Azerbeidjan
AARDWYE PREDIKINGS- EN ONDERRIGTINGSWERK
Europa
LANDE 47
BEVOLKING 744 482 011
VERKONDIGERS 1 611 290
BYBELSTUDIES 834 121
’n Sagte antwoord
In Georgië het ’n man na ’n lektuurtrollie gekom en geskree: “Ek sal julle nie toelaat om hier te preek nie! Georgië is ’n Ortodokse Christelike land.” Die broer langs die trollie het die man vriendelik gevra of hy al ooit ons publikasies gelees het. Die man het geantwoord: “Nee, nog nooit nie.” Die broer het taktvol voorgestel dat hy dalk eers van ons lektuur moet lees. Die manier waarop die broer die man behandel het, het die man kalmeer, en hy het toe lektuur geneem. ’n Paar dae later het die man teruggekeer en gesê dat hy jammer is oor sy optrede. Hy het gesê dat hy ons tydskrif vir sy blinde ma gelees het. Hulle het dit baie geniet en wou nog iets hê om te lees. Hy kom nou gereeld na ons lektuurtrollie om die nuutste tydskrifte te kry.
’n Beter manier om probleme op te los
Terwyl twee van ons broers in Azerbeidjan met die predikingswerk besig was, het hulle vir ’n jong man getuig wat voor ’n gebou gestaan het. Die man het gesê: “Ek kan nie hierna luister nie. Dis ’n sonde.” Toe haal hy ’n mes uit en sê: “Ek is onregverdig behandel, en ek gaan nou hierdie mes gebruik om dinge reg te stel.”
Die broers het geskrik, maar het gesê: “Dis ’n sonde om iemand dood te maak.”
Die man het gesê: “Wat moet ek dan doen?” Hulle het Romeine 12:17-21 vir hom gelees en toe verduidelik dat wraak aan God behoort en dat ons ‘nie deur die kwaad oorwin moet word nie, maar moet aanhou om die kwaad met die goeie te oorwin’. Hulle het vir hom gesê dat ’n sagte woord kragtig kan wees en dat sy gewete hom erg sou pla as hy iemand seermaak of vermoor. Die man was beïndruk deur wat hulle gesê het en is toe daar weg.
Omtrent ’n uur later het die man die broers weer gekry en gesê: “Ek kom nou net terug van die man wat ek wou doodmaak. Ek het hom nie seergemaak nie, maar ons het die probleem opgelos. Dankie dat julle my gekeer het voordat ek iets verskrikliks gedoen het.” Die Getuies het verduidelik dat dit eintlik Jehovah was wat hom gehelp het.
’n Lektuurtrollie help ’n onbedrywige suster
’n Paar jaar gelede het ’n suster in Noorweë geestelik afgekoel. Toe lektuurtrollies deel van ons openbare getuieniswerk word, het sy dikwels verby een geloop wanneer sy winkel toe gaan.
Alhoewel sy nooit met die Getuies by die trollies gepraat het nie, het sy altyd die treffende plakkate en aantreklike lektuur raakgesien. Dit, sowel as die vriendelike en netjiese voorkoms van die Getuies, het haar die begeerte gegee om na Jehovah en sy volk terug te keer.
Sy het ook die logo van ons webwerf, jw.org, gesien en toe besluit om die webwerf te besoek. Dit het haar beïndruk toe sy sien hoe maklik dit is om die adres van die naaste Koninkryksaal en die vergaderingtye te kry. Sy het van die publikasies afgelaai en half senuweeagtig na die saal toe gegaan. Sy is vriendelik verwelkom, en die ouer manne het gereël dat ’n suster die Bybel met haar studeer. Kort voor lank het sy goeie vriende in die gemeente gemaak en gou weer in ’n geestelike roetine gekom. Sy antwoord nou gereeld by die vergaderinge en doen weer velddiens. Sy is baie bly dat sy nou weer ’n hegte verhouding met Jehovah kan hê.
Sy getuig op die skoolbus
Die 15-jarige Ronja van Noorweë het op ’n skoolbus ’n bespreking oor evolusie met drie klasmaats gehad. Die seuns het glad nie haar beskouing gerespekteer nie, en dit het ons jong suster baie ongemaklik laat voel. Omdat sy lank laas oor hierdie onderwerp gepraat het, het sy haar ma gevra om haar te help om voor te berei sodat sy kan bewys dat daar ’n Skepper is.
Noorweë: Ronja verdedig haar geloof
Ronja het die volgende dag op die skoolbus weer oor die onderwerp gepraat. Maar die seuns het haar net geterg oor haar geloof in Jehovah. Een van hulle het kliphard gesê: “Niemand op hierdie bus glo in Jehovah nie! Steek julle hande op. Wie glo in evolusie, en wie glo in Jehovah?” Ronja was verbaas toe ’n jonger seun wat daar naby gesit het, sy hand opsteek en sê: “Ek glo in Jehovah!” Nog twee kinders het gesê: “Ek ook!” Party van Ronja se klasmaats het na die gesprek geluister, en die redes wat sy gegee het, het hulle daarvan oortuig dat daar ’n Skepper is!
’n Man wat nie kan lees nie, kry ’n boek
Een middag het twee mans van Sirië, wat Arabies praat, na die takkantoor in Denemarke gegaan. Hulle het vir die susters by ontvangs gesê dat hulle op soek is na Jehovah se Getuies. Toe die susters vir hulle sê dat hulle by die regte plek is, was hulle baie bly. Hoe het hulle die adres gekry? Hulle het met hulle foon ’n foto geneem van die uitgewersbladsy van die boek Wat leer die Bybel werklik? in Arabies. Hulle het die foto gewys vir iemand wat by die plaaslike biblioteek werk, en die persoon kon vir hulle die adres van die takkantoor gee.
Die twee mans kon nie eintlik Deens praat nie. Daarom is ’n broer wat Arabies kon praat, na die ontvangs geroep. Dit was duidelik dat een van die mans graag meer oor die Bybel wou leer. Die broer het sy kontakbesonderhede gekry en belowe dat hy en nog ’n broer wat ook Arabies praat, hom binnekort sou besoek.
Toe die broers die man by sy huis kom sien, het hulle uitgevind dat dit die eerste keer is dat hy deur die Getuies besoek word. Hy het vir hulle gesê dat hy die boek in sy posbus gekry het, hoewel daar niks op die posbus is wat wys dat daar iemand woon wat Arabies praat nie. Omdat hy nie kon lees nie, het hy ’n vriend gevra om die boek vir hom te lees, en hulle het dit in drie dae deurgelees. Wat hy gehoor het, het hom oortuig dat dit die waarheid is.
Dit was baie moeilik vir hom omdat hy ’n vlugteling is wat ver van sy familie af is, maar hy het vertroosting in die Bybel gevind. Die eerste keer toe die broers hom besoek, het hy gevra: “Hoekom was julle nog nooit by my nie? Ek het dit regtig nodig gehad.” Hy studeer nog steeds saam met die broers en is baie opgewonde oor wat hy leer.
’n Leë hart is nou vreugdevol
Dmitri was ’n bestuurder van ’n tabakmaatskappy in die Oekraïne, maar toe hy uitvind hoe sleg rook vir ’n mens se gesondheid is, het hy uit sy goed betaalde werk bedank. Toe sy ma en skoonma binne ’n kwessie van net drie maande sterf, was dit vir hom ’n groot skok. Hy het gehoop dat hy by sy kerk vertroosting en antwoorde op sy vrae sou kry, maar dit het nie gebeur nie. ’n Vriend het vir hom gesê dat ’n Ortodokse Christen iemand is wat “’n kruis om sy nek dra maar ’n leemte in sy hart het”. Dit was presies hoe Dmitri gevoel het. Hy het besef dat hy niks omtrent God of die Bybel weet nie. Hy was moedeloos en het vir hulp gebid. Toe onthou hy dat hy vantevore van Jehovah se Getuies gehoor het. Hy het ons webwerf op die Internet gekry en was baie beïndruk deur hoeveel inligting daar oor die Bybel is. Daarna het hy die naaste Koninkryksaal gaan soek. Toe hy by die saal aankom, het ’n saalwagter hom verwelkom en hom gevra of hy hulp nodig het. Dmitri het gesê: “Ek het ’n Bybelstudie nodig.” Hy studeer nou al die afgelope ses maande, woon gereeld die vergaderinge by en gee antwoorde.
Hulle het ’n briefie gelos
Paul en Faith, wat in Brittanje woon, het lekker gesels met ’n vrou met die naam Susan en het gereël om terug te gaan. Toe hulle teruggaan, was Susan nie by die huis nie. Paul en Faith het die raad in Ons Koninkryksbediening van November 2014 gevolg en ’n briefie gelos om te sê dat hulle die volgende dag weer sou kom. Toe hulle teruggaan, was hulle verbaas om ’n briefie van Susan op die deur te kry. Sy het daarin verduidelik dat sy goed gaan koop het vir haar dogter se troue. Paul en Faith het nog ’n briefie gelos om te sê dat hulle die volgende week weer sou kom. Hierdie keer het Susan vir hulle gewag, en toe het hulle ’n studie in die Leer Bybel-boek begin.
Brittanje: Paul en Faith los ’n briefie
Omdat Susan se dogter binnekort sou trou, het sy gevra of hulle die volgende besoek kon uitstel. Toe Paul en Faith teruggaan, was daar niemand by die huis nie, en daarom het hulle ’n briefie met hulle selfoonnommer gelos. Hulle was bly toe hulle ’n teksboodskap van Susan kry om te sê dat sy jammer is. Sy het verduidelik dat hulle haar nie in die hande kon kry nie, want sy was besig om met haar buurvrou in die tuin te gesels. Sedertdien hou hulle gereeld ’n Bybelstudie met Susan, en sy het onlangs haar eerste vergadering bygewoon.
Paul en Faith hou daarvan om belangstelling op te volg deur briefies te los. “Ons het al briefies gelos by ’n hele paar van ons besoeke, en hulle het dit gelees. Dis briljant!”
Sy geloof het sy verpleegster diep geraak
In Augustus 2014 is ’n broer in ’n hospitaal in Hongarye opgeneem omdat hy ’n longembolisme (’n verstopping van ’n longslagaar) gehad het. Ongelukkig het hy kort daarna gesterf. Die broer se vrou het die volgende geskryf oor ’n verpleegster, Tünde, wat baie behulpsaam was:
“In die somer van 2015 het ek die ‘Volg Jesus na!’-streekbyeenkoms saam met my seun bygewoon. Aan die einde van die derde dag, toe ons in die parkeerterrein was, het ’n vrou voor my gaan staan, haar sakke laat val, my ’n drukkie gegee en begin huil. Dit was die verpleegster wat amper ’n jaar tevore my man in die waakeenheid versorg het. Sy het verduidelik dat elke verpleegster aan die begin van ’n skof ’n pasiënt gekry het om te versorg. Sy het elke keer gebid dat my man haar pasiënt sou wees. En dit is presies wat keer op keer gebeur het!
“Volgens Tünde het my man se goeie gedrag as gevolg van sy geloof en die feit dat hy heeltyd oor sy hoop gepraat het, haar beweeg om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer en dit ernstig op te neem.
“Tünde sien uit na die tyd wanneer sy my man kan terugverwelkom. Sy wil vir hom sê dat sy goeie gedrag en sterk geloof haar gehelp het om van Jehovah en sy wonderlike beloftes te leer.”
Getuig van voertuig tot voertuig
Bulgarye: ’n Paartjie preek vir ’n trokdrywer by die grens
As gevolg van betogings en blokkades was party grensposte tussen Griekeland en Bulgarye by tye gesluit. Dan het voertuie kilometers ver gestaan en wag. ’n Nabygeleë gemeente in Bulgarye het die geleentheid gebruik om Bybellektuur aan te bied vir die mense wat in hulle voertuie gesit en wag het. Die broers het na die grens toe gegaan met lektuur in 12 verskillende tale. Baie van die trokdrywers was moeg en gefrustreerd, maar hulle was bereid om te praat. Die broers het simpatiek geluister en hoop en bemoediging gegee. Een van die drywers het gevra: “Is julle Jehovah se Getuies?” Nadat hulle ja gesê het, het hy bygevoeg: “Ek het dit geweet. Net Jehovah se Getuies sal so preek.” ’n Trokdrywer van Oostenryk het grappig gesê: “Selfs hier kan ons nie van julle af wegkom nie! Mooi so! Hou asseblief aan om vir mense vertroosting en hoop te gee.” ’n Ander een het gesê: “Ek wou nog nooit julle boekies lees nie. Maar nou sal ek dit met graagte lees.” Een drywer het begin huil toe ’n broer vir hom getuig het. Hy het gesê dat hy jare terug ’n Getuie was. Die broers het hom aangemoedig om nie net die lektuur te lees nie, maar om ook met ’n gemeente in aanraking te kom.