Volg die grootste Sendeling na
“Word navolgers van my, net soos ek dit van Christus is.”—1 KOR. 11:1.
1. Waarom moet ons Jesus Christus navolg?
DIE apostel Paulus het die grootste Sendeling, Jesus Christus, nagevolg. Paulus het ook sy mede-Christene aangespoor: “Word navolgers van my, net soos ek dit van Christus is” (1 Kor. 11:1). Nadat Jesus sy apostels ’n treffende les in nederigheid gegee het deur hulle voete nederig te was, het hy vir hulle gesê: “Ek het vir julle die voorbeeld gestel, dat julle, net soos ek aan julle gedoen het, ook moet doen” (Joh. 13:12-15). As hedendaagse Christene is ons verplig om Jesus Christus na te volg in ons woorde en dade en in die eienskappe wat ons aan die dag lê.—1 Pet. 2:21.
2. Watter gesindheid kan jy hê al is jy nie deur die Bestuursliggaam as ’n sendeling aangestel nie?
2 In die vorige artikel het ons geleer dat ’n sendeling iemand is wat as ’n evangeliedienaar gestuur word—iemand wat goeie nuus aan ander bring. In hierdie opsig het Paulus ’n paar interessante vrae geopper. (Lees Romeine 10:11-15.) Let op dat die apostel gevra het: “Hoe sal hulle hoor sonder dat iemand preek?” Toe het hy die woorde uit Jesaja se profesie aangehaal: “Hoe lieflik is die voete van dié wat goeie nuus van goeie dinge bekend maak!” (Jes. 52:7). Al is jy nie aangestel en uitgestuur om as ’n sendeling in ’n ander land te dien nie, kan jy die evangelisasiegees hê deur Jesus as ’n ywerige verkondiger van die goeie nuus na te volg. Verlede jaar het 6 957 852 Koninkryksverkondigers in 236 lande ‘die werk van evangeliedienaars gedoen’.—2 Tim. 4:5.
“Ons het alles verlaat en u gevolg”
3, 4. Wat het Jesus in die hemel agtergelaat, en wat moet ons doen om sy volgelinge te wees?
3 Om sy toegewese rol op die aarde te vervul, het Jesus “homself ontledig en ’n slaaf se gedaante aangeneem” deur sy hemelse lewe en heerlikheid agter te laat (Fil. 2:7). Niks wat ons in navolging van Christus doen, kan vergelyk met wat Jesus gedoen het toe hy aarde toe gekom het nie. Maar ons kan as sy volgelinge standvastig bly deur nie met verlange terug te kyk na wat ons in Satan se wêreld gehad het nie.—1 Joh. 5:19.
4 By een geleentheid het die apostel Petrus vir Jesus gesê: “Kyk! Ons het alles verlaat en u gevolg” (Matt. 19:27). Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes het gou hulle nette laat staan toe hulle genooi is om Jesus te volg. Hulle het die vissersbedryf agtergelaat en die bediening hulle loopbaan gemaak. Volgens Lukas se Evangelieverslag het Petrus gesê: “Kyk! Ons het ons eie goed verlaat en u gevolg” (Luk. 18:28). Dit was vir die meeste van ons nie nodig om al “ons eie goed” agter te laat om Jesus te volg nie. Maar ons moes wel ‘onsself verloën’ om volgelinge van Christus en heelhartige knegte van Jehovah te word (Matt. 16:24). So ’n weg het ryk seëninge meegebring. (Lees Matteus 19:29.) As ons ’n evangelisasiegees in navolging van Christus het, verbly dit ons hart, veral as ons selfs net ’n klein aandeel daaraan gehad het om iemand te help om nader aan God en sy geliefde Seun te kom.
5. Vertel ’n ondervinding om te toon wat ’n immigrant kan besluit om te doen wanneer hy Bybelwaarheid leer.
5 Valmir, ’n Brasiliaanse man wat in die binneland van Suriname woon, was ’n goudmyner. Hy was ’n alkoholis wat ’n onsedelike lewe gelei het. Toe hy eenkeer in ’n stad was, het Jehovah se Getuies die Bybel met hom begin studeer. Hy het elke dag gestudeer, het baie veranderinge gemaak en is kort voor lank gedoop. Toe hy sien dat sy werk dit moeilik maak om in ooreenstemming met sy nuutgevonde geloof te lewe, het hy sy winsgewende besigheid verkoop en teruggetrek Brasilië toe om sy gesin te help om geestelike skatte te vind. Wanneer hulle Bybelwaarheid leer, gee baie immigrante hulle werk in welvarende lande vrywillig op en gaan hulle terug na hulle vaderland met die doel om hulle familielede en ander geestelik te help. Hierdie Koninkryksverkondigers openbaar ’n ware evangelisasiegees.
