Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 1/8 bl. 23-27
  • Sneeubabas van die Magdalena-eilande

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sneeubabas van die Magdalena-eilande
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is ’n harpseeleeu?
  • Die lewe as ’n kalfie
  • Kleurveranderings
  • Verdere stadiums in die lewe van die kalfie
  • Van aangesig tot aangesig met ’n harpseeleeu
  • Mediterreense monnikrobbe—Sal hulle bly voortbestaan?
    Ontwaak!—2001
  • Antieke seëls – Wat was dit?
    Nog onderwerpe
  • Visvang op die ys—Waarom so gewild?
    Ontwaak!—2004
  • Het jy geweet?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 1/8 bl. 23-27

Sneeubabas van die Magdalena-eilande

MY OË was vol trane terwyl ek na die wollerige wit diertjie voor my gestaar het. ’n Droom wat ek 20 jaar lank gehad het, is verwesenlik, en ek kon skaars glo dat ek werklik daar was, uitgestrek op die ys letterlik sentimeters van ’n klein harpseeleeutjie se gesig af! Terwyl ek in sy pikswart oë gekyk het, het ek ’n koue rilling gekry—nie weens die ys nie, maar van pure opgewondenheid. Ek wou elke oogknip, asemteug en snorbaardbeweging van hierdie wollerige diertjie voor my sien.

Ons toergroep was 100 kilometer van die kus af op ’n ontsaglike stuk dryfys in die middel van die Golf van St. Lawrence, tussen Newfoundland en die Kanadese vasteland. Ek en my vrou het na die Magdalena-eilande gevlieg, wat naby die plek is waar die grootste trop harpseeleeus geboorte gee. Ons gidse het ons verseker dat ons helderoranje geïsoleerde pakke nie die babaseeleeus sal bangmaak nie.

Wat is ’n harpseeleeu?

Harpseeleeus is vinvoetiges, wat beteken dat hulle swempote vir ledemate het. Die naam harpseeleeu kom van die duidelike harppatroon wat die volgroeide diere op hulle rug het.

Harpseeleeus is soogdiere, en daarom asem hulle lug in, gee hulle aan lewende kleintjies geboorte en het hulle melkkliere om hulle kleintjies te voed. Hulle bring die meeste van hulle tyd deur in die ysige water van die Noord-Atlantiese Oseaan. Maar hierdie geharde seeleeus is goed toegerus vir die lewe in hulle ysige habitat. Volgroeide seeleeus weeg gemiddeld 135 kilogram en word ongeveer een en ’n half meter lank.

Met hulle skerp kloue aan hulle voorpote kan harpseeleeus hulle oor die ys trek en aan luggate klou wat hulle deur die ys gegrawe het. Hulle agterste swempote is groter as die voorstes en word hoofsaaklik gebruik om hulle aan te dryf. Hierdie seediere is merkwaardig rats in die water en kan ’n afstand van tot 8 000 kilometer per jaar aflê.

Harpseeleeus word oorlose seeleeus genoem, maar dit beteken nie dat hulle doof is nie. Die harpseeleeu het nie uitwendige ore nie, maar het ’n gaatjie aan weerskante van sy kop. Dit gaan toe wanneer die seeleeu onder die water gaan. Harpseeleeus kan baie goed hoor. Hulle kan hoor presies waar ’n geluid onder die water vandaan kom—iets wat mense nie kan doen nie!

Harpseeleeus se oë is groot en staan effens uit, wat dit vir hulle moontlik maak om goed te sien in die swak lig onder die water. In die helder lig op die ys vernou hulle pupille totdat dit feitlik net ’n vertikale skrefie is, sodat hulle ook daar met gemak kan sien.

Die lewe as ’n kalfie

In die trop wat ons dopgehou het, het die wyfies van Groenland af verby Noord-Kanada gekom om geboorte te gee. Hulle kraamsaal op die dryfys bied beskerming teen roofdiere. Kalfies word redelik vinnig gebore, dikwels binne ’n minuut! Teen die tyd dat jy jou kamera gereed het, kyk die nuwe kalfie dalk al op na jou! Onmiddellik ná die geboorte draai die moeder om en gaan lê sy neus aan neus met haar pasgebore kalfie. Sy lê die unieke reuk en roep van haar kalfie in haar geheue vas. Daarna sal sy hierdie kalfie—en geen ander nie—ongeveer twee weke lank soog.

Harpseeleeukalfies soek onmiddellik na hulle moeder se tepels om gevoed te word. Wanneer die kalfies honger is, klink dit of hulle roep: “Ma, Ma.” Wanneer hulle klaar gedrink het, gaan lê hulle in ’n smal skeur in die sneeu en ys om te slaap. Omdat hulle herhaaldelik op dieselfde plek slaap, maak hulle liggaam ’n holte wat soos ’n gerieflike bababed in die ys is.

By geboorte weeg harpseeleeus gewoonlik sowat 10 kilogram en is hulle ongeveer 90 sentimeter lank. Aanvanklik het hulle nie ’n vetlaag om hulle warm te hou nie, maar dit verander gou! Gedurende die eerste 12 dae of wat word harpseeleeus elke dag een tot twee kilogram swaarder. Hulle groei so vinnig weens hulle moeder se ryk melk, wat tot 50 persent vet bevat.a Binne twee weke sal ’n kalfie ’n ongelooflike 35 kilogram weeg!

Kleurveranderings

Jy kan maklik skat hoe oud ’n harpseeleeukalfie is deur na die kleur van sy pels te kyk. ’n Pasgebore kalfie word teen die einde van sy eerste dag droog, en dan kan sy wollerige pels gesien word. Die kalfie word dan ’n geelpels genoem. Die gelerige kleur is as gevolg van die vrugwater en verbleik binne drie of vier dae in die son. Wanneer die geel verdwyn, word die kalfie ’n witpels genoem. Die moeder verdwyn ná sowat twee weke en kom nooit weer terug nie.

Die kalfies roep, maar hulle roepe word geïgnoreer. Die kalfies kruip soms na mekaar toe vir vertroosting en kom in groepies op die ys bymekaar. Kort voor lank begin daar grys kolle in hulle wit pels verskyn. Van die 12de tot die 21ste dag word hulle pelse grys en dan, teen die einde van hulle eerste maand, het al die wollerige wit hare uitgeval en is dit deur ’n gladde, grys waterdigte pels vervang.

Verdere stadiums in die lewe van die kalfie

Harpseeleeukalfies lewe van hulle eie vet totdat hulle uiteindelik so honger word dat hulle in die water ingaan op soek na kos. Maar o wee, wanneer hulle in die water ingaan, kan hulle vet lyfies nie sink nie! Hulle slaan instinktief met hulle swempootjies op die water. Al hierdie bedrywigheid versterk hulle swempote vir wanneer hulle moet swem. Dit verbrand terselfdertyd vet en verminder uiteindelik hulle dryfvermoë in so ’n mate dat hulle onder die water kan gaan. Dan kan hulle hulle rasende honger stil, want die water wemel van kril sowel as lodde en ander vissies.

Die seeleeus verhaar wanneer hulle ’n jaar oud is. Wanneer hulle drie tot sewe jaar oud is, word hulle geslagsryp en kan hulle maklik aan die harppatroon op hulle rug uitgeken word. Die harpseeleeu kan tot 35 jaar lank lewe.

Van aangesig tot aangesig met ’n harpseeleeu

Nadat ons groep van 17 ons oorlewingspakke aangetrek het en seker gemaak het dat ons verwarmingsakkies vir ons voete en hande het, klim ons in helikopters en vlieg ons sowat 80 kilometer ver. Al wat ons na alle kante toe kan sien wanneer ons afkyk, is ’n skitterwit sneeulandskap wat tot by ’n blou horison strek. Uiteindelik land ons op die yssee. Ons gespe ons klampskoene aan en loop so sag as wat ons kan op die knersende oppervlak onder ons voete. Kyk! Agter daardie wyfie is ’n wollerige sneeubaba—’n geelpels! Dit lyk soos ’n groot, wollerige spanruspe wat sukkel om by sy moeder by te hou. Die kalfie het dadelik my hart gesteel!

Ek gaan lê op die ys, want as ek staan, kan ’n seeleeu my vir ’n ysbeer aansien. Seeleeumoeders kan nogal aggressief wees, en daarom wag ek totdat die een wat ek dophou, in ’n gat in die ys verdwyn. Haar klein kalfie, wat ek Sadie genoem het, slaap rustig sowat ses meter van my af. Ek kruip al nader. Haar oë gaan stadig oop.

Nou kyk Sadie stip na my. Ek vertrek skaars ’n spier. Skielik wil Sadie ondersoek instel! Sy kruip baie vinniger na my toe as wat ek gedink het moontlik is. Sy lyk groot terwyl sy na my toe kom, en tog kan ek aan die kleur van haar pels sien dat sy net twee of drie dae oud is. Sadie kom sentimeters van my gesig af tot stilstand en wieg stadig heen en weer terwyl sy haar neusie beweeg. Ek kan haar hoor snuif. Sy kom tot by my en gee my nat “soentjies” oral op my gesig en nek!

Verbasend genoeg krul hierdie pragtige kalfie haar langs my op en raak aan die slaap! Sy laat my selfs toe om my hand liggies op haar te sit. Haar sagte haartjies steek tussen my vingers deur. Ek is verbaas oor hoe warm sy voel. Ek streel en troetel Sadie totdat dit tyd is om in die helikopter te klim en terug te gaan huis toe. Sadie beweeg nie wanneer ek saggies opstaan nie.

Ek is met ontsag vervul terwyl ek met trane in my oë wegstap en ons God, Jehovah, in my hart dank omdat hy hierdie pragtige diertjie geskep het. My ontmoeting met ’n harpseeleeubaba was soos ’n wonderwerk. Hierdie ondervinding laat my dink aan die woorde van die psalmis: “Hoe talryk is u werke, o Jehovah! U het hulle almal in wysheid gemaak. . . . Wat hierdie see betref, so groot en wyd, daarin is bewegende dinge sonder tal, diere, klein sowel as groot” (Psalm 104:24, 25).—Bygedra.

[Voetnoot]

a In vergelyking hiermee bevat koeimelk 4 persent vet.

[Venster op bladsy 26]

Het jy geweet?

◼ Wanneer hewige storms of ongunstige ystoestande dreig, kan harpseeleeuwyfies die geboorte van hulle kalfies etlike dae lank uitstel terwyl hulle ’n geskikte plek soek.

◼ Harpseeleeus kan 240 meter diep duik en kan tot 30 minute lank onder die water bly.

◼ Seeleeus kan onder die water slaap. Elke vyf tot tien minute lig hulle hulle kop bo die water om asem te haal. Dan sak hulle weer onder die water in—sonder om wakker te word!

[Venster op bladsy 27]

Vertraagde inplanting

“Behalwe vir drie weke per jaar”, sê die boek Seasons of the Seal, “is ’n volgroeide harpseeleeuwyfie altyd dragtig. Haar werklike dragtyd duur sewe en ’n half maande.” Hoe kan dit wees? “Ná bevrugting”, verduidelik die boek, “verdeel die bevrugte eiersel ’n paar keer, en daarna verdeel dit nie verder nie. Die blastosist, wat nog steeds kleiner as ’n speldekop is, hou op groei. Hierdie lewende spikkeltjie dryf in sy moeder se baarmoeder rond. Elf weke later vind die inplanting van die blastosist plaas en begin dit weer groei.” Wat is waarskynlik die rede waarom die inplanting vertraag word? “Dit is noodsaaklik dat sy met tussenpose van feitlik presies ’n jaar kalf sodat die geboorte plaasvind wanneer die stuk ys waarop sy geboorte gee, op sy grootste en dikste is.”

[Kaart op bladsy 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

KANADA

[Erkenning]

Kaart: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Prent op bladsy 23]

Satellietfoto van die Magdalena- eilande

[Erkenning]

NASA JSC

[Prent op bladsy 24]

Geelpels

[Prent op bladsy 24]

Witpels

[Prent op bladsy 25]

’n Maand oue kalfie

[Erkenning]

© IFAW / David White

[Prent op bladsy 25]

Onvolwasse harpseeleeu

[Erkenning]

© IFAW

[Prent op bladsy 26]

’n Harpseeleeukalfie saam met sy moeder

[Erkenning]

© IFAW / Igor Gavrilov

[Prent op bladsy 26]

’n Volgroeide harpseeleeu swem onder ’n dik laag ys

[Erkenning]

© IFAW

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel