Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w12 1/15 bl. 31-32
  • Die bewaring van skatte uit ons verlede

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die bewaring van skatte uit ons verlede
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Onderhofies
  • ONS “FAMILIEALBUM” EN “ERFSTUKKE”
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
w12 1/15 bl. 31-32

Uit ons argief

Die bewaring van skatte uit ons verlede

JEHOVAH se volk het ’n baie ryk geestelike erfenis. Die fassinerende rekord van hierdie erfenis is nie net in publikasies te vinde nie, maar ook in foto’s, briewe, persoonlike ondervindinge en voorwerpe wat met ons aanbidding, ons predikingswerk en ons geskiedenis verband hou. Maar van watter nut is dit om hierdie materiaal te bewaar en om in ons verlede te delf? Wel, gesinshoofde in eertydse Israel moes aan hulle kinders die wette en wonderlike dade van Jehovah bekend maak sodat hulle “hulle vertroue in God kon stel”.—Ps. 78:1-7.

Argiefnavorsing speel al lank ’n rol in die verwesenliking van Jehovah se voorneme. Byvoorbeeld, toe teenstanders die werk aan die tempel in Jerusalem probeer stopsit het, het ’n amptelike ondersoek van die rekords in die argief van die Mediese hoofstad Ekbatana ’n dokument aan die lig gebring waarin koning Kores daardie bouwerk gemagtig het (Esra 6:1-4, 12). Die tempel is dus in ooreenstemming met God se wil herbou. Argiefbronne is ook deur die Evangelieskrywer Lukas gebruik, wat “alles van die begin af noukeurig nagespeur het”.—Luk. 1:1-4.

Die Bestuursliggaam stel baie belang in ons teokratiese geskiedenis. Toe ’n lid van die Bestuursliggaam kommentaar gelewer het oor die belangrikheid daarvan om ons geestelike erfenis te bewaar, te dokumenteer en oor te dra, het hy gesê: “As ons wil weet waarheen ons gaan, moet ons weet waarvandaan ons kom.” Met dié doel is die Skryfafdeling se Argief onlangs onder leiding van die Skryfkomitee by die wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, begin.

ONS “FAMILIEALBUM” EN “ERFSTUKKE”

Met verloop van tyd vervaag die verlede, en die meeste van ons wens waarskynlik dat ons ’n vollediger persoonlike familierekord gehou het. In die Skryfafdeling se Argief word daar nou ywerig gewerk om ons ryk erfenis wat steeds groter word, te bewaar en te dokumenteer. Foto’s wat sorgvuldig in die Argief bewaar word, kan as ’n deel van ons “familiealbum” beskou word. Ons vroeë publikasies, opwindende persoonlike ondervindinge en kosbare gedenkwaardighede is ook onder die skatte in die Argief. Hierdie items is “erfstukke” wat ons van ons teokratiese erfenis leer en ons help om met vertroue na die toekoms van ons geestelike familie uit te sien.

Ons nooi jou om die Skryfafdeling se Argief te besoek deur middel van die nuwe rubriek “Uit ons Argief”. Dit sal van tyd tot tyd in die studie-uitgawe van Die Wagtoring verskyn. Ons beplan byvoorbeeld om in ’n komende nommer ’n geïllustreerde verslag te publiseer wat hierdie vrae sal beantwoord: Wat is ’n “Dawn”-vervoerder? Wie het dit gebruik? Wanneer is dit gebruik, en waarvoor?

Soos ’n familiealbum vol herinneringe, verskaf die Argief se versameling aan ons baie inligting oor ons en ons geestelike voorouers—oor die geloof en moed van ons voorgangers, oor die vreugdes en uitdagings wat met diens aan ons liefdevolle hemelse Vader gepaardgaan en oor God se leiding en volgehoue ondersteuning van sy volk (Deut. 33:27). Ons is vol vertroue dat Jehovah ons voortgesette pogings om ons geestelike geskiedenis te bewaar, sal seën sodat ons band van eenheid al hoe hegter word en ons steeds versterk word om sy wil te doen.

[Venster/Prent op bladsy 31]

Van naderby beskou

Gedurende die voorbereiding van Christelike lektuur, DVD’s en ander Bybelse materiaal maak ons skrywers, kunstenaars, navorsers en ander van argiefhulpmiddels gebruik. Die Skryfafdeling se Argief gaan dus sorgvuldig en op ’n praktiese wyse te werk om ’n groot verskeidenheid geskiedkundige materiaal van bronne soos takkantore, Bethelafdelings, gemeentes, individue en sekulêre instellings te versamel en te bewaar. Kyk na die volgende oorsig van hierdie werk:

Verkryging en ontleding: Unieke items word voortdurend by die Argief se versameling gevoeg. Baie hiervan word goedgunstig aan die Argief geskenk of geleen deur persone wie se families ’n geskiedenis van dekades van getroue diens aan Jehovah het. Deur hierdie materiaal te ontleed en te vergelyk, kry ons ’n beter begrip van ons geskiedenis en van diegene wat dit beleef het.

Katalogisering: Die Argief se versameling bestaan uit duisende items, waarvan party meer as ’n eeu oud is. Dit kom voor in verskillende vorms, groottes en formate en moet noukeurig gekatalogiseer word vir toekomstige gebruik.

Restourasie en bewaring: Ou en beskadigde boeke en voorwerpe word deur middel van professionele restourasiemetodes herstel en bewaar. Dokumente, foto’s, koerantuitknipsels, films en opnames word gedigitaliseer. Dit is dus elektronies beskikbaar sodat dit nie nodig is om die oorspronklike dokumente of ander items van geskiedkundige waarde te hanteer nie.

Berging en herwinning: Argiefmateriaal word ordelik en veilig geberg om te voorkom dat dit tot niet gaan en om dit teen beskadiging deur lig en vog te beskerm. ’n Databasis word ontwikkel om te help met navorsing en met die elektroniese herwinning van hierdie kosbare skatte uit ons verlede, asook om aan te dui waar hulle geberg word.

[Prente op bladsy 32]

1. Plakkaat vir die “Fotodrama van die Skepping”. 2. Intekeninglys. 3. Klankmotor. 4. Voorblad van die Watch Tower van 15 April 1912. 5. J.F. Rutherford se tronkkennisgewing. 6. WBBR-mikrofoon. 7. Grammofoon. 8. Tas vir boeke. 9. Persoonlike aantekeninge. 10. Telegram aan J.F. Rutherford.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel