Die pioniers George Rollston en Arthur Willis hou stil om hulle motor se verkoeler vol te maak.—Noordelike Gebied, 1933
UIT ONS ARGIEF
‘Geen pad is te ongelyk of te lank nie’
OP 26 MAART 1937 het twee moeë reisigers met hulle stowwerige voertuig in Sydney, Australië, aangekom. Vandat hulle die stad ’n jaar tevore verlaat het, het hulle meer as 19 300 kilometer afgelê in ruwe, afgeleë dele van die vasteland. Hierdie manne was nie ontdekkingsreisigers nie. Arthur Willis en Bill Newlands was net twee van die ywerige pioniers wat vasbeslote was om die goeie nuus van God se Koninkryk in die uitgestrekte Australiese agterveld te verkondig.
Tot die laat 1920’s het die klein groepie Bybelstudentea in Australië meestal in en om die kusstede en -dorpe gepreek. In die binneland het die yl bevolkte agterveld gelê, ’n dorre streek meer as die helfte so groot soos die Verenigde State. Die broers het egter goed geweet dat Jesus se volgelinge van hom moes getuig “tot in die mees afgeleë deel van die aarde”, insluitende die afgeleë Australiese agterveld (Hand. 1:8). Maar hoe sou hulle hierdie groot taak kon uitvoer? Hulle was vasbeslote om hulle bes te doen en het die volle vertroue gehad dat Jehovah hulle pogings sou seën.
PIONIERS BAAN DIE WEG
In 1929 het gemeentes in Queensland en Wes-Australië verskeie goed toegeruste voertuie gebou waarmee hulle die predikingswerk in die binneland kon doen. Die voertuie is gebruik deur pioniers wat die moeilike toestande kon hanteer en die voertuie kon herstel wanneer dit gebreek het. Hierdie pioniers het baie plekke besoek waar die goeie nuus nooit tevore verkondig is nie.
Pioniers wat nie ’n voertuig kon bekostig nie, het met fietse gepreek. Byvoorbeeld, in 1932 het die 23-jarige Bennet Brickell vanaf Rockhampton, Queensland, vertrek om vyf maande lank in die afgeleë noordelike deel van daardie staat te gaan preek. Sy fiets was swaar gelaai met komberse, klere, kos en ’n groot aantal boeke. Toe sy fiets se bande ingegee het, het hy eenvoudig voortgegaan, vol vertroue dat Jehovah hom sal lei. Hy het sy fiets die laaste 320 kilometer gestoot, deur ’n gebied waar mense al van die dors gesterf het. Die volgende 30 jaar het broer Brickell honderdduisende kilometers per fiets, motorfiets en motor in Australië afgelê. Hy het met die predikingswerk onder die Aborigines begin en gehelp om gemeentes te stig. Hy het ’n bekende en gerespekteerde persoon in die agterveld geword.
UITDAGINGS WORD OORKOM
Australië het een van die laagste bevolkingsdigthede in die wêreld en die agterveld is veral yl bevolk. Jehovah se volk het egter getoon dat hulle vasbeslote is om mense in afgeleë dele van die vasteland te vind.
Die pioniers Stuart Keltie en William Torrington is voorbeelde hiervan. In 1933 het hulle die Simpson-woestyn oorgesteek om in Alice Springs, ’n dorp in die middel van die vasteland, te gaan preek. Toe hulle motor gebreek het en hulle dit moes agterlaat, het broer Keltie—wat ’n houtbeen gehad het—sy predikingsreis voortgesit, maar met ’n kameel! Die pioniers se pogings het vrugte afgewerp toe hulle ’n hoteleienaar in William Creek, ’n afgeleë dorpie, ontmoet het. Die hoteleienaar, Charles Bernhardt, het later die waarheid aanvaar, sy hotel verkoop en 15 jaar lank alleen gepionier in van die droogste en mees afgesonderde dele van Australië.
Arthur Willis maak gereed vir ’n predikingsreis in die uitgestrekte Australiese agterveld.—Perth, Wes-Australië, 1936
Die vroeë pioniers het beslis moed en uithouvermoë nodig gehad om al die uitdagings te oorkom waarmee hulle te kampe gehad het. Gedurende hulle predikingsreis deur die Australiese agterveld het dit Arthur Willis en Bill Newlands, wat vroeër genoem is, eenkeer twee weke geneem om 32 kilometer af te lê omdat swaar reën die woestyn in ’n see van modder verander het. Soms moes hulle hulle voertuig in ondraaglike hitte oor groot sandduine stoot. Ander kere moes hulle deur rotsagtige valleie en sanderige rivierbeddings ry. Wanneer hulle voertuig gebreek het, wat dikwels gebeur het, het hulle dae lank geloop of fietsgery om by die naaste dorp te kom en dan weke gewag vir onderdele om te kom. Ondanks sulke teëspoed het hulle positief gebly. Arthur Willis het later, met verwysing na ’n stelling wat eenkeer in The Golden Age gemaak is, gesê: “Geen pad is te ongelyk of te lank vir Sy getuies nie.”
Charles Harris, wat baie jare lank gepionier het, het verduidelik dat die afsondering en fisiese uitdagings van die agterveld hom nader aan Jehovah laat kom het. Hy het gesê: “’n Mens reis baie makliker op die lewensweg as jy so min bagasie as moontlik het. As Jesus bereid was om onder die sterre te slaap wanneer dit nodig was, dan moet ons bereid wees om dit ook te doen as ons toewysing dit vereis.” En dit is wat baie pioniers gedoen het. Dit is te danke aan hulle harde werk dat die goeie nuus in die uithoeke van die vasteland verkondig is en baie mense gehelp is om hulle standpunt vir God se Koninkryk in te neem.
a Die Bybelstudente het in 1931 die naam Jehovah se Getuies aangeneem.—Jes. 43:10.