Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 1/8 bl. 7-8
  • Is daar rede vir hoop?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is daar rede vir hoop?
  • Ontwaak!—2001
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer die huwelik dreig om te verbrokkel
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Ná die troudag
    Hoe om in God se liefde te bly
  • ‘Laat die huwelik eerbaar wees’
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • Julle huwelik kan gered word!
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 1/8 bl. 7-8

Is daar rede vir hoop?

“Een probleem met ongelukkige huwelike is die sterk oortuiging dat dinge nie kan verbeter nie. So ’n oortuiging belemmer verandering, want dit beroof ’n mens van die motivering om enigiets positiefs te probeer.”—DR. AARON T. BECK.

STEL jou voor dat jy baie pyn het en na die dokter toe gaan om jou te ondersoek. Jy is bekommerd, en dit is te verstane. Dit is immers jou gesondheid—selfs jou lewe—wat op die spel kan wees. Maar gestel die dokter gee jou ná sy ondersoek die goeie nuus dat jou probleem, hoewel dit ernstig is, behandel kan word. Trouens, die dokter sê vir jou dat jy kan verwag om ten volle te herstel as jy ’n gesonde dieet en oefenprogram noukeurig volg. Jy sal ongetwyfeld baie verlig voel en sy raad met graagte volg!

Vergelyk hierdie situasie met die onderwerp wat ons bespreek. Ervaar jy pyn in jou huwelik? Daar sal natuurlik probleme en meningsverskille in elke huwelik wees. Net omdat julle moeilike oomblikke in julle verhouding het, beteken dus nie dat julle ’n liefdelose huwelik het nie. Maar sê nou die pynlike situasie hou weke, maande of selfs jare aan? Indien dit die geval is, het jy goeie rede om besorg te wees, want dit is nie ’n kleinigheid nie. Trouens, die gehalte van jou huwelik kan feitlik elke aspek van jou lewe—sowel as dié van jou kinders—raak. Byvoorbeeld, spanning in die huwelik kan blykbaar grootliks bydra tot probleme soos depressie, lae werkersproduktiwiteit en die feit dat kinders swak presteer op skool. Maar dit is nie al nie. Christene besef dat hulle verhouding met hulle huweliksmaat ook hulle verhouding met God kan raak.—1 Petrus 3:7.

Die feit dat daar probleme tussen jou en jou huweliksmaat is, beteken nie dat die situasie hopeloos is nie. Wanneer ’n paartjie die werklikheid van die huwelik onder die oë sien—dat daar uitdagings gaan wees—kan dit hulle help om hulle probleme in perspektief te sien en oplossings te probeer vind. ’n Man met die naam Isaac sê: “Ek het glad nie besef dat dit normaal is dat die geluk wat paartjies in hulle huwelik ervaar soveel verander nie. Ek het gedink daar is iets fout met ons!”

Selfs al het julle huwelik liefdeloos geword, dit kan gered word. ’n Versteurde verhouding kan weliswaar diep wonde veroorsaak, veral as probleme al jare lank bestaan. Maar daar is goeie rede vir hoop. Motivering is ’n noodsaaklike faktor. Selfs twee mense met ernstige huweliksprobleme kan die situasie verbeter as dit genoeg vir albei van hulle beteken.a

Vra jou dus af: ‘Hoe sterk is my begeerte om ’n bevredigende verhouding te hê?’ Is jy en jou maat bereid om julle in te span om julle huwelik te verbeter? Dr. Beck, wat vroeër aangehaal is, sê: “Ek is al dikwels verbaas oor hoe ’n skynbaar ongelukkige verhouding gehelp kan word wanneer paartjies saam werk om tekortkominge reg te stel en op die positiewe aspekte van hulle huwelik voort te bou.” Maar sê nou jou maat is nie so gewillig om saam te werk nie? Of sê nou hy of sy is blykbaar onbewus van die feit dat daar ’n probleem is? Is dit tevergeefs as jy alleen aan die huwelik werk? Glad nie! “As jy veranderinge maak”, sê dr. Beck, “kan dit op sigself tot veranderinge in jou maat aanleiding gee—iets wat baie dikwels gebeur.”

Moenie oorhaastig tot die gevolgtrekking kom dat dit nie in julle geval kan gebeur nie. Sulke negatiewe denke kan op sigself die grootste bedreiging vir julle huwelik wees! Een van julle moet die eerste stap neem. Kan dit jy wees? Wanneer die momentum eers bestaan, sal jou huweliksmaat dalk die voordeel daarvan sien om saam met jou te werk om ’n gelukkiger huwelik op te bou.

Wat kan julle dus doen—hetsy as individue of as ’n egpaar—om julle huwelik te red? Die Bybel is van onskatbare waarde om hierdie vraag te beantwoord. Kom ons kyk hoe.

[Voetnoot]

a In sekere uiterste gevalle kan daar natuurlik geldige redes vir ’n man en vrou wees om uitmekaar te gaan (1 Korintiërs 7:10, 11). Daarbenewens laat die Bybel egskeiding op grond van hoerery toe (Matteus 19:9). Die besluit om van ’n ontroue maat te skei, is ’n persoonlike saak, en ander moet nie druk op die onskuldige maat uitoefen om die een of die ander besluit te neem nie.—Sien die boek Die geheim van gesinsgeluk, bladsye 158-61, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel