Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 5/22 bl. 8-12
  • Hulp vir volwasse kinders van alkoholiste

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hulp vir volwasse kinders van alkoholiste
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Ek was nooit werklik ’n kind nie”
  • “Dit moet my skuld wees”
  • “Ek kan niemand vertrou nie”
  • “Ek steek my gevoelens weg”
  • Meer as oorlewing
  • Algehele herstel
  • ’N GEVALLESTUDIE
  • TEN SLOTTE
  • Een van my ouers is ’n alkoholis—Hoe kan ek daarmee saamleef?
    Ontwaak!—1992
  • Hoe kan die gesin help?
    Ontwaak!—1992
  • “’n Antwoord op my gebed”
    Ontwaak!—1992
  • Jy kan probleme te bowe kom wat ’n gesin skade berokken
    Die geheim van gesinsgeluk
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 5/22 bl. 8-12

Hulp vir volwasse kinders van alkoholiste

“As jy in ’n gesin grootgeword het waar daar ’n alkoholis was, moet jy die verdraaide onderrig en emosionele verwarring wat uit daardie opvoeding voortgespruit het, te bowe kom. Dit is onvermydelik.”—Dr. George W. Vroom.

OP DIE slagveld lê ’n ernstig gewonde soldaat en bloei. Hulp daag gou op, en daar word met die beseerde soldaat hospitaal toe gejaag. Die soldaat het dit oorleef, maar sy probleme is nog lank nie verby nie. Sy wonde moet versorg word, en die skok van sy ontbering duur dalk jare.

Vir die kinders van ’n alkoholisouer kan die huis soos ’n slagveld wees waar basiese menslike behoeftes aangeval word. Party kinders word seksueel misbruik; ander word mishandel; baie word emosioneel verwaarloos. “Dit is dieselfde soort intense angs wat ’n kind dalk ervaar wanneer hy hoor hoe bomme om sy huis val of masjiengewere afgevuur word”, sê ’n jong man wat terugdink aan sy kinderjare. Dit is dus geen wonder nie dat baie kinders van alkoholiste dieselfde posttraumatiese spanningsimptome as oorlogsveterane openbaar!

Baie kinders oorleef weliswaar hierdie traumas en verlaat uiteindelik die huis. Maar hulle gaan volwassenheid binne met wonde wat, hoewel dit nie sigbaar is nie, net so werklik en blywend is as dié van die beseerde soldaat. “Ek is nou 60”, sê Gloria, “en my lewe word steeds geraak deur die traumas wat verband hou met die feit dat ek in ’n gesin met ’n alkoholisouer grootgeword het.”

Wat kan gedoen word om sulke mense te help? ‘Deel in hulle smart’, raai die Bybel aan (Romeine 12:15, Phillips). Om dit te doen, moet jy die wonde verstaan wat gewoonlik ontstaan wanneer jy in ’n alkoholisomgewing woon.

“Ek was nooit werklik ’n kind nie”

’n Kind het troeteling, sorg en voortdurende gerusstelling nodig. In ’n alkoholisgesin ontbreek sulke aandag dikwels. In party gevalle word die rolle omgekeer, en daar word van die kind verwag om die ouer te versorg. Albert was byvoorbeeld op 14-jarige ouderdom sy gesin se broodwinner! In die plek van ’n alkoholisouer moes ’n jong meisie, Jan, die meeste huishoudelike take op haar neem. Sy was ook hoofsaaklik die een wat na haar boeties en sussies moes kyk—dit alles het begin toe sy maar ses jaar oud was!

Kinders is nie volwassenes nie, en hulle kan eenvoudig nie soos volwassenes optree nie. Wanneer die rol van ouer en kind omgekeer word, word die grootmenskinders van vandag die onvervulde volwassenes van môre. (Vergelyk Efesiërs 6:4.) Die gesinsraadgewer John Bradshaw skryf: “Hulle word groot en hulle het volwasse liggame. Hulle lyk en praat soos volwassenes, maar binne-in hulle is ’n onversadigbare klein kindjie wie se behoeftes nooit bevredig is nie.” Sulke mense voel dalk soos een Christen gevoel het: “Ek verduur steeds grenslose pyn omdat my mees basiese emosionele behoeftes as kind nie bevredig is nie.”

“Dit moet my skuld wees”

Toe Robert net 13 jaar oud was, het sy pa in ’n ongeluk gesterf. “Ek het probeer om soet te wees”, sê Robert terwyl hy sy oë laat sak. “Ek weet ek het dinge gedoen waarvan hy nie gehou het nie, maar ek was nie ’n slegte kind nie.” Robert het ’n swaar skuldlas oor sy pa se alkoholisme gedra en hy het dit baie jare lank gedra. Robert het die bogaande vertel toe hy 74 was!

Dit is taamlik algemeen vir kinders om die verantwoordelikheid van ’n ouer se alkoholisme op hulle te neem. As ’n kind homself daarvoor blameer, gee dit hom die illusie dat hy beheer oor die situasie het. Soos Janice sê: “Ek het gedink as ek my beter gedra, sal my pa nie weer drink nie.”

Die werklikheid is dat geen kind—of volwassene—iemand anders se drinkery kan veroorsaak, beheer of genees nie. Dit maak nie saak wat daar vir jou vertel is of wat iemand geïnsinueer het nie, as jou ouer ’n alkoholis is, is dit nie jou skuld nie! En miskien moet jy ernstig daaroor dink of jy as volwassene steeds sonder rede verantwoordelik voel vir die optrede en gedrag van ander.—Vergelyk Romeine 14:12; Filippense 2:12.

“Ek kan niemand vertrou nie”

Vertroue word op openhartigheid en eerlikheid gebou. Die alkoholisomgewing word op geheimhouding en ontkenning gebou.

As jongmens het Sara van haar pa se alkoholisme geweet. Tog vertel sy: “Ek het skuldig gevoel om net aan die woord te dink omdat niemand anders in my gesin dit sou sê nie.” Susan vertel ’n soortgelyke verhaal: “Niemand in die gesin het ooit gepraat oor wat aangaan, oor hoe ongelukkig hulle was of hoe kwaad ons vir [my alkoholisstiefpa] was nie. Ek dink ek het my net blind gehou daarvoor.” Die werklikheid van ’n ouer se alkoholisme word dus dikwels in ontkenning gehul. “Ek het geleer om dinge nie raak te sien nie omdat ek genoeg gesien het”, sê Susan.

Vertroue word verder afgebreek deur die alkoholis se wispelturige gedrag. Gister was hy opgewek, maar vandag is hy aggressief. “Ek het nooit geweet wanneer die storm sou losbars nie”, sê Martin, die volwasse kind van ’n alkoholismoeder. Die alkoholis breek beloftes, nie as gevolg van agtelosigheid nie maar eenvoudig as gevolg van alkohol. Dr. Claudia Black verduidelik: “Die beheptheid met drank word die alkoholis se vernaamste prioriteit. Enigiets anders is van minder belang.”

“Ek steek my gevoelens weg”

Wanneer kinders nie maklik aan hulle gevoelens kan uiting gee nie, leer hulle om dit te onderdruk. Hulle gaan skool toe met ’n “glimlag op die gesig en ’n beklemming om die hart”, sê die boek Adult Children—The Secrets of Dysfunctional Families, en hulle waag dit nie om hulle gedagtes met iemand te deel nie uit vrees dat hulle die gesin se geheim sal verklap. Op die oog af gaan alles goed; maar innerlik begin onderdrukte gevoelens te smeul.

Enige pogings van die volwassene om die emosies te onderdruk deur voor te gee dat ‘alles reg is’, misluk gewoonlik. As gevoelens nie in woorde uitgedruk kan word nie, kom hulle dalk somaties te voorskyn—dit wil sê deur maagsere, chroniese hoofpyne, ensovoorts. “Gevoelens het my letterlik verteer”, sê Shirley. “Ek het elke fisiese kwaal gehad waaraan jy kan dink.” Dr. Timmen Cermak verduidelik: “Volwasse kinders verwerk stres deur dit te ontken, maar jy kan nie die natuur flous nie. . . . Die liggaam wat jare lank hoogs gespanne was, begin inmekaarstort.”

Meer as oorlewing

Volwasse kinders van alkoholiste is sterk; die feit dat hulle die trauma van hulle kinderjare oorleef het, getuig daarvan. Maar meer as oorlewing is nodig. Hulle moet nuwe begrippe oor gesinsverhoudings leer. Skuldgevoelens, woede en ’n lae gevoel van eiewaarde moet dalk behandel word. Volwasse kinders van alkoholiste moet hulle krag gebruik om hulle te beklee met wat die Bybel “die nuwe mens” noem.—Efesiërs 4:23, 24; Kolossense 3:9, 10.

Dit is glad nie ’n maklike taak nie. LeRoy, ’n volwasse kind van ’n alkoholis, het 20 jaar lank gesukkel om Bybelbeginsels in sy eie gesin toe te pas. “Toe ek al die liefdevolle raad van die Genootskap deur die Gesinslewe-boek en ander publikasies ontvang het, kon ek nie die raad begryp nie.a Gevolglik was die toepassing van die inligting nie juis ’n sukses nie. . . . Ek het gevoelloos en werktuiglik probeer om reëls te vind en toe te pas, soos die Fariseërs.”—Sien Mattheüs 23:23, 24.

Vir iemand soos LeRoy is eenvoudige versoeke, soos “wees meer liefdevol” of “kommunikeer” of “dissiplineer jou kinders” dalk onvoldoende. Waarom? Omdat ’n volwasse kind dalk nooit hierdie eienskappe of bekwaamhede ondervind het nie. Hoe kan hy dit dan uitdruk of navolg? LeRoy het ’n raadgewer gaan spreek sodat hy die uitwerking van sy vader se alkoholisme kon verstaan. Dit het die weg gebaan vir geestelike vordering. “Hoewel dit ’n uiters pynlike tyd in my lewe was, was dit ’n tyd waarin ek geestelik baie gegroei het”, sê hy. “Vir die eerste keer in my lewe voel ek dat ek waarlik begin verstaan wat die liefde van God is.”—1 Johannes 5:3.

’n Christenvrou, Cheryl, het baat gevind by die hulp van ’n maatskaplike werker wat ondervinding gehad het met gevalle van alkoholisme in die gesin. Sy het ook ’n ouere man wat empatie getoon het in haar vertroue geneem. “Dit is slegs vandat ek van al my ‘pynlike geheime’ ontslae geraak het dat ek vrede met Jehovah en met myself het”, sê sy. “Ek beskou Jehovah nou as my Vader (iets wat ek nooit tevore kon doen nie), en ek voel nie meer dat ek iets ontneem is omdat ek nooit die liefde en leiding gekry het wat ek van ’n vader hier op aarde nodig gehad het nie.”

Amy, die volwasse dogter van ’n alkoholis, het gevind dat dit haar baie gehelp het om haar daarop toe te lê om “die vrugte van die gees” aan te kweek (Galasiërs 5:22). Sy het ook geleer om met ’n simpatieke ouere man oor haar gedagtes en gevoelens te praat. “Hy het my herinner aan die goedkeuring wat ek werklik wil hê”, sê Amy, “dié van Jehovah God en Jesus Christus. As ons hulle liefde en goedkeuring wil hê, sal dit nooit selfvernietigend wees nie.”

Algehele herstel

Die Bybel bevat Jesus Christus se geskrewe belofte dat hy aan diegene rus sal gee wat na hom toe kom en wat belas is met sorge (Mattheüs 11:28-30). Daarbenewens staan Jehovah bekend as “die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking” (2 Korinthiërs 1:3, 4). Maureena sê: “Ek het Jehovah leer ken as die Persoon wat my nooit fisies, verstandelik of emosioneel in die steek sal laat nie.”

Ons lewe in ’n tyd wat die Bybel die laaste dae noem, ’n tyd waarin baie—selfs binne die gesinskring—‘lasteraars, sonder natuurlike liefde en wreed’ sal wees (2 Timotheüs 3:2, 3). Maar God belowe dat hy binnekort ’n vreedsame nuwe wêreld tot stand sal bring waar hy alle trane en droefheid sal uitwis (Openbaring 21:4, 5). ’n Christen wat in ’n alkoholistehuis grootgeword het, sê: “Ons hoop dat almal van ons behoue sal bly tot in die nuwe wêreld wanneer ons die algehele herstel sal ontvang wat net Jehovah kan gee.”

’N GEVALLESTUDIE

“Ek is ’n volwasse kind van ’n alkoholis. My pa het ’n alkoholis geword toe ek agt jaar oud was. Wanneer hy gedrink het, het hy gewelddadig geraak. Ek onthou die angs wat die hele gesin ervaar het. Op ’n tydstip toe ek ’n gelukkige kinderlewe moes gehad het, het ek geleer om my gevoelens, behoeftes, begeertes en verwagtinge diep weg te steek. Ma en Pa was te besig om sy probleem te hanteer om ooit daar te wees vir my. Ek was nie hulle tyd werd nie. Ek het nutteloos begin voel. Op agt het die rol wat aan my opgedring is my gedwing om nie meer ’n kind te wees nie—om onmiddellik groot te word en die gesinsverantwoordelikhede op my skouers te neem. My lewe is eenkant toe geskuif.

“My pa se gedrag was so skandelik dat sy skande ’n uitwerking op my gehad het. Om hiervoor te vergoed, het ek probeer om volmaak te wees. Ek het gegee en gegee en probeer om liefde te koop en nooit waardig gevoel om onvoorwaardelike liefde te ontvang nie. My lewe het ’n toneelspel geword en my gevoelens was afgestomp. Jare later het my man en kinders vir my gesê dat ek ’n robot, werktuiglik, is. Ek het my 30 jaar lank vir hulle afgesloof, my emosionele behoeftes ter wille van hulle emosionele behoeftes opgeoffer, vir hulle gegee soos ek altyd vir my ouers gegee het. En dit was die dank wat ek gekry het? Dit was soos ’n doodsteek!

“In woede, verwarring en desperaatheid het ek my vas voorgeneem om uit te vind wat met my verkeerd was. Namate ek met ander mense gepraat het wat in alkoholistehuise grootgeword het, het ek aan baie opgekropte gevoelens begin uiting gee, dinge wat ek nooit vantevore onthou het nie, dinge wat gereelde aanvalle van aftakelende depressie tot gevolg gehad het. Dit was ’n ontboeseming, ’n katarsis. Wat ’n verligting was dit om te weet dat ek nie alleen is nie, dat ander die trauma om in ’n alkoholistehuis groot te word deurmaak en verstaan!

“Ek het my tot ’n groep gewend wat Volwasse Kinders van Alkoholiste genoem word, en begin om van hulle terapie toe te pas. Werkboeke het gehelp om verdraaide beskouings te verander. Ek het ’n dagboek gehou om ander gevoelens op te diep, gevoelens wat jare lank begrawe was. Ek het na selfhelp-kassetbande geluister. Ek het gekyk na ’n TV-seminaar deur ’n man wat self ’n volwasse kind van ’n alkoholis is. Die boek Feeling Good van die Universiteit van Pennsilvanië se Mediese Fakulteit het my gehelp om my selfrespek op te bou en my verwronge denkpatrone te verbeter.

“Party van hierdie nuwe denkpatrone het instrumente geword, hulpmiddele om die lewe en verhoudinge te hanteer. Van die dinge wat ek geleer en toegepas het, is: Dit is nie wat met ons gebeur het wat saak maak nie, maar hoe ons dit wat gebeur het, beskou of insien. Gevoelens moet nie binne-in ons doodgedruk word nie, maar ons moet dit ondersoek en op ’n opbouende manier daaraan uiting gee of daarvan vergeet. Nog ’n instrument is die frase ‘deur die regte optrede kan jy die regte denkwyse aanleer’. Herhaalde optrede kan nuwe breinpatrone vorm.

“Die heel belangrikste instrument is God se Woord, die Bybel. Ek het uit die Bybel en by die gemeentes van Jehovah se Getuies, met hulle ouere manne en ander ryp Getuies, die beste geestelike genesing ontvang, en ek het geleer om ’n gepaste liefde vir myself te hê. Ek het ook geleer dat ek ’n unieke mens is met individualiteit en dat daar niemand in die heelal is soos ek nie. Maar die belangrikste is die wete dat Jehovah my liefhet en dat Jesus vir my en ook vir ander gesterf het.

“Nou, een en ’n half jaar later, kan ek sê dat ek 70 persent beter is. Algehele genesing sal net plaasvind wanneer hierdie goddelose wêreld en sy god, Satan die Duiwel, deur Jehovah se nuwe wêreld van geregtigheid vervang word.”

TEN SLOTTE

Die Bybel sê: “Die raad in die hart van ’n man mag diep waters wees, maar die man van onderskeidingsvermoë sal dit uitskep” (Spreuke 20:5, NW). Die persoon wat help, moet onderskeidingsvermoë aan die dag lê as hy uit die diep waters van die hart die dinge wil skep wat ’n depressiewe persoon kwel. As hulle onderskeidingsvermoë het, is daar groot waarde “in die veelheid van raadgewers” (Spreuke 11:14). Die volgende spreuk toon ook hoe waardevol dit is om raad by ander te probeer kry: “Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander” (Spreuke 27:17). Wanneer mense oor hulle probleme praat, “kan daar ’n uitruiling van aanmoediging onder [hulle] wees” (Romeine 1:12, NW). En om die Bybelse opdrag uit te voer om “bemoedigend met die terneergedrukte siele te praat”, moet die persoon wat die bemoediging gee die oorsaak en gevolge van die depressie verstaan waardeur die persoon wat bemoedig word, geteister word.—1 Thessalonicense 5:14, NW.

[Voetnoot]

a Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Lokteks op bladsy 8]

Baie kinders van alkoholiste openbaar dieselfde posttraumatiese spanningsimptome as oorlogsveterane!

[Lokteks op bladsy 10]

Die alkoholisomgewing word op geheimhouding en ontkenning gebou

[Lokteks op bladsy 10]

Hulle gaan skool toe met ’n “glimlag op die gesig en ’n beklemming om die hart”

[Lokteks op bladsy 11]

“Ek beskou Jehovah nou as my Vader (iets wat ek nooit tevore kon doen nie)”

[Lokteks op bladsy 12]

Die heel belangrikste instrument is God se Woord, die Bybel

[Prent op bladsy 9]

“Gevoelens het my letterlik verteer”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel