Betaal dit om eerlik te wees?
OMDAT jongmense so baie oneerlikheid onder volwassenes sien, volg hulle dikwels die volwassenes se voorbeeld. Hoe verfrissend—en opmerklik—is dit dan as iemand eerlik is! Sports Illustrated het so ’n voorbeeld van eerlikheid gemeld met die kommentaar: “Hier is ’n verslag om ’n mens se vertroue te herstel.”
Die tydskrif het verslag gelewer oor ’n jeugbofbalwedstryd in Florida, in die Verenigde State. Die veldwerker by die eerste bof het ’n grondbal gevang en het probeer om met die bal aan die hardloper te raak wat van die eerste na die tweede bof gehardloop het. Die skeidsregter, Laura Benson, het beslis dat die hardloper uit is, maar die veldwerker by die eerste bof het vir haar gesê: “Juffrou, ek het nie met die bal aan die hardloper geraak nie.” Benson het die hardloper dus toegelaat om na die tweede bof te gaan.
Dieselfde seun was twee weke later gedurende ’n ander wedstryd in ’n soortgelyke taktiese beweging betrokke. Benson was weer die skeidsregter. Sy het hierdie keer gedink dat die seun nie met die bal aan die hardloper geraak het nie, en sy het die hardloper op die bof toegelaat. Hoewel die seun niks gesê het toe hy na sy posisie teruggekeer het nie, het sy agtergekom dat iets skort deur die manier waarop hy na haar gekyk het. Sy het dus na hom gegaan en hom gevra: “Het jy met die bal aan die hardloper geraak?”
“Ja”, het hy gesê.
Toe Benson haar besluit terugtrek en beslis dat die hardloper uit is, het die verdedigende span se afrigters geprotesteer. Maar sy het verduidelik wat twee weke vantevore gebeur het en het gesê: “As ’n kind so eerlik is dan moet ek in sy guns beslis.”
Dit lyk vandag asof diegene wat oneerlik is in die wêreld floreer. Dit is soos ’n Bybelpsalmis eenkeer gesê het: “Kyk, so is die goddelose mense, en altyd onbesorg vermeerder hulle die rykdom!” (Psalm 73:12). Maar in werklikheid betaal eerlikheid uiteindelik die beste dividende. Dit verdien vir jou die respek van jou medemens. Maar nog belangriker, dit bring jou in Jehovah God se guns wat ’n mens met die ewige lewe kan beloon.