Verkwikkende groei op ’n pragtige eiland
BESOEKERS aan Taiwan kan nie anders as om beïndruk te wees met die groen tropiese plantegroei wat die eiland bedek nie. Die pragtige groen kleur van die jong rysplantjies het teen die oestyd, wanneer hulle ryp is, na ’n goue kleur verander. Die berghange is oortrek met digte, welige woude. In teenstelling met die oorbevolkte stede is die geil groen plantegroei op die lande en berge uiters verkwikkend. Trouens, dit is wat die eerste Westerling wat die eiland gesien het, beweeg het om dit Ilha Formosa, of “Pragtige eiland”, te noem.
Ja, Taiwan is ’n klein maar pragtige eiland—net 390 kilometer lank en ongeveer 160 kilometer breed by sy breedste punt. Die grootste deel van die eiland bestaan uit hoë berge. Joe Sjan (die berg Morrison) is hoër as die berg Foedji in Japan en Mount Cook in Nieu-Seeland. Om die sentrale berge is smal kusvlaktes wat tot by die see strek en waar Taiwan se besige bevolking woon, wat nou ver oor die 22 miljoen tel.
’n Nuwe soort groei
Daar is egter ’n ander soort groei in Taiwan wat al hoe duideliker gesien kan word—geestelike groei. Dit word weerspieël in die ywer wat mense, jonk en oud, openbaar wanneer hulle die ware God, Jehovah, leer ken. Dit is waarlik indrukwekkend om te sien hoe diegene wat ywerig werk om ander van Jehovah en sy voorneme te help leer, in getal toeneem.
Groei vereis uitbreiding. In Desember 1990 is grond gekoop om ’n groter takkantoor van Jehovah se Getuies te bou. Die vorige fasiliteite, wat in Taipei was, het te beknop geraak om na die bedrywighede om te sien van die 1 777 Koninkryksverkondigers wat destyds in Taiwan was. Ná etlike jare se harde werk deur internasionale en plaaslike vrywilligers van alle ouderdomme, was die mooi nuwe fasiliteite by Hsinwoe in Augustus 1994 gereed om gebruik te word. Teen daardie tyd was daar 2 515 wat aan die verkondiging van die goeie nuus uit God se Woord, die Bybel, deelgeneem het. Nou, meer as tien jaar later, het hierdie getal meer as verdubbel en die 5 500 merk verbygesteek, en elke maand neem ongeveer ’n kwart van dié getal aan die voltydse evangelisasiewerk deel. Die jong manne en vroue wat soos verkwikkende “doudruppels” is, is veral noemenswaardig.—Psalm 110:3.
Geestelike groei onder die jonges
Baie van die ywerige verkondigers van die goeie nuus is nog redelik jonk. Van hulle is laerskoolleerlinge. In ’n dorp in die noorde van Taiwan is ’n egpaar byvoorbeeld genooi om die Teokratiese Bedieningskool vir die eerste keer by te woon, waar Jehovah se Getuies opgelei word om Bybelwaarhede aan ander te leer. Die egpaar was verstom om te sien hoe ’n klein seuntjie, Weidjoen, van die verhoog af uit die Bybel lees, beter as wat baie grootmense dit sou kon doen. By die ander vergaderinge wat hulle daarna bygewoon het, was hulle diep beïndruk dat selfs voorskoolse kindertjies intelligente antwoorde gegee het. Hierdie egpaar het gesê dat die jong kinders by die Koninkryksaal hulle baie goed gedra.
Waarom is Bybelonderrig in hierdie oorwegend Boeddhistiese en Taoïstiese land so belangrik vir hierdie jongmense? Dit is omdat hulle Christenouers Bybelbeginsels toepas en ’n gelukkige gesinslewe opbou wat om hulle verhouding met Jehovah draai. Omdat Weidjoen se ouers die gesinsbybelstudie en die veldbediening genotvol probeer maak, is hierdie seuntjie se ouer broer en suster reeds gedoopte Getuies. Toe Weidjoen onlangs gevra het of hy aan die openbare predikingswerk kan deelneem, het sy ma gesê dat hy daardie maand reeds meer tydskrifte versprei het as die res van die gesin saam. Dit is duidelik dat hy dit geniet om oor die waarheid te praat, by die vergaderinge te antwoord en vir ander te vertel van wat hy leer.
Wanneer hulle ouer word
Hoe vaar hierdie jongmense wanneer hulle ouer word? Die meeste hou aan om ware liefde vir Jehovah en vir die bediening te toon. Neem byvoorbeeld die geval van Hoeiping, ’n student. Eendag het haar dosent gemeld dat lede van ’n sekere godsdiens nie bloed aanvaar nie, maar dat hy nie weet wie hulle is nie. Nadat die klas verdaag is, het hierdie jong Christen aan die dosent verduidelik dat dit Jehovah se Getuies is en waarom hulle so ’n standpunt inneem.
’n Ander dosent het vir hulle ’n video oor seksueel oordraagbare siektes gewys. Die video het na 1 Korintiërs 6:9 verwys, maar sy het beweer dat die Bybel nie homoseksualiteit veroordeel nie. Weer eens kon Hoeiping God se beskouing van die saak aan die dosent verduidelik.
Toe ’n klasmaat, Sjoesjia, ’n taak oor gesinsgeweld voorberei het, het Hoeiping vir haar die Ontwaak! van 8 November 2001 met die voorbladtitel “Hulp vir mishandelde vroue” gegee en verduidelik dat dit baie inligting uit die Bybel oor hierdie onderwerp bevat. Sjoesjia het later ’n ongedoopte verkondiger geword. Nou verkondig sy en Hoeiping die goeie nuus aan ander.
Baie Christene op skool vind dit moeilik om bekend te staan as mense wat volgens Bybelbeginsels lewe. Dit is veral die geval in klein dorpies. Zjihao moes portuurdruk die hoof bied weens sy geloof en predikingsbedrywighede. Hy sê: “Ek het so gefrustreerd gevoel omdat ek bang was om my klasmaats teë te kom wanneer ek aan die bediening deelneem. Soms was daar tot tien van hulle wat my getart het!” Eendag het die onderwyser vir Zjihao gevra om ’n aanbieding oor sy godsdiens voor die klas te doen. “Ek het besluit om my aanbieding met Genesis hoofstuk 1 te begin en dan vrae te bespreek soos: Wie het die aarde en al die dinge daarop gemaak? En hoe het die mens in aansyn gekom? Toe ek uit die Skrif begin lees, het party my uitgelag en gesê ek is bygelowig. Maar ek het voortgegaan en my aanbieding voltooi. Daarna het ek die geleentheid gehad om persoonlik met party van my klasmaats te praat oor ons werk en ons geloof. Wanneer hulle my nou in die bediening sien, lag hulle my nie meer uit nie!”
Zjihao sê verder: “Omdat my ouers Getuies is, bespreek ons elke oggend die dagteks. Ons bestudeer ook die Bybel en woon gereeld vergaderinge by. Daarom kan ek dit hanteer as iemand my dalk nog steeds wil tart wanneer ek ander van verkwikkende Bybelwaarhede probeer vertel.”
Tingmei is in ’n tegniese skool vir meisies. Sy is eenkeer genooi om saam met van haar klasmaats en seuns van ’n seunskool piekniek te gaan hou. Sy het die sedelike gevaar van sulke assosiasie gesien en besluit om nie te gaan nie. Sy is verskeie kere genooi, selfs al het sy vir haar klasmaats nuttige inligting gewys uit die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk.a Die meisies het haar gespot en gesê dat sy outyds is. Toe een van die meisies egter swanger geraak en ’n aborsie gehad het, was dit gou duidelik dat dit verstandig is om Bybelbeginsels te volg. Tingmei sê: “Om te doen wat Jehovah beveel, het my ’n skoon gewete gegee. Gevolglik het ek innerlike vreugde en ’n gevoel van diepe tevredenheid.”
Hindernisse word oorkom
Een van Tingmei se hegte vriendinne is Roeiwen. Om na Christelike vergaderinge toe te gaan en aan die veldbediening deel te neem, was vir Roeiwen net ’n vervelige roetine toe sy jonger was. Maar toe sy sien hoe die ware liefde van diegene in haar gemeente verskil van die oppervlakkige vriendskappe van haar klasmaats, het dit haar oortuig dat sy veranderinge in haar lewe moet aanbring. Roeiwen het vir haar skoolmaats begin getuig, en het gou besef wat sy moet doen. Sy het as ’n hulppionier begin dien en meer as 50 uur per maand aan die bediening bestee. Toe het sy gewone pionierdiens begin doen en meer as 70 uur per maand in die diens deurgebring. Roeiwen sê: “Ek het nie woorde om te sê hoe dankbaar ek teenoor Jehovah is nie. Hy het nooit met my moed opgegee nie. Al het ek dinge gedoen wat hom teleurgestel het, het hy my steeds liefgehad. My ma en ander in die gemeente het dieselfde liefdevolle gesindheid gehad. Noudat ek vyf Bybelstudies hou, voel ek dat ek by die bevredigendste werk betrokke is.”
In een hoërskool in ’n klein dorpie is twee Getuiekinders aangewys om die skool in ’n volksdans-kompetisie te verteenwoordig. Toe hulle uitvind wat die kompetisie sou behels, het die jong Getuies gevoel dat dit hulle Christelike gewete sou skend om daaraan deel te neem. Hulle het hulle beskouing probeer verduidelik en gevra om verskoon te word, maar hulle versoek is geweier. Trouens, die onderwysers het vir hulle gesê dat hulle eenvoudig moet gaan, aangesien húlle gekies is om dit te doen. Die jong Getuies was nie van plan om onder die druk te swig nie en het die onderwysdepartement se webblad besoek en ’n brief gestuur waarin hulle hulle probleem verduidelik het. Hoewel die jongmense se brief nie persoonlik beantwoord is nie, het die skool kort daarna riglyne gekry om niemand te dwing om aan so ’n kompetisie deel te neem nie. Hoe bly was hierdie twee jongmense tog om te sien dat die Bybelopvoeding wat hulle ontvang het, nie net hulle gewete gevorm het nie, maar hulle ook die krag gegee het om hulle standpunt in te neem vir wat reg is!
Selfs diegene met fisiese beperkings put groot vreugde daaruit om ander van hulle Bybelse hoop te vertel. Minjoe is van geboorte af verlam. Omdat sy nie haar hande kan gebruik nie, blaai sy die bladsye van die Bybel met haar tong en vind sy die teks wat sy wil lees. Wanneer sy toesprake op die Teokratiese Bedieningskool by die Koninkryksaal hou, lê sy op ’n lae bank, en haar assistent sit op ’n lae stoeltjie en hou die mikrofoon vir haar vas. Hoe hartverblydend is dit tog om te sien hoeveel moeite Minjoe met haar toesprake doen!
Toe Minjoe ’n Koninkryksverkondiger wou word, het van die susters in die gemeente geleer hoe om telefoongetuieniswerk te doen sodat hulle haar kon help. Sy druk die knoppies met haar tong, en die susters help haar om ’n rekord van haar oproepe te hou. Sy geniet die werk soveel dat sy ’n hulppionier geword het en nou 50 tot 60 uur per maand met ander oor die telefoon oor God se Koninkryk praat. Sy het ’n paar mense gevind wat Bybellektuur aanvaar het en ingestem het dat sy hulle weer skakel. Tans hou sy drie Bybelstudies met mense wat sy op hierdie manier gekontak het.
Ja, soos verkwikkende doudruppels, bring die jong manne—en vroue—in die 78 gemeentes van Jehovah se Getuies in Taiwan, gewillig en ywerig die lewegewende goeie nuus van die Koninkryk aan die miljoene mense op hierdie digbevolkte eiland. Dit is net ’n klein deel van die wêreldwye vervulling van die volgende Bybelprofesie: “U volk sal hulle gewillig aanbied op die dag van u krygsmag. In die prag van heiligheid, uit die moederskoot van die dagbreek, het u u geselskap van jong manne net soos doudruppels” (Psalm 110:3). Wat ’n bron van bemoediging is hierdie jongmense tog vir hulle ouer medewerkers, en wat ’n bron van vreugde is hulle bowenal vir hulle hemelse Vader, Jehovah God!—Spreuke 27:11.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Venster/Prent op bladsy 10]
NOG KONINKRYKSALE NODIG
Met die groei in Taiwan het die behoefte aan meer Koninkryksale ’n groot uitdaging geword. Waarom? Want afgesien van sommige landelike gebiede, is daar feitlik geen grond wat vir die bou van Koninkryksale geskik is nie. Daarbenewens is grondpryse buitensporig en soneringswette streng. In groter dorpe en stede is die enigste alternatief om kantoorruimte te koop en dit in Koninkryksale te omskep. Die meeste kantore het egter baie lae plafonne, hoë instandhoudingsfooie, beperkte toegang of ander faktore wat dit ongeskik maak om as Koninkryksale gebruik te word.
In onlangse jare kon Jehovah se Getuies in Taiwan nietemin etlike nuwe Koninkryksale bekom. Die Getuies gaan voort om nog eiendom te soek terwyl hulle hulle bereidwilligheid toon om die finansiële verantwoordelikheid na te kom asook die nodige bouvaardighede aan te leer.