“Kom ons drink ’n glasie Horchata de Chufas!”
JY IS heel waarskynlik nie bekend met hierdie uitnodiging nie. As jy egter in Spanje woon, en veral aan die oostelike kusstreek, ken jy dit ongetwyfeld. Die hele jaar deur, maar veral gedurende die warm somerdae, geniet baie mense hierdie soet, maar tog verfrissende, nie-alkoholiese drankie, die unieke horchata de chufas!
Selfs baie Spanjaarde sal verbaas wees om te weet dat horchata van amandels en pampoen- of waatlemoenpitte, sowel as van rys, appelkose, appels, kersies, korente, suurdruiwesap, moerbeie, pruime en soethout berei kan word. Spanjaarde beskou chufas egter gewoonlik as die basiese bestanddeel van die drankie.
Maar wat is chufas? Chufas is aard- of grondamandels of biesieneute, en dié term is by uitstek van toepassing op elk van die klein ondergrondse neutagtige knolle van die Europese rietgrasplant (Cyperus esculentus). Hulle word sowat vyf tot agt sentimeter onder die grondoppervlak aangetref. Die rietgrasplant word van Julie tot Oktober gekweek, nie net in Spanje nie, maar ook in die Midde-Ooste en in Noord-Afrika. Die Arabiere het dit daarvandaan na Spanje gebring. Hoewel dit aanvanklik in die suide van die land geplant is, is daar geen plek wat meer geskik is vir die kweek daarvan as die besproeide velde van Valencia aan Spanje se Middellandse kus nie, waar dit in groot hoeveelhede verbou word.
Hoe berei ons horchata? Die chufas word etlike ure geweek, maar elke bereider van horchata huldig sy eie mening oor presies hoe lank. Dit laat die chufas opswel, aangesien hulle ’n groot hoeveelheid water absorbeer. Nou het dit tyd geword om hulle fyn te maak, onderwyl nog water bygevoeg word. Nadat hulle fyngemaak is, word die sagte massa in ’n houer geplaas en deeglik gemeng. Dan word dit sowat 15 minute gelaat, waarna dit gepars word om die stroop van die vlesige dele te skei. Later word die stroop gefiltreer en suiker bygevoeg (ongeveer een kilogram vir elke kilogram droë chufas).
Sommige voeg ook kaneel, gerasperde suurlemoenskil of moontlik selfs ’n bietjie lemoenbloeiselwater by. Nadat die drankie berei is, moet dit onmiddellik deur verkoeling gepreserveer word, maar nooit langer as 48 uur nie; anders sal die ensieme in die chufas begin werk en die smaak verander. Indien jy dit as ’n gewone drankie wil geniet, moet dit tot tussen drie en vier grade Celsius verkoel word, maar as ’n ysdrankie verkies word, moet dit by ongeveer minus een graad Celsius bewaar word.
Horchata de chufas is ’n verfrissende, soet, voedsame drankie. As jy dus ooit die geleentheid het om Spanje se oostelike kusstreek te besoek, aanvaar gerus die uitnodiging: “Kom ons drink ’n glasie horchata de chufas!”—Bygedra.