Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 1/22 bl. 9-12
  • Wees gelukkig in die leë nes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wees gelukkig in die leë nes
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Konsentreer op die positiewe dinge
  • Steeds ’n ouer!
  • Moenie inmeng nie
  • Hernieu die huweliksband
  • Enkelouers neem afskeid
  • Wees tevrede om hulle te laat gaan
  • Enkelouers, baie uitdagings
    Ontwaak!—2002
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Leer om afskeid te neem
    Ontwaak!—1998
  • Leer julle kinders om Jehovah lief te hê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 1/22 bl. 9-12

Wees gelukkig in die leë nes

“VIR baie van ons”, erken ’n ouer, “is die finale skeiding ’n skok al is ons ook hoe goed daarop voorbereid.” Ja, hoe onvermydelik ’n kind se vertrek ook al is, wanneer dit wel gebeur, is dit dalk nie so maklik om dit te verwerk nie. ’n Vader vertel van sy eie reaksie nadat hy van sy seun afskeid geneem het: “Vir die eerste keer in my lewe . . . , het ek net gehuil en gehuil en gehuil.”

Vir baie ouers laat die vertrek van hulle kinders ’n groot leemte in hulle lewe—’n gapende wond. Aangesien hulle nie meer daaglikse kontak met hulle kinders het nie, ervaar party intense gevoelens van eensaamheid, verdriet en verlies. En dit is dalk nie net die ouers wat sukkel om aan te pas nie. ’n Egpaar genaamd Edward en Avril herinner ons hieraan: “As daar nog ander kinders in die huis is, sal hulle ook die verlies voel.” Wat is dié egpaar se raad? “Gee hulle jou tyd en toon begrip. Dit sal hulle help om aan te pas.”

Ja, die lewe gaan voort. As jy na jou ander kinders moet omsien—om nie eens van jou werk of huishoudelike verpligtinge te praat nie—kan jy nie toelaat dat smart jou oorweldig nie. Laat ons derhalwe na ’n paar maniere kyk waarop jy geluk kan vind wanneer jou kinders die huis verlaat.

Konsentreer op die positiewe dinge

As jy egter hartseer of alleen voel en wil huil of jou hart met ’n simpatieke vriend wil uitpraat, moet jy natuurlik nie skroom om dit te doen nie. Die Bybel sê: “Bekommernis in die hart van ’n mens druk dit neer, maar ’n vriendelike woord vrolik dit op” (Spreuke 12:25). Ander kan jou soms help om dinge in ’n nuwe perspektief te sien. ’n Egpaar genaamd Waldemar en Marianne gee byvoorbeeld die volgende raad: “Beskou die saak as ’n doelwit wat met welslae bereik is, en nie as ’n verlies nie.” Wat ’n positiewe manier om dinge te beskou! “Ons is bly dat ons ons seuns as verantwoordelike volwassenes kon grootmaak”, sê ’n egpaar genaamd Rudolf en Hilde.

Het jy jou kind “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” probeer grootmaak? (Efesiërs 6:4). Selfs al het jy, voel jy moontlik nog steeds besorg oor die feit dat hy of sy die huis verlaat. Maar aan diegene wat hulle kind só oplei, gee die Bybel die versekering dat ‘hy, ook as hy oud word, daar nie van sal afwyk nie’ (Spreuke 22:6). Is dit nie besonder bevredigend om te sien dat jou kind op jou opleiding gereageer het nie? Die apostel Johannes het oor sy geestelike gesin gesê: “Ek het geen groter rede tot dankbaarheid as hierdie dinge nie, dat ek hoor dat my kinders voortgaan om in die waarheid te wandel” (3 Johannes 4). Miskien kan jy soortgelyke gevoelens oor jou kind hê.

Dit spreek vanself dat nie alle kinders op Christelike opleiding reageer nie. As dit die geval met jou volwasse kind is, beteken dit nie dat jy as ’n ouer misluk het nie. Moet jou nie onnodig verwyt as jy werklik jou bes gedoen het om hom op ’n godvrugtige manier groot te maak nie. Jy moet besef dat jou kind, as ’n volwassene, sy eie las van verantwoordelikheid voor God dra (Galasiërs 6:5). Behou die hoop dat hy miskien mettertyd sy keuses sal heroorweeg en dat die “pyl” uiteindelik sal gaan waarheen dit gemik was.—Psalm 127:4.

Steeds ’n ouer!

Hoewel jou kind se vertrek ’n groot verandering inlui, beteken dit nie dat jou werk as ’n ouer afgehandel is nie. Die sielkundige Howard Halpern sê: “Jy is tot op jou sterfdag die ouer, maar die definisie van gee en versorg moet gewysig word.”

Die Bybel het lank gelede gesê dat ouerskap nie ophou net omdat die kind nou groot is nie. Spreuke 23:22 sê: “Luister na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie.” Ja, selfs wanneer ouers “oud geword” het, en hulle kinders volwassenes is, kan ouers steeds ’n betekenisvolle invloed in hulle kinders se lewe wees. Daar moet natuurlik ’n paar aanpassings gemaak word. Maar alle verhoudings moet van tyd tot tyd heraangepas word om dit vars en bevredigend te hou. Noudat jou kinders groot is, kan jy dus daaraan werk om jou verhouding met hulle op ’n meer volwasse grondslag te plaas. Interessant genoeg, studies dui daarop dat die ouer-kind-verhouding dikwels verbeter nadat die kinders die huis verlaat het! Namate kinders voor die druk van die werklike wêreld te staan kom, begin hulle dikwels hulle ouers in ’n ander lig sien. Hartmut, ’n Duitse man, sê: “Nou verstaan ek my ouers beter en besef ek waarom hulle dinge op ’n spesifieke manier gedoen het.”

Moenie inmeng nie

Daar kan egter baie skade berokken word as jy in jou volwasse kind se lewe begin inmeng. (Vergelyk 1 Timoteus 5:13.) ’n Getroude vrou wat groot spanning met haar skoonfamilie ondervind, kla: “Ons is lief vir hulle, maar ons wil net ons eie lewe lei en ons eie besluite neem.” Geen liefdevolle ouer sal natuurlik net toekyk terwyl ’n volwasse kind op ’n ramp afstuur nie. Maar dit is gewoonlik beter om nie ongevraagde ouerlike raad te gee nie, al is dit ook hoe wys of welmenend. Dit is veral waar wanneer ’n kind getroud is.

Die Ontwaak! het in 1983 hierdie raad gegee: “Aanvaar . . . jou nuwe rol. Jy gee jou werk as baba-oppasster prys wanneer jou baba ’n kleuter word. Jy moet nou eweneens die gekoesterde rol van oppasster verruil vir die rol van raadgeefster. Dit sal op hierdie tydstip net so onvanpas wees om vir jou kind besluite te neem as om sy winde te breek of om hom aan die bors te voed. As raadgeefster het jy bepaalde perke. Jy kan nie meer effektief ’n beroep doen op jou gesag as ouer nie. (‘Doen dit omdat ek so sê.’) Jy moet jou kind se volwasse status respekteer.”a

Jy stem dalk nie saam met al die besluite wat jou kind en sy of haar huweliksmaat neem nie. Maar respek vir die heiligheid van die huwelik kan jou help om jou besorgdheid te temper en voorkom dat jy onnodig inmeng. Trouens, dit is gewoonlik die beste om jong paartjies toe te laat om hulle probleme self op te los. Andersins kan daar onnodige konfrontasie ontstaan wanneer jy ongevraagde raad aan ’n skoonseun of –dogter gee, wat op ’n kwesbare tyd in die huwelik dalk baie sensitief vir kritiek kan wees. Die bogenoemde Ontwaak!-artikel het ouers verder aangeraai: “Onderdruk die versoeking om eindelose, ongevraagde wenke te gee wat ’n skoonseun of –dogter in ’n vyand kan verander.” Gee ondersteuning—moenie manipuleer nie. Deur ’n goeie verhouding te handhaaf, maak jy dit vir jou kind makliker om jou te nader as hy werklik raad nodig het.

Hernieu die huweliksband

Vir baie egpare kan die leë nes ook die moontlikheid van groter huweliksgeluk bring. Die tyd en moeite wat by suksesvolle ouerskap betrokke is, kan so allesoorheersend wees dat egpare hulle eie verhouding verwaarloos. ’n Vrou sê: “Noudat die kinders weg is, probeer ek en Konrad mekaar weer van voor af leer ken.”

Aangesien julle nie meer die daaglikse verantwoordelikhede van ouerskap het nie, het julle dalk nou meer tyd vir mekaar. ’n Ouer het opgemerk: “Hierdie nuutgevonde vrye tyd . . . stel ons in staat om meer aandag aan onsself te gee, om ons daarop toe te lê om meer oor ons wedersydse verhouding te leer en om aan aktiwiteite te begin deelneem wat ons behoeftes bevredig.” Sy voeg by: “Dit is ’n tyd om nuwe dinge te leer en ’n tyd van ongelooflike groei, en hoewel sulke tye ontwrigtend kan wees, is dit ook verfrissend.”

Party egpare het ook groter finansiële vryheid. Stokperdjies en loopbane wat op die lange baan geskuif is, kan nou voortgesit word. Onder Jehovah se Getuies is daar baie egpare wat hulle nuutgevonde vryheid gebruik om geestelike belange na te streef. ’n Vader met die naam Hermann verduidelik dat hy en sy vrou onmiddellik hulle aandag daarop gevestig het om die voltydse bediening te hervat nadat hulle kinders die huis verlaat het.

Enkelouers neem afskeid

Dit kan veral vir enkelouers moeilik wees om hulle by die leë nes aan te pas. Rebecca, ’n enkelmoeder van twee, verduidelik: “Wanneer ons kinders die huis verlaat, het ons nie ’n man by wie ons geselskap en liefde kan kry nie.” ’n Enkelouer se kinders was dalk ’n bron van emosionele ondersteuning. En as hulle gehelp het om die huishoudelike uitgawes te dek, kan hulle vertrek ook ’n finansiële ontbering wees.

Party slaag daarin om hulle ekonomiese lot te verbeter deur in te skryf vir werksopleidingsprogramme of skoolkursusse op korttermyn. Maar hoe vul ’n mens die leemte van eensaamheid? ’n Enkelouer sê: “Wat my help, is om besig te bly. Dit kan wees deur die Bybel te lees, my huis skoon te maak of om net teen ’n flinke pas te gaan stap of te draf. Maar die bevredigendste manier waarop ek my eensaamheid oorkom, is deur met ’n geestelike vriend te praat.” Ja, ‘word verruim’ en bou nuwe en bevredigende vriendskappe op (2 Korintiërs 6:13). ‘Hou vol met smekinge en gebede’ wanneer jy oorweldig voel (1 Timoteus 5:5). Wees daarvan verseker dat Jehovah jou deur hierdie moeilike tyd van aanpassing sal versterk en onderskraag.

Wees tevrede om hulle te laat gaan

Wat jou situasie ook al is, jy moet besef dat die lewe nie ophou wanneer die kinders die huis verlaat nie. Gesinsbande word ook nie verbreek nie. Die heilsame liefde wat in die Bybel beskryf word, is sterk genoeg om mense saam te bind, selfs wanneer hulle ver van mekaar af is. Die apostel Paulus herinner ons aan die feit dat die liefde ‘alles verduur. Die liefde faal nooit nie’ (1 Korintiërs 13:7, 8). Die onselfsugtige liefde wat jy in jou gesin gekweek het, sal nie faal net omdat jou kinders die huis verlaat nie.

Interessant genoeg, wanneer kinders die skeiding begin voel en huis toe verlang of wanneer ekonomiese probleme begin knel, sal hulle dikwels eerste kontak maak. Hans en Ingrid doen aan die hand: “Laat die kinders weet dat hulle altyd welkom sal wees in jou huis.” Gereelde besoeke, briewe of telefoonoproepe nou en dan sal julle help om kontak te behou. “Stel belang in wat hulle doen sonder om in hulle sake in te meng”, is hoe Jack en Nora dit gestel het.

Wanneer kinders die huis verlaat, verander jou lewe. Maar die lewe in die leë nes kan bedrywig en sinvol wees. Jou verhouding met jou kinders verander ook. Dit kan egter nog steeds ’n gelukkige en aangename verhouding wees. “Die verkryging van onafhanklikheid van ouers”, sê professors Geoffrey Leigh en Gary Peterson, “impliseer nie die verlies van liefde, lojaliteit of respek vir ouers nie. . . . Trouens, sterk gesinsbande hou dikwels stand deur die hele lewensiklus heen.” Ja, jy sal nooit ophou om jou kinders lief te hê nie en jy sal nooit ophou om hulle ouer te wees nie. En omdat jy jou kinders lief genoeg gehad het om hulle te laat gaan, het jy hulle nie werklik verloor nie.

[Voetnoot]

a Sien die artikel “Jy hou nooit op om ’n ouer te wees nie” in die Ontwaak! van 8 Junie 1983.

[Lokteks op bladsy 12]

“Vir die eerste keer in my lewe . . . , het ek net gehuil en gehuil en gehuil”

[Venster/Prente op bladsy 10]

’n Woordjie aan volwasse kinders—Help ouers om afskeid te neem Dit is gewoonlik makliker om weg te gaan as om agtergelaat te word. Terwyl jy jou dus verheug in jou onafhanklikheid en volwassenheid, moet jy goedhartigheid en begrip teenoor jou ouers betoon as hulle sukkel om aan te pas. Verseker hulle van jou volgehoue liefde en toegeneentheid. ’n Kort briefie, ’n onverwagse geskenk of ’n vriendelike telefoonoproep kan baie help om ’n verdrietige ouer op te beur! Hou hulle op hoogte van belangrike gebeurtenisse in jou lewe. Dit laat hulle besef dat die gesinsbande nog sterk is.

Namate jy voor die probleme van die lewe as volwassene te staan kom, sal jy waarskynlik meer as ooit tevore waardeer wat jou ouers deurgemaak het terwyl hulle jou versorg het. Dit sal jou dalk beweeg om vir jou ouers te sê: “Dankie vir alles wat julle vir my gedoen het!”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel