Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 12/8 bl. 18-21
  • Dokters kyk weer na bloedlose chirurgie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dokters kyk weer na bloedlose chirurgie
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom word daar na alternatiewe gesoek?
  • Verskillende beskouings
  • Nuwe tegnieke
  • Opvallende resultate
  • Die toekoms
  • Die toenemende gewildheid van bloedlose geneeskunde en chirurgie
    Ontwaak!—2000
  • Bloedlose chirurgie—Die voordele daarvan verkry erkenning
    Ontwaak!—1998
  • Kwaliteitsalternatiewe vir oortappings
    Hoe kan bloed jou lewe red?
  • Jehovah se Getuies dra by tot vooruitgang in hartchirurgie
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 12/8 bl. 18-21

Dokters kyk weer na bloedlose chirurgie

JANET, ’n Kanadese vrou, het aan haar seun verduidelik waarom sy vigs het. Sy het die siekte by haar man gekry voordat hy oorlede is. Op sy beurt het haar man, ’n bloeier, waarskynlik deur ’n bloedfraksie vigs gekry. Tragedies soos hierdie is net een van die faktore wat daartoe aanleiding gegee het dat die mediese gemeenskap bloedoortappings as standaardbehandeling in heroorweging geneem het. Trouens, ’n opskrif in The New York Times vanjaar het gesê: “‘Bloedlose’ chirurgie wen weer veld.”

Etlike mediese konferensies het die aandag op die toenemende belangstelling in bloedlose chirurgie gevestig. Onder dié wat verlede jaar gehou is, was twee in die Verenigde State (Boston en Atlanta), een in Kanada (Winnipeg) en een in Letland (Riga), wat ’n internasionale konferensie vir Oos-Europa was.

Waarom het meer as 1400 vakkundiges uit 12 lande hierdie vier konferensies bygewoon wat bloedlose chirurgie geesdriftig as “die metode van die toekoms” begroet het, en dit nadat hulle meer as 50 jaar lank op bloedoortappings vertrou het? Wat het hierdie konferensies beklemtoon oor nuwe geneesmiddels, toerusting en metodes wat ’n uitwerking kan hê op die behandeling wat vir jou gesin beskikbaar is?

Waarom word daar na alternatiewe gesoek?

’n Belangrike beweegrede is die onvermoë om die bloedvoorraad veilig te maak. Toronto se Globe and Mail van 31 Januarie 1998 het byvoorbeeld kommentaar gelewer oor Kanada se “‘besmette bloed’-tragedie” van die tagtigerjare: “Hepatitis C is ’n potensieel aftakelende lewersiekte waarvoor daar geen geneesmiddel is nie. . . . Tot 60 000 Kanadese het die virus moontlik deur besmette bloed gekry, wat beteken dat tot 12 000 aan bloedgedrae hepatitis kan sterf.”

Alhoewel nuwer toetse die gevaar grootliks verminder het, het regter Horace Krever op die konferensie wat in Winnipeg gehou is, gesê: “Kanada se bloedvoorraad was nog nooit absoluut veilig nie, en dit kan ook nooit wees nie. Die gebruik van bloed gaan noodwendig met risiko’s gepaard.” En die risiko van siekteverspreiding of ernstige reaksies vergroot met elke bykomende eenheid bloed wat toegedien word.

In Riga het dr. Jean-Marc Debue, van die Clinique des Maussins, in Parys, tot dié gevolgtrekking gekom: “Ons as dokters moes ons gewone benadering tot behandeling in heroorweging neem. . . . Bloedoortappings het die lewe van baie pasiënte verleng, maar die lewe van ander het daardeur ’n knou gekry deurdat dit vir hulle ’n ongeneeslike siekte gegee het.”

Dit lyk of metodes om bloed vir besmetting te toets nie met nuwe siektegevare tred hou nie en dus nie beskerming daarteen kan bied nie. Dr. Paul Gully, van Ottawa, Ontario, Kanada, het byvoorbeeld gesê: “Hepatitis G is ’n RNS-virus wat onlangs beskryf is; oordrag deur oortapping het wel voorgekom, maar die huidige risiko is onbekend.”

In ’n spesiale mediese nommer van die tydskrif Time is daar oor ’n bykomende gevaar verslag gelewer: “Oortappings kan die immuunstelsel onderdruk, . . . en ’n pasiënt vatbaar maak vir infeksie, stadiger genesing en ’n langer herstelperiode.”

’n Ander faktor is dat geld bespaar word. Volgens die tydskrif Time kan elke bloedoortapping in die Verenigde State $500 (R3200) kos. En op sommige plekke neem die bloedvoorraad af omdat daar minder skenkers is.

Pasiënte wat bloedlose chirurgie ondergaan, spaar ook geld omdat daar minder gevalle van infeksie is en hulle hospitaalverblyf korter is. Durhane Wong-Rieger, van die Kanadese Hemofilievereniging, het in Winnipeg die volgende oor bloedlose chirurgie gesê: “Ons meen dat dit noodsaaklik is. Dit is ekonomies en sal beslis die gesondheid van ons pasiënte verbeter.”

Daar is ook ’n groter vraag na bloedlose chirurgie onder ’n groter verskeidenheid pasiënte. Dr. David Rosencrantz, van Legacy Portland-hospitale (Oregon, VSA), het gesê dat “100% van diegene wat [aanvanklik] na ons gekom het dit weens godsdiensredes gedoen het”. Maar nou verkies ten minste 15 persent mediese alternatiewe vir bloedoortappings, maar nie op grond van hulle godsdiensoortuiging nie.

Verskillende beskouings

By die vier konferensies het die meeste afgevaardigdes saamgestem dat dit baie veiliger is om ’n mens se eie bloed te gebruik as dié wat deur ander mense geskenk is. Sommige beveel dus aan dat ’n mens voor ’n operasie van jou eie bloed berg. Maar talle het gemeld dat daar in noodgevalle nie tyd is om bloed te berg nie. Daar is ook die godsdiensbeswaar van Jehovah se Getuies teen die gebruik van enige opgebergde bloed.a

Dr. Bruce Leone, van Duke-universiteit, Noord-Carolina, VSA, het op die Kanadese konferensie gesê: “Preoperatiewe skenking [van jou eie bloed] is duur, dit is arbeidsintensief, dit skakel nie die algemeenste oorsaak van oortappingsverwante siektes [naamlik kantoor- of prosedurefoute] uit nie en dit verg heelwat tyd voor die operasie.”

Baie dokters staan die voortgesette ontwikkeling van geneesmiddels en metodes voor wat die gebruik van oorgetapte bloed drasties sal verminder. Hulle voer aan dat ’n bloedoortapping slegs in ’n noodgeval toegedien moet word. Aan die ander kant laat ander dokters nou bloedoortappings geheel en al uit hulle behandeling weg. Hulle wys op uiters moeilike operasies—heupvervangings, ingewikkelde neurochirurgie, opehartoperasies op kleuters en volwassenes—wat sonder ’n oortapping gedoen is en waarna die pasiënte vinnig herstel het.

Tot op hede is daar meer as 100 hospitale regoor die wêreld met programme vir bloedlose geneeskunde, waarvan meer as 70 in die Verenigde State is. Trouens, daar is nou meer as 88000 dokters regoor die wêreld wat hulle samewerking gee aan pasiënte wat nie bloed wil hê nie.

Nuwe tegnieke

Op die Atlanta-konferensie het die een spreker na die ander erken dat hulle ’n spesifieke tegniek eers ontwikkel het toe hulle Jehovah se Getuies behandel het.b Baie het saamgestem met die mening van dr. James Schick, van die Streeks- Mediese Sentrum van Encino-Tarzana, Los Angeles, wat gesê het dat hy nou 50 persent minder bloed gebruik met al sy klein pasiëntjies weens nuwe tegnieke wat ontwikkel is terwyl daar met vroeggebore babas van Jehovah se Getuies gewerk is. Sulke nuwe tegnieke is natuurlik ook waardevol vir volwassenes.

Dr. Jean-François Hardy, van die Montreal-Hartinstituut, het gesê: “Bloedlose chirurgie kan nie saam met net een behandelingsmetode gedoen word nie . . . Maar hierdie doel kan alleenlik bereik word deur verskeie metodes te kombineer.”

Onder die nuwe tegnieke is (1) preoperatiewe voorbereiding, (2) voorkoming van bloedverlies tydens die operasie en (3) postoperatiewe versorging. Dit spreek vanself dat alle operasies grootliks deur die tydfaktor geraak word, dit wil sê of daar vooraf tyd is om die pasiënt vir ’n operasie voor te berei en of daar geen tyd is nie omdat ’n noodoperasie gedoen moet word.

Die ideale benadering tot bloedlose chirurgie behels preoperatiewe behandeling wat die bloedtelling en die algemene gesondheid verbeter. Dit sluit baie sterk ysteraanvullings en vitamiene in en, indien nodig, dosisse van sintetiese eritropoiëtien, ’n middel wat die pasiënt se beenmurg stimuleer om rooi bloedselle vinniger te vervaardig. Die tegnologie wat mikro-analise moontlik maak, laat dokters toe om minder bloed vir toetse te trek en tog meer resultate te kry uit wat getrek is. Dit is lewensbelangrik vir vroeggebore babas en ouer pasiënte wat ’n groot hoeveelheid bloed verloor het.

Volume-uitdyers, vloeistowwe wat binneaars toegedien word om die bloedvolume aan te vul, is ook nuttig. Die hoogdruksuurstoftenk word ook in sekere inrigtings gebruik om in die suurstofbehoeftes van ’n pasiënt met ernstige bloedverlies te help voorsien. In Atlanta het dr. Robert Bartlett verduidelik dat die suurstoftenk ’n kragtige hulpmiddel is wat versigtig gebruik moet word omdat groot dosisse suurstof giftig is.

Vir die tweede stap, naamlik die voorkoming van bloedverlies tydens die operasie, is daar ’n verskeidenheid nuwe instrumente en tegnologie. Hulle help om bloedverlies te beperk; hulle is nie so ingrypend nie en beperk bloedverlies en trauma; of hulle help deur die pasiënt se eie bloed wat tydens die operasie verlore sou gaan onmiddellik op te vang en weer te gebruik. Kyk na net ’n paar van die nuwe tegnieke.

◼ ’n Elektriese naald brand die are toe om bloedverlies te keer.

◼ Die argonstraalkoaguleerder help om bloeding tydens die operasie te stop.

◼ Die harmoniese skalpel sny deur middel van vibrasie en wrywing en laat bloedstolling byna terselfdertyd plaasvind.

◼ Tydens sekere operasies word geneesmiddels soos traneksamiensuur en desmopressien dikwels gebruik om bloedstolling te versnel en bloeding te beperk.

◼ Hipotensienarkose verminder bloedverlies deur die bloeddruk te verlaag.

Die verbetering van intraoperatiewe bloedherwinningsapparate is ook belangrik. Tydens ’n operasie herwin hierdie masjiene die pasiënt se eie bloed en word dit onmiddellik weer gebruik, sonder dat dit geberg hoef te word.c Nuwer masjiene kan selfs die bloedkomponente skei en dié wat nodig is weer gebruik terwyl dit aan die pasiënt gekoppel bly.

Toe Jehovah se Getuies in Swede ná afloop van die konferensie in Riga van die behoefte in Letland hoor, het hulle twee selbewaringsapparate aan Letland geskenk. Die aankoms van die eerste masjien en die voordele van bloedlose chirurgie het soveel entoesiasme in Letland tot gevolg gehad dat die gebeurtenis nasionale televisiedekking ontvang het.

Postoperatiewe versorging sluit baie van dieselfde bloedbouende gesondheidsreëls in wat ter voorbereiding vir die operasie gebruik word. Maar die versorging van pasiënte wat nie oortappings ontvang het nie, is gewoonlik makliker as die versorging van dié wat wel oortappings ontvang het. Waarom?

Opvallende resultate

Hoewel tegnieke wat die gebruik van bloed heeltemal uitskakel gewoonlik meer werk voor en tydens die operasie vereis, het chirurge opgemerk dat pasiënte baat daarby vind omdat hulle ná die operasie vinniger herstel. Hulle kry nie komplikasies wat dikwels met oortappings gepaardgaan nie. Daar is ook bewys dat pasiënte wat nie bloed ontvang het nie minder tyd in die hospitaal deurbring.

Dr. Todd Rosengart, van die Cornell-universiteit se mediese sentrum in die New York-hospitaal, het gesê dat hulle opehartoperasies vol vertroue sonder bloed kan doen met behulp van die agt stappe van hulle bloedbesparingsmetode. Dr. Manuel Estioko, van die Good Samaritan-hospitaal in Los Angeles, het oor hulle “wye ondervinding met honderde opehartoperasies sonder bloed” gepraat. Dr. S. Subramanian het gesê dat hulle by Miami se Kinderhospitaal suksesvolle bloedlose opehartoperasies op kinders gedoen het.

Ortopediese chirurgie, veral heupvervangings, is ’n uitdaging. Maar dr. Olle Hägg, van die Uddevalla-hospitaal in Swede, het in Riga gesê dat hulle bloedverlies aansienlik kon verminder vir pasiënte wat Jehovah se Getuies is deur ’n kombinasie van “chirurgiese tegnieke en noukeurigheid”. Trouens, mnr. Richard R. R. H. Coombs, van die Mediese Fakulteit van die Imperial College, Londen, het gesê dat “99,9 persent van alle ortopediese operasies sonder . . . bloedoortappings gedoen kan word”.

Die toekoms

Die aantal hospitale en dokters wat bloedlose tegnieke gebruik, neem voortdurend toe. En konferensies waar sulke kennis uitgeruil word, is uiters nuttig, aangesien dokters leer van alternatiewe wat met welslae getoets is en gereeld gebruik word.

Dr. Richard Nalick, van die Mediese Fakulteit van die Universiteit van Suid-Kalifornië, het gesê: “Daar is al hoe meer mense wat bloedlose mediese en chirurgiese behandeling wil hê . . . Bloedlose geneeskunde en operasies verteenwoordig ’n gesofistikeerde benadering en moet nie verkeerdelik as ’n minder doeltreffende ‘alternatiewe behandeling’ gesien word nie.”

Namate die probleme in verband met bloedoortappings voortduur en die openbare vraag na alternatiewe toeneem, lyk die toekoms vir bloedlose chirurgie blink.

[Voetnote]

a Jehovah se Getuies glo in mediese behandeling vir hulleself en hulle kinders. Maar weens die Bybel se duidelike bevel om nie bloed in die liggaam in te neem nie, weier hulle om bloedoortappings te aanvaar (Genesis 9:3, 4; Handelinge 15:28, 29). Sien Hoe kan bloed jou lewe red?, wat uitgegee word deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, vir meer inligting.

b Die bespreking van die verskillende tegnieke wat op hierdie konferensies aangebied is, beteken geensins dat Ontwaak! dit goedkeur nie. Ons lewer bloot verslag oor hierdie ontwikkelinge.

c Wat die gepaste gebruik van sulke masjiene en die rol van die gewete betref, kan die leser Die Wagtoring van 1 Maart 1989, bladsye 30-1, raadpleeg.

[Prent op bladsy 20, 21]

Al hoe meer dokters eerbiedig hulle pasiënte se wense oor bloedlose chirurgie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel