Sommige jongmense wil nie lewe nie
SELFMOORD deur jongmense is ’n angswekkende neiging in Indië. Navorsers in daardie land skat dat daar elke twee minute iemand is wat sy eie lewe probeer neem, en elke tien minute kry iemand dit reg.
Gedurende 1990 het ongeveer 60 000 mense in Indië selfmoord gepleeg, en “bykans die helfte van hulle was tussen 18 en 35 jaar oud”, het die tydskrif India Today opgemerk. Sommige selfmoordslagoffers is maar tien jaar oud. Die werklike aantal mense in Indië wat hulleself om die lewe bring, is onbekend omdat baie gesinne selfmoorde liewer as ongelukke aanmeld om die skande te vermy.
India Today sê dat gedurende 1990 “meer as 2500 adolessente hulleself oor ongelukkige liefdesverhoudings om die lewe gebring het”. Volgens psigiaters is die druk van mededinging en prestasie op skool, wat op ’n vroeë ouderdom begin, nog ’n rede vir die toenemende aantal selfmoorde onder jongmense.
Die tydskrif voeg by: “Psigiaters glo die verbrokkeling van die aanvullende gesinsreëling het baie te doen met die angs en eensaamheid wat selfmoordgedagtes [in kinders] kan laat posvat.” Een psigiater, dr. S. G. Dastoor, het gesê: “As ouers net die moeite sou doen om meer tyd saam met hulle kinders deur te bring en uit te vind wat hulle pla, kan hulle hulle kinders se lewe red. Ek dink dikwels dit is die ouers wat voorligting nodig het.”
Die Bybel spoor Christenouers aan om tyd saam met hulle kinders deur te bring en Christelike beginsels by hulle in te skerp (Deuteronomium 6:4-9). Die Skrif vermaan ouers ook om hulle kinders nie te irriteer nie, maar hulle “in die tug en vermaning van die Here” op te voed.—Efesiërs 6:4.
Jong Christene kan boonop die hedendaagse druk verwerk deur die wyse raad toe te pas wat ons in die Bybel vind in Filippense 4:6, 7 wat sê: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”