Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • wp21 nr. 1 bl. 8-9
  • Hoekom beantwoord God nie alle gebede nie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoekom beantwoord God nie alle gebede nie?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2021
  • Soortgelyke materiaal
  • Kom nader aan God deur gebed
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Die voorreg van gebed
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Wie se gebede word verhoor?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Gebede wat verhoor word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2021
wp21 nr. 1 bl. 8-9

Hoekom beantwoord God nie alle gebede nie?

Ons hemelse Vader, Jehovah God, wil graag na ons opregte gebede luister. Maar daar is dinge wat hom sal keer om ons gebede te beantwoord. Wat is hierdie dinge, en wat moet ons in gedagte hou wanneer ons bid? Kyk na wat die Bybel hieroor sê.

’n Groep by ’n kerk wat ’n gebed uit ’n gebedeboek opsê.

“Wanneer julle bid, moet julle nie dieselfde dinge oor en oor sê . . . nie.” – Matteus 6:7.

Jehovah wil nie hê dat ons gebede moet herhaal wat ons gememoriseer het of dat ons ’n gebedeboek moet gebruik nie. Hy wil eerder hê dat ons uit die hart moet praat. Dink net hoe frustrerend dit sou wees om ’n vriend te hê wat elke dag vir jou dieselfde woorde oor en oor sê. Goeie vriende praat openlik en opreg met mekaar. Wanneer ons in ons eie woorde tot ons hemelse Vader bid, wys dit dat ons hom as ’n vriend beskou.

’n Man wat op kyk terwyl hy ’n loterykaartjie krap.

“Wanneer julle wel vra, ontvang julle nie, want julle vra met verkeerde motiewe.” – Jakobus 4:3.

Ons sal beslis nie verwag dat God ons gebede beantwoord as ons vir dinge vra wat hy nie wil hê ons moet doen of hê nie. Byvoorbeeld, as iemand dobbel en tot Jehovah bid om hom te help om geld te wen, sou God sy gebed beantwoord? God het duidelik vir ons gesê om nie gierig te wees en nie ’n bygelowige vertroue in geluk te hê nie (Jesaja 65:11; Lukas 12:15). Dit sou beslis nie sin maak om te verwag dat Jehovah sulke gebede beantwoord nie! As ons wil hê dat God ons gebede moet beantwoord, moet ons seker maak dat wat ons vra, ooreenstem met wat hy vir ons in die Bybel sê.

’n Predikant bid vir ’n groep soldate.

“As iemand weier om die wet te gehoorsaam, is selfs sy gebed iets afskuweliks.” – Spreuke 28:9.

In Bybeltye het God nie die gebede beantwoord van diegene wat sy regverdige wette verwerp het nie (Jesaja 1:15, 16). God het nie verander nie (Maleagi 3:6). As ons wil hê dat God ons gebede moet beantwoord, moet ons doen wat ons kan om volgens sy wette te lewe. Maar wat as ons verkeerde dinge in die verlede gedoen het? Beteken dit dat Jehovah nooit na ons sal luister nie? Natuurlik nie! God sal ons liefdevol vergewe as ons wys dat ons jammer is vir wat ons verkeerd gedoen het en ons bes doen om hom gelukkig te maak. – Handelinge 3:19.

“As iemand God wil nader, moet hy glo dat hy bestaan en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek.” – Hebreërs 11:6.

’n Vrou wat die Bybel lees.

Ons bid nie net om beter te voel wanneer ons onder druk is nie. Dit is ’n bewys van ons geloof en deel van ons aanbidding van God. Die dissipel Jakobus sê dat as ons nie “aanhou om in geloof te vra” nie, moet ons nie “verwag dat [ons] enigiets van Jehovah sal ontvang nie” (Jakobus 1:6, 7). Om geloof in God op te bou, moet ons die tyd maak en moeite doen om hom te leer ken deur die Bybel te studeer. Deur dit te doen, sal dit ons help om sy wil te ken en met oortuiging te bid.

MOENIE OPGEE NIE!

Hoewel God nie alle gebede beantwoord nie, hoor en beantwoord hy opregte gebede van miljoene mense. Die Bybel gee stappe wat jy kan neem sodat jou gebede vir God aanvaarbaar sal wees. Die volgende artikel sal dit verduidelik.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel