Sierra Leone: Crystal kry hulp
AARDWYE PREDIKINGS- EN ONDERRIGTINGSWERK
Afrika
LANDE 58
BEVOLKING 1 109 511 431
VERKONDIGERS 1 538 897
BYBELSTUDIES 4 089 110
Sy het gebid om die dowes te vind
In Sierra Leone het Crystal, ’n sendeling in die gebaretaalveld, vroeg een oggend gebid dat sy dowes in die gebied kan vind. Daardie oggend, terwyl sy op soek was na een van haar herbesoeke, het sy ’n ander pad as gewoonlik gevat. Sy het die bure gevra of hulle weet van enige dowes in die gebied, en hulle het toe na een van die huise gewys. Daar het sy ’n vriendelike jong vrou ontmoet wat baie van die boodskap gehou het en graag die vergadering in gebaretaal wou bywoon. Die mense in die dorpie het gevra of Crystal ook ’n ander dowe persoon wou ontmoet. Sy het toe nog ’n nederige persoon gevind wat ook na die waarheid soek. Al het sy meer as een keer in daardie straat gewerk, het sy nog nooit hierdie twee dowes ontmoet nie. Crystal is daarvan oortuig dat sy nooit hierdie belangstellendes sonder Jehovah se hulp sou gevind het nie.
“Daardie toespraak was net vir my bedoel!”
Emmanuel, wat in Liberië woon, was op pad Koninkryksaal toe vir die vergadering. Langs die pad was daar ’n jong man wat netjies aangetrek was, maar hy het baie ontsteld gelyk. As gevolg van hoe die jong man gelyk het, het Emmanuel gestop om te kyk of hy kan help. Hy het uitgevind dat die man se naam Moses is. Die vorige nag is al Moses se geld gesteel, en daarom het hy dit oorweeg om selfmoord te pleeg. Emmanuel het geluister na wat met Moses gebeur het en hom toe liefdevol uitgenooi om saam met hom na die Koninkryksaal toe te gaan. Wat Moses daar gehoor het, het trane in sy oë gebring. Nadat Moses na die openbare toespraak geluister het, het hy gesê: “Daardie toespraak was net vir my bedoel! Jehovah se Getuies is anders.” Ná die vergadering het Moses ’n Bybelstudie aanvaar, en nou woon hy die gemeentelike vergaderinge gereeld by.
“Ek is nie ’n heiden nie”
Aminata is ’n 15-jarige student in Guinee-Bissau. Toe sy 13 jaar oud was, het haar kunsonderwyser die klas gevra om maskers en ander goed te teken wat met karnaval-vierings verband hou. Aminata het eerder ’n prent geteken van diere en plante en toe “Paradys” daarop geskryf. Toe die onderwyser die prente bymekaarmaak, het hy vir Aminata gesê dat haar prent niks met die onderwerp te doen het nie en haar nul gegee. Ná die les het Aminata na die onderwyser gegaan en hom gevra: “Wie het eerste karnaval begin vier?”
“Heidene”, het die onderwyser geantwoord.
Guinee-Bissau: Aminata teken die “Paradys”
Aminata het gesê: “Ek is nie ’n heiden nie, en daarom neem ek nie deel aan hierdie soort vierings nie. Ek glo dat God binnekort die aarde in ’n paradys gaan verander, en dit is wat ek geteken het.” Die onderwyser het gesê dat hy haar eerder ’n geskrewe toets sal gee. Die gevolg? Sy het 18 uit 20 gekry.
Baie mense het gekom
’n Afgesonderde groep in ’n dorpie in Malawi het sewe verkondigers. Hulle kom bymekaar in ’n plek wat van pale, gras en grasmatte gemaak is. Omdat die broers deur die kringopsiener se besoek aangespoor was, het hulle mense ywerig uitgenooi om die Herdenking van Christus se dood by te woon. Baie belangstellendes het gekom om te luister na die Gedenkmaaltoespraak wat by die lig van olielampe gehou is. Stel jou voor hoe bly die 7 verkondigers was toe hulle uitvind dat 120 mense die Gedenkmaal bygewoon het!
Malawi: Daar was 120 mense
Die brosjure het haar met haar huwelik gehelp
Daar is baie keer seëninge as gevolg van spesiale openbare getuieniswerk in stede al kan dit nie onmiddellik gesien word nie. In Lomé, die hoofstad van Togo, het ’n vrou ’n lektuurtrollie huiwerig genader en die brosjure Julle gesin kan gelukkig wees geneem. Die Getuies het Efesiërs 5:3 kortliks met haar bespreek, en daarna het hulle telefoonnommers uitgeruil. Twee weke later het die vrou gebel en gesê: “Ek het regtig nie van Jehovah se Getuies gehou nie. Maar ek het die brosjure gelees, en dit was ongelooflik. Dit het my al klaar gehelp om party van my huweliksprobleme op te los, en ek het ook twee ander paartjies gehelp. My beskouing van Jehovah se Getuies was verkeerd. Sal julle asseblief die Bybel met my kom studeer?” ’n Studie is met hierdie vrou begin, sowel as met een van die paartjies wat sy gehelp het.
Hy het die brosjure vertaal
Ankasie is ’n klein dorpie in Ghana. Mense wat goed het om te verkoop, stal dit langs die hoofstraat uit. Elke Maandag word daar ook ’n lektuurtrollie hier opgestel. Nadat Samuel, die broer by die trollie, vir Enoch getuig het, het Enoch die Listen to God-brosjure aanvaar en vir Samuel gevra of hy enige lektuur in die taal Kusaal het.
Ghana: Hy het die brosjure in Kusaal vertaal
Samuel het gesê: “Jammer, ons het nie. Maar ons het brosjures in Frafra”, ’n taal wat na aan Kusaal is. Later, toe Enoch na sy huis in die verre noorde teruggegaan het, het hy vir lektuur kom vra wat hy vir sy familie wou gee.
Toe hy na Ankasie teruggekeer het, het hy vir Samuel ’n dokument gegee. Enoch het die Listen to God-brosjure in Kusaal vertaal! Hy woon vergaderinge by en studeer die Bybel gereeld.