6. Wat kan ons doen as ons nie kan verhuis na waar meer Koninkryksverkondigers nodig is nie?
6 ’n Aantal Getuies kon al verhuis na gebiede waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Party dien selfs in ’n ander land. Dit is dalk nie vir ons moontlik om te verhuis nie, maar ons kan Jesus navolg deur altyd ons bes in die bediening te doen.
Jehovah voorsien die nodige opleiding
7. Watter skole is daar om diegene op te lei wat hulle vermoë as Koninkryksverkondigers wil verbeter?
7 Net soos Jesus opleiding van sy Vader ontvang het, kan ons baat vind by die onderrigting wat Jehovah nou voorsien. Jesus het gesê: “Daar staan in die Profete geskrywe: ‘En hulle sal almal deur Jehovah geleer word’” (Joh. 6:45; Jes. 54:13). Vandag is daar skole wat spesifiek bedoel is om ons as Koninkryksverkondigers toe te rus. Ons almal het ongetwyfeld al op die een of ander manier baat gevind by die Teokratiese Bedieningskool in ons plaaslike gemeente. Pioniers het die voorreg om die Pionierdiensskool by te woon. ’n Aantal ervare pioniers het al die vreugde gesmaak om die skool ’n tweede keer by te woon. Ouer manne en bedieningsknegte het die Koninkryksbedieningskool bygewoon om hulle onderrigvermoë en hulle diens aan hulle medegelowiges te verbeter. Talle ongetroude ouer manne en bedieningsknegte het die Bedieningsopleidingskool bygewoon, wat hulle toerus om ander in die predikingswerk te help. En baie van die broers en susters wat sendingtoewysings in ander lande ontvang het, is deur die Wagtoring-Bybelskool Gilead opgelei.
8. Hoeveel waarde heg party broers aan die opleiding wat Jehovah voorsien?
8 Baie Getuies van Jehovah het veranderinge gemaak om hierdie skole by te woon. Om die Bedieningsopleidingskool in Kanada by te woon, het Yugu uit sy sekulêre werk bedank omdat sy werkgewer hom nie verlof wou gee nie. “Ek is nie spyt nie”, het Yugu gesê. “Trouens, as hulle my as ’n guns verlof gegee het, sou hulle dalk verwag het dat ek uit lojaliteit permanent by die maatskappy moet aanbly. Maar nou kan ek enige toewysing van Jehovah aanvaar.” Om baat te vind by die opleiding wat God voorsien, het baie persone dinge waaraan hulle eens groot waarde geheg het, vrywillig prysgegee.—Luk. 5:28.
9. Gee ’n voorbeeld wat toon watter goeie resultate skriftuurlike onderrigting en ywerige inspanning oplewer.
9 Skriftuurlike onderrigting en ywerige inspanning lewer baie goeie resultate op (2 Tim. 3:16, 17). Kyk na die geval van Saulo in Guatemala. Hy is met ’n geringe geestesgebrek gebore, en een van sy onderwyseresse het vir sy ma gesê dat sy hom nie moet dwing om te leer lees nie omdat dit hom net sou frustreer. Saulo het die skool verlaat sonder dat hy kon lees. Maar ’n Getuie het Saulo leer lees met behulp van die brosjure Lê jou toe op lees en skryf. Uiteindelik het Saulo so ver gevorder dat hy toesprake op die Teokratiese Bedieningskool kon hou. Saulo se ma het later sy onderwyseres in die huis-tot-huis-bediening ontmoet. Toe die onderwyseres hoor dat Saulo leer lees het, het sy haar gevra om hom die volgende week saam te bring. Die volgende week het die onderwyseres vir Saulo gevra: “Wat gaan jy my leer?” Saulo het ’n paragraaf uit die boek Wat leer die Bybel werklik? begin lees. “Ek kan nie glo dat jy my nou leer nie”, het die onderwyseres gesê. Sy kon die trane nie keer nie en het Saulo omhels.
Onderrigting wat die hart raak
10. Watter uitstekende hulpmiddel het ons om Bybelwaarheid aan ander te leer?
10 Jesus het sy onderrigting gegrond op wat Jehovah hom geleer het en op onderrigting wat in God se geskrewe Woord gevind word (Luk. 4:16-21; Joh. 8:28). Ons volg Jesus na deur sy raad toe te pas en by die Skrif te bly. Ons is dus almal eenstemmig wat ons woorde en dade betref, en dit dra by tot ons eenheid (1 Kor. 1:10). Hoe dankbaar is ons tog dat “die getroue en verstandige slaaf” Bybelpublikasies voorsien om ons te help om eenheid in ons onderrigting te handhaaf en ons werk as evangeliedienaars te volbring! (Matt. 24:45; 28:19, 20). Een van hierdie publikasies is die Leer Bybel-boek, wat nou in 179 tale beskikbaar is.
11. Hoe het ’n suster in Etiopië teenstand met behulp van die Leer Bybel-boek oorkom?
11 ’n Studie van die Skrif met behulp van die Leer Bybel-boek kan selfs teenstanders se harte laat verander. Terwyl Lula, ’n pioniersuster in Etiopië, eenkeer ’n Bybelstudie gehou het, het ’n familielid van die student ingestorm en gesê dat hulle nie so ’n studie hoef te hou nie. Lula het kalm met die familielid geredeneer en die illustrasie van vervalste geld in hoofstuk 15 van die Leer Bybel-boek gebruik. Die vrou het bedaar en hulle toegelaat om hulle studie voort te sit. Trouens, sy was daar vir die volgende studie en het gevra of sy haar eie Bybelstudie kon hê, en sy het selfs aangebied om daarvoor te betaal! Sy het weldra drie keer per week gestudeer en goeie geestelike vooruitgang gemaak.
12. Gee ’n voorbeeld om te toon hoe jongmense Bybelwaarhede doeltreffend aan ander kan leer.
12 Jongmense kan ander help deur die Leer Bybel-boek te gebruik. Toe die 11-jarige Keanu in Hawaii die boek by die skool gelees het, het een van sy klasmaats hom gevra: “Waarom vier jy nie vakansiedae nie?” Keanu het die antwoord direk gelees uit die gedeelte “Moet ons vakansiedae vier?” in die aanhangsel. Toe het hy na die boek se inhoudsopgawe geblaai en die seun gevra in watter onderwerp hy die meeste belangstel. ’n Bybelstudie is begin. Gedurende die laaste diensjaar het Jehovah se Getuies 6 561 426 Bybelstudies gehou, en in baie daarvan is die Leer Bybel-boek goed benut. Gebruik jy hierdie hulpmiddel wanneer jy Bybelstudies hou?
13. Hoe kan ’n studie van die Bybel ’n groot invloed op mense hê?
13 ’n Studie van die Skrif met behulp van die Leer Bybel-boek kan ’n groot invloed hê op diegene wat God se wil graag wil doen. ’n Spesialepionier-egpaar in Noorweë het ’n Bybelstudie met ’n gesin uit Zambië begin. Die Zambiese egpaar het drie dogters gehad en wou nie nog ’n baba hê nie. Toe die vrou swanger word, het hulle dus op ’n aborsie besluit. ’n Paar dae voordat hulle ’n dokter gaan spreek het, het hulle die hoofstuk “’n Goddelike beskouing van lewe” gestudeer. Die prent van ’n ongebore baba in hierdie hoofstuk het die egpaar so diep geraak dat hulle teen die aborsie besluit het. Hulle het voortgegaan om goeie geestelike vooruitgang te maak en het hulle pasgebore seuntjie na die studiehouer vernoem.
14. Lig toe hoe dit goeie resultate kan hê wanneer ons lewe in ooreenstemming met wat ons ander leer.
14 ’n Belangrike aspek van die manier waarop Jesus geleer het, was die feit dat hy gelewe het in ooreenstemming met wat hy ander geleer het. Baie mense word beïndruk deur die goeie gedrag van Jehovah se Getuies, wat Jesus in hierdie opsig navolg. Toe daar by die motor van ’n sakeman in Nieu-Seeland ingebreek is, is sy aktetas gesteel. Hy het dit by die polisie aangemeld, wat gesê het: “Jy sal slegs jou besittings terugkry as een van Jehovah se Getuies dit vind.” ’n Getuie wat koerante aflewer, het die aktetas gevind. Die suster het die eienaar laat weet, en hy het na haar huis toe gekom. Hy was verlig dat ’n baie waardevolle dokument nog daarin was. Die suster het vir hom gesê: “Dit is net reg dat ek jou besittings aan jou terugbesorg, veral aangesien ek een van Jehovah se Getuies is.” Die sakeman was verstom en het onthou wat die konstabel daardie selfde oggend vir hom gesê het. Dit is duidelik dat ware Christene volgens die leringe in die Bybel lewe en Jesus navolg.—Heb. 13:18.
Volg Jesus se gesindheid teenoor mense na
15, 16. Hoe kan ons mense aantrek tot die boodskap wat ons verkondig?
15 Jesus se gesindheid teenoor mense het hulle na sy boodskap laat luister. Sy liefde en nederigheid het byvoorbeeld die geringes tot hom aangetrek. Hy het medelye betoon aan diegene wat na hom toe gekom het en hulle met vriendelike woorde vertroos, terwyl hy talle fisies genees het. (Lees Markus 2:1-5.) Ons kan nie wonderwerke verrig nie, maar ons kan liefde, nederigheid en medelye toon—eienskappe wat help om mense tot die waarheid aan te trek.
16 Medelye het ’n rol gespeel toe ’n spesiale pionier met die naam Tariua besoek afgelê het by die huis van ’n bejaarde man genaamd Beere, wat op een van die meer afgesonderde eilande van Kiribati in die Stille Suidsee woon. Hoewel die man te kenne gegee het dat hy nie wou luister nie, het Tariua opgelet dat hy gedeeltelik verlam is, en sy het medelye vir hom gevoel. “Het jy al gehoor wat God belowe vir mense wat siek en bejaard is?” het sy gevra. Toe het sy ’n gedeelte uit Jesaja se profesie gelees. (Lees Jesaja 35:5, 6.) Dit het die man se belangstelling gewek, en hy het gesê: “Ek lees die Bybel al jare lank en ’n sendeling van my kerk besoek my al baie jare, maar ek het dít nog nooit in die Bybel gesien nie.” ’n Bybelstudie is met Beere begin, en hy het goeie geestelike vooruitgang gemaak. Ja, hy het ’n ernstige gebrek gehad, maar hy is nou gedoop, sien om na ’n afgesonderde groep en kan oral op die eiland rondloop om die goeie nuus te verkondig.
Hou aan om Christus na te volg
17, 18. (a) Hoe kan jy ’n suksesvolle evangeliedienaar word? (b) Wat lê voor vir diegene wat hulle bediening ernstig opneem?
17 Soos vreugdevolle ondervindinge in die bediening herhaaldelik toon, kan ons suksesvolle evangeliedienaars wees as ons die eienskappe aankweek en openbaar wat Jesus aan die dag gelê het. Hoe gepas is dit tog dat ons Christus as ywerige evangeliedienaars navolg!
18 Toe party in die eerste eeu Jesus se dissipels geword het, het Petrus gevra: “Wat sal daar dan vir ons wees?” Jesus het geantwoord: “Elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of landerye ter wille van my naam verlaat het, sal baie keer soveel ontvang en die ewige lewe beërf” (Matt. 19:27-29). Ons sal dít beslis ondervind as ons aanhou om die grootste Sendeling, Jesus Christus, na te volg.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe lei Jehovah ons op om evangeliedienaars te wees?
• Waarom is die Leer Bybel-boek doeltreffend in ons bediening?
• Hoe kan ons Jesus navolg in ons gesindheid teenoor mense?
[Prent op bladsy 17]
Toe Jesus vir Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes genooi het om hom te volg, het hulle sonder versuim gereageer
[Prent op bladsy 19]
Publikasies soos die “Leer Bybel”-boek help ons om eenheid in ons onderrigting te handhaaf