Ons het ’n moordenaar se bom oorleef
SONDAGOGGEND, 21 Julie 1985, het na ’n fris, midwintersdag gelyk terwyl Jehovah se Getuies en vriende die Casula-Koninkryksaal in ’n westelike voorstad van Sydney, Australië, begin vul het. David Winder, die besoekende spreker, het om 9:35 vm. sy toespraak oor Christelike lojaliteit begin. Ons het net na tienuur met geboë hoofde in ons Bybels gevolg terwyl hy Johannes 6:68 hardop gelees het.
Hy het die voorlesing nooit voltooi nie. ’n Geweldige ontploffing van onder die verhoog het hom byna sterwend op die grond laat ineenkrimp. ’n Vriend van ons, Graham Wykes, ’n eggenoot en ’n vader, is op slag dood. Baie ander is beseer, party baie ernstig. Sulke moedswillige wreedheid in ’n plek van aanbidding het selfs ’n geharde wêreld geskok. Terwyl die nuus bekend gemaak is, het Australiërs in ongeloof vasgenael voor hulle TV’s en radio’s gesit.
Onmiddellike reaksies
Onmiddellik na die ontploffing was daar vir ’n oomblik stilte. Ek dink dat die meeste van ons verstom en verbysterd was en verskrik rondgekyk het omdat ons nie kon praat of die ongerymdheid van wat toe net plaasgevind het, kon aanvaar nie. Die lug was vol stof. Die hele toneel het soos ’n slagveld gelyk en geruik. Kinders het begin huil, en party het van skok begin skree. Later het een waarnemer, ’n taxibestuurder, gesien hoe ’n “onbekende meisie wat waarskynlik ’n pragtige gesig gehad het in ’n ambulans gelaai word met die helfte van haar gesig wat weggeblaas is”.a Daardie onbekende meisie was my vrou, Sue.
Sue het haar bewussyn verloor toe ’n voorwerp van die verhoog af haar reg in haar gesig getref het. My oortrommels het onmiddellik gebars. Die ontploffing het vir my geklink asof iemand ’n lugslang in my kop oopgedraai het—daar was geen slag nie, net ’n skielike, onuitstaanbare gesuis terwyl alles grys geword het. Terwyl ons in die tweede ry sitplekke was, het die spreker feitlik bo-op die bom gestaan, wat onder die houtverhoog versteek was.
Ek het instinktief met my hande oor my kop gekoets uit vrees vir vallende puin. Die volgende paar sekondes het soos minute gevoel. Ek het toe besef dat daar ’n bomaanval op ons saal was, en ’n aaklige voorgevoel het my beetgepak, want Sue het net in die puin en stof verdwyn. Terwyl ek “Susie, Susie!” uitgeroep het, het ’n warboel van vrae deur my gedagtes gegaan: ‘Is sy dood? Wat van David—en die res? Is ek beseer?’
Plafonpanele, plastiekstoele, houtsplinters, sakke en geskeurde Bybels en tydskrifte het orals rondgelê. Verbysterde gesigte, baie wat bloei en party vol splinters, het uit die puin te voorskyn begin kom. Die meeste van diegene wat in die agterste gedeelte van die saal gesit het, het, buiten oortrommelskade, geen beserings gehad nie.
My vrou se nagmerrie
Ek het Sue gekry toe ek haar stewels onder ’n groot, maar gelukkig baie ligte, plafonteël sien uitsteek het. Toe ek dit eenkant toe gooi, was ek nie voorberei vir dit wat ek gesien het nie. Sue se bolip was horisontaal geskeur onder ’n vergruisde neus en het naby haar ken gehang. Haar voortande was gebreek, en toe ek die skade aan en om haar oë sien, het ek gevrees dat sy dalk haar sig verloor het. Haar hare was ’n deurmekaar massa van bloed, stof en splinters, en dit het gelyk asof haar linkerboarm sleg gesny was. Ek was egter verlig om te sien dat daar geen swaar bloeding was nie. Maar ek het later uitgevind dat ek my misgis het. Oomblikke nadat ek haar kop en skouers van die puin af opgelig het, het sy my naam swak uitgeroep. Ek het haar probeer kalmeer, omdat ek verkeerdelik gedink het dat sy bewus geword het van wat gebeur het. Sue het later gesê: “Ek het gedink dat ek tuis in die bed was en ’n nagmerrie gehad het en ek wou verskriklik graag hê dat Peter my moes wakker maak.” Dit het gelyk asof sy haar bewussyn verloor en dan weer bykom, en ek wou haar nie alleen laat nie, maar ek het hulp nodig gehad.
’n Ander Getuie, in ’n geskokte toestand, wat sonder twyfel deur die gesig van my vrou vererger is, het onsamehangend gepraat terwyl sy na ons toe geloop het. Ek het met my vry arm gewys dat sy moet afbuig sodat ek met haar kon praat. Sy het met haar oë op Sue gerig, afgebuig en my haar hand gegee. Ons het toe ’n kort gebed saam gedoen en Jehovah gesmeek om ons wysheid en krag te gee om dit te deurstaan. Toe ons amen sê, het sy, hoewel sy nog tranerig was, haar kalmte heeltemal herwin. Ek het haar gevra om iets te kry wat as ’n kussing vir Sue kon dien.
Verbasende oorlewings
Toe die bom ontplof het, het jong Paul Hahn reg voor my en ongeveer twee meter van die klavier af gesit. Die ontploffing het die klavier in die lug geslinger, en ’n groot deel daarvan het op Paul geval en ’n groot stuk vlees uit sy bobeen geruk. Sy pragtige voortande, wat kort vantevore nog in draadjies was, was gebreek. Joy Wykes, wie se man in die ontploffing gesterf het, het daar naby gelê, met ’n ernstige kopbesering asook ander wonde. Twee van haar dogters was ook beseer.
Van diegene wat ernstig beseer was, was David Winder, die spreker, die merkwaardigste oorlewende. Die bom het hom en puin van die verhoog af reg deur die opening geslinger waar die dak net oomblikke vantevore was. Hy het feitlik op dieselfde plek waar hy gestaan het, teruggeval. Hy was nog by sy bewussyn, maar in ’n toestand van geweldige skok. Aangesien sy voete en die onderste deel van sy bene vermink was, het party gedink dat hy nooit weer sal kan loop nie. Vandag dra hy enkelstutte wat hom in staat stel om te loop. Van sy klere is in ’n nabygeleë bloekomboom gevind. Die spreker se rostrum is drie huise daarvandaan in ’n buurman se agterplaas gevind. David was in ’n kritieke toestand as gevolg van hewige bloedverlies. Hy is per helikopter hospitaal toe geneem.
Reddingswerkers daag op
Die polisie en ambulanswerkers het baie gou opgedaag, dit moet ek hulle ter ere nagee. Terwyl ambulanswerkers die beseerdes behandel het, het die polisie hulle hande vol gehad. Omdat die ontploffing in ander voorstede gehoor en gevoel is, is paaie wat na die Koninkryksaal gelei het gou deur honderde nuuskierige toeskouers versper, en nuuskameras het oral geflits. Party van ons naaste bure het vriendelik aangebied om te help op enige manier wat hulle kon.
Ambulanse is gou gevul en het begin om die beseerdes na plaaslike hospitale te neem. Hospitaalpersoneellede is met afgryse vervul deur die gebeurtenis. Baie plaaslike Getuies het na die hospitale gegaan om vertroosting en ondersteuning te bied. David Winder en Sue is na ’n hospitaal geneem wat spesiaal toegerus is om traumaslagoffers te behandel. Terwyl ek onder algehele verdowing was, het dokters daardie aand in die Liverpool-hospitaal splinters verwyder wat diep in my arm ingesteek het. Ek was baie bekommerd oor my vrou en wou haar die volgende dag sien. Die hospitaal was taamlik besorg oor my, maar het my daardie middag ontslaan sodat ek by Sue kon wees.
Die bloedkwessie duik op
Ek het haar in die waaksaal gekry, en toe ek haar vir die eerste keer van die voetenent van haar bed af sien, het ek gehuil. ’n Erg verkleurde gesig, wat geswel is en onherkenbaar misvorm is, het my begroet. ’n Klomp steke, wat soos klein swart ritssluiters gelyk het, het haar gesig aanmekaar gehou.
Sue kon nie sien nie, omdat haar oë so toegeswel was dat selfs haar wimpers nie uitgesteek het nie. Aan haar gesig was haar neus, bokaak, kies en die bene van haar oogkasse vergruis. Maar die groot gevaar was die feit dat ’n deel van haar skedel net bo die brug van haar neus teruggestamp is, wat ’n slagaar laat bars het. Terwyl sy bewusteloos en onder die puin begrawe was, het bloed ongesiens in haar maag ingevloei. Haar bloedtelling het tot ses gedaal. (Die gemiddelde bloedtelling vir ’n vrou is ongeveer 14.)
Bloedoortapping het onmiddellik ’n geskil geword, en dit het uiteindelik op ’n dooie punt uitgeloop met die chirurg. Hy het vir Sue gesê dat haar weiering om ’n oortapping toe te laat, indien dit nodig is, sy hande afkap. Sue het hom verseker dat ons albei dit besef en dat ons “enige redelike alternatiewe prosedure sou aanvaar, maar ons versoek om ons ‘van bloed te onthou’ was nie onderhandelbaar nie” (Handelinge 15:28, 29). Hy wou dit nie aanvaar nie.
Toe het hy haar sielkundig begin teister. Sue is gevra of sy enige kinders het, en toe sy sê: “Nee”, was die antwoord: “Dit is goed so, want hulle sal ’n lelike ma hê.” Hy het ook met Sue gepraat oor die moontlikheid dat ek miskien van haar sal wil skei oor haar gesig. Sue se reaksie? “Dit was baie ontstellend. Ek was vasbeslote dat ek die chirurg, hoewel hy my op sy eie manier so goed as moontlik wou laat lyk, nie sou toelaat om my gewete te vertrap nie.” Sy hardvogtige treitering oor ’n bloedoortapping het net die spanning verhoog en kosbare tyd vermors. Gedurende hierdie traumatiese tydperk het die deernisvolle en tere sorg wat Sue van al die lede van die verpleegpersoneel gekry het ’n skerp kontras hiermee gevorm. Hulle het ons respek afgedwing.
Dit was nou 11 dae na die ontploffing plaasgevind het. Sue se gesigsbene was op daardie kritieke stadium wanneer hulle sou begin aangroei, maar op die verkeerde plekke. Sy het dringend ’n operasie nodig gehad! Haar dokter het op sy volgende rondte in ’n finale uitbarsting van woede uitgeroep: “Ek sal nie aan haar raak nie!” en toe weggeloop. Dit was die angsvolste oomblik van ons lewe. Maar as ons nou daaraan dink, besef ons dat die chirurg se weiering om Sue te behandel ’n seën was.
’n Deernisvolle chirurg
’n Getuie wat ook ’n dokter is, het namens ons met ’n plastiese chirurg gepraat wat ingestem het om Sue te behandel deur ’n alternatiewe tegniek te gebruik. Hoewel dit nie die metode is wat medies verkies word nie, het dit die kwessie van ’n bloedoortapping uitgeskakel. Hierdie chirurg was eerbiedig en vriendelik. Hy het ons respek afgedwing, omdat hy bereid was om sy bes te doen sonder die gebruik van bloed.
Staalskroefpenne, ongeveer agt sentimeter lank, is in Sue se gebreekte gesigsbene ingeskroef. Staalbrûe het hierdie penne in posisie gehou, wat daarvoor gesorg het dat die bene reg aangroei. “Dit was glad nie ’n plesier om te slaap met penne wat ongeveer ses weke lank uit my gesig gesteek het nie!” erken Sue. Haar vergruisde bokaak is aan haar onbeskadigde onderkaak met draad vasgeheg om te verseker dat dit reg sou aangroei. Haar reuksin kon nie herstel word nie.
Sue het ’n fyn sin vir humor en, wat belangriker is, sy kon vir haarself lag, byvoorbeeld by die gedagte daaraan dat sy soos ’n ‘wandelende TV-antenne’ gelyk het. Sy sou egter meer as ’n goeie sin vir humor nodig hê, want sy sou vir die volgende twee en ’n half jaar operasies moes ondergaan. Dit het oortrommeloorplantings en omvattende tandheelkundige werk ingesluit.
Lesse wat ons geleer het
Ons het albei baie lesse geleer, waaronder die krag van gebed en dat Jehovah nooit toelaat dat ons meer ly as wat ons kan verduur nie. Toe Sue deur die eerste chirurg met die bloedkwessie gekonfronteer is, het sy erken: “Ek was baie senuweeagtig en hartseer dat daar so ’n konfrontasie moes wees. Ek het elke keer tot Jehovah gebid, en die gevoel van algehele kalmte wat oor my gekom het, was baie gerusstellend. Ek het al gelees van ander Getuies wat iets soortgelyks ondervind het, maar nou het ek dit self ondervind.” Ons het nou meer vertroue dat ons moontlike toetse in die toekoms die hoof sal kan bied, omdat ons gesien het hoe Jehovah ons help in situasies wat ons voorheen as verskriklik beskou het.
Party het vir ons gevra waarom Jehovah toegelaat het dat daar ’n bomaanval op ’n Koninkryksaal is en dat ’n broer sterf. God se volk is deur die geskiedenis heen, en in ons tyd, aan baie wreedhede onderwerp. As Jehovah ’n beskermende heining om hulle geplaas het, soos Satan beweer het Jehovah vir Job gedoen het, sou hulle beweegredes om God te dien inderdaad bevraagteken kon word. Ons het geen grondslag om te dink dat ons bo leed verhewe is—dat God ons altyd, selfs van ‘onvoorsiene gebeurtenisse’, heelhuids daarvan sal laat afkom nie. Ons aanvaarding van lyding, of selfs die verlies van ons lewe vir ons geloofsoortuiging of andersins, beveel ons aanbidding aan as eg, onselfsugtig—nie opportunisties nie.—Prediker 9:11, vgl. NW; Job, hoofstukke 1 en 2; Mattheüs 10:39.
Broederskap in aksie
Ons geestelike vriende het deur hierdie hele tydperk van spanning bewys dat hulle “sterker aanhang as ’n broer” (Spreuke 18:24). Sue verduidelik: “Van my familie het [4000 kilometer] ver gevlieg om gedurende die kritieke eerste twee weke by ons te wees. Dit was so ’n vertroosting om familie en vriende te hê wat by my sit, want ek het dikwels nagmerries gehad.” ’n Eindelose stroom kaartjies, briewe, telegramme en blomme is deur bedagsame broers en susters van hier en oorsee gestuur. Hoe dankbaar was ons tog vir daardie “goue appels op versierde silwerborde” (Spreuke 25:11). Dit het ’n uitstekende getuienis tot gevolg gehad. Dit was inderdaad broederskap in aksie.
Sue voeg by: “Praktiese hulp is ook gegee. Hegte Getuievriende het vrugte en groente wat veral ryk aan yster was, versap. Ons het gevoel dat ons verplig was om die dokters te ondersteun, aangesien ons hulle gevra het om ons wense te respekteer, en in my geval het dit beteken dat my bloed opgebou moes word. Ek het ook ’n ysteraanvulling ontvang.” Baie van ons het nogal bedrewe daarin geword om ’n hele maaltyd in ’n vloeistof te omskep, en Sue het ewe bedrewe daarin geword om dit te drink. (Het jy al ooit probeer om ’n hele maaltyd deur ’n strooitjie te eet?) “Dit het gehelp om my bloedtelling voor die operasie met drie punte op te stoot, en dit het my nuwe chirurg baie verheug”, sê Sue.
Geduld, liefde, gebed, die hulp van God se gees en net die verloop van tyd, sowel as ’n verstandige dieet, het bygedra tot Sue se herstel. Party beserings het hulle merk gelaat en net God se Koninkryksheerskappy sal dit op sy vasgestelde tyd herstel. Wat Sue se gesig betref, vir diegene wat haar goed ken, lyk dit ’n bietjie anders, maar dit strek haar chirurg nogtans tot eer. En vir my is sy nog pragtig.
Ja, ons hoop as Jehovah se Getuies is iets besonders. Dit kan ons deur enige beproewing help. En pleks van die gemeente geestelik te verswak, het hierdie beproewing die bande tussen ons versterk. ’n Belangstellende vriend, wat aanwesig was tydens die bomontploffing, erken met ’n glimlag dat hy ‘in die waarheid in gebombardeer is’. Nadat hy gesien het hoe ’n wrede aanval op vredeliewende gesinne gemaak is, was hy meer vasbeslote om sy Bybelstudie voort te sit.
Niemand is tot op hede aangekla vir die bomaanval nie, maar die polisie het ’n hoofverdagte, vermoedelik ’n wraaksugtige moordenaar wat die Getuies haat. Maar hulle het nie voldoende bewyse om hom aan te kla nie. Hy word van etlike ander misdade verdink.
Nou, meer as ses jaar later, geniet ek en Sue steeds die voorreg om as lede van die Wagtoring-takkantoorpersoneel in Australië te dien. Ons was veral verheug oor die toewyding van ons nuwe snelbou-Koninkryksaal, wat gedurende 22-24 Junie 1990 gebou is, langs die plek waar die ou saal waarin die bom ontplof het, gestaan het. Christelike liefde het een man se blinde haat oorwin.—Soos vertel deur Peter en Sue Schulz.
[Voetnoot]
a The Sydney Morning Herald, 27 Julie 1985.
[Prente op bladsy 10]
’n Onlangse foto van Peter en Sue Schulz
Sue Schulz met haar gesig wat met drade vasgeheg is om die vorm daarvan te herstel
[Prent op bladsy 13]
Die nuwe en groter Koninkryksaal