UIT ONS ARGIEF
“Ek was soos ’n skilpad in sy dop”
GEDURENDE ’n blitsvinnige, negedaagse getuieniskampanje in Augustus/September 1929 het meer as 10 000 predikers regoor die Verenigde State versprei. Hulle het ’n kwartmiljoen boeke en boekies by mense gelaat. Onder daardie Koninkryksverkondigers was daar ongeveer 1 000 kolporteurs. Hoe het hulle tog in getal toegeneem! Die feit dat die aantal pioniers van 1927 tot 1929 verdriedubbel het, is deur die Bulletina as “byna ongelooflik” beskryf.
Laat in 1929 was daar ’n finansiële ineenstorting. Op Swart Dinsdag—29 Oktober 1929—het dalende pryse op die New Yorkse Aandelebeurs skokgolwe veroorsaak wat die wêreldwye ekonomiese stelsel in die Groot Depressie gedompel het. Duisende banke het bankrot gespeel. Boere het opgehou om hulle plase te bedryf. Groot fabrieke het hulle deure gesluit. Miljoene het hulle werk verloor. In 1933 is tot 1 000 huisverbande per dag in die VSA opgeroep.
Hoe kon voltydse predikers gedurende so ’n krisis kop bo water hou? Een manier was om ’n huis op wiele te kry. ’n Motorwoning of karavaan het baie pioniers in staat gestel om hulle bediening met die minste moontlike uitgawes voort te sit, aangesien dit nie nodig was om huurgeld en belasting te betaal nie.b En tydens streekbyeenkomste was ’n huis op wiele ook ’n gratis hotelkamer. In 1934 het die Bulletin gedetailleerde planne voorsien vir ’n klein, maar gemaklike motorwoning, met praktiese geriewe soos ’n waterstelsel, ’n stoof, ’n voubed en isolering teen die koue.
Vindingryke predikers regoor die wêreld het toe begin om hulle huise op wiele te bou. “Noag het geen ondervinding gehad in hoe om ’n boot te bou nie”, vertel Victor Blackwell, “en ek het geen ondervinding of kennis gehad wat die bou van ’n karavaan betref nie.” En tog het hy dit gebou.
’n Motorwoning wat tydens die reënseisoen in Indië per boot oor ’n rivier geneem word
Avery en Lovenia Bristow het ’n motorwoning gehad. Avery sê: “Ek was soos ’n skilpad in sy dop—my huis was altyd by my.” Die Bristows het gepionier saam met Harvey en Anne Conrow, wie se karavaan teerpapiermure gehad het. Elke keer as hulle hulle huis geskuif het, het stukke papier afgeval. “Niemand het al voorheen so ’n karavaan gesien nie”, vertel Avery, “en niemand het sedertdien weer so een gesien nie!” Maar Avery het gesê dat die Conrows en hulle twee seuns “die gelukkigste gesin was wat jy nog ooit gesien het”. Harvey Conrow het geskryf: “Ons het nooit enigiets kortgekom nie, en ons het heeltemal veilig gevoel in Jehovah se diens en onder sy liefdevolle sorg.” Die vier Conrows het later die Gileadskool bygewoon en is as sendelinge na Peru gestuur.
Die Battainos het ook saam as ’n gesin gepionier. Nadat Giusto en Vincenza uitgevind het dat hulle ouers gaan word, het hulle ’n 1929 Model A-Ford-bakkie in ’n huis omskep wat “soos ’n goeie hotel” gelyk het in vergelyking met die tente waarin hulle voorheen gebly het. Ondanks die feit dat hulle nou ’n dogtertjie gehad het, het hulle gebly in die toewysing waarvoor hulle so lief was—om vir Italianers in die Verenigde State te preek.
Baie mense het belangstelling in die goeie nuus getoon, maar arm en werklose mense het selde geld gehad om vir Bybellektuur by te dra. Hulle het eerder allerhande goedere in ruil daarvoor aangebied. Twee pioniers het ’n lys gemaak van 64 verskillende items wat hulle by belangstellendes gekry het. Die lys het “soos die inventaris van ’n plaaswinkel” gelyk.
Fred Anderson het ’n boer ontmoet wat ’n stel van ons boeke wou hê en ’n bril wat aan sy ma behoort het, in ruil daarvoor aangebied het. By die volgende plaas het ’n man belangstelling in ons lektuur getoon, maar hy het gesê: “Ek het nie ’n bril om mee te lees nie.” Toe hy sy buurman se bril opsit, kon hy egter goed sien wat hy lees en het hy met graagte vir die boeke en die bril bygedra.
Herbert Abbott het ’n draagbare hoenderhok in sy motor gehou. Elke keer as hy drie of vier hoenders in ruil vir lektuur gekry het, het hy die hoenders na die mark geneem, dit verkoop en sy petroltenk volgemaak. “Was daar tye dat ons amper platsak was? Beslis”, het hy geskryf, “maar ons het nie toegelaat dat dit ons keer nie. Solank ons petrol in die motor gehad het, het ons voortgegaan en ons geloof en vertroue in Jehovah gestel.”
Vertroue op Jehovah en sterk vasbeslotenheid het sy knegte deur daardie moeilike jare gedra. Tydens ’n reënstorm het Maxwell en Emmy Lewis net betyds uit hulle karavaan gekom voordat ’n boom daarop geval het en dit middeldeur laat breek het. “Hierdie dinge was nie struikelblokke nie”, het Maxwell geskryf, “net voorvalle, en dit het nooit eens by ons opgekom om tou op te gooi nie. Daar was baie werk, en ons was van plan om dit te doen.” Onverskrokke en met die hulp van liefdevolle vriende het Maxwell en Emmy hulle huis op wiele herbou.
In ons moeilike tye word miljoene ywerige Getuies van Jehovah deur dieselfde selfopofferende gees gekenmerk. Trouens, net soos daardie vroeë pioniers, is ons vasbeslote om voort te gaan met die predikingswerk totdat Jehovah sê die werk is klaar.
a Nou Ons Koninkryksbediening.
b In daardie tye het die meeste pioniers geen sekulêre werk gedoen nie. Hulle het Bybellektuur teen verlaagde pryse ontvang en het die bydraes wat hulle vir plasings ontvang het, gebruik om in hulle basiese behoeftes te voorsien.