Die eerste uitdaging—mondelinge pleitrede voor die Hooggeregshof
DIE DATUM VIR die mondelinge pleitrede voor die hoofregter William Rehnquist en agt mederegters van die Hooggeregshof was 26 Februarie 2002. Jehovah se Getuies is deur ’n span van vier prokureurs verteenwoordig.
Die hoofprokureur vir die Getuies het sy pleitrede met ’n boeiende inleiding begin: “Dit is 11:00 Saterdagoggend in die dorpie Stratton. [Hy het toe drie keer op die rostrum geklop.] ‘Goeie môre. In die lig van onlangse gebeure het ek ’n spesiale poging aangewend om met u te kom praat oor wat die profeet Jesaja iets beters genoem het. Dit is die goeie nuus waaroor Christus Jesus gepraat het, die goeie nuus van die Koninkryk van God.’”
Hy het verder gesê: “Dit is ’n misdaad om in die dorpie Stratton van deur tot deur te gaan en hierdie boodskap aan mense mee te deel tensy jy eers ’n permit van die dorpsowerheid gekry het om dit te doen.”
‘Julle vra nie geld nie?’
Regter Stephen G. Breyer het ’n paar pertinente vrae oor die Getuies gestel. Hy het gevra: “Is dit so dat jou kliënte nie enige geld vra nie, nie ’n pennie nie, en [dat] hulle nie Bybels of enigiets anders verkoop nie, al wat hulle sê is: ‘Ek wil met jou oor godsdiens praat’?”
Die prokureur vir die Getuies het geantwoord: “U Edelagbare, die rekord is baie duidelik, Jehovah se Getuies in die dorpie Stratton het nie geld gevra nie. In ander jurisdiksies is die rekord net so duidelik dat hulle soms van ’n vrywillige bydrae melding sal maak. . . . Ons bedel nie om fondse nie. Ons wil net met mense oor die Bybel praat.”
Is toestemming van dorpsowerheid nodig?
Regter Antonin Scalia het hierdie betekenisvolle vraag gevra: “Gaan jy nie van die standpunt uit dat julle nie na die burgemeester hoef te gaan om toestemming te vra om met ’n buurman oor iets interessants te praat nie?” Die Getuies se prokureur het geantwoord: “Ons dink nie dat hierdie Hof ’n regulasie van ’n dorpsowerheid moet goedkeur wat ’n burger verplig om ’n lisensie te kry sodat hy met ’n ander burger by sy huis kan gaan praat nie.”
Die verdediging se pleitrede
Dit was nou Stratton se beurt om hulle saak te stel. Die hoofadvokaat het Stratton se ordonnansie so verduidelik: “Stratton oefen sy owerheidsgesag uit wanneer dit die privaatheid van sy inwoners probeer beskerm, wanneer dit misdaad probeer voorkom. Die ordonnansie teen werwing of smousery op privaat eiendom vereis bloot dat persone vooraf registreer en ’n permit by hulle het wanneer hulle van deur tot deur gaan.”
Regter Scalia het dadelik tot die kern van die saak deurgedring toe hy gevra het: “Weet julle van enige ander saak wat ons [die Hooggeregshof] al gehad het waarby ’n ordonnansie van hierdie omvang betrokke was, wat verband hou met werwing, waar niemand geld vra of goedere verkoop nie, maar iets soos: ‘Ek wil oor Jesus Christus praat’ of ‘Ek wil oor omgewingsbewaring praat?’ Het ons al so ’n saak gehad?”
Regter Scalia het verder gesê: “Ek weet nie of daar gedurende die laaste tweehonderd jaar sulke sake was nie.” Waarop hoofregter Rehquist skertsend gesê het: “Jy is in elk geval nie so oud nie.” Almal in die hofsaal het gelag. Regter Scalia het sy punt beklemtoon: “Die omvang van hierdie saak is vir my iets nuuts.”
’n Goeie idee?
Regter Anthony M. Kennedy het ’n pertinente vraag gevra: “U dink dit is ’n goeie idee dat ek die owerheid toestemming moet vra voordat ek in die straat afgaan, waar ek nie al die mense ken nie, om vir hulle te sê: Ek wil met julle praat omdat ek besorg is oor die vullisverwydering, of omdat ek besorg is oor ons Kongreslid, of wat ook al. Moet ek die owerheid vra voordat ek dit kan doen?” Hy het bygevoeg: “Dis verstommend.”
Toe het regter Sandra Day O’Connor die punt verder gevoer: “En wat van kinders wat op Allerheiligeaand na jou deur toe kom? Moet hulle ’n permit kry?” Regters O’Connor en Scalia het albei hierdie redenasie gebruik. Regter O’Connor het bygevoeg: “Sê nou ek wil ’n koppie suiker by my buurvrou leen? Moet ek ’n permit kry om ’n koppie suiker by my buurvrou te leen?”
Is die Getuies werwers?
Regter David H. Souter het gevra: “Waarom word Jehovah se Getuies uitgesonder? Is hulle werwers, smouse of reisende handelaars van goedere of dienste? Hulle is nie een van hierdie dinge nie, is hulle?” Stratton se advokaat het groot dele van die ordonnansie aangehaal en bygevoeg dat die laerhof Jehovah se Getuies as werwers beskryf. Hierop het regter Souter geantwoord: “Dan het jy ’n baie breë definisie van werwers as dit Jehovah se Getuies insluit.”
Regter Breyer het toe die woordeboekdefinisie van ’n werwer aangehaal om te toon dat dit nie op die Getuies van toepassing is nie. Hy het bygevoeg: “Ek het niks in julle pleitstuk gelees wat sê waarom hierdie mense [Jehovah se Getuies] wat nie geld wil maak, iets wil verkoop of selfs stemme wil werf nie, na die stadsaal moet gaan om hulle te registreer nie. Wat wil julle daardeur bereik?”
Die “voorreg” om te kommunikeer
Stratton se advokaat het toe aangevoer dat “hulle wil voorkom dat die huiseienaar lastig geval word”. Hy het verder verduidelik dat hulle inwoners teen bedrog en misdadigers wil beskerm. Regter Scalia het die ordonnansie aangehaal om te toon dat die burgemeester verdere inligting kan versoek aangaande die geregistreerde en sy oogmerke sodat hy “die aard van die verlangde voorreg akkuraat kan beskryf”. Hy het toe reguit gesê: “Die voorreg om jou medeburgers oor die een of ander saak te gaan oortuig—ek kan dit eenvoudig nie verstaan nie.”
Regter Scalia het weer eens gevra: “Moet julle dus vereis dat enigiemand wat ’n deurklokkie lui, se vingerafdrukke eers by die stadsaal geneem word voordat [hy] ’n deurklokkie kan lui? Gee die skrale moontlikheid dat ’n misdaad gepleeg kan word julle genoeg rede om te vereis dat enigiemand wat ’n deurklokkie wil lui, hom by die stadsaal registreer? Natuurlik nie.”
Beskerming vir inwoners?
Nadat die advokaat vir Stratton se 20 minute verby was, het die prokureur-generaal vir die staat Ohio die pleitrede verder gevoer. Hy het geredeneer dat die ordonnansie teen werwing die inwoners beskerming bied teen besoeke deur ’n vreemdeling, “wat beslis ’n ongenooide persoon op my eiendom is . . . en ek dink die dorp het die reg om te sê: ‘Ons is besorg oor hierdie soort aktiwiteit.’”
Regter Scalia het toe gesê: “Al is daar mense wat Jehovah se Getuies verwelkom, eensame mense wat graag met enigiemand oor enigiets wil praat, sê die dorp nogtans dat hierdie mense [Jehovah se Getuies] hulle by die burgemeester moet registreer om die voorreg te kry om deurklokkies te lui.”
“’n Baie redelike beperking”
Gedurende die ondervraging het regter Scalia ’n baie goeie punt gemaak toe hy gesê het: “Ons sal almal saamstem dat die veiligste gemeenskappe in die wêreld totalitêre diktatorskappe is. Daar is baie min misdaad. Dit is ’n algemene verskynsel, en een van die pryse wat vir vryheid betaal word, is tot ’n sekere mate ’n groter risiko van onwettige bedrywighede, en die vraag is of hierdie ordonnansie genoeg onwettige bedrywighede bekamp sodat dit die opoffering van die voorreg om iemand se deurklokkie te lui, regverdig.” Daarna het die prokureur-generaal geantwoord dat “dit ’n baie redelike beperking is”. Regter Scalia het toe gesê dat dit so redelik is dat “ons nie ’n enkele geval kan vind waarin ’n munisipaliteit ooit hierdie soort ordonnansie uitgevaardig het nie. Ek dink nie dit is redelik nie.”
Uiteindelik het een van die regters die prokureur-generaal sover gekry om te erken: “Ek twyfel of ’n mens kan sê dat jy ’n algehele verbod daarop kan plaas om deurklokkies te lui of aan deure te klop.” Op daardie noot het sy pleitrede geëindig.
Die Getuies se prokureur het in sy teenargument daarop gewys dat die ordonnansie geen bevestigingsmeganisme het nie. “Ek kan na die stadsaal gaan en sê: ‘Ek is [so-en-so]’, en ’n permit kry en van deur tot deur gaan.” Hy het ook gesê dat die burgemeester kan weier om ’n permit aan ’n persoon uit te reik wat sê dat hy nie aan ’n organisasie verbonde is nie. “Ons meen dat dit duidelik ’n handeling volgens eie goeddunke is”, het hy gesê en bygevoeg: “Ek wil met die grootste respek sê dat ons [Jehovah se Getuies] bedrywighede inderdaad verband hou met die kern van die Eerste Wysiging.”
Kort daarna het die hoofregter Rehnquist die mondelinge pleitredes afgesluit en gesê: “Die saak sal deur [die Hooggeregshof] beslis word.” Die hele proses het net meer as ’n uur geneem. Die belangrikheid van daardie uur sou gesien word in die geskrewe uitspraak wat in Junie aangekondig is.
[Prente op bladsy 6]
Hoofregter Rehnquist
Regter Breyer
Regter Scalia
[Erkennings]
Rehnquist: Collection, The Supreme Court Historical Society/Dane Penland; Breyer: Collection, The Supreme Court Historical Society/Richard Strauss; Scalia: Collection, The Supreme Court Historical Society/Joseph Lavenburg
[Prente op bladsy 7]
Regter Souter
Regter Kennedy
Regter O’Connor
[Erkennings]
Kennedy: Collection, The Supreme Court Historical Society/Robin Reid; O’Connor: Collection, The Supreme Court Historical Society/Richard Strauss; Souter: Collection, The Supreme Court Historical Society/Joseph Bailey
[Prent op bladsy 8]
Die hofsaal
[Erkenning]
Photograph by Franz Jantzen, Collection of the Supreme Court of the United States