Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 11/22 bl. 15-18
  • Waar arende invlieg vir visetes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waar arende invlieg vir visetes
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Opwindende hofmakery, blywende “huwelike”
  • Vaar op met vleuels soos die arende
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Arende of aasvoëls?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Die oog van ’n arend
    Ontwaak!—2002
  • Die Atlantiese salm—’n “Koning” in die moeilikheid
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 11/22 bl. 15-18

Waar arende invlieg vir visetes

HULLE kom by die duisende aangevlieg van oor die hele Alaska, Brits-Columbië en so ver as die staat Washington, pragtig aangetrek vir ete. Hulle is baie indrukwekkende voëls en lyk baie vernaam met hulle wit koppe en spoggerige wit stertvere wat uitgewaaier is om hulle spoed te breek wanneer hulle land. Die voëls, waarvan die wyfies effens groter is as die mannetjies, het donkerbruin liggame wat gemiddeld ses kilogram weeg, en hulle vlieg, met hulle vlerkspan van 1,8 tot 2,4 meter, teen 50 kilometer per uur—maar as hulle skerp oë ’n vis 1,5 kilometer daarvandaan raaksien, kan hulle teen 160 kilometer per uur daarop neerswiep en dit opraap!

Vir hulle dinee by die Chilkat-rivier is sulke skouspelagtige lugtoertjies egter nie nodig nie. Hulle salmgeregte gaan nêrens heen nie. Die salm is in oorvloed voor hulle uitgesprei, net reg om verslind te word. Al hierdie feesvieringe word vir hulle aangebied deur Alaska se Chilkat-witkoparendreservaat, wat in 1982 deur die staat Alaska gestig is “om die wêreld se grootste konsentrasie van witkoparende en hulle spesifieke habitat te beskerm en te bewaar”.

Die reservaat dek 19 000 hektaar rivierbodemgrond van die Chilkat-, Klehini- en Tsirku-riviere en sluit slegs dié dele in wat belangrik is as habitat vir die arende. Die spesifieke gebied waar die duisende arende saamtrek en waarheen besoekers stroom om hulle te sien, strek agt kilometer langs die Chilkat-rivier wat aan die Haines-hoofweg, tussen Haines en Klukwan, grens.

’n Regeringspamflet getiteld “Alaska se Chilkat-witkoparendreservaat” verduidelik waarom hierdie agtkilometerstrook van die rivier salmlekkernye aan die arende kan bied.

“Die natuurverskynsel wat verantwoordelik is vir vyf myl [8 km] van onbevrore water in die Chilkat-rivier gedurende die maande wanneer dit toeys, word ’n ‘puinwaaier-reservoir’ genoem. Die Tsirku-waaier, wat ’n waaiervormige ophoping van gruis, klip, sand en gletserafsetting by die samevloeiing van die Tsirku-, Klehini- en Chilkat-riviere is, dien as ’n groot waterreservoir.”

’n Rivier wat stadiger vloei waar dit by ’n ander watermassa aansluit, laat gewoonlik ’n neerslag agter wat ’n delta vorm, maar geen reservoir met water word agtergelaat nie. Waar die Tsirku-rivier by die Chilkat-rivier aansluit, het aardverskuiwings en gletserwerking egter tot gevolg gehad dat ’n groot kom tot meer as 230 meter onder seevlak uitgehol is. Toe die gletsers teruggetrek het, het dit puin agtergelaat en riviere het sand- en gruisneerslae bygevoeg totdat die kom uiteindelik los, poreuse neerslae van meer as 230 meter diep op sy rotsbodem gehad het.

Die verslag toon dat water van sneeu en gesmelte gletserys gedurende die warmer lente, somer en vroeë herfs die puinwaaier binnevloei. Die waaier ontvang water vinniger as wat dit kan uitvloei, en dit skep ’n ontsaglike reservoir met water. Die pamflet oor die arendreservaat sê voorts: “Wanneer die winter kom, word dit kouer en die water in die omgewing vries. Die water in hierdie groot reservoir bly egter 10 tot 20 grade Fahrenheit [5° tot 10°C] warmer as die water rondom. Hierdie warmer water ‘syfer’ in die Chilkat-rivier in en verhoed dat dit toeys.

“Vyf salmspesies broei in hierdie en ander nabygeleë strome en syriviere. Die salm begin in die somer loop, en dit duur deur die laatherfs of vroegwinter voort. Hulle gaan kort na paring dood en dit is hierdie dooie visse wat groot hoeveelhede voedsel aan die arende voorsien.”

Die salmfees begin in Oktober en eindig in Februarie, en kort daarna begin die arende om by die duisende tot ver in die omliggende platteland te versprei. Tussen 200 en 400 arende woon egter die hele jaar in die reservaat. Behalwe enige vis wat hulle kan vang, vul hulle hulle dieet aan met watervoëls, klein soogdiere en aas.

Opwindende hofmakery, blywende “huwelike”

Hulle het lewenslank dieselfde maat—hulle kan tot 40 jaar oud word—maar bly gewoonlik slegs gedurende die broeityd bymekaar. Volgens die voubiljet Eagles—The Alaska Chilkat Bald Eagle Preserve begin die hofmakery in April, en dit “kan skouspelagtige vertonings insluit van duikende arende wat mekaar se kloue vasgryp en deur die lug tuimel”. Dit alles én handjies vashou? Klink heel romanties!

Vier-en-negentig neste is al in die reservaat opgemerk. Van laat-Mei tot vroeg in Junie broei daar gewoonlik ná ’n broeityd van 34 tot 35 dae een tot drie eiers uit. Die kleintjies verlaat die nes teen September, maar hulle moet tevrede wees met gespikkelde bruin en wit vere. Hulle sal hulle spoggerige wit koppe en sterte eers kry wanneer hulle vier of vyf jaar oud is!

Die voubiljet gee ook ’n bietjie agtergrond oor die arende se oorlewingstryd en raad aan besoekers oor hoe om die reservaat veilig te geniet:

“Alaska se Chilkat-witkoparendreservaat beslaan 48 000 akker [19 000 ha] wat vir die beskerming van die arende opsygesit is. Maar die arende was nie altyd beskerm nie; hulle was vroeër geoorloofde wild vir beroepsjagters. As gevolg van verslae oor die arende se ontsaglike aptyt vir lewende salm en klein soogdiere het die Gebiedswetgewer van Alaska in 1917 ’n prys op arende gestel. Veterane van Fort William H. Seward in Haines vertel verhale van hoe hulle hulle karige weermagsoldy aangevul het met die $1 (later tot $2 verhoog) wat vir elke paar kloue betaal is.

“Latere ondersoeke het bevind dat die skade wat die arende aan die salm se broeipatrone aanrig, oordryf was en die prys is in 1953 opgehef. Teen daardie tyd was meer as 128 000 arende reeds vir die prys geskiet. Die arendbevolking in Suidoos-Alaska is gedurende die veertigerjare, toe die prys nog van krag was, geraam op die helfte van die arendbevolking in die sewentigerjare.

“Toe Alaska in 1959 ’n staat geword het, het die witkoparend in Alaska onder die federale beskerming van die Witkoparend-wet van 1940 gekom. Dit is ’n strafbare oortreding om ’n arend dood te maak, en die besit van lewende of dooie arende of enige dele van ’n arend (selfs vere!), behalwe onder sekere bepaalde omstandighede, is ook onwettig.

“In 1972 het die Staatswetgewer van Alaska die Chilkat-rivier Spesifieke Habitatgebied, wat deur die Departement van Vis en Wild van Alaska bestuur word, tot stand gebring om die beskerming van die groter konsentrasie van die arende te verseker. Groot dele van die arende se habitat het onbeskermd gebly en ’n lang en dikwels bitter stryd het tussen omgewingsdeskundiges en pro-ontwikkelingsgroepe gewoed oor grondbenuttingskwessies in die Chilkat-vallei. Ná intensiewe studies deur die Nasionale Audubon-vereniging en die staatsgeborgde Haines/Klukwan Hulpbron-studie het houtkappers, vissers, omgewingsdeskundiges, sakemanne en plaaslike politici uiteindelik ’n kompromis aangegaan. In 1982 het die staatswetgewer daardie kompromis as ’n wet uitgevaardig en gevolglik Alaska se Chilkat-witkoparendreservaat van 48 000 akker [19 000 ha] tot stand gebring.

“Geen houtkappery of mynbou word in die Reservaat toegelaat nie, maar tradisionele gebruike van die grond, soos die pluk van bessies, visvang en jag, mag nog beoefen word. Die Reservaat word deur die Parkeraad van Alaska bestuur met die hulp van ’n adviesraad van 12 lede wat uit plaaslike inwoners, staatsamptenare en ’n bioloog bestaan.

“Hoe om die vallei se natuurlike hulpbronne te benut sonder om die omgewing te beskadig, is ’n voortslepende vraagstuk, en grondbenuttingskwessies kan steeds geskille uitlok in die Chilkat-vallei. Maar plaaslike inwoners is trots daarop dat ’n plaaslike oplossing vir die beskerming van die arende gevind is.”

Die hoofbesigtigingsarea waarvandaan besoekers die arende kan sien, is langs die Haines-hoofweg wat parallel met die Chilkat-rivier loop, en daar is uitkykpunte vir hierdie doel.

[Kaart op bladsy 15]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Chilkat- rivier Chilkoot-rivier

Klehini-rivier KLUKWAN

Arendbesigtigingsarea

(puinwaaier)

▴

▴

Haines- hoofweg

Tsirku-rivier ▾ Chilkoot- meer

Chilkat- meer ▾

Chilkat-rivier ▾ Lutak- inham

Takhin-rivier ▾

HAINES

Klehini-rivier

Tsirku-rivier

[Erkenning]

Mountain High Maps™ kopiereg © 1993 Digital Wisdom, Inc.

[Foto-erkenning op bladsy 15]

Witkoparende op bladsye 15-18: Alaska Division of Tourism

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel