Die baanbrekers van boekuitgewery
DIE boekrol is tot die tyd van die Christengemeente deur die Israeliete gebruik. Elke sinagoge het boekrolle van die Heilige Skrif gehad en gebruik, en daar is elke Sabbatdag in die openbaar daaruit gelees. Jesus self het uit daardie soort boekrol, waarskynlik een soos die Dooie See-rol van Jesaja, gelees.
Christene het blykbaar tot ten minste die einde van die eerste eeu G.J. hoofsaaklik van die rol, of boekrol, gebruik gemaak. Die apostel Johannes het Openbaring om en by 96 G.J. geskryf, en in hoofstuk 22, verse 18 en 19 (NW) sê die boek self dat dit ’n boekrol is. Maar die boekrol was baie lomp. Ná die kodeks se oorgang van notaboek- tot boekvorm het die kodeks se voortreflikheid bo die tradisionele boekrol duidelik geword. ’n Boekrol van 31,7 meter sou moontlik vir die vier Evangelies nodig wees, terwyl een kompakte kodeks hulle almal kon bevat. Die kodeks was boonop meer ekonomies, aangesien daar op albei kante van ’n bladsy geskryf kon word. Die omslae het boonop die inhoud baie goed beskerm, en verskillende verwysings kon sonder die moeilike hantering van boekrolle vinnig nageslaan word.
Dit sou moeilik, trouens, feitlik onmoontlik, wees om sekere inligting in ’n groot boekrol vinnig na te slaan. Die Christene het blykbaar nie op hulle laat wag om die kodeks, of boek met bladsye, te begin gebruik nie, aangesien hulle in die verkondiging van die goeie nuus belanggestel het en tydens hulle Bybelstudie en predikingswerk baie verwysings in die Skrif nageslaan en uitgewys het.
In sy boek Christianity Goes to Press (1940, bladsye 75-6) sê professor E. J. Goodspeed die volgende oor die feit dat die Christene moontlik nie die boek met bladsye uitgevind het nie, maar beslis die voortou met die gebruik daarvan geneem het: “Daar was manne in die vroeë kerk wat besonder bewus was van die rol wat die uitgewersbedryf in die Grieks-Romeinse wêreld gespeel het en wat, in hulle ywer om die Christelike boodskap deur daardie wêreld te versprei, elke uitgewerstegniek benut het, nie net die ou, tradisionele, holruggerydes nie, maar die nuutstes en gevorderdstes, en dit ten volle in hulle Christelike propaganda gebruik het. Sodoende het hulle die boek met bladsye, wat nou algemeen gebruik word, op groot skaal begin gebruik. Hulle evangelie was nie ’n duistere, geheimsinnige verborgenheid nie, maar iets wat van die huise se dakke af verkondig moes word, en hulle het gesorg dat hulle in ooreenstemming met die profete se ou slagspreuk: ‘Verkondig goeie tydings’ optree. Die opskrifstelling van die afsonderlike evangelies was natuurlik belangrik, maar om hulle te versamel en om hulle as ’n versameling te publiseer, was heeltemal ’n ander saak en een wat byna so belangrik soos die opskrifstelling van party van hulle was.”
Professor Goodspeed sê vervolgens oor vroeë Christene as boekuitgewers (bladsy 78): “Hulle was in sulke sake nie net op die hoogte van hulle tyd nie, maar hulle was hulle tyd vooruit, en die uitgewers van die daaropvolgende eeue het hulle nagevolg.” Hy sê verder (bladsy 99): “Die publisering van die Bybel het tot die ontwikkeling van die boek met bladsye vir letterkundige doeleindes in die tweede eeu gelei, en die publisering van die Bybel het ook tot die uitvinding van die drukkuns gelei.”
As jy enige vrae oor die Bybel het nadat jy hierdie tydskrif gelees het, kan jy gerus met Jehovah se Getuies in aanraking kom by ’n Koninkryksaal in jou omgewing of aan die uitgewers van hierdie tydskrif skryf. (Sien bladsy 5.)