Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 1/8 bl. 6-8
  • Deel 1c-Die kern van geldsorge

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Deel 1c-Die kern van geldsorge
  • Ontwaak!—1992
  • Soortgelyke materiaal
  • Die lewe in Bybeltye—Geld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • ’n Gebalanseerde beskouing van geld
    Ontwaak!—2015
  • Geld
    Ontwaak!—2014
  • Deel 3—Hebsugtige handel wys sy kleure
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 1/8 bl. 6-8

Die Opkoms En Ondergang Van Wêreldhandel

Deel 1c-Die kern van geldsorge

SEKERE godsdiens- en politieke elemente van die mensegemeenskap kan teruggevoer word tot die dae van Nimrod, wat Babilon duisende jare gelede opgerig het. Dit is ook waar, hoewel dit miskien nie so bekend is nie, van sekere elemente in die sake- en handelswêreld.—Genesis 10:8-12.

Die mens se Skepper, die Een wat met reg standaarde vir goed en sleg bepaal, kon maklik ’n ekonomiese stelsel ontwerp het wat op regverdige wyse kon voorsien in die behoeftes van die groot mensefamilie wat hy in die vooruitsig gestel het. Maar toe die eerste paartjie goddelike leiding verwerp het en uit die Paradys uitgedryf is, moes mense vir hulleself sorg (Genesis 3:1-24). Mense het vervolgens sonder goddelike leiding hulle eie soort godsdiens en hulle eie soort regering ontwikkel. En toe dit duidelik word dat die een of ander stelsel van huishoudelike bestuur nodig was om in die materiële behoeftes van hulle groeiende familie te voorsien, het hulle begin om dit wat ons ’n ekonomiese stelsel noem, te ontwikkel. Hulle het dit ook sonder goddelike leiding gedoen.

Die basis vir so ’n stelsel was blykbaar teen die tyd van Nimrod (ca. 2270 v.G.J.) goed gevestig. The Collins Atlas of World History verduidelik dat “Mesopotamië [Babilon] van die derde millennium af magtige korporasies sakemanne ontwikkel het. Hulle het goedere in voorraad gehou, gespekuleer, verskillende goedere as betaalmiddel gebruik, en stawe, veral van silwer, gebruik wat in bepaalde gewigte en groottes gesny is en partykeer gewaarmerkte tekens gehad het.” The Encyclopedia Americana sê dat die antieke inwoners van Sinear—die oorspronklike naam vir die gebied wat later Babilonië genoem is—“’n verbasend komplekse stelsel gehad het om uit te leen, te leen, geld in deposito te hou en kredietbriewe te voorsien”.

’n Gebruik wat blykbaar eie aan Mesopotamië was, was die gebruik van kapitaal as ’n handelsartikel en die berekening van rente vir die gebruik daarvan. Geld het dus ’n middel geword waardeur ekonomiese druk uitgeoefen kon word. Verslae wat in die ruïnes van Babilon opgegrawe is, onthul saketransaksies wat die teëspoed van party van sy burgers uitgebuit het. Die moderne gebruik om ten koste van ander onregverdig wins te maak, was selfs toe baie algemeen. Dit is dus geen wonder dat daar dikwels met haat en minagting van die handelaars van Babilon en Nineve gepraat is nie.

Daar word nie direk in die Bybel melding gemaak van handelsbedrywighede in Nimrod se dag nie. Maar uitdrukkings wat in die eerste boek van die Bybel gevind word, soos om “te koop”, te “verkoop” en ‘sake te doen’, dui aan dat handelsbedrywighede ten minste ’n paar honderd jaar later alledaags was.—Sien Genesis 25:31; 34:10, 21, NW; 39:1; 41:56, 57.

Dit is ook waar dat spykerskriftekste vir ’n lang tydperk nie melding maak van handelsbedrywighede in die Babiloniese gemeenskap nie. Die boek Ancient Mesopotamia, wat erken dat dit moeilik is om dit te verduidelik, maak nietemin die gevolgtrekking dat “’n mens nie kan aanneem dat handelsbetrekkinge deur daardie millennium opgehou het nie, veral omdat dit bekend is dat handelsbetrekkinge in die daaropvolgende periode grootliks gefloreer het”. Hierdie werk suggereer dat dit hoofsaaklik die Arameërs was wat op daardie tydstip die handel beheer het, en dat papirus en leer as skryfbehoeftes gebruik is.

Beide Mesopotamië en Egipte was bekend vir hulle karavaanhandel. Die Fenisiërs het later in groot mate landhandel met handel deur middel van seeroetes vervang. Die hawens van Carthago, Tirus en Sidon het bekende handelsentrums geword. Handel het berus op die uitruiling van goedere vir goedere tot ongeveer die agtste eeu v.G.J., toe die Grieke gemunte geld as ruilmiddel begin gebruik het. En volgens The Collins Atlas of World History “is die eeue wat gevolg het [500 v.G.J.] so deur die ontwikkeling van handel, geld, banke en vervoer gekenmerk dat verskeie geskiedkundiges dit met die kapitalistiese era vergelyk het, ’n mening wat, hoewel dit ’n bietjie oordryf is, verstaanbaar is”.

Ekonomiese stelsels is eintlik van die begin af op geld gegrond. Hoewel God die behoorlike gebruik daarvan toelaat, laat hy nie die onbehoorlike gebruik daarvan toe nie (Prediker 7:12; Lukas 16:1-9). ’n Onmatige begeerte om geld te besit, het veroorsaak dat mense geregtigheid verdraai, vriende verraai, die waarheid vervals en selfs moord pleeg. Maar let op dat die fout nie by geld op sigself lê nie, maar by die gierige siening van mense wat dit begeer. Dit is in elk geval nie oordrywing om te sê dat ‘die wêreld om geld draai’ nie, of dat dit dit al duisende jare lank op verskeie maniere doen nie.—Sien venster, bladsy 7.

In die voor-Christelike eeue is die grondslag dus gelê vir baie van die handels- en ekonomiese verskynsels waarmee ons vandag bekend is. Maar ten spyte van sy lang geskiedenis is die handelswêreld nie in staat om onfeilbare ekonomiese stelsels te ontwikkel wat kommer kan uitskakel nie. Maar daar is nie rede vir wanhoop nie. ’n Einde aan geldsorge is in sig. Ons sal in ons volgende vyf uitgawes verder verduidelik.

[Lokteks op bladsy 8]

’n Onmatige begeerte na geld het veroorsaak dat baie mense geregtigheid verdraai, vriende verraai, die waarheid vervals en moord pleeg

[Venster/Prent op bladsy 7]

Van sout tot plastiek

Sout:

Soutrantsoene is vir Romeinse soldate gegee, maar hierdie rantsoene is later deur geld, of salarium, vervang. Vee (pecus) was ’n ruilmiddel in antieke Rome. Van hierdie Latynse woorde is die term “salaris” en die Engelse woord “pecuniary” (geldelik) afgelei.

Metale:

In antieke Mesopotamië (18de tot 16de eeu v.G.J.) is silwer gereeld in saketransaksies gebruik. Koper, silwer en goud is in antieke Egipte gebruik. Hans Bielenstein, professor in Chinese geskiedenis, skryf dat koper gedurende China se Ming-dinastie (1368-1644 G.J.) “die standaard vir kleiner waarde-eenhede [van geld] was, terwyl silwer al hoe meer vir die hoër waarde-eenhede gebruik is”.

Muntstukke:

Skyfies van standaardgewig en -waarde, wat gemaak is van ’n natuurlike allooi van goud en silwer, naamlik elektrum, is gedurende die sewende eeu v.G.J. deur die Lidiërs van Anatolië geproduseer en was waarskynlik die eerste werklike muntstukke; die slaan van muntstukke het ongeveer ’n eeu later in Griekeland ontwikkel.

Papier:

Die wêreld se eerste papiergeld het in 1024 in China verskyn, toe ongeëwenaarde kommersiële ontwikkeling tot ’n muntstuktekort gelei het. Professor Bielenstein sê: “Proefnemings met papiergeld is reeds in 811 gedoen, in T’ang-tye. Die regering het toe geldwissels uitgereik wat in transaksies gebruik en mettertyd vir kontant verruil kon word.” Baie nasies het, met Engeland aan die voorpunt in 1821, die goudstandaard aangeneem, wat beteken het dat burgers enige tyd papiergeld vir die goud self kon wissel wat in reserwe gehou is deur hulle regerings. Maar vandat regerings die goudstandaard laat vaar het, verklaar hulle tans net dat hulle geld waarde het, sonder enigiets tasbaars wat dit rugsteun.

Tjeks:

Tjeks wat gedurende die 17de eeu deur Engelse bankiers ontwikkel is, is geskrewe orders vir die betaling van geld deur ’n bank; hierdie metode van sake, wat veilig en gerieflik is, het baie gewild en algemeen geword.

Plastiek:

Kredietkaarte, wat deur party mense plastiekgeld genoem word, is in die twintigerjare in die Verenigde State bekend gestel en het gou ingang gevind by mense oor die hele wêreld. Maar die gerief en ander voordele wat dit bied, word gedeeltelik ongedaan gemaak deur die gevare van begeerkope en ’n lewe bo jou inkomste.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel