Die vreugde van ’n eenvoudige lewe
DANIEL EN MIRIAM is in September 2000 getroud en het in Barcelona, Spanje, gaan bly. “Ons was baie gelukkig daar”, sê Daniel. “Ons kon dit bekostig om gereeld uit te eet, oorsee te gaan en duur klere te koop. Ons het ook gereeld velddiens gedoen.” Maar toe het iets gebeur.
By ’n byeenkoms in 2006 het ’n toespraak Daniel diep geraak. Een van die vrae in die toespraak was: “Doen ons alles in ons vermoë om ‘dié wat na die slagting wankel’ te help om ook die ewige lewe te verkry?” (Spr. 24:11). Die toespraak het beklemtoon hoe belangrik dit is om die Bybel se lewensreddende boodskap bekend te maak (Hand. 20:26, 27). Daniel sê: “Dit het gevoel asof Jehovah met my praat.” Die toespraak het ook gesê dat hoe meer ons in die bediening doen, hoe gelukkiger sal ons wees. Daniel het geweet dat dit waar is. Miriam het reeds begin pionier en vreugdevolle seëninge geniet.
Daniel sê: “Ek het besef dat dit tyd is om ’n groot verandering te maak.” En hy het dit gedoen. Hy het minder gewerk en begin pionier. Hy het begin dink aan hoe lekker dit sal wees as hy en Miriam kan dien waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is.
EERS UITDAGINGS, TOE OPWINDENDE NUUS
In Mei 2007 het Daniel en Miriam opgehou werk en Panama toe getrek, ’n land wat hulle al voorheen besoek het. Hulle nuwe gebied was in die Bocas del Toro-eilandgroep in die Karibiese see. Die meeste mense daar was Ngabe. Hulle het uitgewerk dat hulle spaargeld genoeg sou wees om agt maande lank in Panama te kan bly.
Hulle het bote en fietse gebruik om te kom waar hulle wou wees en onthou hulle eerste fietsrit baie goed. Hulle moes 32 kilometer in die bloedige son oor steil heuwels ry. Daniel was so moeg dat hy amper flou geword het. Die Ngabe-families was baie vriendelik, veral toe hulle hoor hoe Daniel en Miriam ’n paar woorde in hulle taal kon praat. Nie lank daarna nie het hulle 23 Bybelstudies gehou.
Toe hulle spaargeld opgeraak het, was hulle baie hartseer. Daniel sê: “Met trane in ons oë het ons begin dink aan ons terugkeer na Spanje. Ons was baie hartseer om ons Bybelstudies agter te laat.” ’n Maand later het hulle goeie nuus ontvang. Miriam sê: “Ons is gevra om spesiale pioniers te wees. Ons was so bly om in ons toewysing te kan bly!”
HULLE GROOTSTE VREUGDE
In 2015, as gevolg van aanpassings in die organisasie, is Daniel en Miriam gevra om as gewone pioniers te dien. Hoe nou gemaak? Hulle het hulle vertroue in die belofte in Psalm 37:5 gestel: “Laat jou weg aan Jehovah oor en verlaat jou op hom, en hy sal optree.” Hulle het werk gekry sodat hulle kon aanhou om as gewone pioniers te dien. Nou dien hulle in ’n gemeente in die provinsie Veraguas in Panama.
Daniel sê: “Voor ons uit Spanje weg is, was ons nie seker of ons ’n eenvoudige lewe sou kon lei nie. Vandag doen ons dit en ons het alles wat ons nodig het.” Wat is hulle grootste vreugde? Hulle sê: “Ons grootste vreugde is om nederige mense te help om Jehovah te leer ken!”