Ontwaak! het ’n lewe help red
Terwyl een van Jehovah se Getuies in Ecuador gewag het dat ’n werktuigkundige die werk aan haar motor voltooi, het die werktuigkundige se vrou vir die Getuie gesê dat sy bekommerd is oor haar seuntjie, Byron. Hy het vyf of ses keer per week stuipe gekry, en dokters kon nie die probleem diagnoseer nie. Hulle het Byron al selfs na spesialiste in Quito, die hoofstad, geneem.
“Terwyl ek met die moeder gesels het”, het die Getuie verduidelik, “het ek opgemerk dat ’n werker besig was om ’n motor te spuitverf, en ek het aan ’n artikel oor loodvergiftiging in die Ontwaak! gedink. Die artikel het genoem dat stuipe een van die simptome van loodvergiftiging was. Ek het vir die vrou gesê dat ek haar die artikel sou bring.”
Toe Byron se ouers die artikel gelees het, het hulle hulle seuntjie vir loodvergiftiging laat toets. ’n Hoë loodvlak is in Byron se bloed gevind. Mediese behandeling en die voorkoming van verdere blootstelling aan lood het ’n merkwaardige verbetering in Byron se gesondheid tot gevolg gehad. “Die afgelope vier maande het hy glad nie stuipe gekry nie”, het die Getuie gesê. “Die vader het sedertdien met baie dokters oor die geval gepraat, en hy sê altyd dat die Ontwaak! sy seuntjie se lewe gered het. Nou lees selfs party van hierdie dokters die Ontwaak!”
Ons is vol vertroue dat jy ook daarby baat sal vind om die Ontwaak! te lees. As jy graag meer inligting wil hê oor hoe jy ’n eksemplaar kan ontvang of as jy wil hê dat iemand jou tuis moet besoek om die Bybel met jou te bespreek, kan jy gerus skryf aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740 of na die gepaste adres op bladsy 5.