Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 1/1 bl. 27-30
  • Verligting van die wanhoop van my jeug

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verligting van die wanhoop van my jeug
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vasgevang in ’n sinlose lewe
  • Jehovah kom my te hulp
  • ’n Geliefde word bevry
  • My stryd teen verwoestende gevoelens
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Hoe ek daarin geslaag het om ’n Christengesin groot te maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Ek laat vaar ’n lewe van geweld
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 1/1 bl. 27-30

Verligting van die wanhoop van my jeug

Soos vertel deur Eusebio Morcillo

In September 1993 het ek ’n maksimumsekuriteitsgevangenis besoek. Dit was vir die doop van ’n gevangene, my jonger suster Mariví. Van die ander gevangenes sowel as party tronkbewaarders het respekvol toegekyk terwyl ek die plegtigheid waargeneem het. Voordat ek verduidelik hoe dit gekom het dat ek en sy daar was, wil ek eers ons vroeë lewe beskryf.

EK IS op 5 Mei 1954 in Spanje gebore as die eerste van agt kinders. Mariví was die derde. Ons ouma het ons as vroom Katolieke grootgemaak, en ek het aangename herinneringe uit my kinderjare van hoe ek toegewyd aan God gevoel het wanneer ek by haar was. Maar die milieu in my ouerhuis was allesbehalwe geestelik. My pa het my ma en ons kinders gereeld geslaan. Vrees was deel van ons lewe, en dit het my diep seergemaak om my ma te sien ly.

By die skool het ek nog ontmoedigende omstandighede ervaar. Een van die onderwysers, ’n priester, het ons koppe teen ’n muur gestamp as ons ’n vraag verkeerd beantwoord het. ’n Ander priester het leerders seksueel gemolesteer terwyl hy hulle huiswerk met hulle hersien het. Verder het Katolieke leerstellings soos die helse vuur my verwar en bang gemaak. My toegewydheid aan God het gou verdwyn.

Vasgevang in ’n sinlose lewe

Omdat ek geen geestelike leiding gehad het nie, het ek tyd saam met onsedelike, gewelddadige mense by diskoteke begin deurbring. Gevegte het dikwels uitgebreek, waarin messe, kettings, glase en stoele as wapens gebruik is. Hoewel ek nie self aan die geweld deelgeneem het nie, is ek eenkeer bewusteloos geslaan.

Ek het uiteindelik moeg geword vir daardie milieu en stiller diskoteke gesoek. Selfs daar was dwelms algemeen. Maar in plaas van my genot en gemoedsrus te verskaf, het die dwelms my hallusinasies en angs laat ondervind.

Hoewel ek onvergenoegd was, het ek een van my jonger broers, José Luis, en ’n goeie vriend, Miguel, by dieselfde lewenswyse betrek. Net soos baie ander jongmense in Spanje gedurende daardie tyd was ons vasgevang in ’n verdorwe wêreld. Ek het feitlik enigiets gedoen om geld vir dwelms in die hande te kry. Ek het al my waardigheid verloor.

Jehovah kom my te hulp

Gedurende hierdie tyd het ek ’n hele paar keer met my vriende oor die bestaan van God en die sin van die lewe gepraat. Ek het na God begin soek deur iemand te probeer vind met wie ek oor my gevoelens kon praat. Ek het opgemerk dat Francisco, een van my werksmaats, anders was as die res. Hy het gelukkig, eerlik en vriendelik gelyk, en daarom het ek besluit om my hart teenoor hom uit te praat. Francisco was een van Jehovah se Getuies, en hy het vir my ’n nommer van Die Wagtoring gegee wat ’n artikel oor dwelms bevat het.

Nadat ek die artikel gelees het, het ek tot God gebid om hulp: “Here, ek weet dat u bestaan, en ek wil u ken en u wil doen. Help my asseblief!” Francisco en ander Getuies het die Bybel gebruik om my aan te moedig en het vir my Bybelpublikasies gegee om te lees. Ek het besef dat hulle vir my die hulp gee waarvoor ek God gevra het. Ek het weldra met my vriende en José Luis begin praat oor die dinge wat ek geleer het.

Terwyl ek en my vriende eenkeer ’n rockkonsert verlaat het, het ek eenkant gaan staan. Ek het objektief na hulle gekyk, en dit het my getref presies hoe afstootlik ons gedrag geword het weens die invloed van dwelms. Op daardie oomblik het ek besluit om daardie lewenswyse te verwerp en een van Jehovah se Getuies te word.

