“Die juweel van die hele Galilea”
SLEGS ses en ’n half kilometer noordwes van Nasaret, die dorp waar Jesus grootgeword het, was daar ’n stad wat nêrens in die Evangelieverslae gemeld word nie. Tog het die bekende eerste-eeuse Joodse geskiedkundige Flavius Josefus dit “die juweel van die hele Galilea” genoem. Dit was die stad Sepforis. Wat weet ons omtrent hierdie stad?
Ná die dood van Herodes die Grote, waarskynlik in 1 v.G.J., het die inwoners van Sepforis teen Rome in opstand gekom, wat daartoe gelei het dat hulle stad vernietig is. Herodes se seun Antipas het Galilea en Perea geërf en het die ruïnes van Sepforis gekies as die ligging van sy nuwe hoofstad. Die stad is herbou in die Grieks-Romeinse boustyl, maar die bevolking was hoofsaaklik Joods. Volgens professor Richard A. Batey het dit “die hoofsentrum geword van waar die regering Galilea en Perea beheer het”, totdat Antipas, in omstreeks 21 G.J., Tiberias gebou het om Sepforis as die hoofstad te vervang. Dit was die tyd toe Jesus naby die stad gewoon het.
Professor James Strange, wat opgrawings by Sepforis gedoen het, meen dat die stad argiewe, ’n skathuis, ’n wapenhuis, banke en openbare geboue gehad het sowel as markte waar erdewerk, glas, metaalware, juweliersware en ’n verskeidenheid voedselsoorte verkoop is. Daar was wewers en klerehandelaars en winkels waar mandjies, meubels, parfuum, en so meer gekoop kon word. Volgens skatting was die bevolking destyds tussen 8 000 en 12 000.
Het Jesus ooit hierdie besige stad besoek, wat ’n uur se stap van Nasaret af was? Die Evangelieverslae sê nie. The Anchor Bible Dictionary sê egter: “Een logiese roete van Nasaret af het deur Sepforis na Kana van Galilea gegaan” (Johannes 2:1; 4:46). Die heuwel van Sepforis, wat byna 120 meter bo die valleivloer uitstyg, kan van Nasaret af gesien word. Party meen dat Jesus moontlik aan hierdie stad gedink het toe hy in ’n illustrasie gesê het dat ‘’n stad nie weggesteek kan word wanneer dit op ’n berg geleë is nie’.—Matteus 5:14.
Ná die val van Jerusalem in 70 G.J. het Sepforis die vernaamste Joodse stad in Galilea geword en later die plek waar die Sanhedrin, die Joodse Hoë Raad, gesetel was. Dit het ’n tyd lank gefloreer as ’n sentrum van Joodse geleerdheid.
[Kaart/Prent op bladsy 32]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
See van Galilea
GALILEA
Kana
Tiberias
SEPFORIS
Nasaret
PEREA
[Foto-erkenning op bladsy 32]
Erdewerk: Excavated by Wohl Archaeological Museum, Herodian Quarter, Jewish Quarter. Owned by Company for the Reconstruction of the Jewish Quarter in the Old City of Jerusalem, Ltd