Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Mite 1: Die siel is onsterflik
    Die Wagtoring — 2009 | November 1
    • Mite 1: Die siel is onsterflik

      Wat is die oorsprong van die mite?

      “Die vroeë Christelike filosowe het die Griekse konsep van die onsterflikheid van die siel aangeneem en het die siel beskou as iets wat deur God geskep is en by bevrugting in die liggaam geplaas word.”—The New Encyclopædia Britannica (1988), Deel 11, bladsy 25.

      Wat sê die Bybel?

      “Die siel wat sondig, dié moet sterwe.”—Esegiël 18:4, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.

      Aangaande die skepping van die eerste mensesiel sê die Bybel: “Jehovah God het die mens uit stof van die aarde begin vorm en in sy neusgate die asem van die lewe geblaas, en die mens het ’n lewende siel [Hebreeus, neʹfesj] geword.”—Genesis 2:7.

      Die Hebreeuse woord neʹfesj, wat met “siel” vertaal word, beteken ‘’n skepsel wat asemhaal’. Toe God die eerste mens, Adam, geskep het, het Hy nie ’n onsterflike siel in hom geplaas nie, maar die lewenskrag wat deur asemhaling onderhou word. In die Bybelse sin verwys “siel” dus na die hele lewende wese. Wanneer die lewenskrag wat oorspronklik deur God gegee is, weggeneem word, sterf die siel.—Genesis 3:19; Esegiël 18:20.

      Die leerstelling van die onsterflikheid van die siel het vrae laat ontstaan: Waarheen gaan siele ná die dood? Wat gebeur met die siele van die goddeloses? Toe naamchristene die mite van die onsterflike siel aangeneem het, het dit daartoe gelei dat hulle nog ’n mite aanneem—die leerstelling van die helse vuur.

      Vergelyk hierdie Bybelverse: Prediker 3:19; Matteus 10:28; Handelinge 3:23

      FEIT:

      By die dood hou ’n persoon op om te bestaan

  • Mite 2: Die goddeloses ly in die hel
    Die Wagtoring — 2009 | November 1
    • Mite 2: Die goddeloses ly in die hel

      Wat is die oorsprong van die mite?

      “Van alle klassieke Griekse filosowe is Plato die een wat die grootste invloed op die tradisionele beskouings van die hel gehad het.”—Histoire des enfers (Die geskiedenis van die hel), deur Georges Minois, bladsy 50.

      “Vanaf die middel van die 2de eeu AD het Christene wat in Griekse filosofie onderrig is, begin voel dat hulle hulle geloof in terme van hierdie filosofie moet uitdruk . . . Die filosofie wat hulle die beste gepas het, was Platonisme [die leringe van Plato].”—The New Encyclopædia Britannica (1988), Deel 25, bladsy 890.

      “Die leer van die Kerk bevestig die bestaan van die hel en die ewigheid daarvan. Onmiddellik ná die dood daal die siele van dié wat in ’n toestand van doodsonde sterf, neer na die hel, waar hulle die straf van die hel, ‘ewige vuur’, ondergaan. Die grootste straf van die hel is om vir ewig van God geskei te wees.”—Catechism of the Catholic Church, 1994-uitgawe, bladsy 270.

      Wat sê die Bybel?

      “Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, . . . want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk [Hebreeus, Sjeool] waar jy heengaan nie.”—Prediker 9:5, 10, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.

      Die Hebreeuse woord Sjeool, wat na die “woonplek van die dooies” verwys het, word in sommige vertalings van die Bybel met “hel” vertaal. Wat openbaar hierdie Skrifgedeelte oor die toestand van die dooies? Ly hulle in Sjeool om vir hulle oortredings versoening te doen? Nee, want hulle “weet glad niks nie”. Daarom het die aartsvader Job, toe hy weens ’n ernstige siekte verskriklik gely het, God gesmeek: “Beskerm my in die hel [Hebreeus, Sjeool]” (Job 14:13; Douay-Rheims Version). Sou sy versoek enigsins sin gemaak het as Sjeool ’n plek van ewige foltering was? In die Bybelse sin is die hel eenvoudig die gemeenskaplike graf van die mensdom, waar alle bedrywighede tot ’n einde gekom het.

      Is hierdie definisie van die hel nie logieser en meer in ooreenstemming met die Skrif nie? Watter misdaad, ongeag hoe verskriklik, kan ’n God van liefde beweeg om iemand vir ewig te martel? (1 Johannes 4:8). Maar as die helse vuur ’n mite is, wat dan van die hemel?

      Vergelyk hierdie Bybelverse: Psalm 146:3, 4; Handelinge 2:25-27; Romeine 6:7, 23

      FEIT:

      God straf mense nie in die hel nie

  • Mite 3: Alle goeie mense gaan hemel toe
    Die Wagtoring — 2009 | November 1
    • Mite 3: Alle goeie mense gaan hemel toe

      Wat is die oorsprong van die mite?

      Ná die dood van Jesus se apostels, teen die begin van die tweede eeu HJ, het die vroeë Kerkvaders aansien verkry. In ’n beskrywing van hulle leringe sê die New Catholic Encyclopedia (2003), Deel 6, bladsy 687: “Die algemene lering was dat hemelse saligheid aan die onstoflike siel geskenk word onmiddellik nadat die nodige reiniging wat op die dood volg, plaasgevind het.”

      Wat sê die Bybel?

      “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf.”—Matteus 5:5.

      Hoewel Jesus sy dissipels belowe het dat hy vir hulle “’n plek [sou] berei” in die hemel, het hy aangedui dat die regverdiges nie outomaties soontoe gaan nie (Johannes 3:13; 14:2, 3). Het hy dan nie gebid dat God se wil moet geskied, “soos in die hemel, so ook op die aarde” nie? (Matteus 6:9, 10). In werklikheid wag een van twee bestemmings op die regverdiges. ’n Minderheid sal in die hemel saam met Christus regeer, maar die meerderheid sal vir ewig op die aarde lewe.—Openbaring 5:10.

      Mettertyd het die vroeë kerk sy beskouing van sy eie rol op die aarde verander. Met watter gevolg? “Die georganiseerde kerk het in toenemende mate die verwagte Koninkryk van God vervang”, sê The New Encyclopædia Britannica. Die kerk het sy mag begin verstewig deur by die politiek betrokke te raak, waardeur dit Jesus se uitdruklike stellings dat sy volgelinge “geen deel van die wêreld” moet wees nie, geïgnoreer het (Johannes 15:19; 17:14-16; 18:36). Onder die invloed van die Romeinse keiser Konstantyn het die kerk party van sy opvattings prysgegee, waarvan een met die aard van God verband gehou het.

      Vergelyk hierdie Bybelverse: Psalm 37:10, 11, 29; Johannes 17:3; 2 Timoteus 2:11, 12

      FEIT:

      Die meeste goeie mense sal vir ewig op die aarde lewe—nie in die hemel nie

  • Mite 4: God is ’n drie-eenheid
    Die Wagtoring — 2009 | November 1
    • Mite 4: God is ’n drie-eenheid

      Wat is die oorsprong van die mite?

      “Mense verkeer dalk onder die indruk dat die Drie-eenheidsleer in werklikheid ’n skepping van die laat 4de eeu is. In sekere sin is dit waar . . . Die formulering ‘een God in drie Persone’ was voor die einde van die 4de eeu nie stewig gevestig nie en beslis nie ten volle opgeneem in die Christelike lewe en die geloofsbelydenis daarvan nie.”—New Catholic Encyclopedia (1967), Deel 14, bladsy 299.

      “Die Konsilie van Nicea het op 20 Mei 325 [HJ] vergader. Konstantyn self was die voorsitter en het die besprekings daadwerklik gelei, en hy het persoonlik . . . die beslissende formule voorgelê wat die verhouding van Christus tot God verwoord het in die geloofsbelydenis wat deur die konsilie uitgereik is, naamlik ‘een wese met die Vader’. . . . Geïntimideer deur die keiser, het die biskoppe, met die uitsondering van net twee, die geloofsbelydenis onderteken, baie van hulle grootliks teen hulle sin.”—Encyclopædia Britannica (1970), Deel 6, bladsy 386.

      Wat sê die Bybel?

      “Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan. ‘Kyk,’ het hy gesê, ‘ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.’”—Handelinge 7:55, 56, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

      Wat het hierdie visioen geopenbaar? Vol van God se werkende krag het Stefanus Jesus gesien waar hy “aan die regterhand van God staan”. Dit is dus duidelik dat Jesus ná sy opstanding tot hemelse lewe nie God geword het nie, maar eerder ’n afsonderlike geestelike wese. Daar word in hierdie verslag geen melding gemaak van ’n derde persoon langs God nie. Ondanks pogings om Skrifgedeeltes ter ondersteuning van die Drie-eenheidsleer te vind, het die Dominikaanse priester Marie-Émile Boismard in sy boek À l’aube du christianisme—La naissance des dogmes (Die begin van die Christelike godsdiens—Die geboorte van dogmas) geskryf: “Die stelling dat daar drie persone in die een God is . . . , kan nêrens in die Nuwe Testament gelees word nie.”

      Die dogma wat Konstantyn voorgestaan het, was bedoel om ’n einde te maak aan onenigheid wat in die vierde-eeuse Kerk bestaan het. Maar in werklikheid het dit ’n ander geskil laat ontstaan: Was Maria, die vrou wat aan Jesus geboorte gegee het, “die moeder van God”?

      Vergelyk hierdie Bybelverse: Matteus 26:39; Johannes 14:28; 1 Korintiërs 15:27, 28; Kolossense 1:15, 16

      FEIT:

      Die Drie-eenheidsleer is ’n skepping van die laat vierde eeu

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel