Hulle handel oor daaglikse kwessies
’n Vrou van Lissabon, Portugal, het ’n ruk gelede aan die takkantoor van die Wagtoringgenootskap in daardie land geskryf om die Ontwaak! aan te vra. Sy het dit aangevra omdat sy kort tevore ’n eksemplaar van Die Wagtoring ontvang het. Sy het dit gelees en dit soveel waardeer dat sy gesê het:
“Ek wil julle bedank vir die nommer van Die Wagtoring wat vandag in die pos gekom het. Ek het al die artikels in hierdie nommer baie nuttig gevind. Die Ontwaak! sal dit wat ek in my vrye tyd lees goed aanvul, aangesien dit ’n bron van praktiese raad is wat op die Bybel gegrond is en waardeur daaglikse probleme die hoof gebied kan word.
“Ek het die Bybel net ’n maand gelede begin bestudeer, maar dit is lank genoeg om te besef hoe nuttig julle publikasies is.
“Weer eens my opregte dank aan almal wat hulle lewe daaraan wy om mense soos ek te help om van die Koninkryk en die Woord van Jehovah te leer.”
Jehovah se Getuies is ’n internasionale organisasie van sowat viermiljoen Bybelstudente wat hulle lewe gebruik om ander te help om meer van God se voornemens te leer. As jy graag meer inligting of ’n gratis tuisbybelstudie wil hê, kan jy gerus skryf aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740, of aan die gepaste adres op bladsy 5.