Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w10 6/1 bl. 16-17
  • “Waarom sal enigiemand hier wil stop?”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Waarom sal enigiemand hier wil stop?”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Soortgelyke materiaal
  • Niemand kan twee here dien nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2000
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2000
  • Hoe om ’n gebruikte motor te koop
    Ontwaak!—1996
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
w10 6/1 bl. 16-17

’n Brief uit Suid-Afrika

“Waarom sal enigiemand hier wil stop?”

LANGS die nou plattelandse pad is daar ’n waarskuwingsteken wat sê: “HOËRISIKOGEBIED—ROOF EN PROSTITUSIE”. Ons trek van die pad af en parkeer in die stof by ’n paar ander motors wat onder ’n groot reklamebord wag, wat die rigting aandui na ’n luukse oord en casinokompleks verder af in die pad. Duur motors snel verby, en die verbasing op mense se gesigte deur die motorruite is onmiskenbaar. ‘Waarom sal enigiemand hier wil stop?’ wonder hulle blykbaar.

Nadat ons motor stilgehou het, klim ons uit en sluit ons aan by die groep netjies geklede mense wat in die skaduwee van die reklamebord staan. Ons groep bestaan uit mense van verskillende rasse en etniese agtergronde, iets wat nie juis dikwels in Suid-Afrika gesien word nie. Ons het na hierdie gebied gekom, ongeveer 100 kilometer noordwes van Johannesburg, in die hoop om Bybelwaarhede bekend te maak aan diegene wat hier in die dorpies woon.

Ons hou ’n kort vergadering langs die pad om ’n Bybelteks te bespreek en reëlings te finaliseer om van huis tot huis te werk. Ná ’n gebed klim ons weer in ons motors. Oor die vlakte en tot in die verte staan daar huise en pondokke chaoties ‘gerangskik’. Hulle lyk piepklein teen die toringhoë donker hope mynafval van die platinummyne. Die wydverspreide armoede om ons vorm ’n skerp kontras met die ontsaglike mineralerykdom wat hier onder die grond lê.

Saam met my en my vrou is twee besoekers uit Duitsland, en ons vier begin ons oggend deur van huis tot huis te werk. Ongeveer ’n derde van die inwoners hier is werkloos, en daarom is die huise maar eenvoudig. Baie is pondokke van sinkplate wat oor ’n lendelam houtraam aangebring is en aanmekaar gehou word met groot spykers wat deur platgeslaande bierbotteldoppies gekap is en as wassers dien.

By elke huis waar ons kom, groet ons hard van die hek af, en dit is dikwels die vrou van die huis wat ons kom ontmoet. Diegene met wie ons praat, wil graag die boodskap hoor wat ons bring, en ons word soos eregaste behandel. Wanneer die son bedags op die metaaldakke neerbak, word die huise soos oonde. Dikwels word die kinders in die huis ingestuur om stoele te gaan haal en dit onder ’n boom te sit, en ons word dan genooi om in die skaduwee te gaan sit.

Die gesin kom nader en gaan sit op ou stoele of omgekeerde kratte. Selfs klein kindertjies wat besig is om met hulle tuisgemaakte speelgoed te speel, word nader geroep om te kom luister. Ons bespreek ’n paar tekste en vra die skoolgaande kinders om uit ons Bybelpublikasies te lees. Byna almal wat ons ontmoet, neem graag ons lektuur, en baie nooi ons om terug te kom.

Om twaalfuur stop ons eers om ’n toebroodjie te eet en iets kouds te drink voordat ons terugkeer na diegene wat ons al voorheen besoek het. Ons gaan eerste na Jimmy toe, ’n immigrant van Malawi wat by een van die plaaslike platinummyne werk. Ons besoek Jimmy al ’n hele paar maande. Hy is altyd bly om ons te sien, en ons het al baie met hom oor die Bybel gesels. Jimmy is met ’n plaaslike Tswana-vrou getroud en het twee pragtige kinders. Ons het hom nie die vorige keer tuis gevind nie, en daarom wil ons graag sien hoe dit met hom gaan.

Wanneer ons by Jimmy se eenvoudige huis aankom, kan ons onmiddellik sien dat iets fout is. Sy tuin, wat gewoonlik so netjies is, is onversorg, sy lappie mielies is verdroog en die hoenders wat in die dorre grond vir kos rondgeskrop het, is weg. Die deur is van buite met ’n swaar ketting gesluit. ’n Buurvrou stap nader om te hoor wat aangaan. Ons vra haar of sy weet waar Jimmy is. Sy vertel ons die skokkende nuus: Jimmy is dood, en sy vrou en kinders het by haar familie gaan woon.

Hoewel dit as onbeleef beskou word om nuuskierig te wees, vra ons haar oor die besonderhede. “Hy was siek, en toe het hy gesterf”, sê sy vir ons. “Daar is deesdae baie siektes. Baie mense gaan dood.” Hoewel sy nie gesê het wat die oorsaak was nie, vermoed ons dat Jimmy dood is aan vigs. Ondanks plaaslike bewustheidsveldtogte word mense wat MIV/vigs het, met agterdog bejeën, selfs as getoor beskou. Hierdie siekte word selde genoem, hoewel die groeiende aantal nuwe grafte in die plaaslike begraafplaas die hartseer waarheid van hierdie vrou se woorde beaam. Ons bespreek die opstandingshoop ’n rukkie lank met haar, en dan vertrek ons met ’n swaar hart na ons volgende besoek.

Ons gaan ’n ander dorpie binne en ry tot by die laaste ry huise waar ’n steil mynhoop uit die aarde verrys. Aan die einde van die straat draai ons by ’n oprit in. Op ’n klip in die tuin is daar in helder letters geverf: “Besluiteloosheid is die dief van tyd; uitstellery is sy grootste medepligtige.” David,a die persoon wat die woorde geverf het, steek sy kop agter die enjin van ’n stokou Volkswagen-kewer uit. Hy trek sy oë op skrefies in die lig van die sakkende son en glimlag dan breed wanneer hy ons herken, terwyl die modieuse goudinlegsels in sy voortande in die lig glinster. Hy vee sy hande af en loop nader om ons te groet.

“Hallo, my vriende!” roep hy uit. “Waar was julle?” Dit is lekker om David weer te sien. Hy vra om verskoning dat hy nie vandag veel tyd saam met ons kan deurbring nie, aangesien hy sedert ons vorige besoek werk gekry het en oor ’n rukkie by die myn moet wees. Regdeur ons lewendige gesprek is daar ’n glimlag op David se gesig. “Daardie eerste dag toe ons ontmoet het, het my lewe verander!” sê hy opgewonde. “Ek is ernstig, ek weet nie waar ek vandag sou gewees het as julle nie gekom het nie.”

Ons voel opgebeur toe ons vir David totsiens sê. Terwyl die son op die horison sak, keer ons huiswaarts. Ons kyk vir oulaas oor die vlakte wat nou dynserig lyk in die sonlig wat in die stowwerige lug skitter en wonder hoe al hierdie mense met die goeie nuus bereik gaan word. Ons besef die waarheid van Jesus se woorde: “Die oes is werklik groot, maar die werkers is min.”—Lukas 10:2.

[Voetnoot]

a Naam is verander.

[Foto-erkenning op bladsy 17]

Met vriendelike vergunning van die Suid-Afrikaanse Poskantoor

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel