Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w10 6/1 bl. 21-23
  • Balsem van Gilead—Die balsem wat genees

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Balsem van Gilead—Die balsem wat genees
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Balsem in Bybeltye
  • Balsem vir ’n siek nasie
  • Die goeie nuus wat genees
  • ’n Toekomstige genesing
  • Die gebruik van skoonheidsmiddels in Bybeltye
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • “Balsem in Gilead”
    Sing lofliedere voor Jehovah
  • Onthou jy?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Geskenke wat geskik is vir ’n koning
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
w10 6/1 bl. 21-23

Balsem van Gilead—Die balsem wat genees

’N BEKENDE verslag in die Bybelboek Genesis vertel die verhaal van hoe Josef deur sy broers verkoop is aan Ismaelitiese handelaars wat op pad was na Egipte. Die handelaars se karavaan het uit Gilead gekom, en die kamele het balsem en ander goedere na Egipte vervoer (Genesis 37:25). Hierdie kort verslag gee te kenne dat balsem van Gilead baie gesog was in die eertydse Midde-Ooste, kosbaar weens die spesiale genesende eienskappe daarvan.

Maar in die sesde eeu VHJ het die profeet Jeremia bedroef gevra: “Is daar geen balsem in Gilead nie?” (Jeremia 8:22). Waarom het Jeremia hierdie vraag gevra? Presies wat is balsem? Is daar ’n balsem wat vandag vir genesing gebruik kan word?

Balsem in Bybeltye

Balsem is ’n algemene term wat ’n aromatiese en gewoonlik olierige en harsagtige stof beskryf wat deur verskeie plante en struike afgeskei word. Balsemolie, wat dikwels in wierook en parfuum gebruik is, was een van die luukses van die eertydse Midde-Oosterse wêreld. Dit was een van die bestanddele van die heilige salfolie en die reukwerk wat kort nadat die Israeliete uit Egipte gekom het, by die tabernakel gebruik is (Eksodus 25:6; 35:8). Balsemolie was ook onder die oorvloedige geskenke wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gebring het (1 Konings 10:2, 10). Ester het “ses maande [lank] met balsemolie” skoonheidsbehandelings en masserings ontvang voordat sy voor die Persiese koning Ahasveros verskyn het.—Ester 1:1; 2:12.

Hoewel balsemolie uit verskillende dele van die Midde-Ooste gekom het, was balsem van Gilead inheems aan die Beloofde Land, aangesien Gilead die streek net oos van die Jordaanrivier was. Die aartsvader Jakob het balsem as een van “die beste produkte van die land” beskou, en hy het dit as ’n geskenk na Egipte gestuur (Genesis 43:11). En die profeet Esegiël het balsem onder die handelsware genoem wat Juda en Israel na Tirus uitgevoer het (Esegiël 27:17). Balsem was welbekend vir die besondere geneeskragtige eienskappe daarvan. Eertydse literatuur meld dikwels die genesende en herstellende eienskappe van hierdie balsem, veral in verband met die genesing van wonde.

Balsem vir ’n siek nasie

Waarom het Jeremia dan die vraag gevra: “Is daar geen balsem in Gilead nie”? Om dit te verstaan, moet ons kyk na die nasie Israel van daardie tyd. Vroeër het die profeet Jesaja ’n beeldende beskrywing gegee van hulle betreurenswaardige geestelike toestand: “Van die voetsool tot die kop is daar geen gesonde plek daaraan nie. Wonde en kneusplekke en vars hale—hulle is nie uitgedruk of verbind . . . nie” (Jesaja 1:6). In plaas daarvan om hulle bejammerenswaardige toestand te erken en ’n geneesmiddel daarvoor te soek, het die nasie hulle eiesinnige weg bly volg. Teen sy tyd kon Jeremia net weeklaag: “Hulle het die woord van Jehovah verwerp, en watter wysheid het hulle?” As hulle maar net na Jehovah teruggekeer het, sou hy hulle genees het. “Is daar geen balsem in Gilead nie?” Wat ’n gedagteprikkelende vraag!—Jeremia 8:9.

Die wêreld van vandag is in baie opsigte vol “wonde en kneusplekke en vars hale”. Mense ly weens armoede, ongeregtigheid, selfsug en ’n gebrek aan goedhartigheid, en dit alles omdat liefde vir God en naaste afgekoel het (Matteus 24:12; 2 Timoteus 3:1-5). Baie voel verwerp weens hulle ras, etniese agtergrond of ouderdom. Boonop dra hongersnood, siekte, oorlog en die dood tot hulle pyn by. Soos Jeremia, wonder talle opregte gelowiges of daar dan geen “balsem in Gilead” is waarmee die emosionele en geestelike wonde van diegene wat ly, verbind kan word nie.

Die goeie nuus wat genees

In Jesus se dag het nederiges oor dieselfde vraag gewonder. Maar dit het nie onbeantwoord gebly nie. Aan die begin van 30 HJ het Jesus in die sinagoge in Nasaret uit die boekrol van Jesaja gelees en gesê: “Jehovah [het] my gesalf . . . om goeie nuus aan die sagmoediges te verkondig. Hy het my gestuur om die gebrokenes van hart te verbind” (Jesaja 61:1). Toe het Jesus hierdie woorde op homself toegepas en hom sodoende as die Messias geïdentifiseer wat die opdrag het om ’n vertroostende boodskap bekend te maak.—Lukas 4:16-21.

Gedurende Jesus se bediening het hy altyd die goeie nuus van God se Koninkryk ywerig verkondig (Matteus 4:17). In die Bergpredikasie het hy die geteisterdes belowe dat hulle situasie sal verander: “Gelukkig is julle wat nou huil, want julle sal lag” (Lukas 6:21). Deur die koms van die Koninkryk van God aan te kondig—’n boodskap van hoop—het Jesus ‘die gebrokenes van hart verbind’.

In ons dag is “die goeie nuus van die koninkryk” nog net so vertroostend (Matteus 6:10; 9:35). Neem byvoorbeeld die geval van Roger en Liliane. In Januarie 1961 het hulle die eerste keer van God se belofte van ewige lewe geleer, en dit was vir hulle soos strelende balsem. “Ek het in die kombuis rondgedans oor wat ek geleer het. Ek was so gelukkig”, sê Liliane. Roger, wat op daardie stadium al tien jaar lank gedeeltelik verlam was, voeg by: “Ek het groot vreugde gevind, die vreugde om te lewe, danksy ’n wonderlike hoop—die hoop van die opstanding en die einde van alle pyn en siekte.”—Openbaring 21:4.

In 1970 het hulle hulle 11-jarige seun aan die dood afgestaan. Maar hulle het nie in wanhoop verval nie. Hulle het persoonlik ervaar dat Jehovah ‘die gebrokenes van hart genees en hulle pynlike plekke verbind’ (Psalm 147:3). Hulle hoop het hulle vertroos. Die goeie nuus van God se inkomende Koninkryk bring al bykans 50 jaar lank vir hulle vrede en tevredenheid mee.

’n Toekomstige genesing

Is daar vandag “balsem in Gilead”? Ja, daar bestaan vandag nog steeds geestelike balsem. Die vertroosting en hoop wat die goeie nuus van die Koninkryk bied, kan gebroke harte verbind. Wil jy graag sulke genesing ondervind? Al wat jy moet doen, is om jou hart wyd oop te maak vir die vertroostende boodskap van God se Woord en toe te laat dat dit jou lewe vul. Miljoene mense het dit alreeds gedoen.

Die genesing wat deur hierdie balsem voorsien word, gee ons ’n voorsmaak van groter verligting in die toekoms. Die tyd kom vinnig nader wanneer Jehovah God “die genesing van die nasies” sal bewerkstellig, met die ewige lewe in die vooruitsig. Dan sal “geen inwoner . . . sê: ‘Ek is siek’ nie”. Ja, daar is nog steeds “balsem in Gilead”!—Openbaring 22:2; Jesaja 33:24.

[Prent op bladsy 23]

Vandag verlig die genesende krag van die goeie nuus van God se Koninkryk nog steeds die pyn van gebrokenes van hart

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel