DIE BRIEF VAN JAKOBUS
1 Van Jakobus,+ ’n slaaf van God en van die Here Jesus Christus. Aan die 12 stamme wat oral verstrooi is:
Groete!
2 My broers, julle moet baie bly wees wanneer julle deur allerhande moeilike tye gaan,+ 3 want julle weet dat julle geloof tot volharding lei wanneer dit getoets is.+ 4 Maar laat die volharding sy werk voltooi, sodat julle volkome en in alle opsigte sonder gebrek kan wees en in niks te kort skiet nie.+
5 As een van julle dan wysheid nodig het, moet hy aanhou om God te vra,+ want hy gee oorvloedig aan almal sonder om te verwyt,*+ en hy sal wysheid ontvang.+ 6 Maar laat hom aanhou om in geloof te vra,+ sonder om enigsins te twyfel,+ want die een wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind aangedryf en heen en weer gewaai word. 7 Om die waarheid te sê, so iemand moenie verwag dat hy enigiets van Jehovah* sal ontvang nie. 8 Hy is ’n besluitelose mens,+ onstabiel in alles wat hy doen.
9 Maar laat die broer wat arm is, bly wees* omdat hy verhoog is,+ 10 en laat die ryke bly wees oor sy vernedering,+ want die ryke sal soos ’n blom van die veld vergaan. 11 Wanneer die son opkom en dit die plant met sy verskroeiende hitte laat verlep, val die blom af en verdwyn die pragtige voorkoms daarvan. Net so sal die ryke vergaan terwyl hy druk besig is met sy bedrywighede.+
12 Gelukkig is die mens wat volhard in moeilike tye,+ want wanneer hy goedgekeur is, sal hy die kroon van die lewe ontvang,+ wat Jehovah* belowe het aan dié wat Hom altyd liefhet.+ 13 Laat niemand wat deur ’n moeilike tyd gaan, sê: “Ek word deur God getoets” nie. Want God kan nie met slegte dinge getoets word nie, en hy toets ook niemand met slegte dinge nie. 14 Maar elkeen word getoets wanneer hy deur sy eie begeerte gelok en verlei* word.+ 15 Daarna, wanneer die begeerte vrugbaar geword het,* lei dit tot sonde, en wanneer die sonde gepleeg is, lei dit tot die dood.+
16 Moenie mislei word nie, my geliefde broers. 17 Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van bo,+ want dit daal neer van die Vader van die hemelse ligte,+ en hy verander nie soos die skaduwees wat verskuif nie.+ 18 Dit was sy wil om ons deur die woord van waarheid voort te bring,+ sodat ons in ’n sekere sin die eerstes* sal wees wat hy uit sy skepsele gekies het.+
19 Weet dit, my geliefde broers: Elkeen moet gou wees om te hoor, stadig om te praat,+ stadig om kwaad te word,+ 20 want ’n mens se woede lei nie tot God se regverdigheid nie.+ 21 Raak dus ontslae van alle vuilheid en elke bietjie slegtheid,*+ en aanvaar met sagmoedigheid die woord wat in julle geplant word en wat julle kan red.
22 Moenie net hoor wat die woord sê nie, maar doen ook wat dit sê,+ want anders sal julle julleself met valse redenasies bedrieg. 23 Want as iemand net hoor wat die woord sê en nie doen wat dit sê nie,+ is hy soos iemand wat na sy gesig in ’n spieël kyk. 24 Hy kyk na homself en gaan dan weg en vergeet onmiddellik hoe hy lyk. 25 Maar die een wat diep kyk in die volmaakte wet+ wat tot vryheid lei en wat daarby bly, is nie iemand wat hoor en vergeet nie, maar iemand wat die werk doen, en hy sal gelukkig wees in wat hy doen.+
26 As enigiemand dink dat hy ’n aanbidder van God* is, maar nie sy tong beheer* nie,+ bedrieg hy sy eie hart en is sy aanbidding verniet. 27 Die vorm van aanbidding* wat in die oë van ons God en Vader rein en onbesmet is, is dít: om na weeskinders+ en weduwees+ om te sien wanneer hulle deur moeilike tye gaan+ en om jouself nie deur die wêreld te laat besmet nie.+
2 My broers, julle kan tog nie sê dat julle geloof het in ons glorieryke Here Jesus Christus terwyl julle party voortrek nie, of hoe?+ 2 Sê nou ’n man met pragtige klere en met goue ringe aan sy vingers kom na julle vergadering toe, maar ’n arm man in vuil klere kom ook. 3 Sal julle dan die een met die pragtige klere voortrek deur te sê: “Kom sit hier op ’n goeie plek,” terwyl julle vir die arm man sê: “Bly staan,” of: “Gaan sit daar onder my voetbank”?+ 4 As dit die geval is, het julle dan nie klasseverskille onder julle nie+ en het julle dan nie regters geword wat goddelose oordele uitspreek nie?+
5 Luister, my geliefde broers. Het God nie dié wat in die oë van die wêreld arm is, gekies om ryk in geloof+ te wees en om erfgename te wees van die Koninkryk wat hy belowe het aan dié wat hom liefhet nie?+ 6 Maar julle het die arm mense sonder respek behandel. Is dit nie die rykes wat julle onderdruk+ en julle hof toe sleep nie? 7 Belaster hulle nie die goeie naam wat aan julle gegee is nie? 8 Julle doen heel goed as julle gehoorsaam is aan die koninklike wet wat in die Skrif opgeteken is: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”+ 9 Maar as julle aanhou om mense voor te trek,+ pleeg julle ’n sonde en word julle deur die wet as oortreders veroordeel.+
10 Want as iemand al die gebooie van die Wet gehoorsaam behalwe een, het hy ’n oortreder ten opsigte van die hele Wet geword.+ 11 Want die een wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,”+ het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.”+ As jy nie egbreuk pleeg nie maar wel moord pleeg, het jy ’n oortreder van die wet geword. 12 Praat en gedra julle soos mense wat geoordeel gaan word deur die wet van ’n volk wat vry is.*+ 13 Want wie nie genade betoon nie, sal sy oordeel sonder genade kry.+ Om genade te betoon is beter as om te oordeel.
14 My broers, wat help dit as iemand sê dat hy geloof het, maar hy het nie werke nie?+ Daardie soort geloof kan hom tog nie red nie, of hoe?+ 15 As broers of susters nie klere het nie* en nie genoeg kos vir die dag het nie, 16 en tog sê een van julle vir hulle: “Gaan in vrede. Bly warm en sorg dat jy genoeg eet,” maar julle gee hulle nie wat hulle liggaam nodig het nie, wat help dit?+ 17 So is geloof sonder werke ook dood.+
18 Maar iemand sal sê: “Jy het geloof, en ek het werke. Wys my jou geloof sonder die werke, en dan sal ek jou my geloof deur my werke wys.” 19 Glo jy dat daar een God is? Jy doen heel goed. En tog glo die demone ook, en hulle bewe van vrees.+ 20 Maar jy, o leë mens, wil jy bewyse hê dat geloof sonder werke niks beteken nie? 21 Is Abraham, ons vader, nie regverdig verklaar as gevolg van werke nadat hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie?+ 22 Jy kan sien dat sy geloof met sy werke saamgewerk het en dat sy geloof deur sy werke tot volmaaktheid gebring is,+ 23 en die Skrifgedeelte is vervul wat sê: “Abraham het geloof in Jehovah* gestel, en daarom is hy as regverdig beskou”,+ en hy is Jehovah* se vriend genoem.+
24 Julle kan sien dat ’n mens regverdig verklaar sal word deur werke en nie net deur geloof nie. 25 Is Ragab, die prostituut, nie ook as gevolg van werke regverdig verklaar nadat sy die boodskappers gasvry ontvang het en hulle met ’n ander pad weggestuur het nie?+ 26 Ja, soos die liggaam sonder gees* dood is,+ so is geloof sonder werke ook dood.+
3 Nie baie van julle moet onderrigters word nie, my broers, want julle weet dat ons ’n swaarder* oordeel sal ontvang.+ 2 Want ons almal struikel dikwels.*+ As iemand nie struikel in wat hy sê nie, is hy ’n volmaakte mens, wat ook sy hele liggaam in toom kan hou. 3 As ons ’n toom in ’n perd se bek sit sodat dit ons sal gehoorsaam, beheer ons ook die perd se hele liggaam. 4 Dink ook aan skepe: Al is hulle so groot en word hulle deur sterk winde aangedryf, word hulle deur ’n baie klein roer gestuur in enige rigting waarin die stuurman wil gaan.
5 So ook is die tong ’n klein liggaamsdeel, en tog kan dit baie grootpraat. Kyk wat ’n klein vuurtjie is nodig om ’n groot woud aan die brand te steek! 6 Die tong is ook ’n vuur.+ Die tong verteenwoordig ’n wêreld van onregverdigheid onder ons liggaamsdele, want dit maak die hele liggaam onrein+ en steek iemand se hele lewe* aan die brand, en dit word deur Gehenʹna* aan die brand gesteek. 7 Want elke soort wilde dier en voël en reptiel* en seedier kan deur mense mak gemaak word en is al mak gemaak. 8 Maar geen mens kan die tong mak maak nie. Dit kan nie beheer word nie en is skadelik, vol dodelike gif.+ 9 Met die tong loof ons Jehovah,* die Vader, en met dieselfde tong vervloek ons mense wat “na die beeld van God” gemaak is.+ 10 Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking.
My broers, dit is nie reg dat sulke dinge gebeur nie.+ 11 Vars* water en bitter water kan tog nie uit dieselfde fontein uitborrel nie, of hoe? 12 My broers, ’n vyeboom kan tog nie olywe voortbring of ’n wingerdstok vye nie, of hoe?+ Sout water kan ook nie vars water voortbring nie.
13 Wie is wys en verstandig onder julle? Laat hy dit bewys deur sy goeie gedrag, deur alles te doen met sagmoedigheid wat van wysheid getuig. 14 Maar as julle bittere jaloesie+ in julle harte het en daarvan hou om te stry,*+ moet julle nie grootpraat+ en teen die waarheid lieg nie. 15 Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie. Dit is wêrelds,+ dierlik en demonies. 16 Want waar daar jaloesie en ’n stryery* is, is daar geen orde nie en is daar allerhande walglike dinge.+
17 Maar die wysheid van bo is in die eerste plek rein,+ dan vreedsaam,+ redelik,+ bereid om te gehoorsaam, vol genade en goeie vrugte,+ onpartydig+ en nie skynheilig nie.+ 18 Wat meer is, die vrug van regverdigheid word onder vreedsame toestande gesaai+ vir* dié wat vrede maak.+
4 Waar kom die oorloë en bakleiery onder julle vandaan? Kom dit nie uit julle vleeslike begeertes wat ’n stryd in julle* voer nie?+ 2 Julle wil dinge hê, en tog het julle dit nie. Julle hou aan om moord te pleeg en om te begeer wat aan ander behoort, en tog kan julle niks kry nie. Julle hou aan om te baklei en oorlog te voer.+ Julle het niks omdat julle nie vra nie. 3 Wanneer julle wel vra, ontvang julle nie, want julle vra met verkeerde motiewe. Julle wil julle vleeslike begeertes daarmee bevredig.
4 Julle ontroues,* weet julle nie dat vriendskap met die wêreld vyandskap met God is nie? Elkeen wat ’n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ’n vyand van God.+ 5 Of dink julle dat die Skrifgedeelte verniet sê: “Die gees wat in ons kom woon het, brand van begeerte en jaloesie”?*+ 6 Die onverdiende goedheid wat Hy gee, is egter groter. Daarom sê dit: “God staan die hoogmoediges teë,+ maar hy gee onverdiende goedheid aan die nederiges.”+
7 Onderwerp julle dan aan God,+ maar staan die Duiwel teë,+ en hy sal van julle af wegvlug.+ 8 Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.+ Reinig julle hande, julle sondaars,+ en suiwer julle harte,+ julle besluiteloses. 9 Wees baie hartseer, treur en huil.+ Laat julle gelag in ’n getreur verander word en julle vreugde in ’n gevoel van hopeloosheid.* 10 Wees nederig in die oë van Jehovah,*+ en hy sal julle verhoog.+
11 Hou op om teen mekaar te praat, broers.+ Iemand wat teen ’n broer praat of sy broer oordeel, praat teen die wet en oordeel die wet. As jy die wet oordeel, is jy ’n regter en doen jy nie wat die wet sê nie. 12 Daar is net een wat Wetgewer en Regter+ is, die een wat kan red en vernietig.+ Maar jy, wie is jy om jou naaste te oordeel?+
13 Luister nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié stad reis en ’n jaar daar bly, en ons sal besigheid doen en wins maak,”+ 14 terwyl julle nie weet hoe julle lewe môre sal wees nie.+ Want julle is ’n mis wat vir ’n klein rukkie verskyn en dan verdwyn.+ 15 Julle behoort eerder te sê: “As Jehovah* wil,+ sal ons lewe en dit of dat doen.” 16 Maar nou is julle trots op julle arrogante grootpratery. Al sulke grootpratery is baie sleg. 17 As iemand dan weet hoe om te doen wat reg is en dit tog nie doen nie, is dit vir hom ’n sonde.+
5 Luister nou, julle rykes, huil en treur oor die swaarkry wat oor julle kom.+ 2 Julle rykdom het verrot, en julle klere is deur motte gevreet.+ 3 Julle goud en silwer het weggeroes, en hulle roes sal as ’n getuienis teen julle wees en sal julle* verteer. Wat julle opgegaar het, sal in die laaste dae soos ’n vuur wees.+ 4 Kyk! Die betaling wat julle teruggehou het van die werkers wat julle landerye geoes het, hou aan om uit te roep. Die hulpgeroep van dié wat oes, het die ore van Jehovah* van die leërmagte bereik.+ 5 Julle het in weelde op die aarde gelewe en julle begeertes bevredig. Julle het julle harte vet gevoer vir die dag waarop julle geslag sal word.+ 6 Julle het die regverdige veroordeel, julle het hom vermoor. Staan hy julle nie teë nie?
7 Wees dan geduldig, broers, tot die teenwoordigheid van die Here.+ Kyk! Die boer wag vir die kosbare vrug van die aarde en is geduldig totdat die vroeë reën en die laat reën kom.+ 8 Julle moet ook geduldig wees.+ Maak julle harte standvastig, want die teenwoordigheid van die Here is naby.+
9 Moenie oor mekaar kla* nie, broers, sodat julle nie geoordeel word nie.+ Kyk! Die Regter staan voor die deur. 10 Broers, neem die profete, wat in die naam van Jehovah* gepraat het,+ as ’n voorbeeld. Hulle het baie gely+ en het geduldig volhard.+ 11 Kyk! Ons noem dié wat volhard het, gelukkig.*+ Julle het gehoor van die volharding van Job+ en het gesien hoe Jehovah* dit laat afloop het,+ dat Jehovah* baie liefdevol* en genadig is.+
12 Bo alles, my broers, hou op om te sweer, ja, of dit nou by die hemel of by die aarde of enige ander eed is. Maar laat julle “ja” ja beteken en julle “nee”, nee,+ sodat julle nie geoordeel word nie.
13 Kry iemand onder julle swaar? Laat hom aanhou bid.+ Is iemand vrolik? Laat hom psalms sing.+ 14 Is iemand onder julle siek? Laat hom die ouermanne van die gemeente na hom toe roep,+ en laat hulle oor hom bid en in die naam van Jehovah* olie aan hom smeer.+ 15 Die gebed van geloof sal die een wat siek* is, gesond maak, en Jehovah* sal hom laat opstaan. En as hy sondes gepleeg het, sal hy vergewe word.
16 Bely dus julle sondes openlik aan mekaar+ en bid vir mekaar, sodat julle genees kan word. Die smeekgebede van ’n regverdige man het ’n kragtige uitwerking.+ 17 Eliʹa was ’n mens met gevoelens soos ons s’n, maar nadat hy opreg gebid het dat dit nie moet reën nie, het dit drie jaar en ses maande lank nie in die land gereën nie.+ 18 Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die land het vrug voortgebring.+
19 My broers, as iemand onder julle mislei word om die waarheid te verlaat en ’n ander een help hom om terug te kom, 20 weet dan dat die een wat ’n sondaar van sy verkeerde weg laat terugdraai,+ hom* van die dood sal red en baie sondes sal bedek.+
Of “fout te vind”.
Sien Aanh. A5.
Lett. “spog”.
Sien Aanh. A5.
Of “asof met aas gevang”.
Lett. “bevrug is”.
Of “eerstelinge”. Sien Woordelys.
Of moontlik “en die oorvloed van slegtheid”.
Of “godsdienstig”.
Of “in toom hou”.
Of “Die godsdiens”.
Lett. “wet van vryheid”.
Lett. “kaal is”.
Sien Aanh. A5.
Sien Aanh. A5.
Of “asem”.
Of “strenger”.
Of “maak dikwels foute”.
Lett. “die wiel van die geboorte (oorsprong)”.
Sien Woordelys.
Of “kruipende dier”.
Sien Aanh. A5.
Lett. “Soet”.
Of moontlik “selfsugtige ambisie het”.
Of “selfsugtige ambisie”.
Of moontlik “deur”.
Lett. “julle liggaamsdele”.
Of “Egbreeksters”.
Of “afguns”.
Of “in terneergedruktheid”.
Sien Aanh. A5.
Sien Aanh. A5.
Lett. “julle vlees”.
Sien Aanh. A5.
Lett. “teen mekaar sug”.
Sien Aanh. A5.
Of “geseënd”.
Sien Aanh. A5.
Sien Aanh. A5.
Of “baie teer in geneentheid”.
Sien Aanh. A5.
Of moontlik “moeg”.
Sien Aanh. A5.
Of “sy siel”.