Die opgetekende geskiedenis—Moet ons dit vertrou?
“Kennis van die geskiedenis gee . . . ’n mens die gevoel dat ons ’n deel van ’n broederskap is wat uit ’n tyd lank voor ons geboorte kom en tot lank ná ons dood sal voortbestaan.”—A COMPANION TO THE STUDY OF HISTORY, DEUR MICHAEL STANFORD.
OM SONDER geskiedenis te lewe, is om sonder ’n vorm van geheue te lewe. Sonder geskiedenis sal dit lyk of jy, jou familie, jou stam of selfs jou nasie geen oorsprong, geen verlede het nie. Dit sou lyk asof die hede geen fondament en min of geen betekenis het nie.
Die geskiedenis kan ’n groot bron van lewenslesse wees. Dit kan ons help om nie oor en oor in dieselfde ou slaggate te trap nie. Soos een filosoof gesê het, is mense wat die verlede vergeet, gedoem om dit te herhaal. As ons met die geskiedenis bekend is, kan dit ons ’n beter begrip gee van ou beskawings, ongelooflike ontdekkings, interessante mense en verskillende sienswyses.
Maar hoe weet ons of die geskiedenis vertrou kan word, aangesien dit oor mense en gebeure van lank gelede handel? Ons kan natuurlik net waardevolle lesse uit die geskiedenis leer as dit op waarheid gegrond is. En wanneer ons die waarheid oor iets ontdek, moet ons dit aanvaar, al is dit nie altyd aangenaam nie. Die verlede kan soos ’n kaktustuin wees—dit is mooi, maar dit het ook dorings; dit kan inspireer, maar dit kan ook pynlik wees.
In die volgende artikels gaan ons na party aspekte van geskiedenis kyk wat ons kan help om die juistheid te bepaal van wat ons lees. Ons sal ook ondersoek hoe betroubare geskiedenis die leser wat onderskeidingsvermoë het, kan bevoordeel.
[Prent op bladsy 3]
Koningin Nefretete
[Prent op bladsy 3]
Watter lesse kan die geskiedenis ons leer?
[Foto-erkennings op bladsy 3]
Nefretete: Ägyptisches Museum der Staatlichen Museen Preußischer Kulturbesitz, Berlin
Agtergrond: Photograph taken by courtesy of the British Museum