergronde geword. Hierdie mense, tesame met al die inheemse groepe, het ’n gemengde bevolking tot gevolg gehad wat deur hierdie hele pragtige land versprei is. Maar is dit moontlik om die gevolglike sosiale, kulturele, godsdienstige en taalverskille te oorbrug en die eenheid van denke en strewe teweeg te bring wat op die kosbare waarhede in God se Woord gegrond is?

Ja, dit is. Die apostel Paulus se woorde wat in Efesiërs 2:17, 18 opgeteken is, dui daarop dat eerste-eeuse Christene—Jode sowel as nie-Jode—juis dít bereik het op grond van die verenigende uitwerking van Christus se offerande. Paulus het geskryf: “Hy [Jesus] het gekom en die goeie nuus van vrede bekend gemaak aan julle, dié wat ver weg was, en vrede aan dié wat naby was, want deur middel van hom het ons, albei volke, deur een gees die toegang tot die Vader.”

So ook verkondig Jehovah se Getuies vandag “die goeie nuus van vrede” in Panama aan individue en groepe wat, in geestelike sin en soms ook in letterlike sin, van ver af gekom het. Vreugdevolle eenheid ontwikkel onder diegene wat “toegang” het tot Jehovah. Gevolglik is gemeentes in ses tale in Panama gestig—Spaans, Kantonnees, Panamese Gebaretaal, Engels en twee van die inheemse tale, naamlik Kuna en Ngobere (Guaymí). Dit is aanmoedigend om te hoor hoe lede van hierdie taalgroepe verenig is in hulle aanbidding van Jehovah.

Probleme word oorbrug in die comarca

Die Ngobe-groep is die grootste van die agt inheemse volke in Panama. Dié groep bestaan uit sowat 170 000, waarvan die meerderheid in ’n uitgestrekte gebied bly wat onlangs tot ’n comarca, of reservaat, verklaar is. ’n Groot deel van hierdie gebied bestaan uit ruwe, bosryke berge wat hoofsaaklik te voet bereik kan word, sowel as pragtige kusgebiede wat per see bereik kan word. Gemeenskappe word dikwels naby riviere, wat as gerieflike vervoerkanale dien, sowel as langs die kus gevestig. Baie van die inwoners van die comarca voer ’n karige bestaan op koffieplantasies in die berge, deur vis te vang of deur die grond te bewerk. Baie is lidmate van die Christendom se kerke. Maar sommige behoort aan ’n plaaslike godsdiens wat as Mama Tata bekend staan. Ander wend hulle tot plaaslike sukias (sjamane) vir genesing wanneer hulle siek is of dink dat hulle deur bose geeste geteister word. Hoewel baie Spaans praat, is Ngobere die taal wat die beste verstaan word.

Roei om harte te bereik

Jehovah se Getuies besef dat dit belangrik is om mense die waarheid te leer op ’n manier wat nie net hulle verstande bereik nie, maar ook hulle harte. Dit kan hulle die nodige motivering gee om die veranderinge in hulle lewens te maak wat nodig is om dit met Bybelbeginsels in ooreenstemming te bring. Gevolglik het die spesialepionier-bedienaars wat na agt dele van die reservaat gestuur is, die Ngobere-taal met die hulp van bekwame plaaslike Getuies geleer.

Die 14 gemeentes wat in die gebied gestig is, toon groot potensiaal vir groei. Byvoorbeeld, ’n paar jaar gelede is Dimas en Gisela, ’n spesialepionier-egpaar, na ’n klein gemeente van omtrent 40 in die kusgebied van Tobobe gestuur. Dit was nie vir hulle maklik om gewoond te raak aan die gereelde kano-ritte om vir die nederige mense langs die Atlantiese kus te preek nie. Dimas en Gisela het besef dat ’n kalm see skielik in dodelike branders kan verander. Hulle arms en rûe het dikwels gepyn nadat hulle van die een dorp na die ander geroei het. Om die plaaslike taal aan te leer, was nog ’n uitdaging. Maar hulle opofferinge en deursettingsvermoë is in 2001 beloon toe 552 mense die Herdenking van Christus se dood bygewoon het.

Aan die ander kant van die baai as Tobobe lê die dorp Punta Escondida. ’n Klein groepie verkondigers het ’n ruk lank gereeld na die oorkant van die baai geroei—as die weer gunstig was—om vergaderinge in Tobobe by te woon, en verslae het getoon dat daar goeie potensiaal was om ’n nuwe gemeente in hierdie gebied te stig. Om hierdie rede is Dimas en Gisela gevra om na Punta Escondida te trek. Binne twee jaar het die groep in Punta Escondida ’n bedrywige gemeente van 28 geword, met gemiddeld 114 wat die weeklikse openbare toespraak bygewoon het. In 2004 was die nuwe gemeente verheug toe altesaam 458 die Herdenking van Christus se dood bygewoon het.

Die gaping van ongeletterdheid word oorbrug

Baie opregtes van hart is gehelp om ’n hegte verhouding met Jehovah aan te kweek deur die probleem van ongeletterdheid te oorkom. Dit was die geval met Fermina, ’n jong vrou uit die bergstreek in die comarca. Getuiesendelinge wat gewerk het in die afgesonderde gebied waar sy bly, het gevind dat sy baie aandagtig na die Koninkryksboodskap geluister het. Toe sy ’n Bybelstudie aangebied is, het sy gesê dat sy graag meer wil leer. Daar was egter ’n probleem. Sy kon Spaans sowel as Ngobere praat, maar sy kon nie een van die twee lees of skryf nie. Een van die sendelinge het aangebied om haar te leer deur van die brosjure Apply Yourself to Reading and Writinga gebruik te maak.

Fermina was ’n puik student en het ywerig vir haar lesse voorberei, al haar huiswerk gedoen en haar spelling fluks geoefen. Binne ’n jaar het sy genoeg vordering gemaak om die brosjure Jy kán God se vriend wees!* te bestudeer. Toe vergaderinge gereël is, het Fermina dit begin bywoon. Maar omdat die gesin so arm was, was dit vir haar baie moeilik om die vervoerkoste te betaal om saam met haar kinders na die vergaderinge toe te gaan. Een van die pioniers wat van Fermina se omstandighede bewus was, het voorgestel dat sy dit oorweeg om tradisionele Ngobe-vrouedrag te maak en te verkoop. Fermina het dit gedoen en sy het, ondanks ander materiële behoeftes, seker gemaak dat die geld wat sy hiervoor gekry het, slegs gebruik word om Christelike vergaderinge by te woon. Sy en haar gesin het sedertdien na ’n ander gebied getrek, en sy hou aan om geestelik vordering te maak. Hulle is bly dat hulle nie net ongeletterdheid oorkom het nie, maar selfs belangriker, dat hulle Jehovah leer ken het.

Die struikelblok van doofheid word oorkom

In Panama is baie van die gesinne met gehoorgestremde gesinslede geneig om hulle daaroor te skaam. Soms is sulke persone enige vorm van opvoeding ontsê. Baie dowes voel afgesonder en uitgesluit omdat kommunikasie met hulle baie moeilik is.

Dit het dus duidelik geword dat iets gedoen moes word om die gehoorgestremdes met die goeie nuus te bereik. Op aansporing van ’n reisende opsiener het ’n groep ywerige pioniers en ander verkondigers Panamese Gebaretaal begin leer. Hulle inisiatief is beloon.

Teen die einde van 2001 is ’n gebaretaalgroep in Panamastad gestig. Omtrent 20 het die vergaderinge bygewoon. Namate die broers en susters meer bedrewe in die taal geword het, kon hulle uitreik na baie wat die Bybelwaarheid vir die eerste keer in hulle taal “gehoor” het. Baie Getuies met gehoorgestremde kinders het ook die vergaderinge begin bywoon en het agtergekom dat hulle kinders Bybelleringe makliker verstaan en geesdriftiger oor die waarheid word. Ouers het dikwels gebaretaal geleer en kon dus beter met hulle kinders kommunikeer. Die ouers kon hulle kinders geestelik help en het gevind dat dit die gesinsbande versterk. Die ondervinding van Elsa en haar dogter, Iraida, is ’n goeie voorbeeld hiervan.

’n Getuie wat saam met die gebaretaalgroep gewerk het, het van Iraida te hore gekom, haar besoek en die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe!b by haar gelaat. Iraida was baie bly oor wat sy uit die prente van die nuwe wêreld kon leer. ’n Bybelstudie is in die brosjure begin. Nadat hulle hulle studie van daardie publikasie voltooi het, het hulle die brosjure Wat vereis God van ons?c gebruik. Op daardie stadium het Iraida haar ma begin vra om haar met haar voorbereiding te help en die inligting aan haar te verduidelik.

Elsa het twee probleme gehad: Aangesien sy nie ’n Getuie was nie, het sy nie die Bybelwaarheid geken nie, en sy kon nie gebaretaal verstaan nie. Daar is vroeër vir haar gesê dat sy nie gebaretaal met haar dogter moet gebruik nie, maar dat haar dogter moes leer praat. Gevolglik was kommunikasie tussen ma en dogter beperk. Weens Iraida se versoek om hulp het Elsa gevra dat ’n Getuie in die gemeente met háár studeer. Sy het gesê: “Ek het dit om my dogter se onthalwe gevra, want ek het Iraida nog nooit so opgewonde oor enigiets gesien nie.” Elsa het by haar dogter se studie aangesluit en het gebaretaal geleer. Namate Elsa meer tyd aan haar dogter bestee het, het kommunikasie tuis verbeter. Iraida het meer selektief begin word in haar keuse van vriende, en sy het met die gemeente geassosieer. Tans woon ma en dogter Christelike vergaderinge gereeld saam by. Elsa is onlangs gedoop, en Iraida vorder tot daardie doelwit. Elsa vertel dat sy haar dogter vir die eerste keer leer ken, en dat hulle nou oor talle belangrike dinge kan praat wat hulle albei na aan die hart lê.

Die gebaretaalgroep, wat in April 2003 ’n gemeente geword het, het onlangs tot sowat 50 Koninkryksverkondigers gegroei, met selfs meer wat die vergaderinge bywoon. Meer as ’n derde van hulle is doof. Ander gebaretaalgroepe word in drie stede buite die metropolitaanse gebied van Panamastad gevorm. Hoewel daar nog baie is wat in hierdie veld gedoen moet word, is daar beslis groot vooruitgang daarin gemaak om die gaping van “stilte” tussen dowe opregtes van hart en hulle liefdevolle Skepper, Jehovah God, te oorbrug.

Sulke resultate is tipies van wat regoor Panama gebeur. Hoewel hulle uit verskillende kulture, tale en agtergronde kom, is baie verenig in die aanbidding van die enigste ware God. Die waarheid van Jehovah se Woord het met welslae kommunikasiegapings oorbrug in hierdie land, wat deur baie as die “brug van die wêreld” beskou word.—Efesiërs 4:4.

[Voetnote]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

c Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Kaarte op bladsy 8]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

KARIBIESE SEE

PANAMA

Tobobe

STILLE OSEAAN

Panamakanaal

[Prent op bladsy 8]

Kuna-vroue wat tapisseries vashou

[Prent op bladsy 9]

’n Sendeling getuig vir ’n Ngobe-vrou

[Prent op bladsy 10]

Getuies van Ngobe klim in ’n kano om ’n spesiale byeenkomsdag by te woon

[Prente op bladsy 11]

Bybelwaarheid oorbrug kultuur- en taalverskille in Panama

[Prent op bladsy 12]

’n “Wagtoring”-studie in gebaretaal

[Prent op bladsy 12]

Elsa en haar dogter, Iraida, geniet betekenisvolle kommunikasie

[Foto-erkennings op bladsy 8]

Skip en Kuna-vroue: © William Floyd Holdman/Index Stock Imagery; dorpie: © Timothy O’Keefe/Index Stock Imagery

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel