Hoeveel stel jongmense in godsdiens belang?
Deur Ontwaak!-medewerker In Frankryk
VIR die 750 000 jongmense in die gehoor sou dit ’n aand van euforie wees. Hulle het vlae laat wapper, gesing en hande geklap. Lasers en vuurwerke het ’n pragtige vertoning gelewer, en die musikante het die skare meegevoer. Die atmosfeer was soos dié van ’n “reusedisko”. Uiteindelik, te midde van uitroepe van verering, het die man op wie hulle gewag het op die verhoog verskyn.
Was dit die begin van die een of ander rockgroep se wêreldtoer? Nee. Dit was ’n godsdienstige massavergadering in Parys gedurende die Katolieke Wêreldjeugdae, en die man was niemand anders as pous Johannes-Paulus II nie!
Vir party is jongmense se belangstelling in godsdienstige feesvieringe soos hierdie dalk vreemd. Maar die media praat nou van ’n godsdiensherlewing onder jeugdiges.
Van buite gesien
Op die oog af lyk godsdiens dalk of dit redelik goed vaar. Ongeveer 68 persent van jong Europeërs sê dat hulle aan ’n godsdiens behoort, en in Ierland is daardie syfer meer as 90 persent. In Armenië, ’n voormalige Sowjetrepubliek waar baie mense godsdiens voorheen as ’n oorblyfsel van ’n vergange era beskou het, het ’n priester dié kommentaar gelewer oor kerke wat voorheen verlate was en nou vol is: “Ek is verbaas oor die aantrekkingskrag wat godsdiens vir die jonger geslag het.”
In baie lande het die media groot publisiteit gegee aan jongmense se betrokkenheid by kultusse en charismatiese groepe. Godsdiensfeeste, soos die een wat aan die begin gemeld is, is gewild. Maar wat gebeur as ons ’n bietjie dieper kyk?
’n Nadere ondersoek
’n Nadere ondersoek toon dat 81 persent van Franse jeugdiges in 1967 aan God geglo het, maar in 1997 was die persentasie minder as die helfte. In die hele Europa glo net 28 persent van die jongmense aan ’n persoonlike God. Dit is dus nie verbasend dat net 12 persent van Europa se jeugdiges dikwels bid nie. Hoe word dit weerspieël in die manier waarop jeugdiges godsdiens beskou?
In Denemarke sê 90 persent van die jongmense dat hulle aan die volkskerk behoort. Net 3 persent beskryf hulleself as aktiewe lede. In 1997 het ’n meningsopname deur La Croix, ’n Katolieke koerant in Frankryk, getoon dat 70 persent van Franse jeugdiges erken dat godsdiens nie werklik ’n rol in hulle lewe speel nie. Driekwart van hulle heg meer waarde aan persoonlike ondervinding as aan die leerstellings van ’n godsdiens. Dieselfde is waar in die meeste ander Europese lande.
Waarom keer jongmense die kerke die rug toe? Vir die meeste van hulle boesem die hoofstroomkerke nie vertroue in nie. In Frankryk dink die meeste jongmense byvoorbeeld dat godsdiens ’n verdelende faktor in die wêreld is. Daarbenewens is dit nie ongewoon om jeugdiges te vind wat soos die 15-jarige Judith, ’n Katoliek van Spanje, voel nie. Sy het gesê: “Ek stem nie saam met wat die kerk oor sedelikheid sê nie.” Die 20-jarige Joseph, van Taiwan, dink eweneens dat godsdiens “te tradisioneel” is. Maar as die meeste jongmense nie met hulle eie godsdiens se leerstellings saamstem nie, waarin glo hulle dan?
Godsdiens à la Carte
Jongmense kies nou meestal godsdiensopvattings soos wat hulle geregte op ’n spyskaart sou kies. Een tydskrif het dit “[godsdiens]beoefening à la carte” genoem. ’n Katolieke tydskrif het daarna verwys as “godsdienstige winkelkykery”. Idees wat verouderd begin word het, is nou baie algemeen. In Europa glo ongeveer 33 persent van jongmense dus in gelukbringers, 40 persent glo dat waarsêers die toekoms kan voorspel en 27 persent glo dat die sterre mense se lewe beïnvloed. Idees soos reïnkarnasie maak nou deel uit van die opvattings van talle jong Europeërs.
Daar is so ’n verskeidenheid godsdiensopvattings dat jongmense idees kan kies wat in hulle smaak val. Min glo dat net een godsdiens ’n monopolie oor die waarheid het. Met jongmense wat na willekeur kies, is die verskil tussen hulle godsdiensopvattings nie meer so duidelik nie. Sosioloë praat dus nou van ’n “progressiewe uitwissing” of “algemene verwering” van formele geloofsbelydenisse. Hoe reageer tradisionele godsdienste in hierdie geestelike klimaat?
Godsdiens op soek na jongmense
Dit is vir godsdienste ’n uitdaging om jongmense te lok. ’n Franse priester het die skare wat die Katolieke Wêreldjeugdae-feesviering in Parys bygewoon het, gevra: “Waar kom hierdie jongmense vandaan? Ek het geen jongmense in my kerke nie. Ek sien hulle nooit nie.” In die Katolieke Kerk se strewe om die jeug se aandag te trek en te behou, moet hulle die manier waarop hulle die boodskap aanbied asook hulle beeld verander.
“Die kerk verander sy styl!” het die Franse koerant Le Figaro gesê. Vir die 12de Wêreldjeugdae-feesviering in Parys het die kerk agentskappe aangestel wat meer ondervinding het in die organisering van rockkonserte om na die aanbieding om te sien. Meer as 300 vertonings is aangebied om jongmense uit meer as 100 lande te vermaak, en ontwerpersklere is spesiaal vir die geestelikes gemaak.
Omdat baie godsdienste vandag nie in voeling met jongmense is nie en meen dat hulle moet aanpas, verander hulle hulle norme sodat omtrent alles aanvaarbaar is. Hierdie beleid word weerspieël in wat Michel Dubost, die geestelike wat die Wêreldjeugdae-feesviering in Parys georganiseer het, gesê het: “Ek sou natuurlik daarvan hou dat almal wat gedoop is aan Christus getrou moet wees. Maar selfs al is hulle nie, het hulle hulle plek in die kerk.”
Die jeug se soeke na antwoorde
Een koerant het beklemtoon dat jeugdiges se soeke na antwoorde beslis ’n werklikheid is en het die jongmense se bywoning van die godsdiensfees in Parys beskryf as “’n bewys dat hulle na geloof hunker eerder as ’n bewys van hulle geloof”. Is hierdie hunkering deur die Katolieke Kerk beantwoord?
Wat bly oor wanneer ’n mens die sluier verwyder of deur die “gesigsbedrog” van groot godsdiensfeeste kan sien, soos een Katolieke koerant dit noem? Die Franse koerant Le Monde het kommentaar gelewer oor die “gebrek aan werklike waarde” onder die oppervlak.
Hoewel die manier waarop voedsel voorgesit word belangrik is, moet dit ook voedsaam wees. Jongmense se vrae oor die betekenis van die lewe vereis geestelik voedsame antwoorde. Die aantreklike maar leë antwoorde wat aan jeugdiges opgedis word, stel hulle nie tevrede nie.
Het sulke godsdienstige gebeurtenisse wat geen werklike waarde het nie enige blywende invloed op die hedendaagse jeug? Die Franse sosioloog Danièle Hervieu-Léger het gesê: “Hierdie skouspelagtige aanbiedings het maar min kans om ’n blywende maatskaplike invloed te hê.” Waar kan jongmense dan bevredigende antwoorde op hulle vrae vind?
Bevredigende antwoorde
In 1997 het die Franse tydskrif Le Point ’n artikel gepubliseer oor die probleme waarmee jongmense te kampe het. Behalwe dat die meeste jongmense vrae oor die betekenis van die lewe het, moet jeugdiges ook misdaad en geweld die hoof bied. Is dit moontlik om daarteen opgewasse te wees? Die tydskrifartikel het verduidelik: “Op 30-jarige ouderdom het David begin bekommerd raak oor die uitwerking wat alkohol, dwelms en geweld op sy liggaam gehad het. Jehovah se Getuies het aan sy deur geklop met ’n antwoord oor hoe om sy lewe in orde te bring. Hy het gestudeer. Hy het hom bekeer. Hy het sy dobbelskuld terugbetaal en almal vergoed wat nie eers geweet het dat hy hulle in poker verkul het nie. Hy rook, drink of baklei nie meer nie.”
Aangaande ander jongmense wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het, het die artikel voorts gesê: “Hulle het al die antwoorde op al hulle vrae gevind.” Een jong Getuie het dit eenvoudig gestel: “Die Bybel vertel al tweeduisend jaar lank die waarheid; waarom sou ek dan iewers anders gaan vir leiding?”
God se Woord bevat ’n boodskap vir jongmense. Die praktiese raad daarvan help hulle om hedendaagse probleme die hoof te bied en gee hulle ’n stewige grondslag vir hoop op ’n toekoms van vrede en broederskap. In ’n wêreld wat voortdurend verander, is die hoop wat die Bybel gee “’n anker vir die siel, seker sowel as vas”, wat bestendigheid en vertroosting bied (Hebreërs 6:19). Vir honderdduisende jeugdiges het hulle lewe werklik sinvol geword deur ’n persoonlike Bybelstudie met Jehovah se Getuies. Hulle het self gesien hoe die Bybel veranderinge voortbring wat nie net oppervlakkig is nie. Deur die Bybel se antwoorde te aanvaar, vind jongmense dat hulle soeke na ware geloof beloon word.
[Prent op bladsy 12]
’n Godsdiensfees lok duisende jongmense in Parys
[Prent op bladsy 13]
Wêreldjeugdae in Parys—’n Ware godsdiensherlewing?