Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w06 11/15 bl. 4-7
  • ’n Geskil waarby jy betrokke is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Geskil waarby jy betrokke is
  • ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Ek sal my onkreukbaarheid nie prysgee nie’
  • Hoe ’n antwoord op die uitdaging gegee is
  • Wat moet jy doen?
  • Vermy seksuele wangedrag
  • Behaag God op ander lewensterreine
  • Jy kán sukses behaal
  • Job het Jehovah se naam hooggehou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Job se onkreukbaarheid—Wie kan dit navolg?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Behou jou onkreukbaarheid!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Lewe op ’n manier wat God se goedkeuring wegdra
    Wat leer die Bybel werklik?
Sien nog
ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
w06 11/15 bl. 4-7

’n Geskil waarby jy betrokke is

HET jy ’n vriend of familielid aan wie jy baie geheg is? Sê nou iemand beskuldig jou daarvan dat jy daardie verhouding slegs om selfsugtige redes aan die gang hou? Sou jy nie seergemaak of dalk selfs verontwaardig voel nie? Dit is presies die aantyging wat Satan die Duiwel teen almal gemaak het wat ’n hegte verhouding met Jehovah God het.

Dink aan wat gebeur het toe Satan dit reggekry het om die eerste mensepaar, Adam en Eva, sover te kry om God se wet te verbreek en by hom aan te sluit in sy opstand teen God. Het wat gebeur het, beteken dat mense aan Jehovah gehoorsaam sou bly net solank dit hulle tot voordeel strek? (Genesis 3:1-6). Sowat 2 500 jaar nadat Adam gesondig het, het Satan die aandag op hierdie einste kwessie gevestig—hierdie keer in verband met ’n man genaamd Job. Laat ons daardie Bybelverslag noukeurig ondersoek, aangesien die aantyging wat die Duiwel gemaak het, die betrokke geskil duidelik identifiseer.

‘Ek sal my onkreukbaarheid nie prysgee nie’

Job is “’n onberispelike en regskape man, wat God vrees en afwyk van die kwaad”. Satan probeer Job se opregtheid in ’n slegte lig stel. “Is dit verniet dat Job God gevrees het?” vra hy Jehovah. Dan beswadder die Duiwel God sowel as Job deur aan te voer dat Jehovah Job se lojaliteit gekoop het deur hom te beskerm en te seën. “Maar”, kom Satan se uitdaging, “steek vir ’n verandering asseblief u hand uit en raak alles aan wat hy het en kyk of hy u nie in u aangesig sal vervloek nie.”—Job 1:8-11.

In reaksie op hierdie bewerings laat Jehovah Satan toe om Job op die proef te stel. In ’n poging om hom af te keer van sy diens aan God, bring die Duiwel een ramp ná die ander oor hierdie getroue man. Al Job se vee word gesteel of doodgemaak, sy knegte word vermoor en sy kinders sterf (Job 1:12-19). Maar is Satan suksesvol? Nee, glad nie! Hoewel Job nie geweet het dat die Duiwel die oorsaak van sy beproewinge is nie, sê hy: “Jehovah het gegee, en Jehovah het weggeneem. Laat die naam van Jehovah voortdurend geloof word.”—Job 1:21.

Later verskyn Satan voor Jehovah, wat aan hom sê: “[Job] hou nog steeds vas aan sy onkreukbaarheid, hoewel jy my teen hom aanhits om hom sonder oorsaak te verswelg” (Job 2:1-3). Die groot geskil is dié oor Job se onkreukbaarheid—’n eienskap wat vereis dat ’n mens onwrikbare lojaliteit teenoor God toon en regverdigheid getrou aankleef. Job was tot dusver die oorwinnaar in die geskil oor onkreukbaarheid. Maar die Duiwel gooi nie tou op nie.

Hierna maak Satan ’n veralgemeende bewering wat die hele mensdom raak. “Vel vir vel”, sê hy vir Jehovah, “en alles wat ’n mens het, sal hy gee vir sy siel. Steek vir ’n verandering asseblief u hand uit en raak tot sy gebeente en sy vlees aan en kyk of hy u nie in u aangesig sal vervloek nie” (Job 2:4, 5). Deur die algemene uitdrukking “’n mens” te gebruik in plaas van die naam Job, trek die Duiwel die onkreukbaarheid van elke mens in twyfel. Hy sê as ’t ware: ‘’n Mens sal enigiets doen om sy lewe te red. Gee my ’n kans, en ek sal enigeen van God kan afkeer.’ Sal geen mens onder alle omstandighede en te alle tye aan God lojaal bly nie?

Jehovah laat die Duiwel toe om Job met ’n kwaadaardige siekte te tref. Job se lyding is so erg dat hy God in gebed vra om hom te laat sterf (Job 2:7; 14:13). Tog sê Job: “Totdat ek sterf, sal ek my onkreukbaarheid nie prysgee nie!” (Job 27:5). Job sê dit omdat hy God liefhet, en niks kan dit verander nie. Job bewys dat hy ’n man van onkreukbaarheid is. “Wat Jehovah betref”, sê die Bybel, “hy het die einde van Job meer geseën as sy begin” (Job 42:10-17). Was daar al ander soos Job? Wat het die verloop van tyd geopenbaar?

Hoe ’n antwoord op die uitdaging gegee is

In hoofstuk 11 van die Bybelboek Hebreërs noem die apostel Paulus ’n aantal getroue manne en vroue uit voor-Christelike tye, insluitende Noag, Abraham, Sara en Moses. Die apostel sê dan: “Die tyd sal my ontbreek as ek nog sou vertel van [ander getroues]” (Hebreërs 11:32). Daar was soveel van hierdie getroue knegte van God dat Paulus na hulle verwys as “’n groot wolk van getuies” en hulle dus vergelyk met ’n ontsaglike wolkmassa wat die hele lug vul (Hebreërs 12:1). Ja, deur die eeue heen het tallose mense hulle wilsvryheid uitgeoefen en gekies om getrou aan Jehovah God te bly.—Josua 24:15.

Die beste antwoord op Satan se bewering dat hy mense van Jehovah kan afkeer, is voorsien deur God se eie Seun, Jesus Christus. Nie eens die verskriklike pyn wat hy verduur het toe hy aan ’n folterpaal tereggestel is, het hom sy onkreukbaarheid teenoor God laat prysgee nie. Met sy laaste asem het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande vertrou ek my gees toe.”—Lukas 23:46.

Die verloop van tyd het duidelik getoon dat die Duiwel nie almal daarvan kon afkeer om die ware God te dien nie. Tallose mense het Jehovah leer ken en ‘het hom lief met hulle hele hart en met hulle hele siel en met hulle hele verstand’ (Matteus 22:37). Hulle onwrikbare lojaliteit aan Jehovah het Satan verkeerd bewys in verband met die geskil oor menslike onkreukbaarheid. Jy kan ook die Duiwel verkeerd bewys deur ’n man of vrou van onkreukbaarheid te wees.

Wat moet jy doen?

Dit is God se wil dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:4). Hoe kan jy dit doen? Ruim tyd in om die Bybel te bestudeer en ‘kennis in te neem van die enigste ware God, en van die een wat hy uitgestuur het, Jesus Christus’.—Johannes 17:3.

Satan het die mens se onkreukbaarheid in twyfel getrek deur die redes waarom hulle God dien, te bevraagteken. As jy wil hê dat kennis jou beweegredes moet beïnvloed, moet dit jou hart bereik. Maar dan moet jy meer doen as om net na inligting te soek in die Bybel. Kweek die gewoonte aan om te peins oor wat jy leer (Psalm 143:5). Wanneer jy die Bybel of ’n Bybelpublikasie lees, moet jy tyd neem om oor vrae soos hierdie na te dink: ‘Wat leer dit my oor Jehovah? Watter eienskappe van God kom hier na vore? Op watter lewensterreine moet ek hierdie eienskappe aankweek? Wat keur God goed en wat keur hy af? Watter uitwerking het dit op hoe ek oor God voel?’ Sulke bepeinsing sal jou hart met liefde en waardering vir die Skepper vul.

Onkreukbaarheid teenoor God word nie tot godsdiensoortuigings beperk nie (1 Konings 9:4). As jy jou onkreukbaarheid teenoor Jehovah God wil handhaaf, vereis dit regskapenheid op alle lewensterreine. Maar as jy jou onkreukbaarheid handhaaf, sal jy niks mis nie. Jehovah is “die gelukkige God”, en hy wil hê dat jy die lewe moet geniet (1 Timoteus 1:11). Kyk nou na sekere gebruike wat jy moet vermy om sedelik rein te bly en sodoende ’n gelukkiger lewe en God se goedkeuring te geniet.

Vermy seksuele wangedrag

Jehovah stel self die standaard vir die huwelik in sy Woord, die Bybel, wat sê: “’n Man [sal] sy vader en sy moeder verlaat, en hy sal sy vrou aankleef en hulle sal een vlees word” (Genesis 2:21-24). Aangesien huweliksmaats “een vlees” geword het, eer hulle God se huweliksreëling as hulle geslagsomgang tot mekaar beperk. Die apostel Paulus het gesê: “Laat die huwelik onder almal eerbaar wees en die huweliksbed sonder verontreiniging, want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebreërs 13:4). Die uitdrukking “huweliksbed” dui op geslagsomgang tussen ’n man en vrou wat wetlik met mekaar getroud is. As enigeen van hulle hulle aan geslagsomgang buite die huwelik skuldig maak, pleeg hy of sy egbreuk en kan dit ’n ongunstige oordeel van God meebring.—Maleagi 3:5.

Wat van voorhuwelikse seks? Dit druis ook in teen die sedelike standaarde wat deur Jehovah uiteengesit word. “Dít is die wil van God: . . . dat julle julle onthou van hoerery”, sê die Bybel (1 Tessalonisense 4:3). Homoseksualiteit, bloedskande en bestialiteit is ook sondes teen God (Levitikus 18:6, 23; Romeine 1:26, 27). Enigeen wat God wil behaag en ’n waarlik gelukkige lewe wil geniet, moet van onsedelike gebruike af wegbly.

Wat van voorhuwelikse, hartstogwekkende seksuele gedrag? Dit mishaag Jehovah (Galasiërs 5:19). Die verstand moet ook rein gehou word van onsedelike gedagtes. Jesus het gesê: “Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg” (Matteus 5:28). Hierdie woorde kan ook toegepas word op dié wat na pornografiese beelde op papier, op ’n skerm of op die Internet kyk; op dié wat oor seksuele bedrywighede lees en op dié wat na liedjies met suggestiewe woorde luister. As ’n mens sulke materiaal vermy, behaag dit God en het dit ’n opbouende invloed op jou lewe.

Wat van flankeerdery? Flankeerdery word gedefinieer as “ligsinnig lieftallige of seksueel verleidelike” gedrag. As ’n getroude man of vrou sulke aandag aan iemand buite sy of haar huwelik gee, is dit strydig met Bybelbeginsels en ’n teken van oneerbiedigheid teenoor Jehovah (Efesiërs 5:28-33). Hoe onvanpas is dit tog vir ongetroude persone om bloot vir pret romantiese seine vir mekaar te stuur! Wat sou gebeur as hierdie flankeerdery ernstiger opgeneem word as wat bedoel word? Dink aan die emosionele pyn wat dit kan veroorsaak. Dit stem ’n mens ook tot nadenke as jy onthou dat flankeerdery tot egbreuk of hoerery kan lei. Aan die ander kant vergroot dit ’n mens se selfrespek as jy lede van die teenoorgestelde geslag met kuisheid behandel.—1 Timoteus 5:1, 2.

Behaag God op ander lewensterreine

Alkohol is in baie lande maklik bekombaar. Is dit verkeerd om dit te drink? Om wyn, bier of ander alkohol met matigheid te drink, is nie iets wat in die Skrif verbied word nie (Psalm 104:15; 1 Timoteus 5:23). Maar strawwe drinkery en dronkenskap is verkeerd in God se oë (1 Korintiërs 5:11-13). Jy wil tog sekerlik nie hê dat oormatige drinkery jou gesondheid moet verwoes en jou gesinslewe moet ontwrig nie.—Spreuke 23:20, 21, 29-35.

Jehovah is “die God van waarheid” (Psalm 31:5). “Dit [is] onmoontlik . . . vir God om te lieg”, sê die Bybel (Hebreërs 6:18). As jy God se goedkeuring wil hê, sal jy nie leuens vertel nie (Spreuke 6:16-19; Kolossense 3:9, 10). “[Praat] die waarheid . . . , elkeen van julle met sy naaste”, spoor die Bybel Christene aan.—Efesiërs 4:25.

Daar is ook die gewoonte om te dobbel. Hoewel dobbelary gewild is onder baie mense, is dit ’n vorm van gierigheid, aangesien dit ’n poging is om geld te maak uit ander se verliese. Dié wat “gierig [is] na oneerlike gewin”, dra nie Jehovah se goedkeuring weg nie (1 Timoteus 3:8). As jy Jehovah wil behaag, sal jy dus enige vorm van dobbelary vermy, insluitende loterye, bingo en weddenskappe op perde. Jy sal dan heel moontlik vind dat jy meer geld tot jou beskikking het om na die behoeftes van jou gesin om te sien.

Diefstal, om iets te neem wat nie aan jou behoort nie, is ’n ander vorm van gierigheid. “Jy mag nie steel nie”, sê die Bybel (Eksodus 20:15). Dit is verkeerd om gesteelde goedere wetend te koop en om dinge sonder toestemming te neem. “Laat die steler nie meer steel nie”, sê die Bybel, “maar laat hom liewer hard werk deur met sy hande goeie werk te doen, sodat hy iets kan hê om uit te deel aan iemand wat gebrek het” (Efesiërs 4:28). Liefhebbers van Jehovah doen ’n eerlike dag se werk eerder as om tyd van hulle werkgewer te steel. Hulle ‘wil hulle in alles eerlik gedra’ (Hebreërs 13:18). En ’n rein gewete dra beslis by tot ’n mens se gemoedsrus.

Hoe beskou God iemand met ’n humeur wat vinnig opvlam? Die Bybel waarsku: “Moenie omgaan met iemand wat gou toornig word nie; en by ’n man wat woedebuie het, moet jy nie ingaan nie” (Spreuke 22:24). Onbeteuelde woede lei dikwels tot dade van geweld (Genesis 4:5-8). En aangaande wraaksug sê die Bybel: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie. Verskaf goeie dinge voor die oë van alle mense. Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense. Moet julle nie wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die gramskap; want daar staan geskrywe: ‘Die wraak is myne; ek sal vergeld, sê Jehovah’” (Romeine 12:17-19). Wanneer ons hierdie raad volg, sal ons lewe vreedsamer wees—en dit sal ons gelukkiger maak.

Jy kán sukses behaal

Kan jy jou onkreukbaarheid teenoor God suksesvol handhaaf ten spyte van druk om dit prys te gee? Ja, jy kan. Jy moet besef dat God wil hê dat jy Satan verkeerd moet bewys in verband met die geskil oor onkreukbaarheid, want Sy Woord sê: “Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee.”—Spreuke 27:11.

Jy kan tot Jehovah bid om jou te versterk sodat jy kan doen wat reg is in sy oë (Filippense 4:6, 7, 13). Wend dus ’n besliste poging aan om jou kennis van God se Woord, die Bybel, te vergroot. As jy met waardering peins oor wat jy in die Bybel leer, sal dit jou help om jou liefde vir God te vergroot, en dit sal jou beweeg om hom te behaag. “Dít is wat die liefde vir God beteken”, sê 1 Johannes 5:3, “dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie.” Jehovah se Getuies in jou omgewing sal bly wees om jou te help om die Bybel te bestudeer. Ons nooi jou om met hulle in aanraking te kom, of jy kan aan die uitgewers van hierdie tydskrif skryf.

[Prent op bladsy 4]

Job het getrou gebly onder beproewinge

[Prent op bladsy 7]

As jy jou kennis van God se Woord vergroot, sal dit jou meer vasbeslote maak om te doen wat reg is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel