Het Juda verlate gebly?
DIE Bybel het voorspel dat die land van die koninkryk van Juda deur die Babiloniërs verwoes sou word en dat dit verlate sou bly totdat die Joodse ballinge teruggekeer het (Jeremia 25:8-11). Die kragtigste rede om te glo dat hierdie profesie vervul is, is die geïnspireerde historiese verslag wat opgeteken is omtrent 75 jaar nadat die eerste groep ballinge na hulle vaderland teruggekeer het. Dit sê dat die koning van Babilon “dié wat van die swaard oorgebly het, gevange na Babilon weggevoer [het], en hulle het vir hom en sy seuns knegte geword totdat die koningshuis van Persië begin regeer het”. En wat die land betref, sê dit: “Al die dae dat dit woes gelê het, het dit sabbat gehou” (2 Kronieke 36:20, 21). Is daar enige argeologiese bewyse om dit te ondersteun?
In die tydskrif Biblical Archaeology Review sê Ephraim Stern, professor van Palestynse argeologie aan die Hebreeuse Universiteit: “Die Assiriërs en die Babiloniërs het albei groot dele van eertydse Israel verwoes, maar die argeologiese bewyse van die nadraai van hulle onderskeie verowerings skets twee heeltemal verskillende prentjies.” Hy verduidelik: “Terwyl die Assiriërs duidelike bewyse van hulle teenwoordigheid in Palestina agtergelaat het, is daar ’n eienaardige gaping in die geskiedenis ná die verwoesting deur die Babiloniërs. . . . Ons vind geen bewyse dat enigiemand voor die Persiese tydperk in die gebied gewoon het nie . . . Daar is ’n algehele gebrek aan bewyse wat op bewoning dui. Gedurende daardie hele tydperk is nie ’n enkele dorp wat deur die Babiloniërs vernietig is, weer bewoon nie.”
Professor Lawrence E. Stager van die Harvard-universiteit stem saam. “Oor die hele Filistea, en later oor die hele Juda”, sê hy, het die koning van Babilon se “verskroeideaarde-beleid ’n ware woesteny wes van die Jordaanrivier geskep”. Stager voeg by: “Slegs met Cyrus die Grote, die Persiese opvolger van die Babiloniërs, het die argeologiese rekord weer . . . in Jerusalem en in Juda begin, waar baie Joodse ballinge na hulle vaderland teruggekeer het.”
Ja, Jehovah se woord aangaande die feit dat Juda verlate sou lê, is vervul. Wat Jehovah God voorspel, word altyd bewaarheid (Jesaja 55:10, 11). Ons kan ons volle vertroue stel in Jehovah en in sy beloftes wat in sy Woord, die Bybel, opgeteken is.—2 Timoteus 3:16.