“Wat gaan ons eet?”
VOEDSEL en drank—hierdie onderwerp het keer op keer gedurende Jesus se bediening opgeduik. Sy eerste wonderwerk was om water in wyn te verander, en by twee geleenthede het hy die menigte met ’n paar brode en visse gevoed (Matteus 16:7-10; Johannes 2:3-11). Dit is bekend dat Jesus nie net saam met die armes geëet het nie, maar ook feesmaaltye saam met die rykes geniet het. Trouens, Jesus se vyande het hom daarvan beskuldig dat hy ’n vraat en ’n dronkaard is (Matteus 11:18, 19). Jesus was natuurlik nie een van die twee nie. Hy het egter geweet dat voedsel en drank baie belangrik is vir mense, en hy het hierdie dinge op meesterlike wyse gebruik om diep geestelike lesse toe te lig.—Lukas 22:14-20; Johannes 6:35-40.
Watter voedsel en drank was algemeen in Jesus se dag? Hoe is voedsel voorberei? En hoeveel inspanning het dit geverg om dit voor te berei? Die antwoorde op hierdie vrae sal jou help om van die gebeure en uitdrukkings wat in die Evangelies gemeld word, beter te verstaan.
Gee ons “ons brood vir hierdie dag”
Toe Jesus sy dissipels geleer het hoe om te bid, het hy getoon dat dit gepas is om God te vra om in ons lewensbenodigdhede—die “brood vir hierdie dag”—te voorsien (Matteus 6:11). Brood was so ’n belangrike deel van die dieet dat die uitdrukking “om ’n maaltyd te eet” in Hebreeus en in Grieks letterlik beteken “om brood te eet”. Graan wat gebruik is om brood mee te maak, soos koring en gars, asook ander, soos hawer, spelt en giers het ’n groot deel uitgemaak van die dieet van Jode in die eerste eeu. Navorsers skat dat ’n persoon ongeveer 200 kilogram graan per jaar geëet het, sowat die helfte van die kalorieë wat die persoon nodig gehad het.
Brood kon by die mark gekoop word. Maar die meeste gesinne het hulle eie brood gebak—’n taak wat heelwat arbeid geverg het. Die boek Bread, Wine, Walls and Scrolls verduidelik: “Aangesien meel nie lank gehou kan word nie, het die huisvrou elke dag gemaal.” Hoe lank het hierdie proses geneem? “In een uur se harde arbeid met ’n handmeul”, sê die skrywer, “lewer 1 kg koring net sowat 0,8 kg meel. Aangesien ’n persoon elke dag ongeveer 1/2 kg koring verbruik het, moes die huisvrou drie uur lank maal om vir ’n gesin van vyf of ses te voorsien.”
Dink nou aan Maria, Jesus se moeder. Buiten haar ander huishoudelike take moes sy genoeg brood voorsien om haar man, vyf seuns en ten minste twee dogters te voed (Matteus 13:55, 56). Soos ander Joodse vroue, het Maria ongetwyfeld hard gewerk om die “brood vir hierdie dag” te help voorberei.
“Kom, eet julle ontbyt”
Nadat Jesus opgewek is, het hy vroeg een oggend aan ’n paar van sy dissipels verskyn. Die dissipels het die hele nag visgevang, sonder sukses. “Kom, eet julle ontbyt”, het Jesus sy moeë vriende genooi. Toe het hy vir hulle vars vis en brood gegee om te eet (Johannes 21:9-13). Hoewel dit die enigste plek in die Evangelies is waar ontbyt genoem word, het mense oor die algemeen hulle dag begin met ’n maaltyd van brood, neute en rosyne of olywe.
Wat van middagete? Wat het die werkende klas geëet? Die boek Life in Biblical Israel sê: “Die middagete was lig en het uit brood, graan, olywe en vye bestaan.” Dit was wat die dissipels heel waarskynlik by hulle gehad het toe hulle van Sigar af teruggekeer het en Jesus gevind het waar hy met ’n Samaritaanse vrou by die put gepraat het. Dit “was omtrent die sesde uur”, of die middel van die dag, en die dissipels het “in die stad ingegaan om voedsel te koop”.—Johannes 4:5-8.
In die aand het gesinne bymekaargekom vir die hoofmaal van die dag. Die boek Poverty and Charity in Roman Palestine, First Three Centuries C.E. beskryf hierdie maaltyd en sê: “Die meeste mense het brood of pap geëet wat gemaak was van gars, verskillende graansoorte en peulgroente, of minder dikwels van koring. Gewoonlik was sout en olie of olywe, en soms ’n skerp sous, heuning of soet vrugtesappe ook deel van hulle maaltyd.” Melk, kaas, groente en vars of gedroogde vrugte was moontlik ook op die spyskaart. Destyds was daar sowat 30 groentesoorte beskikbaar—uie, knoffel, radyse, wortels en kool, om maar ’n paar te noem—en meer as 25 vrugtesoorte, soos (1) vye, (2) dadels en (3) granate, is in die gebied gekweek.
Kan jy ’n paar van hierdie voedselsoorte op die tafel visualiseer by ’n geleentheid waar Jesus ’n aandete saam met Lasarus en sy susters, Marta en Maria, geniet het? Stel jou nou die aroma voor wat die kamer gevul het toe Maria Jesus se voete met “egte nardus” gesalf het—die reuk van voedsel gemeng met die geur van die kosbare, welriekende olie.—Johannes 12:1-3.
“Wanneer jy ’n feesmaal gee”
By ’n ander geleentheid, terwyl Jesus ’n maaltyd in “die huis van een van die heersers van die Fariseërs” geniet het, het hy diegene wat daar teenwoordig was ’n waardevolle les geleer. Hy het gesê: “Wanneer jy ’n feesmaal gee, nooi armes, kreupeles, verlamdes, blindes; en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou mee te vergoed nie. Want jy sal in die opstanding van die regverdiges vergoed word” (Lukas 14:1-14). As die Fariseër Jesus se raad gevolg het, watter voedsel sou hy by so ’n feesmaal bedien het?
’n Ryk man het moontlik spesiale brood bedien, wat in verskillende vorms gebak is en saam met wyn, heuning, melk en speserye bedien is. Daar was waarskynlik botter en harde kaas op die tafel. Vars olywe, ingelegde olywe of olyfolie is ongetwyfeld ook bedien. Volgens die boek Food in Antiquity “het elke persoon twintig kilogram olyfolie per jaar as voedsel gebruik, en ’n verdere hoeveelheid as skoonheidsmiddels en lampolie”.
As die Fariseër naby die see gewoon het, het hy en sy gaste heel waarskynlik vars vis geëet. Diegene wat in die binneland gewoon het, het gewoonlik vis geëet wat gepreserveer is deur dit in te lê of in te sout. Die gasheer het dalk ook vleis bedien—’n lekkerny wat ’n arm gas selde geniet het. ’n Algemener dis sou die een of ander eiergereg gewees het (Lukas 11:12). Hierdie disse is moontlik gegeur met kruie en speserye, soos kruisement, dille, komyn en mosterd (Matteus 13:31; 23:23; Lukas 11:42). Later het die gaste dalk ’n nagereg van geroosterde koring geniet, wat met amandels, heuning en speserye voorberei is.
Diegene by ’n fees is waarskynlik druiwe aangebied—vars, gedroog of in die vorm van wyn. Duisende parskuipe is al in Palestina gevind, wat daarvan getuig hoe gewild wyn was. By een terrein in Gibeon het argeoloë 63 kelders gevind wat in rots uitgekap is en waarin ongeveer 100 000 liter wyn geberg kon word.
‘Moet julle nooit kwel nie’
Wanneer jy die Evangelies lees, kyk ’n bietjie hoeveel keer Jesus van voedsel en drank melding maak in sy illustrasies of hoe hy belangrike lesse tydens ’n maaltyd geleer het. Jesus en sy dissipels het dit beslis geniet om te eet en te drink, veral wanneer hulle in die geselskap van goeie vriende was, maar hulle het hierdie dinge nie die hoofdoel in hulle lewe gemaak nie.
Jesus het sy dissipels gehelp om ’n gebalanseerde beskouing van voedsel en drank te behou toe hy gesê het: “Moet julle dus nooit kwel en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. Want al hierdie dinge jaag die nasies gretig na. Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het” (Matteus 6:31, 32). Die dissipels het hierdie les ter harte geneem, en God het in hulle behoeftes voorsien (2 Korintiërs 9:8). Jou dieet verskil heel moontlik van die dieet van diegene wat in die eerste eeu gelewe het. Maar jy kan seker wees dat God vir jou sal sorg as jy sy belange eerste in jou lewe stel.—Matteus 6:33, 34.