Die lewe en tye van eerste-eeuse Christene
“Werkers by die huis”
“En op hulle reis het hy in ’n sekere dorpie ingegaan. Hier het ’n sekere vrou met die naam Marta hom as ’n gas in die huis ontvang. Hierdie vrou het ook ’n suster genaamd Maria gehad, wat egter by die voete van die Here gaan sit en na sy woord bly luister het. Marta daarenteen is afgelei deurdat sy na baie pligte omgesien het. Toe het sy nader gekom en gesê: ‘Here, gee u nie om dat my suster my alleen na alles laat omsien nie? Sê dan vir haar om my te kom help.’ Die Here het geantwoord en vir haar gesê: ‘Marta, Marta, jy is besorg en verontrus oor baie dinge. ’n Paar dinge is egter nodig, of net een. Wat Maria betref, sy het die goeie deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.’”—LUKAS 10:38-42.
MARTA was klaarblyklik ’n hardwerkende vrou. Sy is ongetwyfeld deur ander hooggeag. Volgens eerste-eeuse Joodse tradisie is ’n vrou se waarde gemeet aan die toegewydheid waarmee sy huishoudelike take verrig het en haar vermoë om in die behoeftes van haar gesin te voorsien.
Christenvroue wat in die eerste eeu gelewe het, is ook aangespoor om “werkers by die huis” te wees (Titus 2:5). Maar hulle het die bykomende voorreg en verantwoordelikheid gehad om ander van hulle Christelike geloof te leer (Matteus 28:19, 20; Handelinge 2:18). Wat was party van die “baie pligte” waarna ’n Joodse vrou wat in die eerste eeu gelewe het, moes omsien? En watter les kan ons uit Jesus se woorde oor Maria leer?
“Baie pligte” ’n Joodse huisvrou se dag het vroeg begin, waarskynlik voor sonop (Spreuke 31:15). Nadat sy ’n eenvoudige ete van pap vir haar gesin voorberei het, het sy dalk haar seuns na die sinagogeskool geneem. Haar dogters het tuis gebly sodat hulle die vaardighede geleer kon word wat nodig is om bekwame vrouens te word.
Die moeder en haar dogters het die dag saam begin deur die basiese huishoudelike take te verrig—die olielampe vol te maak (1), die vloere te vee (2) en die gesin se bok te melk (3). Daarna het hulle die brood vir die dag begin voorberei. Die meisies het eers die graan gesif om onsuiwerhede te verwyder (4) en dan die graan met ’n kliphandmeul tot ’n growwe meel gemaal (5). Die moeder het die meel geneem en water en suurdeeg bygevoeg. Sy het die deeg geknie (6) en die mengsel dan laat staan om te rys, terwyl sy met ander take voortgegaan het. Intussen was die meisies dalk besig om die vars bokmelk te strem (7) om kaas daarvan te maak.
Later in die oggend het die moeder en haar dogters moontlik na die plaaslike markplein gegaan. Daar het sy, omring van die geur van speserye in die lug, die skor geluide van diere asook die uitroepe van kopers wat oor pryse kibbel, haar benodigdhede vir die dag gekoop (8). Vars groente en gedroogde vis was dalk op die spyskaart. As sy ’n Christen was, het sy waarskynlik ook die geleentheid aangegryp om met ander op die markplein oor haar geloof te praat.—Handelinge 17:17.
’n Pligsgetroue moeder het gebruik gemaak van geleenthede soos wanneer sy mark toe of huis toe geloop het, om haar kinders te help om skriftuurlike beginsels te leer en waardering daarvoor aan te kweek (Deuteronomium 6:6, 7). Sy het dalk ook beginsels met haar dogters bespreek wat hulle gehelp het om spaarsame kopers te word.—Spreuke 31:14, 18.
Nog ’n daaglikse taak vir die vroue was om na die put toe te gaan (9). Daar het hulle die gesin se watervoorraad aangevul en dalk met ander vroue gesels wat dieselfde gedoen het. Wanneer hulle weer by die huis was, het die moeder en haar dogters begin bak. Eers het hulle die deeg tot plat, ronde koeke gevorm en dit dan in ’n voorverhitte oond (10) gesit wat gewoonlik buite die huis was. Terwyl hulle die aangename geur geniet en met mekaar gesels het, het hulle gekyk hoe die brood bak.
Dan het hulle na die nabygeleë stroom gegaan om klere te was (11). Die vroue het eers die klere versigtig skoongemaak met loog, ’n seep van natrium- of kaliumkarbonaat wat van die as van sekere plante gemaak is. Nadat die vroue die klere uitgespoel en uitgewring het, het hulle die kledingstukke op nabygeleë struike en klippe uitgesprei om droog te word.
Nadat hulle die wasgoed huis toe gebring het, het die moeder en haar dogters moontlik na die plat dak van hulle huis opgegaan om enige stukkende kledingstukke heel te maak (12) voordat hulle dit in die kas teruggesit het. Later het die meisies miskien borduur- en weeflesse ontvang (13). Kort voor lank het dit vir die vroue tyd geword om die aandete voor te berei (14). Gasvryheid was ’n lewenswyse, en daarom was die gesin voorbereid om hulle eenvoudige ete van brood, groente, dikmelkkaas, gedroogde vis en koue water met enige gaste te deel.
Aan die einde van die dag, terwyl die kinders hulle gereedgemaak het om te gaan slaap, is strelende olie dalk aan ’n geskaafde knie gesmeer. Daarna het die ouers miskien by die lig van ’n flikkerende lamp ’n verhaal uit die Skrif vertel en saam met hulle kinders gebid. Wanneer stilte oor die beskeie huis neergedaal het, kon die man tereg dié bekende woorde vir sy vrou sê: “Wie kan ’n bekwame vrou vind? Haar waarde is baie meer as dié van korale.”—Spreuke 31:10.
Kies “die goeie deel” Pligsgetroue vroue wat in die eerste eeu gelewe het, het ongetwyfeld “baie pligte” gehad wat hulle besig gehou het (Lukas 10:40). Vroue van vandag, veral moeders, lei ook besige lewens. Moderne uitvindings het party van die huishoudelike take vergemaklik. Maar baie moeders word deur omstandighede gedwing om nie net vir hulle gesin te sorg nie, maar ook sekulêre werk te doen.
Ondanks die uitdagings waarvoor hulle te staan kom, volg baie Christenvroue van vandag die voorbeeld van Maria, wat aan die begin van die artikel genoem is. Hulle heg groot waarde aan geestelike dinge (Matteus 5:3). Hulle sorg goed vir hulle gesin, soos die Skrif hulle aanspoor om te doen (Spreuke 31:11-31). Maar hulle lewe ook volgens die beginsel wat Jesus aan Marta genoem het. As ’n geestelike vrou het sy sekerlik die vriendelike herinnering ter harte geneem. Christenvroue laat nie toe dat hulle huishoudelike verantwoordelikhede inbreuk maak op geleenthede om van God te leer (15) of met ander oor hulle geloof te praat nie (Matteus 24:14; Hebreërs 10:24, 25). Sodoende kies hulle “die goeie deel” (Lukas 10:42). Gevolglik word hulle hoog op prys gestel deur God, Christus en hulle gesin.—Spreuke 18:22.