Misdadige tieners—Waar lê die probleem?
HULDIG jy die konvensionele mening dat jeugmisdadigers gewoonlik uit arm gesinne kom en dat kinders uit “goeie” gesinne hulle selde tot misdaad wend? In Asië het dit vir party gelyk asof die feite hierdie beskouing steun. “Nie meer nie”, berig Asia Magazine. “Polisiestatistiek en -verklarings van regoor Asië toon dat al hoe meer tieners uit ordentlike huise steel, eiendom beskadig, dwelms gebruik en prostitute word.”
In Japan kom die helfte van alle tieners wat weens ’n misdaad aangekla is byvoorbeeld uit ’n middelklasgesin. In Bangkok is daar ’n soortgelyke situasie. “In die verlede”, sê Adisai Ahapanoen, hoof van Moehita-opleidingskool, “is tienermisdaad meestal deur ’n gebrek aan geld gemotiveer. Vandag kom meer as 50 persent van die tieners hier uit gesinne met ’n gemiddelde inkomste en sonder geldelike probleme.”
Party gee werkende moeders, stygende egskeidingsyfers en ’n materialistiese uitkyk op die lewe die skuld. Eddie Jacob, die assistent-direkteur van ’n halfweghuis vir tieners in Singapoer, sê: “Die onderliggende probleem is disfunksionele gesinne—waar die ouers dalk geskei is of waar daar enkelouers is of waar albei ouers werk en die kinders verwaarloos word. Kinders leer hulle waardes by die huis.”
Die Bybel het voorspel dat ons tyd deur toenemende opstand onder jongmense gekenmerk sou word (2 Timoteus 3:1, 2). Maar daardie selfde boek kan gesinne die waardes gee wat hulle nodig het om aan mekaar geheg te bly, ongeag hulle ekonomiese situasie. Dit is die moeite werd om die Bybel te ondersoek, want “die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer” (2 Timoteus 3:16). Jehovah se Getuies in Asië—trouens, regoor die wêreld—vind daarby baat om die Bybel as ’n gesin saam te bestudeer. Hulle sal julle baie graag wil help om dit ook te doen.
[Prent op bladsy 31]
Dit is jou keuse—misdadigheid of God se goedkeuring