Ek het Francisco vir ’n Bybel gevra, en hy het vir my een gegee, asook die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe.a Toe ek lees van God se belofte om elke traan af te vee en selfs die dood te verwyder, het daar geen twyfel by my bestaan dat ek die waarheid gevind het wat die mensdom vry kan maak nie (Johannes 8:32; Openbaring 21:4). Later het ek ’n vergadering by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies bygewoon. Die vriendelikheid en hartlikheid wat ek daar gesien het, het my baie beïndruk.

Omdat ek gretig was om vir ander van my ondervinding by die Koninkryksaal te vertel, het ek dadelik José Luis en my vriende bymekaar laat kom en vir hulle alles daarvan vertel. ’n Paar dae later het ons almal ’n vergadering bygewoon. ’n Meisie wat in die ry voor ons gesit het, het vlugtig na ons gekyk. Dit was duidelik dat sy verstom was om hierdie groep langhaarhippies te sien, en sy het nie weer omgekyk nie. Sy was ongetwyfeld verbaas toe ons die volgende week weer na die Koninkryksaal gekom het, want dié keer het elkeen van ons ’n pak en ’n das aangehad.

Kort daarna het ek en Miguel ook ’n kringbyeenkoms van Jehovah se Getuies bygewoon. Ons het nog nooit so iets ervaar nie—’n ware broederskap van mense van alle ouderdomme. En vreemd genoeg is die byeenkoms in dieselfde teater gehou waar ons kort tevore ’n rockkonsert bygewoon het. Maar by hierdie geleentheid het die atmosfeer en die musiek ons opgebeur.

Ons hele groep het die Bybel begin studeer. Omtrent agt maande later, op 26 Julie 1974, is ek en Miguel gedoop. Ons was albei 20 jaar oud. Vier ander in ons groep is ’n paar maande later gedoop. Die Bybelopleiding wat ek ontvang het, het my beweeg om my lankmoedige ma met die huiswerk te begin help en om vir haar van my nuutgevonde geloof te vertel. Ons het na aan mekaar gekom. Ek het ook baie tyd daaraan gewy om my jonger broers en susters te help.

Met verloop van tyd het my ma en al my broers en susters behalwe een Bybelwaarheid geleer en is hulle as Jehovah se Getuies gedoop. In 1977 is ek met Soledad getroud. Sy was die jong meisie wat geskok gelyk het toe sy ons tydens ons eerste besoek aan die Koninkryksaal gesien het. Binne ’n paar maande het ons albei pioniers geword, soos Jehovah se Getuies voltydse verkondigers van die goeie nuus noem.

’n Geliefde word bevry

My jonger suster Mariví is as kind seksueel gemolesteer, en daardie verskriklike agtergrond het ’n groot invloed op haar gehad. As tiener het sy ’n onsedelike lewe begin lei, wat dwelms, diefstal en prostitusie ingesluit het. Op die ouderdom van 23 is sy tronk toe gestuur, waar sy haar slegte lewe voortgesit het.

Teen daardie tyd het ek gedien as ’n kringopsiener, ’n reisende bedienaar van Jehovah se Getuies. In 1989 het ek en Soledad ’n toewysing ontvang in die gebied waar Mariví in die tronk was. Die owerheid het kort tevore haar seun van haar weggeneem; sy was verpletter en het geen begeerte gehad om te lewe nie. Eendag het ek haar besoek en voorgestel dat ons die Bybel saam studeer, en sy het ingestem. Nadat sy ’n maand gestudeer het, het sy opgehou om dwelms te gebruik en te rook. Dit het my groot vreugde verskaf om te sien dat Jehovah haar die krag gee om hierdie veranderinge in haar lewe aan te bring.—Hebreërs 4:12.

Kort nadat Mariví begin studeer het, het sy medegevangenes en tronkbewaarders van Bybelwaarhede begin vertel. Hoewel sy van een tronk na die ander verskuif is, het sy aangehou om te preek. In een tronk het sy selfs van sel tot sel getuig. Deur die jare heen het Mariví Bybelstudies met baie gevangenes in verskillende tronke begin.

Eendag het Mariví vir my gesê dat sy haar lewe aan Jehovah wil toewy en gedoop wil word. Maar sy is nie toestemming gegee om die tronk te verlaat nie, en ook is niemand toegelaat om haar daar te kom doop nie. Sy het nog vier jaar in die verdorwe milieu van daardie tronk deurgebring. Wat het haar gehelp om haar geloof te behou? Op presies dieselfde tyd dat die plaaslike gemeente ’n vergadering gehou het, het sy dieselfde program in die tronksel hersien. Sy het ook ’n gereelde program van persoonlike Bybelstudie en gebed gehad.

Ná verloop van tyd is Mariví na ’n hoësekuriteitsgevangenis met ’n swembad verskuif. Sy het gedink dat sy in hierdie nuwe omstandighede dalk gedoop sou kon word. En Mariví het toe ook uiteindelik toestemming hiervoor gekry. So het dit gekom dat ek haar dooptoespraak gehou het. Ek was by haar op die allerbelangrikste oomblik van haar lewe.

As gevolg van haar vorige lewenswyse het Mariví vigs gekry. Maar danksy haar goeie gedrag is sy vroeg vrygelaat uit die tronk, in Maart 1994. Sy het by my ma in die huis gewoon en tot haar dood twee jaar later ’n bedrywige Christelike lewe gelei.

My stryd teen verwoestende gevoelens

Ek het ook nie die gevolge van my vorige lewe heeltemal vrygespring nie. Die mishandeling deur my pa sowel as my lewenswyse as ’n tiener het hulle letsels op my gelaat. As volwassene is ek al dikwels geteister deur skuldgevoelens en ’n swak gevoel van eiewaarde. Ek is soms baie neerslagtig. Maar God se Woord is van onskatbare waarde in my stryd teen hierdie verontrustende gevoelens. Gereelde bepeinsing oor tekste soos Jesaja 1:18 en Psalm 103:8-13 het my oor die jare heen gehelp om terugkerende skuldgevoelens te demp.

Gebed is nog ’n geestelike wapen wat ek gebruik om gevoelens van onwaardigheid te bestry. Ek het al dikwels met trane in my oë tot Jehovah gebid. Maar die woorde in 1 Johannes 3:19, 20 versterk my: “Hieraan sal ons weet dat ons ons oorsprong by die waarheid het, en ons sal ons hart voor hom gerusstel met betrekking tot alles waarin ons hart ons veroordeel, want God is groter as ons hart en weet alles.”

Aangesien ek God opreg met “’n gebroke en verbryselde hart” nader, besef ek dat ek nie so sleg is as wat ek vroeër gedink het nie. Die Bybel verseker almal wat Jehovah soek dat hy nie diegene verag wat opreg spyt is oor hulle vorige gedrag en nou sy wil doen nie.—Psalm 51:17.

Wanneer gevoelens van onsekerheid by my opkom, probeer ek my verstand met positiewe gedagtes vul, die soort geestelike dinge wat in Filippense 4:8 gemeld word. Ek het Psalm 23 en die Bergpredikasie uit my kop geleer. Wanneer negatiewe gedagtes opduik, sê ek hierdie Bybelgedeeltes vir myself op. Hierdie verstandelike reiniging help veral gedurende slapelose nagte.

Nog ’n bron van hulp is die lof wat ek van my vrou en ander ryp Christene ontvang. Hoewel dit aanvanklik vir my moeilik was om hulle bemoedigende woorde te aanvaar, het die Bybel my help verstaan dat die liefde ‘alles glo’ (1 Korintiërs 13:7). En ek het natuurlik geleidelik geleer om my swakhede en beperkings nederig te aanvaar.

Die positiewe sy is dat my stryd teen negatiewe gevoelens my gehelp het om ’n medelydende reisende opsiener te wees. Ek en my vrou is albei reeds byna 30 jaar lank voltydse bedienaars van die goeie nuus. Die vreugde wat dit my verskaf om ander te dien, help om die negatiewe gevoelens en herinneringe aan my onaangename ondervindinge al hoe meer op die agtergrond te skuif.

Wanneer ek nou terugkyk en nadink oor al die seëninge wat Jehovah oor my uitgestort het, beweeg dit my om soos die psalmis te sê: “Loof Jehovah, . . . hy wat al jou oortredings vergewe, wat al jou kwale genees, wat jou lewe uit die kuil terugeis, wat jou met liefderyke goedhartigheid en barmhartighede kroon.”—Psalm 103:1-4.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.

[Lokteks op bladsy 30]

Ek is al dikwels geteister deur skuldgevoelens en ’n swak gevoel van eiewaarde. Maar God se Woord is van onskatbare waarde in my stryd teen hierdie verontrustende gevoelens

[Prente op bladsy 27]

My broer José Luis en my vriend Miguel het my slegte sowel as my goeie voorbeeld gevolg

[Prent op bladsy 28, 29]

Die Morcillo-gesin in 1973

[Prent op bladsy 29]

Mariví as ’n gevangene

[Prent op bladsy 30]

Saam met my vrou, Soledad

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel